Die Vrede van Wesfale—’n keerpunt in Europa
“DIT is beslis ’n uitsonderlike geleentheid om soveel Europese staatshoofde byeen te hê soos ons vandag hier het.” Roman Herzog, die voormalige president van die Bondsrepubliek van Duitsland, het daardie stelling in Oktober 1998 gemaak. Toe hy dit gesê het, was daar vier konings, vier koninginne, twee prinse, ’n groothertog en etlike presidente in die gehoor. Die geleentheid, wat deur die Raad van Europa gereël is, was ’n uiters belangrike gebeurtenis in die 50 jaar lange geskiedenis van die moderne Duitse staat. Wat was die geleentheid?
Oktober 1998 was die 350ste herdenking van die Vredesverdrag van Wesfale. Vredesooreenkomste is dikwels keerpunte in die geskiedenis, en in dié opsig was die Verdrag van Wesfale iets spesiaals. Die ondertekening van hierdie ooreenkoms in 1648 het die Dertigjarige Oorlog tot ’n einde gebring en die geboorte beteken van moderne Europa as ’n vasteland met soewereine state.
’n Ou orde word geskud
Gedurende die Middeleeue was die Rooms-Katolieke Kerk en die Heilige Romeinse Ryk die magtigste instellings in Europa. Die ryk het bestaan uit honderde vorstedomme van verskillende groottes en het ’n gebied beslaan wat nou die grondgebied vorm van Duitsland, Oos-Frankryk, Oostenryk, Switserland, die Tsjeggiese Republiek, die Lae Lande en dele van Italië. Aangesien die Duitse vorstedomme die grootste deel daarvan uitgemaak het, het die ryk bekend geword as die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse Nasie. Elke vorstedom was deels onafhanklik en is deur ’n vors regeer. Die keiser self was ’n Rooms-Katoliek van die Oostenrykse Habsburg-familie. Met die pousdom sowel as die keiserryk aan bewind, was Europa dus stewig in Rooms-Katolieke hande.
In die 16de en 17de eeue is die gevestigde orde egter geskud. Oor die hele Europa was daar grootskaalse ontevredenheid oor die Rooms-Katolieke Kerk se oordadighede. Godsdienshervormers soos Martin Luther en Johannes Calvyn het gepraat van ’n terugkeer tot Bybelwaardes. Luther en Calvyn het groot ondersteuning gekry, en uit hierdie beweging het die Hervorming en die Protestantse gelowe ontstaan. Die Hervorming het die ryk verdeel in drie gelowe—Katolieke, Lutherane en Calviniste.
Katolieke het Protestante met agterdog bejeën, en Protestante het hulle Katolieke teenstanders verag. Hierdie klimaat het in die vroeë 17de eeu tot die stigting van die Protestantse Unie en die Katolieke Liga gelei. Party vorste in die ryk het by die Unie aangesluit, ander by die Liga. Europa—en veral die keiserryk—was ’n kruitvat van agterdog wat net een vonk nodig gehad het om te ontplof. Daardie vonk het uiteindelik ’n konflik begin wat die volgende 30 jaar sou duur.
’n Dodelike vonk steek Europa aan die brand
Protestante heersers het die Katolieke Habsburgs probeer oorhaal om groter vryheid van aanbidding toe te laat. Maar toegewings is teësinnig gemaak, en in 1617-18 is twee Lutherse kerke in Boheme (die Tsjeggiese Republiek) onder dwang gesluit. Dit het die Protestantse adel vertoorn, en hulle het by ’n paleis in Praag ingestorm, drie Katolieke amptenare gegryp en hulle by ’n venster op die boonste verdieping uitgegooi. Dít was die vonk wat Europa aan die brand gesteek het.
Hoewel hulle na bewering volgelinge van die Vredevors, Jesus Christus, was, het lede van mededingende gelowe nou teen mekaar geveg (Jesaja 9:6). In die Slag van die Wit Berg het die Liga die Unie ’n verpletterende nederlaag toegedien, waarna die Unie verbrokkel het. Protestantse edelmanne is op Praag se markplein tereggestel. Oral in Boheme is daar beslag gelê op die eiendom van Protestante wat nie hulle geloof wou versaak nie, en dit is onder Katolieke verdeel. Die boek 1648—Krieg und Frieden in Europa (1648—Oorlog en vrede in Europa) beskryf hierdie beslaglegging as “een van die grootste oordragte van eienaarskap in Sentraal-Europa”.
Wat as ’n godsdienskonflik in Boheme begin het, het tot ’n internasionale magstryd ontwikkel. Gedurende die daaropvolgende 30 jaar is Denemarke, Frankryk, Nederland, Spanje en Swede by die stryd betrek. Katolieke en Protestantse heersers, wat dikwels deur gierigheid en die begeerte na mag aangedryf is, het meegeding om politieke oorheersing en ekonomiese gewin. Die Dertigjarige Oorlog is in stadiums verdeel, en elkeen is vernoem na die keiser se vernaamste teenstanders. Etlike naslaanwerke noem vier van hierdie stadiums: die Boheemse en Palatynse Oorlog, die Deens-Nedersaksiese Oorlog, die Sweedse Oorlog en die Frans-Sweedse Oorlog. Die meeste van die gevegte het in die ryksgebied plaasgevind.
Van die wapens wat destyds gebruik is, was pistole, muskette, mortiere en kanonne, met Swede as ’n vername wapenverskaffer. Katolieke en Protestante was in ’n hewige stryd gewikkel. Soldate het óf met die woorde “Santa Maria” óf “God is met ons” na die slagveld gegaan. Troepe het Duitse vorstedomme op hulle weg geplunder en verwoes en teenstanders en burgerlikes soos diere behandel. Die oorlog het ontaard in barbaarsheid. Wat ’n teenstelling tog met die Bybelprofesie: “Hulle sal nie, nasie teen nasie, die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie”!—Miga 4:3.
’n Geslag Duitsers het opgegroei sonder om enigiets anders as oorlog te ken, en die vermoeide bevolking het verlang na vrede. Vrede sou blykbaar moontlik gewees het as die heersers nie botsende politieke belange gehad het nie. Die politiek het ’n groter rol begin speel namate die oorlog sy godsdienstige karakter verloor en al hoe meer sekulêr geword het. Dit is ironies dat een man wat hierdie verandering bevorder het, ’n hooggeplaaste in die Katolieke Kerk was.
Kardinaal Richelieu swaai die septer
Die amptelike titel van Armand-Jean du Plessis was kardinaal de Richelieu. Hy was ook die eerste minister van Frankryk van 1624 tot 1642. Richelieu het Frankryk die vernaamste mag in Europa probeer maak. Om dié doel te bereik, het hy die mag van sy mede-Katolieke, die Habsburgs, probeer ondermyn. Hoe het hy dit gedoen? Deur die Protestantse leërs van die Duitse vorstedomme, Denemarke, Nederland en Swede te finansier, wat almal teen die Habsburgs geveg het.
In 1635 het Richelieu vir die eerste keer Franse troepe na die oorlog gestuur. Die boek vivat pax—Es lebe der Friede! (Lank leef die vrede!) verduidelik dat die laaste fase van “die Dertigjarige Oorlog nie meer ’n konflik tussen godsdiensgroepe was nie. . . . Die oorlog het ’n stryd om politieke oorheersing in Europa geword.” Wat as ’n godsdienskonflik tussen Katolieke en Protestante begin het, het geëindig met Katolieke wat saam met Protestante teen ander Katolieke veg. Die Katolieke Liga, wat reeds vroeg in die 1630’s begin verswak het, is in 1635 ontbind.
Vredeskonferensie in Wesfale
Europa is geteister deur plundering, moord, verkragting en siekte. Geleidelik is die verlange na vrede versterk deur ’n besef dat niemand hierdie oorlog kon wen nie. Die boek vivat pax—Es lebe der Friede! sê dat “die verantwoordelike vorste, teen die einde van die 1630’s, uiteindelik besef het dat militêre mag hulle nie langer sou help om hulle doelwit te bereik nie”. Maar hoe sou die vrede waarna almal gesmag het, tot stand gebring word?
Keiser Ferdinand III van die Heilige Romeinse Ryk, koning Lodewyk XIII van Frankryk en koningin Christina van Swede het besluit dat ’n konferensie gehou moet word waar al die partye in die oorlog byeen moet kom om oor vredesvoorwaardes te onderhandel. Twee plekke is gekies vir die samesprekings—die dorpe Osnabrück en Münster in die Duitse provinsie Wesfale. Hierdie dorpe is gekies omdat hulle halfpad tussen die hoofstede van Swede en Frankryk geleë was. Vanaf 1643 het omtrent 150 afvaardigings—sommige met groot groepe raadgewers—op die twee dorpe toegesak, Katolieke verteenwoordigers in Münster en Protestantse afgevaardigdes in Osnabrück.
Eerstens is ’n gedragskode neergelê waarvolgens kwessies soos die titel en rang van die verteenwoordigers, die sitplekreëling en prosedures bepaal is. Daarna het vredesamesprekings begin, met voorstelle wat van een afvaardiging na die ander oorgedra is deur middel van tussenpersone. Ná byna vyf jaar—terwyl die oorlog voortgeduur het—is daar ooreengekom oor vredesvoorwaardes. Die Verdrag van Wesfale het uit meer as een dokument bestaan. Een ooreenkoms is in Osnabrück onderteken tussen keiser Ferdinand III en Swede en die ander een in Münster tussen die keiser en Frankryk.
Namate nuus van die verdrag versprei het, het vierings begin. Wat met ’n dodelike vonk begin het, het met letterlike vuurwerk geëindig. Dit het die naghemel in verskeie stede verlig. Kerkklokke het gelui, kanonne het saluutskote afgevuur en mense het in die strate gesing. Kon Europa nou blywende vrede verwag?
Is blywende vrede moontlik?
Die Verdrag van Wesfale het die beginsel van soewereine gesag erken. Dit het beteken dat elke party in die verdrag daartoe ingestem het om die grondgebied van al die ander partye te respekteer en nie met hulle binnelandse sake in te meng nie. Moderne Europa as ’n vasteland met soewereine state het sodoende sy ontstaan gehad. Party van hierdie state is meer bevoordeel deur die verdrag as ander.
Frankryk is as ’n vername mag gevestig, en Nederland en Switserland het albei onafhanklikheid verkry. Die Duitse vorstedomme, waarvan baie deur die oorlog verwoes is, het weens die verdrag aan die kortste ent getrek. Duitsland se lot is in sekere mate deur ander nasies beslis. The New Encyclopædia Britannica sê: “Wat die Duitse vorste sou ontvang of verloor, is bepaal deur wat voordelig sou wees vir die vernaamste magte: Frankryk, Swede en Oostenryk.” Pleks dat die Duitse vorstedomme verenig is tot een nasie, was dit net so verdeeld as voorheen. Verder is beheer oor party gebiede, asook dele van Duitsland se vernaamste riviere—die Ryn, die Elbe en die Oder—aan ander lande se heersers oorgegee.
Die Katolieke, Lutherse en Calvinistiese godsdiens is gelyke erkenning gegee. Nie almal het hiervan gehou nie. Pous Innocentius X was hewig gekant teen die verdrag en het dit ongeldig verklaar. Nietemin het die godsdiensgrense waarop daar besluit is, drie eeue lank feitlik onveranderd gebly. Hoewel die individu nog nie godsdiensvryheid gehad het nie, was dit ’n stap nader daaraan.
Die verdrag het die Dertigjarige Oorlog tot ’n einde gebring en daarmee ook die meeste van die vyandelikhede. Dit was die laaste groot godsdiensoorlog in Europa. Oorloë het nie opgehou nie, maar die grondoorsaak daarvan het verskuif van godsdienstig na polities of ekonomies. Dit beteken nie dat godsdiens alle invloed in Europese vyandelikhede verloor het nie. In die Eerste en Tweede Wêreldoorlog het Duitse soldate ’n inskripsie op die gespe van hulle gordel gedra wat bekend geklink het: “God is met ons.” Gedurende daardie verskriklike konflikte het Katolieke en Protestante weer eens saam geveg teen Katolieke en Protestante aan die teenoorgestelde kant.
Dit is duidelik dat die Verdrag van Wesfale nie blywende vrede meegebring het nie. Maar sulke vrede sal binnekort deur gehoorsame mense geniet word. Jehovah God sal ewige vrede vir die mensdom bring deur middel van die Messiaanse Koninkryk van sy Seun, Jesus Christus. Onder daardie regering sal die een ware godsdiens ’n krag wees wat mense verenig, nie verdeel nie. Niemand sal oorlog voer nie, nie om godsdienstige of ander redes nie. Wat ’n verligting sal dit tog wees wanneer die Koninkryk oor die aarde heers en daar ‘geen einde aan vrede sal wees nie’!—Jesaja 9:6, 7.
[Lokteks op bladsy 21]
Wat as ’n konflik tussen Katolieke en Protestante begin het, het geëindig met Katolieke wat saam met Protestante teen ander Katolieke veg
[Lokteks op bladsy 22]
Soldate het óf met die woorde “Santa Maria” óf “God is met ons” na die slagveld gegaan
[Prent op bladsy 21]
Kardinaal Richelieu
[Prent op bladsy 23]
Sestiende-eeuse tekening wat die stryd tussen Luther, Calvyn en die pous uitbeeld
[Foto-erkenning op bladsy 20]
From the book Spamers Illustrierte Weltgeschichte VI
[Foto-erkennings op bladsy 23]
Godsdiensleiers in ’n stryd gewikkel: From the book Wider die Pfaffenherrschaft; kaart: The Complete Encyclopedia of Illustration/J. G. Heck