Lewensverhaal
’n Verlate weeskind vind ’n liefdevolle Vader
SOOS VERTEL DEUR DIMITRIS SIDIROPOULOS
“Toe nou, vat hierdie wapen en skiet”, het die offisier my toegesnou terwyl hy ’n geweer in my hand probeer druk het. Ek het kalm geweier. Tot die ontsteltenis van die soldate wat toegekyk het, het koeëls uit die offisier se vuurwapen oor my skouer begin gons. Dit het gelyk of dit klaar is met my. Gelukkig het ek dit oorleef. Maar dit was nie die eerste keer dat my lewe in gevaar was nie.
ONS gesin het tot ’n etniese minderheid behoort wat naby Kayseri, in Kappadosië, Turkye, gewoon het. Party mense uit hierdie gebied het blykbaar in die eerste eeu G.J. die Christelike godsdiens aangeneem (Handelinge 2:9). Maar teen die begin van die 20ste eeu het die situasie ingrypend verander.
Eers ’n vlugteling, toe ’n weeskind
’n Paar maande ná my geboorte in 1922 moes ons gesin weens etniese botsings na Griekeland vlug. My paniekbevange ouers het met niks gevlug nie behalwe hulle maande oue baba, ek. Nadat hulle eindelose ontberinge gely het, het hulle in ’n haglike toestand in die dorp Kiria, naby Dráma, in Noord-Griekeland, aangekom.
Toe ek vier jaar oud was, en nadat my jonger broer gebore is, is my pa oorlede. Hy was net 27 jaar oud, maar die ellende van daardie angswekkende tye het sy gesondheid geknak. My ma het verskriklike ontberinge verduur, en kort daarna het sy ook gesterf. Ek en my broer is brandarm agtergelaat. Ons is van die een weeshuis na die ander gestuur, en op 12-jarige ouderdom het ek in ’n weeshuis in Tessalonika beland, waar ek met my opleiding as werktuigkundige begin het.
Terwyl ek in die liefdelose en onvriendelike atmosfeer van weeshuise grootgeword het, het ek gewonder waarom sekere mense soveel lyding en onreg verduur. Ek het my afgevra waarom God toelaat dat hierdie droewige toestande bestaan. In ons godsdiensklas is ons geleer dat God almagtig is, maar geen redelike verduideliking is gegee waarom boosheid bestaan en so algemeen is nie. Volgens ’n gewilde gesegde was die Grieks-Ortodokse Kerk die beste godsdiens. Toe ek gevra het: “As die Ortodokse Kerk die beste godsdiens is, waarom is almal dan nie Ortodoks nie?” het ek nie ’n bevredigende antwoord gekry nie.
Ons onderwyser het nietemin diep respek vir die Bybel gehad, en hy het dit by ons ingeskerp dat dit ’n heilige boek is. Die hoof van die weeshuis het dieselfde gesindheid geopenbaar, maar hy het om die een of ander onverklaarbare rede nie aan godsdiensverrigtinge deelgeneem nie. Toe ek hieroor navraag doen, is daar vir my gesê dat hy vroeër saam met Jehovah se Getuies gestudeer het, ’n godsdiens waarmee ek nie bekend was nie.
Toe ek my skoolopleiding by die weeshuis in Tessalonika voltooi het, was ek 17 jaar oud. Die Tweede Wêreldoorlog het begin, en Griekeland was onder Nazibeheer. Mense het in die strate van honger gesterf. Om aan die lewe te bly, het ek na die platteland gevlug en vir ’n skrale loon as ’n plaasarbeider gewerk.
Die Bybel voorsien antwoorde
Toe ek in April 1945 na Tessalonika teruggekeer het, het die suster van ’n jeugvriend saam met wie ek in ’n hele paar weeshuise was, my besoek. Paschalia het vir my gesê dat haar broer verdwyn het en gevra of ek dalk weet waar hy is. Tydens die gesprek het sy gesê dat sy een van Jehovah se Getuies is en genoem dat God in mense belangstel.
Vol verbittering het ek baie besware geopper. Waarom ly ek al sedert my vroeë kinderjare? Waarom is ek as ’n weeskind agtergelaat? Waar is God wanneer ons hom die nodigste het? Sy het geantwoord: “Is jy seker dat God vir al hierdie toestande verantwoordelik is?” Met behulp van haar Bybel het sy vir my gewys dat God mense nie laat ly nie. Sy het my gehelp om te sien dat die Skepper mense liefhet en binnekort toestande sal verbeter. Sy het tekste soos Jesaja 35:5-7 en Openbaring 21:3, 4 gebruik en vir my gewys dat oorlog, onenigheid, siekte en die dood binnekort uit die weg geruim sal word en dat getroue mense vir ewig op die aarde sal lewe.
Ek vind ’n gesin wat my ondersteun
Ek het uitgevind dat Paschalia se broer in ’n skermutseling van die guerillamagte dood is. Ek het hulle gesin besoek om hulle te vertroos, maar hulle het eerder aan my skriftuurlike vertroosting gegee. Ek het teruggegaan vir nog vertroostende gedagtes uit die Bybel, en kort daarna het ek deel geword van ’n groepie Getuies van Jehovah wat in die geheim bymekaargekom het om te studeer en te aanbid. Al was die Getuies ongewild in die gemeenskap, was ek vasbeslote om met hulle te bly omgaan.
Onder daardie groep nederige Christene het ek die hartlike, liefdevolle gesinsatmosfeer gevind wat ek gemis het. Hulle het die geestelike ondersteuning en hulp voorsien wat ek dringend nodig gehad het. Onder hulle het ek onselfsugtige en besorgde vriende gevind, wat bereid en gewillig was om my te help en te vertroos (2 Korintiërs 7:5-7). Nog belangriker, ek is gehelp om nader aan Jehovah te kom, wat ek teen dié tyd as my liefdevolle hemelse Vader beskou het. Sy liefde, medelye en diepe besorgdheid het my tot hom aangetrokke laat voel (Psalm 23:1-6). Uiteindelik het ek ’n geestelike gesin en ’n liefdevolle Vader gevind! My hart is geraak. Ek is kort daarna beweeg om my aan Jehovah toe te wy en is in September 1945 gedoop.
Die bywoning van Christelike vergaderinge het my nie net gehelp om meer kennis op te doen nie, maar het ook my geloof versterk. Aangesien ons nie vervoer gehad het nie, het ’n klomp van ons dikwels die vyf kilometer van ons dorp af na die vergaderplek gestap terwyl ons onvergeetlike geestelike gesprekke gehad het. Aan die einde van 1945, toe ek gehoor het van die geleentheid om aan die voltydse evangelisasiewerk deel te neem, het ek pionierdiens begin doen. ’n Hegte verhouding met Jehovah was noodsaaklik, want my geloof en onkreukbaarheid sou kort daarna tot die uiterste beproef word.
Teenstand boemerang
Gewapende polisiemanne het dikwels klopjagte op ons vergaderplek uitgevoer. Daar was Krygswet in die land, aangesien ’n burgeroorlog in Griekeland gewoed het. Vyandige groepe wat met haat vervul was, het mekaar wreedaardig aangeval. Die geestelikes het die situasie uitgebuit en die owerheid oortuig dat ons Kommuniste is en wreed vervolg moet word.
Ons is oor ’n tydperk van twee jaar dikwels in hegtenis geneem en is ses keer vonnisse van tot vier maande opgelê. Maar die tronke was reeds vol politieke gevangenes, en ons is dus vrygelaat. Ons het ons onverwagte vryheid gebruik om met die predikingswerk voort te gaan, maar is na ’n ruk weer in hegtenis geneem—drie keer in een week. Ons het geweet dat baie van ons broers na verlate eilande verban is. Sou my geloof sterk genoeg wees om so ’n toets te verduur?
Die situasie het baie moeilik geword toe ek op parool was. Om ’n oog op my te hou, het die owerheid my na Evosmos, naby Tessalonika, gestuur, waar daar ’n polisiestasie was. Ek het ’n kamer daar naby gehuur en my onderhou deur ’n rondreisende handearbeider te word wat koperpotte en -panne blink vryf. Terwyl ek pionierdiens in die omliggende dorpe gedoen het, het hierdie werk dit vir my moontlik gemaak om maklik toegang tot huise te kry sonder om die polisie agterdogtig te maak. Gevolglik het ’n hele aantal mense die goeie nuus gehoor en gunstig gereageer. Meer as tien van hulle het later toegewyde aanbidders van Jehovah geword.
Tien jaar, agt tronke
Ek is tot die einde van 1949 deur die polisie dopgehou, waarna ek na Tessalonika teruggekeer het, gretig om my voltydse bediening voort te sit. Net toe ek gedink het dat my beproewinge verby is, is ek in 1950 onverwags beveel om by die leër aan te sluit. Weens my Christelike neutraliteit was ek vasbeslote om nie te “leer om oorlog te voer” nie (Jesaja 2:4). So het ’n lang, pynlike ondervinding begin waartydens ek in party van die mees berugte tronke in Griekeland opgesluit is.
Dit het alles in die stad Dráma begin. Gedurende die eerste weke dat ek daar opgesluit is, het die nuwe soldate met hulle skietoefeninge begin. Ek is eendag na die skietbaan geneem. Een van die offisiere het ’n geweer in my hand probeer druk en my beveel om te skiet. Toe ek weier, het hy op my begin skiet. Toe ander offisiere sien dat ek dit nie wou doen nie, het hulle my wreed met die vuis begin slaan. Hulle het sigarette opgesteek en dit in my handpalms doodgedruk. Daarna het hulle my in alleenopsluiting geplaas. Dit het drie dae lank voortgeduur. Die pyn weens die brandwonde van die sigarette was ondraaglik, en ek het baie jare lank littekens op my hande gehad.
Voordat ek voor ’n krygsraad gebring is, is ek na ’n soldatekamp in Iráklion, Kreta, oorgeplaas. Daar het hulle my wreed geslaan in ’n poging om my my onkreukbaarheid te laat prysgee. Omdat ek bang was dat ek onder die druk sou swig, het ek vurig gebid en my hemelse Vader gevra om my te versterk. Die woorde van Jeremia 1:19 het by my opgekom: “Hulle sal vir seker teen jou veg, maar hulle sal nie die oorhand oor jou kry nie, want ‘ek is met jou’, is die woord van Jehovah, ‘om jou te verlos’.” Die strelende “vrede van God” het kalmte en gerustheid gebring. Ek het die wysheid daarvan ingesien om volkome op Jehovah te vertrou.—Filippense 4:6, 7; Spreuke 3:5.
By die daaropvolgende verhoor is ek tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Jehovah se Getuies is as die ergste “vyande van die Staat” beskou. Ek het my lewenslange straftyd in die Itsedin-strafgevangenis, buite Canea, begin uitdien, waar ek in alleenopsluiting gehou is. Itsedin was ’n ou fort, en my sel was vol rotte. Ek het my gewoonlik van kop tot tone in ’n toiingrige, ou kombers toegedraai sodat die rotte nie aan my lyf sou raak wanneer hulle oral oor my loop nie. Ek het longontsteking gekry en was baie siek. Die dokter het gesê dat ek in die son moet sit, en ek kon dus met baie van die gevangenes in die binneplaas besprekings hê. Maar my toestand het versleg, en ná ernstige longbloeding is ek na die Iráklion-hospitaal oorgeplaas.
My geestelike gesin van mede-Christene was weer eens daar toe ek hulle nodig gehad het (Kolossense 4:11). Die broers in Iráklion het my gereeld besoek om my te vertroos en te bemoedig. Ek het vir hulle gesê dat ek lektuur nodig het om vir belangstellendes te getuig. Hulle het vir my ’n tas met ’n vals bodem gebring waarin ek die lektuur veilig kon wegsteek. Hoe bly was ek tog dat ek gedurende my tyd in daardie tronke ten minste ses medegevangenes kon help om ware Christene te word!
Intussen het die burgeroorlog opgehou, en my vonnis is verander na tien jaar tronkstraf. Ek het die res van my vonnis uitgedien in tronke in Rethymno, Genti Koule en Kassandra. Nadat ek byna tien jaar in agt tronke deurgebring het, is ek vrygelaat en het ek na Tessalonika teruggekeer, waar my dierbare Christenbroers my hartlik verwelkom het.
Gelukkig tussen my Christenbroers
Teen daardie tyd kon die Getuies in Griekeland in betreklike vryheid aanbid. Ek het dadelik die geleentheid aangegryp om my voltydse bediening voort te sit. Kort daarna het ek nog ’n seën ontvang, want ek het ’n getroue Christensuster, Katina, leer ken, wat Jehovah liefgehad het en baie bedrywig in die predikingswerk was. Ons is in Oktober 1959 getroud. Die geboorte van ons dogter, Agape, en die feit dat ek my eie Christengesin gehad het, het die wonde wat deur my jare as weeskind veroorsaak is, verder genees. Bowenal was ons gesin tevrede om onder die beskermende sorg van ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, te dien.—Psalm 5:11.
Weens omstandighede buite my beheer moes ek die pionierdiens verlaat, maar ek het my vrou ondersteun terwyl sy haar voltydse diens voortgesit het. ’n Ware mylpaal in my Christelike lewe was ’n internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies wat in 1969 in Neurenberg, Duitsland, gehou is. Terwyl ek voorberei het om daarheen te reis, het ek om ’n paspoort aansoek gedoen. Toe my vrou na die polisiestasie toe gaan om te vra waarom ek die paspoort ná meer as twee maande nog nie gekry het nie, het ’n konstabel ’n dik lêer uit sy laai gehaal en gesê: “Vra jy ’n paspoort vir hierdie man sodat hy in Duitsland bekeerlinge kan maak? Vergeet daarvan! Hy is gevaarlik.”
Met Jehovah se hulp en dié van ’n paar broers is ek by ’n groeppaspoort ingesluit en kon ek dus daardie wonderlike byeenkoms bywoon. Die opkoms het ’n hoogtepunt van meer as 150 000 bereik, en ek kon duidelik sien dat Jehovah se gees hierdie internasionale geestelike gesin rig en verenig. Later in my lewe het ek die kosbare Christenbroederskap selfs meer waardeer.
In 1977 is my geliefde vrou en getroue metgesel oorlede. Ek het my bes gedoen om my dogter volgens Bybelbeginsels groot te maak, maar ek was nie alleen nie. My geestelike gesin het my weer eens te hulp gekom. Ek sal altyd dankbaar wees vir die ondersteuning van die broers gedurende daardie moeilike tyd. Party van hulle het selfs vir ’n ruk by ons ingetrek om na my dogter te kyk. Ek sal nooit hulle selfopofferende liefde vergeet nie.—Johannes 13:34, 35.
Agape het grootgeword en met ’n broer, Elias, getrou. Hulle het vier seuns, wat almal in die waarheid is. In onlangse jare het ek ’n aantal beroertes gehad en het my gesondheid agteruitgegaan. My dogter en haar gesin sorg goed vir my. Ondanks swak gesondheid het ek nog steeds baie redes om vreugdevol te wees. Ek onthou die tyd toe daar net sowat honderd broers in die hele Tessalonika was en hulle in die geheim in huise bymekaargekom het. Nou is daar sowat vyfduisend ywerige Getuies in hierdie gebied (Jesaja 60:22). By streekbyeenkomste kom jong broers na my toe en vra: “Onthou Oom nog hoe Oom altyd die tydskrifte na ons huis toe gebring het?” Hoewel die ouers dalk nie daardie tydskrifte gelees het nie, het hulle kinders wel, en hulle het geestelike vooruitgang gemaak!
Wanneer ek sien hoe Jehovah se organisasie groei, voel ek dat al die beproewinge wat ek verduur het, die moeite werd was. Ek sê altyd vir my kleinkinders en ander jonges dat hulle in hulle jeug aan hulle hemelse Vader moet dink, en hy sal hulle nooit verlaat nie (Prediker 12:1). Jehovah het sy woord nagekom en vir my “’n vader van vaderlose seuns” geword (Psalm 68:5). Hoewel ek vroeg in my lewe ’n verlate weeskind was, het ek uiteindelik ’n liefdevolle Vader gevind!
[Prent op bladsy 22]
Ek het as kok in die tronk in Dráma gewerk
[Prent op bladsy 23]
Saam met Katina op ons troudag, 1959
[Prent op bladsy 23]
’n Byeenkoms in ’n bos naby Tessalonika, laat 1960’s
[Prent op bladsy 24]
Saam met ons dogter, 1967