Vertroue is noodsaaklik vir ’n gelukkige lewe
VOEDSELVERGIFTIGING is uiters onaangenaam. Iemand wat dit dikwels opdoen, moet noukeuriger let op sy eetgewoontes. Maar om heeltemal op te hou eet omdat ’n mens voedselvergiftiging wil vermy, is nie realisties nie. Dit sal meer probleme skep as oplos. Sonder kos kan niemand lank bly lewe nie.
Dit is eweneens pynlik as ’n mens se vertroue geskend word. As dit herhaaldelik gebeur, moet dit ons dalk goed laat nadink oor ons keuse van vriende. Maar om ons heeltemal van mense te onttrek om teleurstelling te vermy, is nie die oplossing nie. Waarom nie? Omdat dit ons van ons eie geluk beroof as ons ander wantrou. Om ’n bevredigende lewe te lei, het ons verhoudings nodig wat op wedersydse vertroue gegrond is.
“Vertroue is een van die basiese elemente vir ongekompliseerde, daaglikse interaksie met ander”, sê die boek Jugend 2002. “Almal smag na vertroue”, berig die koerant Neue Zürcher Zeitung. “Vertroue verbeter die lewensgehalte” tot so ’n mate dat dit “noodsaaklik is vir oorlewing”. Ja, sonder vertroue, sê die koerant verder, “kan ’n mens nie die mas opkom in die lewe nie”.
Aangesien ons ’n basiese behoefte het om ons vertroue in iemand te stel, kan ons vra: Op wie kan ons vertrou sonder om teleurgestel te word?
Vertrou op Jehovah met jou hele hart
“Vertrou op Jehovah met jou hele hart”, sê die Bybel vir ons (Spreuke 3:5). Ja, God se Woord spoor ons herhaaldelik aan om op ons Skepper, Jehovah God, te vertrou.
Waarom kan ons op God vertrou? Eerstens, omdat Jehovah God heilig is. Die profeet Jesaja het geskryf: “Heilig, heilig, heilig is Jehovah” (Jesaja 6:3). Die idee van heiligheid trek jou dalk nie aan nie. Maar in werklikheid behoort dit vir jou aantreklik te wees omdat Jehovah se heiligheid beteken dat hy rein, ver verwyderd van alle kwaad en absoluut betroubaar is. Hy kan nooit korrup raak of sy mag misbruik nie, en dit is onmoontlik vir hom om ons vertroue te skend.
Bowendien kan ons op God vertrou weens sy vermoë en begeerte om diegene te ondersteun wat hom dien. Sy almag stel hom byvoorbeeld in staat om op te tree. Sy volmaakte geregtigheid en wysheid rig die manier waarop hy optree. En sy ongeëwenaarde liefde beweeg hom tot optrede. “God is liefde”, het die apostel Johannes geskryf (1 Johannes 4:8). God se liefde raak alles wat hy doen. Jehovah se heiligheid en sy ander voortreflike eienskappe maak hom ’n ideale Vader, iemand op wie ons ten volle kan vertrou. Niks en niemand kan ooit betroubaarder as Jehovah wees nie.
Vertrou op Jehovah en wees gelukkig
Nog ’n gegronde rede vir vertroue op Jehovah is die feit dat hy ons beter as enigiemand anders verstaan. Hy weet dat elke mens ’n basiese behoefte het aan ’n bestendige, blywende vertrouensverhouding met die Skepper. Diegene wat so ’n verhouding het, het ’n groter gevoel van veiligheid. “Gelukkig is die man wat Jehovah sy vertroue gemaak het”, het koning Dawid gesê (Psalm 40:4). Vandag stem miljoene mense heelhartig saam met Dawid se woorde.
Kyk na ’n paar voorbeelde. Doris het al in die Dominikaanse Republiek, Duitsland, Griekeland en die Verenigde State gewoon. Sy sê: “Omdat ek my vertroue in Jehovah stel, is ek baie gelukkig. Hy weet hoe om fisies, geestelik en emosioneel vir my te sorg. Hy is die beste vriend wat ’n mens ooit kan hê.” Wolfgang, ’n regsadviseur, verduidelik: “Dit is wonderlik om op iemand te kan steun wat jou belange op die hart dra, iemand wat kan—en ook sal—doen wat die beste vir jou is!” Ham, wat in Asië gebore is maar nou in Europa woon, sê: “Ek is vol vertroue dat Jehovah in beheer van alles is, en hy maak nie foute nie; ek is gelukkig omdat ek op hom steun.”
Elkeen van ons moet natuurlik nie net ons vertroue in ons Skepper stel nie, maar ook in mense. Daarom gee Jehovah, as ’n wyse en ervare vriend, vir ons raad oor watter soort individue ons kan vertrou. Deur die Bybel noukeurig te lees, kan ons sien watter raad hy in dié verband gee.
Mense wat ons kan vertrou
“Moenie julle vertroue in edeles stel nie, ook nie in die mensekind, aan wie geen redding behoort nie”, het die psalmis geskryf (Psalm 146:3). Hierdie geïnspireerde woorde help ons om te besef dat baie mense nie ons vertroue waardig is nie. Selfs dié wat hooggeag word as die “edeles” van hierdie wêreld, soos deskundiges in gespesialiseerde kennis- of arbeidsvelde, verdien nie outomaties ons vertroue nie. Hulle leiding is dikwels feilbaar, en vertroue wat in sulke “edeles” gestel word, kan gou op teleurstelling uitloop.
Dit beteken natuurlik nie dat ons almal moet wantrou nie. Maar dit is duidelik dat ons selektief moet wees wanneer ons kies wie ons kan vertrou. Watter maatstawwe moet ons gebruik? ’n Voorbeeld uit die eertydse nasie Israel kan ons help. Toe persone aangestel moes word om swaar verantwoordelikhede in Israel te dra, is Moses aangeraai om “uit die hele volk bekwame manne [te] kies, wat God vrees, betroubare manne, wat onregverdige wins haat” (Eksodus 18:21). Wat kan ons hieruit leer?
Hierdie manne het sekere godvrugtige eienskappe aan die dag gelê voordat hulle in vertrouensposisies aangestel is. Hulle het reeds bewys gelewer dat hulle God vrees; hulle het ’n gesonde eerbied vir die Skepper gehad en wou hom nie mishaag nie. Dit was vir almal duidelik dat hierdie manne hulle uiterste bes gedoen het om God se standaarde te handhaaf. Hulle het onregverdige wins gehaat, en dit het getoon dat hulle sedelike krag het wat hulle daarvan sou weerhou om deur mag verderf te word. Hulle sou nie ander se vertroue skend om hulle eie belange of dié van familie of vriende te bevorder nie.
Sal dit nie vandag verstandig van ons wees om soortgelyke maatstawwe te gebruik wanneer ons diegene kies in wie ons ons vertroue stel nie? Ken ons individue wie se gedrag toon dat hulle God vrees? Is hulle vasbeslote om by sy gedragstandaarde te bly? Het hulle die onkreukbaarheid om dinge te vermy wat nie reg is nie? Het hulle die eerlikheid om nie ’n situasie te manipuleer tot hulle eie voordeel of om hulle sin te kry nie? Manne en vroue wat sulke eienskappe aan die dag lê, is beslis ons vertroue waardig.
Moenie afgeskrik word deur teleurstelling nou en dan nie
Wanneer ons besluit wie ons kan vertrou, moet ons geduldig wees, aangesien vertroue met verloop van tyd verdien word. Die wyse weg is om geleidelik, stap vir stap, ons vertroue in iemand te stel. Hoe? Wel, ons kan iemand se gedrag oor ’n tydperk waarneem en kyk hoe hy in sekere situasies optree. Is hy betroubaar in klein dingetjies? Gee hy byvoorbeeld geleende items terug soos hy belowe het en kom hy afsprake stiptelik na? Indien wel, sal ons moontlik voel dat dit veilig is om in ernstiger sake op hom te vertrou. Dit is in ooreenstemming met die beginsel: “Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou” (Lukas 16:10). As ons selektief en geduldig is, kan dit ons help om groot teleurstellings te vermy.
Maar sê nou iemand stel ons wel teleur? Studente van die Bybel sal onthou dat Jesus Christus op die nag van sy inhegtenisname werklik teleurgestel is deur sy apostels. Judas Iskariot het hom verraai en die ander het uit vrees gevlug. Petrus het Jesus selfs drie keer verloën. Maar Jesus het onderskei dat net Judas opsetlik was in sy optrede. Al is Jesus op so ’n kritieke tyd in die steek gelaat, het dit hom nie daarvan weerhou om sy oorblywende 11 apostels net ’n paar weke later weer te verseker van sy vertroue in hulle nie (Matteus 26:45-47, 56, 69-75; 28:16-20). As ons voel dat iemand ons vertroue geskend het, sal dit eweneens goed wees om te kyk of die vermeende skending ’n bewys van onbetroubaarheid is of net in ’n oomblik van swakheid gebeur het.
Is ek betroubaar?
Iemand wat besluit om selektief te wees oor wie hy sal vertrou, moet billik wees en hom afvra: ‘Is ek betroubaar? Watter redelike standaarde van betroubaarheid moet ek van myself en ander verwag?’
Iemand wat betroubaar is, moet sekerlik altyd die waarheid praat (Efesiërs 4:25). Hy pas nie sy woorde aan om dié wat na hom luister, tevrede te stel sodat hy persoonlik daaruit voordeel kan trek nie. En as hy hom tot iets verbind, doen die betroubare persoon alles in sy vermoë om sy woord te hou (Matteus 5:37). As iemand hom in sy vertroue neem, hou ’n betroubare persoon die saak vertroulik, en hy skinder nie. ’n Betroubare persoon is getrou aan sy huweliksmaat. Hy kyk nie na pornografie nie, hy verlustig hom nie in seksuele fantasieë nie en hy flankeer nie (Matteus 5:27, 28). Iemand wat ons vertroue waardig is, werk hard om vir hom en sy gesin te sorg en probeer nie vinnig geld maak ten koste van ander nie (1 Timoteus 5:8). As ons hierdie redelike en skriftuurlike standaarde in gedagte hou, sal dit ons help om te bepaal wie ons kan vertrou. En as ons dieselfde gedragstandaarde volg, sal dit elkeen van ons help om ander se vertroue waardig te wees.
Hoe wonderlik sal dit tog wees om in ’n wêreld te lewe waar alle mense betroubaar is en waar daar nie meer teleurstellings weens skending van vertroue sal wees nie! Is dit maar net ’n droom? Nie vir mense wat die Bybel se beloftes ernstig neem nie, want God se Woord voorspel ’n pragtige “nuwe aarde” waarin daar geen bedrog, leuens en uitbuiting sal wees nie en waarin droefheid, siekte en selfs die dood tot die verlede sal behoort! (2 Petrus 3:13; Psalm 37:11, 29; Openbaring 21:3-5). Sal dit nie die moeite werd wees om meer uit te vind oor hierdie vooruitsig nie? Jehovah se Getuies sal jou met graagte meer inligting oor hierdie en ander belangrike onderwerpe gee.
[Prent op bladsy 4]
Wantroue beroof ons van geluk
[Prent op bladsy 5]
Jehovah is beslis ons vertroue waardig
[Prente op bladsy 7]
Ons het almal verhoudings nodig wat op wedersydse vertroue gegrond is