Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Eksodus
DIT is ’n ware verhaal van die bevryding van mense wat gedwing is om ‘slawearbeid onder tirannie’ te verrig (Eksodus 1:13). Dit is ook ’n opwindende verslag oor die geboorte van ’n nasie. Verstommende wonderwerke, voortreflike wetgewing en die oprigting van die tabernakel is onder die boeiende kenmerke daarvan. Dit is kortliks wat in die Bybelboek Eksodus vervat word.
Eksodus is deur die Hebreeuse profeet Moses geskryf, en dit vertel die ondervindinge van die Israeliete oor ’n tydperk van 145 jaar—vanaf Josef se dood in 1657 v.G.J. tot die voltooiing van die tabernakel in 1512 v.G.J. Die verslag is egter nie net van geskiedkundige belang nie. Dit maak deel uit van God se woord, of boodskap, aan die mensdom. Daarom is dit “lewend en oefen [dit] krag uit” (Hebreërs 4:12). Eksodus het dus ware betekenis vir ons.
‘GOD HET HULLE GEKERM GEHOOR’
Jakob se afstammelinge in Egipte vermeerder so vinnig dat hulle op bevel van die koning wreed behandel word as slawe. Farao beveel selfs dat alle Israelitiese babaseuntjies doodgemaak word. ’n Drie maande oue baba, Moses, spring die dood vry en word deur Farao se dogter aangeneem. Hoewel hy in die koning se huis grootword, kies Moses op 40-jarige ouderdom kant vir sy eie volk en maak hy ’n Egiptenaar dood (Handelinge 7:23, 24). Hy moet noodgedwonge vlug en gaan na Midian. Daar trou hy en lewe hy as ’n herder. By ’n bos wat wonderdadig brand, gee Jehovah Moses die opdrag om na Egipte terug te keer om die Israeliete uit slawerny te lei. Sy broer, Aäron, word as sy woordvoerder aangestel.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
3:1—Watter soort priester was Jetro? In die tyd van die aartsvaders het die familiehoof as ’n priester vir sy familie gedien. Jetro was klaarblyklik die aartsvaderlike hoof van ’n stam van die Midianiete. Aangesien die Midianiete afstammelinge van Abraham by Ketura was, was hulle moontlik bekend met die aanbidding van Jehovah.—Genesis 25:1, 2.
4:11—Wat beteken die woorde dat ‘Jehovah die stomme, die dowe en die blinde maak’? Hoewel Jehovah al by tye blindheid en stomheid veroorsaak het, is hy nie verantwoordelik vir elke geval van hierdie gebreke nie (Genesis 19:11; Lukas 1:20-22, 62-64). Dit is die gevolg van oorgeërfde sonde (Job 14:4; Romeine 5:12). Aangesien God egter toelaat dat hierdie situasie voortduur, kan hy sê dat hy die stomme, die dowe en die blinde “maak”.
4:16—Hoe sou Moses vir Aäron “as God dien”? Moses was ’n verteenwoordiger van God. Daarom het Moses “as God” opgetree vir Aäron, wat op sy beurt Moses as woordvoerder verteenwoordig het.
Lesse vir ons:
1:7, 14. Jehovah het sy volk onderskraag terwyl hulle in Egipte onderdruk is. Hy onderskraag eweneens sy hedendaagse Getuies, selfs wanneer hulle hewige vervolging verduur.
1:17-21. Jehovah dink aan ons “ten goede”.—Nehemia 13:31.
3:7-10. Jehovah hoor die hulpgeroep van sy volk.
3:14. Jehovah vervul altyd sy voornemens. Ons kan dus vol vertroue wees dat hy ons Bybelse verwagtinge sal verwesenlik.
4:10, 13. Moses het so min vertroue in sy spraakvermoë gehad dat hy selfs nadat hy van goddelike bystand verseker is, God gesmeek het om iemand anders te stuur om met Farao te praat. Nietemin het Jehovah Moses gebruik en hom die nodige wysheid en krag gegee om sy toewysing uit te voer. Ons moenie op ons eie tekortkominge konsentreer nie, maar eerder op Jehovah vertrou en ons verkondigings- en onderrigtingstoewysing getrou uitvoer.—Matteus 24:14; 28:19, 20.
VERSTOMMENDE WONDERWERKE LEI TOT BEVRYDING
Moses en Aäron verskyn voor Farao en vra dat die Israeliete toegelaat word om ’n fees vir Jehovah in die wildernis te vier. Die Egiptiese heerser weier uitdagend. Jehovah gebruik Moses om die een verwoestende plaag na die ander oor Egipte te bring. Eers ná die tiende plaag laat Farao die Israeliete trek. Maar kort daarna sit hy en sy krygsmag hulle agterna. Jehovah maak egter ’n pad oop deur die Rooi See waarlangs die Israeliete kan ontsnap, en hy red sy volk. Die Egiptenare wat hulle agtervolg, verdrink wanneer die see oor hulle toegaan.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
6:3—In watter sin was God se naam nog nie aan Abraham, Isak en Jakob bekend gemaak nie? Hierdie aartsvaders het die goddelike naam gebruik en beloftes van Jehovah af ontvang. Maar Jehovah was nog nie aan hulle bekend as die Vervuller van hierdie beloftes nie en hulle het dit ook nog nie self ondervind nie.—Genesis 12:1, 2; 15:7, 13-16; 26:24; 28:10-15.
7:1—Hoe is Moses “God gemaak vir Farao”? Moses is goddelike krag en gesag oor Farao gegee. Gevolglik was daar geen rede om bang te wees vir daardie koning nie.
7:22—Waar het die Egiptiese priesters water gekry wat nie in bloed verander is nie? Hulle kon water gebruik het wat voor hierdie plaag uit die Nylrivier geneem is. Skoon water kon klaarblyklik ook gevind word deur putte in die klam grond langs die Nylrivier te grawe.—Eksodus 7:24.
8:26, 27—Waarom het Moses gesê dat Israel se offerandes “vir die Egiptenaars verfoeilik” sou wees? Verskeie diere is in Egipte aanbid. Die feit dat Moses offerandes gemeld het, het dus groter krag en oortuiging verleen aan sy dringende versoek dat Israel toegelaat word om weg te trek sodat hulle aan Jehovah kon offer.
12:29—Wie is as die eersgeborene beskou? Net manlike kinders is as die eersgeborenes beskou (Numeri 3:40-51). Farao, wat self ook ’n eersgeborene was, is nie doodgemaak nie. Hy het sy eie gesin gehad. Nie die gesinshoof nie, maar die eersgebore seun van die gesin het weens die tiende plaag gesterf.
12:40—Hoe lank het die Israeliete in Egipteland gewoon? Die 430 jaar wat hier genoem word, sluit die tyd in wat die kinders van Israel “in die land Egipte en in die land Kanaän” deurgebring het. (Sien die voetnoot in NW.) Die 75-jarige Abraham het die Eufraatrivier in 1943 v.G.J. oorgesteek op pad na Kanaän (Genesis 12:4). Van toe af totdat die 130-jarige Jakob Egipte binnegegaan het, was 215 jaar (Genesis 21:5; 25:26; 47:9). Dit beteken dat die Israeliete daarna nog 215 jaar in Egipte deurgebring het.
15:8—Was die ‘gestolde’ water van die Rooi See in werklikheid gevriesde water? Die Hebreeuse werkwoord wat met “gestol” vertaal word, beteken om te krimp of te verdik. In Job 10:10 word die uitdrukking gebruik in verband met melk wat dik word. Die gestolde water verwys dus nie noodwendig na gevriesde water, of ys, nie. As die “sterk oostewind” waarvan Eksodus 14:21 praat, koud genoeg was om die water te laat vries, sou daar ongetwyfeld ’n verwysing na die uiterste koue gewees het. Aangesien niks sigbaars die water teruggehou het nie, het dit gelyk of dit gestol, of verdik, het.
Lesse vir ons:
7:14–12:30. Die Tien Plae was nie bloot toevallige gebeure nie. Dit is voorspel en het presies so plaasgevind. Hoe duidelik bewys dit tog die Skepper se beheer oor water, sonlig, insekte, diere en mense! Die plae toon ook dat God rampe selektief oor sy vyande kan bring terwyl hy sy aanbidders beskerm.
11:2; 12:36. Jehovah seën sy volk. Hy het hier blykbaar toegesien dat die Israeliete ’n loon ontvang vir hulle arbeid in Egipte. Hulle het die land as vry mense binnegegaan, nie as krygsgevangenes om slawe te word nie.
14:30. Ons kan vol vertroue wees dat Jehovah sy aanbidders tydens die komende “groot verdrukking” sal verlos.—Matteus 24:20-22; Openbaring 7:9, 14.
JEHOVAH ORGANISEER ’N TEOKRATIESE NASIE
In die derde maand ná hulle bevryding uit Egipte, slaan die Israeliete kamp op aan die voet van die berg Sinai. Hulle ontvang daar die Tien Gebooie en ander wette, sluit ’n verbond met Jehovah en word ’n teokratiese nasie. Moses bring 40 dae op die berg deur, ontvang voorskrifte aangaande ware aanbidding en die oprigting van Jehovah se tabernakel, ’n draagbare tempel. Intussen maak die Israeliete ’n goue kalf en aanbid dit. Wanneer Moses teen die berg afklim, sien hy dit en raak hy so woedend dat hy die twee kliptafels wat God hom gegee het, stukkend gooi. Nadat die oortreders hulle verdiende straf ontvang het, klim hy weer teen die berg op en ontvang hy ’n ander stel kliptafels. Wanneer Moses terugkeer, begin die werk aan die tabernakel. Teen die einde van Israel se eerste jaar van vryheid is hierdie merkwaardige tent en al sy toebehore voltooi en opgerig. Daarna vul Jehovah die tent met sy heerlikheid.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
20:5—In watter sin bring Jehovah “straf vir die oortreding van die vaders” oor toekomstige geslagte? Elke individu word op grond van sy eie gedrag en gesindheid geoordeel nadat hy volwassenheid bereik het. Maar wanneer die nasie Israel hulle tot afgodediens gekeer het, het hulle geslagte lank die gevolge daarvan ervaar. Selfs die getroue Israeliete het daaronder gely omdat die nasie se godsdiensontrouheid dit vir hulle moeilik gemaak het om hulle onkreukbaarheid te handhaaf.
23:19; 34:26—Waarom is die bevel gegee dat ’n boklam nie in sy moeder se melk gekook mag word nie? Om ’n boklam (of die kleintjie van ’n ander dier) in sy moeder se melk te kook, was blykbaar ’n heidense ritus wat uitgevoer is om reën te bring. Wat meer is, die moeder se melk is bedoel om haar kleintjies te voed, en dit sou dus wreed wees om haar kleintjies daarin te kook. Hierdie wet het God se volk help besef dat hulle medelydend moet wees.
23:20-23—Wie is die engel wat hier genoem word, en in watter sin was Jehovah se naam “in hom”? Hierdie engel was heel waarskynlik Jesus gedurende sy voormenslike bestaan. Hy is gebruik om die Israeliete op hulle weg na die Beloofde Land te lei (1 Korintiërs 10:1-4). Jehovah se naam is “in hom” in die sin dat Jesus die vernaamste persoon is wat sy Vader se naam hoog hou en heilig.
32:1-8, 25-35—Waarom is Aäron nie gestraf omdat hy die goue kalf gemaak het nie? Aäron was nie werklik ten gunste van die afgodediens nie. Hy het blykbaar later by mede-Leviete aangesluit en standpunt ingeneem vir God en teen dié wat Moses teëgestaan het. Nadat die skuldiges doodgemaak is, het Moses die volk daaraan herinner dat hulle ’n groot sonde gedoen het, wat toon dat ander benewens Aäron ook Jehovah se barmhartigheid ontvang het.
33:11, 20—Hoe het God “van aangesig tot aangesig” met Moses gepraat? Hierdie uitdrukking dui op ’n intieme gesprek tussen twee persone. Moses het met God se verteenwoordiger gepraat en deur hom het hy mondelings Jehovah se voorskrifte ontvang. Maar Moses het Jehovah nie gesien nie, want “geen mens kan [God] sien en nogtans lewe nie”. Trouens, Jehovah het nie persoonlik met Moses gepraat nie. Die Wet “is deur middel van engele deur die hand van ’n middelaar oorgedra”, sê Galasiërs 3:19.
Lesse vir ons:
15:25; 16:12. Jehovah voorsien in die behoeftes van sy knegte.
18:21. Die manne wat gekies word vir verantwoordelike posisies in die Christengemeente moet bekwaam, godvresend, betroubaar en onselfsugtig wees.
20:1–23:33. Jehovah is die Allerhoogste Wetgewer. Wanneer die Israeliete sy wette gehoorsaam het, kon hulle hom op ’n ordelike en vreugdevolle manier aanbid. Jehovah het vandag ’n teokratiese organisasie. As ons daarmee saamwerk, lei dit tot ons geluk en veiligheid.
Ware betekenis vir ons
Wat openbaar die boek Eksodus omtrent Jehovah? Dit stel hom voor as die liefdevolle Voorsiener, die onvergelyklike Verlosser en die Vervuller van sy voornemens. Hy is die God van teokratiese organisasie.
Terwyl jy die weeklikse Bybellees ter voorbereiding van die Teokratiese Bedieningskool doen, sal jy ongetwyfeld diep geraak word deur wat jy uit Eksodus leer. Wanneer jy nadink oor wat bespreek word in die gedeelte “Skriftuurlike vrae beantwoord”, sal jy groter insig in sekere Skrifgedeeltes verkry. Die kommentare onder “Lesse vir ons” sal toon hoe jy by die Bybellees vir die week kan baat vind.
[Prent op bladsy 24, 25]
Jehovah het die sagmoedige man Moses die opdrag gegee om die Israeliete uit slawerny te lei
[Prent op bladsy 25]
Die Tien Plae het die Skepper se beheer oor water, sonlig, insekte, diere en mense getoon
[Prent op bladsy 26, 27]
Deur middel van Moses het Jehovah die Israeliete in ’n teokratiese nasie georganiseer