Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 9/1 bl. 13-19
  • Vertrou ten volle op Jehovah in tye van benoudheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertrou ten volle op Jehovah in tye van benoudheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer jy jou werk verloor of ’n karige inkomste het
  • Wanneer gesondheidsprobleme benoudheid veroorsaak
  • Wanneer jy met ’n vleeslike swakheid worstel
  • Vertroue is noodsaaklik vir ’n gelukkige lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Vertrou altyd op Jehovah!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Versterk jou vertroue in Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Jy kan jou broers vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 9/1 bl. 13-19

Vertrou ten volle op Jehovah in tye van benoudheid

“God is vir ons ’n toevlug en sterkte, ’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word.”—PSALM 46:1.

1, 2. (a) Watter voorbeeld toon dat dit nie genoeg is om te beweer dat ons op God vertrou nie? (b) Waarom moet ons meer doen as om bloot te sê dat ons op Jehovah vertrou?

DIT is een ding om te beweer dat ons op God vertrou. Maar dit is iets heeltemal anders om dit deur ons dade te toon. Byvoorbeeld, die frase “Op God vertrou ons” verskyn al lank op Amerikaanse banknote en munte.a In 1956 het die Amerikaanse Kongres ’n wet aangeneem wat daardie uitdrukking die nasionale leuse van die Verenigde State verklaar het. Dit is egter ironies dat baie mense—nie net in daardie land nie, maar regoor die wêreld—groter vertroue in geld en materiële rykdom stel as in God.—Lukas 12:16-21.

2 As ware Christene moet ons meer doen as om bloot te sê dat ons op Jehovah vertrou. Net soos “geloof sonder werke dood” is, is enige bewering dat ons op God vertrou betekenisloos tensy dit deur ons dade ondersteun word (Jakobus 2:26). In die vorige artikel het ons gesien dat ons vertroue in Jehovah openbaar wanneer ons ons in gebed tot hom wend, wanneer ons riglyne in sy Woord soek en wanneer ons na sy organisasie gaan vir leiding. Kom ons kyk nou hoe ons in tye van benoudheid daardie drie stappe kan volg.

Wanneer jy jou werk verloor of ’n karige inkomste het

3. Voor watter ekonomiese druk kom Jehovah se knegte in hierdie “kritieke tye” te staan, en hoe weet ons dat God bereid is om ons te help?

3 In hierdie “kritieke tye” kom ons as Christene voor dieselfde ekonomiese druk te staan as ander mense (2 Timoteus 3:1). Ons kan dus skielik ons werk verloor. Of ons het dalk geen keuse nie as om lang ure te werk vir ’n karige loon. Onder sulke omstandighede vind ons dit dalk moeilik om ‘vir ons eie mense te sorg’ (1 Timoteus 5:8). Is die Allerhoogste God bereid om ons in sulke tye te help? Beslis! Jehovah beskerm ons natuurlik nie teen al die teëspoed van die lewe in hierdie stelsel van dinge nie. Maar as ons op hom vertrou, sal die woorde van Psalm 46:1 in ons geval waar wees: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte, ’n hulp wat gedurende benoudhede maklik gevind kan word.” Hoe kan ons egter toon dat ons ten volle op Jehovah vertrou in tye van finansiële benoudheid?

4. Waarvoor kan ons bid as ons voor finansiële probleme te staan kom, en hoe reageer Jehovah op sulke gebede?

4 Een manier waarop ons ons vertroue in Jehovah kan toon, is deur ons in gebed tot hom te wend. Maar waarvoor kan ons bid? Wel, as ons voor finansiële probleme te staan kom, het ons moontlik meer as ooit tevore praktiese wysheid nodig. Bid dan daarvoor! Jehovah se Woord verseker ons: “As een van julle dan wysheid kortkom, laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word” (Jakobus 1:5). Ja, vra Jehovah om wysheid—die vermoë om kennis, begrip en onderskeidingsvermoë goed aan te wend—sodat jy wyse besluite en die regte keuses kan maak. Ons liefdevolle hemelse Vader verseker ons dat hy na sulke gebede sal luister. Hy is altyd bereid om die paaie reguit te maak van diegene wat met hulle hele hart op hom vertrou.—Psalm 65:2; Spreuke 3:5, 6.

5, 6. (a) Waarom kan ons na God se Woord gaan vir hulp om ekonomiese druk te hanteer? (b) Wat kan ons doen om spanning te verminder as ons ons werk verloor?

5 Nog ’n manier waarop ons kan toon dat ons op Jehovah vertrou, is om na God se Woord te gaan vir leiding. Sy wyse herinneringe in die Bybel is “baie betroubaar” (Psalm 93:5). Hoewel hierdie geïnspireerde boek meer as 1 900 jaar gelede voltooi is, bevat dit betroubare raad en skerp insig wat ons kan help om ekonomiese druk beter te hanteer. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde van die Bybel se wysheid.

6 Die wyse koning Salomo het lank gelede gesê: “Soet is die slaap van die een wat dien, of hy nou min of baie eet; maar die oorvloed wat aan die ryke behoort, laat hom nie toe om te slaap nie” (Prediker 5:12). Tyd en geld is nodig om ons materiële besittings te herstel, skoon te maak, in stand te hou en te beskerm. As ons dus ons werk verloor, kan ons van die geleentheid gebruik maak om ons lewenswyse weer in oënskou te neem en tussen behoeftes en begeertes te onderskei. Om spanning te verminder, sal dit dalk verstandig wees om ’n paar veranderinge aan te bring. Kan ons byvoorbeeld ons lewe vereenvoudig deur dalk na ’n kleiner blyplek te trek of van onnodige materiële besittings ontslae te raak?—Matteus 6:22.

7, 8. (a) Hoe het Jesus getoon dat hy bewus is van onvolmaakte mense se neiging om hulle te veel oor materiële dinge te bekommer? (Sien ook voetnoot.) (b) Watter wyse raad het Jesus gegee oor hoe ons onnodige sorge kan vermy?

7 In die Bergpredikasie het Jesus gemaan: “Hou op om julle te kwel oor julle siel, oor wat julle sal eet of wat julle sal drink, of oor julle liggaam, oor wat julle sal dra” (Matteus 6:25).b Jesus het geweet dat onvolmaakte mense van nature besorg is oor hulle basiese benodigdhede. Maar hoe kan ons ‘ophou om ons te kwel’ oor hierdie dinge? “Hou . . . aan om eers die koninkryk te soek”, het Jesus gesê. Ongeag voor watter probleme ons te staan kom, ons moet voortgaan om Jehovah se aanbidding eerste te stel in ons lewe. As ons dit doen, sal al ons daaglikse benodigdhede deur ons hemelse Vader “bygevoeg word”. Op die een of ander manier sal hy dit vir ons moontlik maak om voort te gaan.—Matteus 6:33.

8 Jesus het hierdie verdere raad gegee: “Moet julle dus nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê” (Matteus 6:34). Dit is onverstandig om jou onnodig te kwel oor wat môre dalk inhou. Een geleerde het gesê: “Die werklike toekoms is selde so erg as die toekoms van ons vrese.” As ons die Bybel se raad nederig volg deur ons prioriteite duidelik voor oë te hou en een dag op ’n slag te neem, kan dit ons help om onnodige sorge te vermy.—1 Petrus 5:6, 7.

9. Watter hulp kan ons in die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” kry wanneer ons ’n finansiële krisis beleef?

9 Wanneer ons ’n finansiële krisis beleef, kan ons ook ons vertroue in Jehovah toon deur na die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” te gaan vir hulp (Matteus 24:45). Die Ontwaak! bevat van tyd tot tyd artikels met nuttige wenke en raad oor hoe om ekonomiese uitdagings die hoof te bied. Die artikel “Sonder werk—Wat se oplossings is daar?” in die nommer van 8 Augustus 1991 het agt praktiese riglyne uiteengesit wat talle gehelp het om hulle finansiële en emosionele stabiliteit te behou wanneer hulle ’n tyd lank werkloos was.c Sulke riglyne moet natuurlik in ewewig gehou word met die regte beskouing van die werklike waarde van geld. Dit is bespreek in die artikel “Iets noodsaaklikers as geld”, wat in dieselfde nommer verskyn het.—Prediker 7:12.

Wanneer gesondheidsprobleme benoudheid veroorsaak

10. Hoe toon die voorbeeld van koning Dawid dat dit realisties is om op Jehovah te vertrou wanneer ons ernstig siek is?

10 Is dit realisties om op Jehovah te vertrou wanneer ons ernstig siek is? Beslis! Jehovah is besorg oor die siekes onder sy volk. Boonop is hy bereid om hulle te help. Neem byvoorbeeld koning Dawid. Hy was moontlik self ernstig siek toe hy geskryf het oor hoe God handel met ’n regskape persoon wat siek is. Hy het gesê: “Jehovah sal hom op ’n siekbed onderskraag; sy hele bed sal u beslis gedurende sy siekte verander” (Psalm 41:1, 3, 7, 8). Dawid se vertroue in God het sterk gebly, en uiteindelik het die koning van sy siekte herstel. Maar hoe kan ons vertroue in God openbaar wanneer gesondheidsprobleme benoudheid veroorsaak?

11. Wat kan ons ons hemelse Vader vra wanneer ons deur siekte geteister word?

11 Wanneer ons deur siekte geteister word, kan ons onder andere ons vertroue in Jehovah openbaar deur hom in gebed om hulp te smeek om te volhard. Ons kan hom vra om ons te help om “praktiese wysheid” aan die dag te lê sodat ons die mate van gesondheid kan verkry wat volgens ons omstandighede realisties sal wees (Spreuke 3:21). Ons kan hom ook vra om ons te help om geduld te beoefen en te volhard sodat ons die siekte kan verduur. Bowenal wil ons Jehovah vra om ons te onderskraag en ons die krag te gee om getrou aan hom te bly en nie ons ewewig te verloor nie, ongeag wat gebeur (Filippense 4:13). Om ons onkreukbaarheid teenoor God te handhaaf, is selfs belangriker as die behoud van ons huidige lewe. As ons ons onkreukbaarheid handhaaf, sal die Groot Beloner ons ’n ewigheid van volmaakte lewe en gesondheid gee.—Hebreërs 11:6.

12. Watter skriftuurlike beginsels kan ons help om verstandige besluite te maak wat mediese behandeling betref?

12 Ons vertroue in Jehovah motiveer ons ook om na sy Woord, die Bybel, te gaan vir praktiese leiding. Die beginsels in die Skrif kan ons help om verstandige besluite te maak wat mediese behandeling betref. Omdat ons byvoorbeeld weet dat die Bybel die “beoefening van spiritisme” veroordeel, sal ons enige diagnostiese of terapeutiese prosedure vermy wat met spiritisme verband hou (Galasiërs 5:19-21; Deuteronomium 18:10-12). Hier is nog ’n voorbeeld van die Bybel se betroubare wysheid: “Iemand wat onervare is, glo elke woord, maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). Wanneer dit by mediese behandeling kom, is dit dus verstandig om betroubare inligting te soek en nie ‘elke woord te glo’ nie. Sulke “gesonde verstand” kan ons help om ons keuses versigtig te oorweeg en ’n ingeligte besluit te maak.—Titus 2:12.

13, 14. (a) Watter insiggewende artikels oor gesondheidsake is al in Die Wagtoring en Ontwaak! gepubliseer? (Sien die venster op bladsy 17.) (b) Watter raad het die Ontwaak! van 22 Januarie 2001 bevat oor hoe chroniese gesondheidsprobleme die hoof gebied kan word?

13 Ons kan ook ons vertroue in Jehovah openbaar deur die publikasies van die getroue slaaf te ondersoek. Die Wagtoring en Ontwaak! publiseer van tyd tot tyd insiggewende artikels oor ’n wye verskeidenheid spesifieke gesondheidsprobleme en siektes.d Soms bevat hierdie tydskrifte artikels van individue wat verskeie siektes, kwale en gebreke met welslae die hoof gebied het. Verder het sekere artikels skriftuurlike wenke asook praktiese raad gegee oor hoe om met chroniese gesondheidsprobleme saam te leef.

14 Die Ontwaak! van 22 Januarie 2001 het byvoorbeeld die voorbladartikels “Vertroosting vir die siekes” bevat. Die artikels het nuttige Bybelbeginsels bespreek, asook eerstehandse inligting wat verkry is uit onderhoude met goed ingeligte mense wat jare lank met ’n aftakelende siekte moes saamleef. Die artikel “Jy kan met jou siekte saamleef—Hoe?” het die volgende raad gegee: Vind soveel uit omtrent jou siekte as wat redelikerwys moontlik is (Spreuke 24:5). Stel praktiese doelwitte, soos doelwitte om ander te help, maar onthou dat jy dalk nie dieselfde doelwitte as ander sal kan bereik nie (Handelinge 20:35; Galasiërs 6:4). Moenie jou afsonder nie (Spreuke 18:1). Maak dit vir ander aangenaam om jou te besoek (Spreuke 17:22). Behou bowenal ’n hegte band met Jehovah en met die gemeente (Nahum 1:7; Romeine 1:11, 12). Is ons nie dankbaar vir die betroubare leiding wat Jehovah deur sy organisasie voorsien nie?

Wanneer jy met ’n vleeslike swakheid worstel

15. Hoe kon die apostel Paulus staande bly in sy stryd teen die swakhede van die onvolmaakte vlees, en watter versekering kan ons hê?

15 ‘In my vlees woon daar niks goeds nie’, het die apostel Paulus geskryf (Romeine 7:18). Paulus het uit persoonlike ondervinding geweet hoe moeilik dit kan wees om met die begeertes en swakhede van die onvolmaakte vlees te worstel. Maar Paulus het ook die vertroue gehad dat hy die oorhand daaroor kon kry (1 Korintiërs 9:26, 27). Hoe? Deur volkome op Jehovah te vertrou. Daarom kon Paulus sê: “Ellendige mens wat ek is! Wie sal my red van die liggaam wat hierdie dood ondergaan? Aan God die dank deur middel van Jesus Christus, ons Here!” (Romeine 7:24, 25). Wat van ons? Ons het ook ’n stryd teen vleeslike swakhede. In ons stryd teen hierdie swakhede is dit maklik om moed te verloor en onsself te oortuig dat ons dit nooit te bowe sal kom nie. Maar Jehovah sal ons help as ons, soos Paulus, waarlik op Hom vertrou en nie net op ons eie krag nie.

16. Waarvoor moet ons bid as ons met ’n vleeslike swakheid worstel, en wat moet ons doen as ons ’n terugslag het?

16 Wanneer ons met ’n vleeslike swakheid worstel, kan ons toon dat ons op Jehovah vertrou deur ernstig tot hom te bid. Ons moet Jehovah vra, selfs smeek, vir die hulp van sy heilige gees (Lukas 11:9-13). Ons kan spesifiek om selfbeheersing vra, wat deel is van die vrugte van God se gees (Galasiërs 5:22, 23). Wat moet ons doen as ons ’n terugslag het? Ons moet beslis nie moed opgee nie. Laat ons nooit moeg word om nederig tot ons barmhartige God te bid en sy vergifnis en hulp te vra nie. Jehovah sal nooit ’n hart wat ‘gebroke en verbryseld’ is weens die las van ’n slegte gewete verwerp, of verstoot, nie (Psalm 51:17). As ons Jehovah met ’n opregte, berouvolle hart smeek, sal hy ons help om teen versoekings te stry.—Filippense 4:6, 7.

17. (a) Waarom is dit nuttig om na te dink oor hoe Jehovah die spesifieke swakheid beskou waarmee ons worstel? (b) Watter tekste kan ons memoriseer as ons ’n vinnige humeur het? ons tong moeilik in toom hou? ’n begeerte na onheilsame vermaak het?

17 Ons kan ook toon dat ons op Jehovah vertrou deur sy Woord te raadpleeg. Deur ’n Bybelkonkordansie of die Watch Tower Publications Index te gebruik, kan ons die antwoord soek op die vraag ‘Hoe voel Jehovah oor die spesifieke swakheid waarmee ek worstel?’ As ons nadink oor hoe Jehovah oor die saak voel, kan dit ons begeerte versterk om hom te behaag. Dan sal ons dinge begin beskou soos hy dit beskou en haat wat hy haat (Psalm 97:10). Sommige het dit nuttig gevind om Bybeltekste te memoriseer wat van toepassing is op die spesifieke swakheid waarmee hulle worstel. Sukkel ons om ’n vinnige humeur te beteuel? Dan kan ons tekste soos Spreuke 14:17 en Efesiërs 4:31 memoriseer. Vind ons dit moeilik om ons tong te beheers? Ons kan tekste soos Spreuke 12:18 en Efesiërs 4:29 uit die kop leer. Is ons geneig om na onheilsame vermaak te kyk? Ons kan verse soos Efesiërs 5:3 en Kolossense 3:5 probeer onthou.

18. Waarom moet verleentheid ons nie keer om die ouer manne se hulp te vra sodat ons ons swakheid kan oorkom nie?

18 Nog ’n manier waarop ons ons vertroue in Jehovah kan toon, is deur geesaangestelde ouer manne in die gemeente te vra om ons te help (Handelinge 20:28). Hierdie “gawes in die vorm van mense” is immers ’n voorsiening van Jehovah deur Christus om sy skape te beskerm en te versorg (Efesiërs 4:7, 8, 11-14). Dit is dalk nie maklik om hulp te vra om ’n swakheid te oorkom nie. Ons voel dalk verleë en bang dat die ouer manne minder van ons sal dink. Maar hierdie geestelike ryp manne sal ons ongetwyfeld respekteer omdat ons die moed gehad het om hulp te vra. Verder probeer die ouer manne Jehovah se eienskappe weerspieël in hulle handelinge met die kudde. Hulle vertroostende, praktiese raad en onderrigting uit God se Woord is dalk net wat ons nodig het om ons meer vasbeslote te maak om ons swakheid te oorkom.—Jakobus 5:14-16.

19. (a) Hoe probeer Satan die vergeefsheid van die lewe in hierdie stelsel gebruik? (b) Wat behels vertroue, en wat moet ons ons vas voorneem om te doen?

19 Moet nooit vergeet dat Satan weet sy tydjie is kort nie (Openbaring 12:12). Hy wil die vergeefsheid van die lewe in hierdie wêreld gebruik om ons te ontmoedig en te laat tou opgooi. Laat ons ons volle vertroue stel in wat Romeine 8:35-39 sê: “Wie sal ons van die liefde van die Christus skei? Sal verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard? . . . Inteendeel, in al hierdie dinge is ons heeltemal seëvierend deur hom wat ons liefgehad het. Want ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie.” Wat ’n blyk van vertroue in Jehovah is dit tog nie! Maar hierdie vertroue is nie net ’n gevoel nie. Dit is eerder ’n vertroue wat die weloorwoë besluite omvat wat ons in ons daaglikse lewe neem. Laat ons ons dan vas voorneem om ten volle op Jehovah te vertrou in tye van benoudheid.

[Voetnote]

a In ’n brief aan die Amerikaanse Munt, gedateer 20 November 1861, het die Minister van Finansies, Salmon P. Chase, geskryf: “Geen nasie kan sterk wees behalwe in die krag van God nie, of veilig wees behalwe as Hy dit verdedig nie. Die vertroue wat ons volk in God stel, moet op ons nasionale munte verklaar word.” Gevolglik het die leuse “Op God vertrou ons” die eerste keer in 1864 op ’n Amerikaanse pasmunt verskyn.

b Die sorge wat hier beskryf word, is blykbaar ’n “vrees weens bekommernis, wat al die vreugde uit die lewe neem”. Sommige vertalings sê “moet julle nie kwel nie” of “moenie bekommerd wees nie”. Maar hierdie vertalings gee te kenne dat ons ons nie moet begin kwel of bekommer nie. Een naslaanwerk sê: “Die Griekse werkwoord is in die teenswoordige tyd en gebiedend, wat ’n bevel impliseer om ’n handeling wat reeds aan die gang is, te staak.”

c Die agt punte is soos volg: (1) Moenie paniekbevange word nie; (2) dink positief; (3) oorweeg ander soorte werk; (4) leef binne jou vermoë—nie iemand anders s’n nie; (5) wees versigtig met krediet; (6) hou die gesin verenig; (7) behou jou selfrespek en (8) stel ’n begroting op.

d Hierdie Bybeltydskrifte onderskryf of bevorder geen spesifieke mediese behandeling nie omdat dit ’n persoonlike besluit is. Artikels wat spesifieke kwale of siektes bespreek, is eerder bedoel om lesers oor die jongste feite in te lig.

Onthou jy?

• Op watter maniere kan ons toon dat ons op Jehovah vertrou wanneer ons voor ekonomiese probleme te staan kom?

• Hoe kan ons vertroue in God openbaar wanneer gesondheidsprobleme vir ons benoudheid veroorsaak?

• Hoe kan ons toon dat ons waarlik op Jehovah vertrou wanneer ons met ’n vleeslike swakheid worstel?

[Venster op bladsy 17]

Onthou jy hierdie artikels?

Wanneer ons in benoudheid verkeer as gevolg van gesondheidsprobleme, is dit bemoedigend om van ander te lees wat gesondheidsprobleme, siektes en gebreke met welslae die hoof gebied het. Hier volg ’n paar artikels wat in Die Wagtoring en Ontwaak! verskyn het.

“Ek het my swakhede te bowe gekom”, het gehandel oor hoe om negatiewe denke en depressie te hanteer.—Die Wagtoring, 1 Mei 1990.

“Nie eens ’n ysterlong kon keer dat sy preek nie.”—Ontwaak!, 22 Januarie 1993.

“’n Koeël het my lewe verander”, het bespreek hoe om met verlamming saam te leef.—Ontwaak!, 22 Oktober 1995.

“Julle weet nie wat julle lewe môre sal wees nie”, het gehandel oor hoe bipolêre gemoedsversteuring die hoof gebied kan word.—Die Wagtoring, 1 Desember 2000.

“Loida se stilswye word verbreek”, het bespreek hoe om met serebrale verlamming saam te leef.—Ontwaak!, 8 Mei 2000.

“My stryd teen endometriose.”—Ontwaak!, 22 Julie 2000.

“My stryd teen skleroderma.”—Ontwaak!, 8 Augustus 2001.

“Ek het my stryd teen nageboortelike depressie gewen.”—Ontwaak!, 22 Julie 2002.

[Prent op bladsy 15]

As ons ons werk verloor, sal dit dalk verstandig wees om ons lewenswyse weer in oënskou te neem

[Prent op bladsy 16]

Loida se verhaal toon hoe vertroue in Jehovah ’n mens help om te volhard. (Sien venster op bladsy 17)

[Prent op bladsy 18]

Ons moenie verleë voel om hulp te vra om ons swakhede te oorkom nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel