Ouers, beskerm julle kosbare erfenis
“Wysheid dien as ’n beskerming . . . [Dit hou] die besitters daarvan in die lewe.”—PREDIKER 7:12.
1. Waarom moet ouers hulle kinders as gawes beskou?
OUERS bring ’n nuwe, lewende mens in die wêreld wie se voorkoms en karaktertrekke soortgelyk is aan hulle s’n. Die Bybel noem hierdie kinders “’n erfdeel van Jehovah” (Psalm 127:3). Aangesien Jehovah die ware Lewegewer is, vertrou hy aan ouers toe wat in werklikheid aan hom behoort (Psalm 36:9). Ouers, hoe voel julle oor die feit dat julle so ’n kosbare gawe van God af ontvang het?
2. Hoe het Manoag gereageer toe hy hoor dat hy ’n vader sou word?
2 Hierdie gawe moet beslis met nederigheid en waardering ontvang word. Dit is hoe die Israeliet Manoag meer as 3 000 jaar gelede gereageer het toe ’n engel vir sy vrou gesê het dat sy ’n kind sou baar. Toe Manoag die nuus hoor, het hy gebid: “Verskoon my, Jehovah. Laat die man van die ware God wat u so pas gestuur het, asseblief weer na ons toe kom en ons onderrig oor wat ons behoort te doen met die kind wat gebore sal word” (Rigters 13:8). Ouers, wat kan julle uit Manoag se voorbeeld leer?
Waarom God se hulp nou nodig is
3. Waarom is God se hulp om kinders groot te maak, veral vandag nodig?
3 Ouers het nou meer as ooit tevore Jehovah se hulp nodig om hulle kinders groot te maak. Waarom? Satan die Duiwel en sy engele is uit die hemel na die aarde neergeslinger. “Wee die aarde”, waarsku die Bybel, “want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het” (Openbaring 12:7-9, 12). “Soos ’n brullende leeu”, verduidelik die Bybel, is Satan “daarop uit om iemand te verslind” (1 Petrus 5:8). Leeus maak gewoonlik jag op die kwesbaarstes, dikwels die kleintjies. Dit is dus verstandig van Christenouers om hulle tot Jehovah te wend vir leiding om hulle kinders te beskerm. Tot watter mate span jy jou in om dit te doen?
4. (a) Hoe sal ouers reageer as hulle weet dat daar ’n leeu in die omgewing rondloop? (b) Wat het kinders nodig om hulle te beskerm?
4 As jy weet dat daar ’n leeu in die omgewing rondloop, sal die beskerming van jou kinders beslis vir jou van die allergrootste belang wees. Satan is op soek na prooi. Hy probeer God se knegte verlei sodat hulle God se goedkeuring verloor (Job 2:1-7; 1 Johannes 5:19). Kinders is ’n maklike teiken. Om die strikke van die Duiwel te vermy, moet kinders Jehovah leer ken en gehoorsaam. Bybelkennis is noodsaaklik. “Dít beteken die ewige lewe”, het Jesus gesê, “dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Daarbenewens het kinders wysheid nodig—die vermoë om te verstaan en om toe te pas wat hulle leer. Aangesien “wysheid die besitters daarvan in die lewe hou”, moet julle as ouers die waarheid in die hart van julle kinders inprent (Prediker 7:12). Hoe kan julle dit doen?
5. (a) Hoe kan wysheid oorgedra word? (b) Hoe beskryf Spreuke die waarde van wysheid?
5 Julle kan—en moet—vir julle kinders uit God se Woord lees. Maar om hulle te help om Jehovah lief te kry en te gehoorsaam, behels meer as dit—dit behels dat hulle verstaan. Ter toeligting: ’n Mens sê dalk vir ’n kind om nie oor die straat te loop voordat hy links en regs gekyk het nie. En tog luister party kinders nie. Waarom nie? Miskien is die gevolge daarvan om deur ’n motor omgery te word, nie dikwels genoeg of op so ’n wyse aan die kind verduidelik dat hy besef watter gevaar dit inhou en hy die “dwaasheid” oorkom wat tot ’n ongeluk kan lei nie. Dit verg tyd sowel as baie geduld om wysheid oor te dra. Maar hoe waardevol is wysheid tog! “Sy weë is lieflike weë”, sê die Bybel, “en al sy paaie is vrede. Dit is ’n boom van die lewe vir dié wat dit aangryp, en dié wat dit stewig vashou, sal gelukkig genoem word.”—Spreuke 3:13-18; 22:15.
Onderrigting wat wysheid verleen
6. (a) Waarom tree kinders dikwels onwys op? (b) Watter stryd is aan die gang?
6 Kinders doen dikwels wat verkeerd is, nie omdat hulle nie geleer is wat reg is nie, maar omdat die onderrigting nie hulle hart—hulle innerlike—bereik het nie. Die Duiwel voer ’n stryd om die hart van jonges te verower. Hy beraam allerhande planne om hulle aan die goddelose invloed van sy wêreld bloot te stel. Hy probeer ook hulle oorgeërfde sondige neiging om slegte dinge te doen, uitbuit (Genesis 8:21; Psalm 51:5). Ouers moet besef dat daar werklik ’n stryd gevoer word om die hart van hulle kinders te verower.
7. Waarom is dit nie genoeg om net vir ’n kind te sê wat reg of verkeerd is nie?
7 Ouers sê gewoonlik vir ’n kind wat reg of verkeerd is en meen dan dat hulle hom ’n sekere sedelike beginsel geleer het. Hulle sê miskien vir die kind dat dit verkeerd is om ’n leuen te vertel, om te steel of om geslagsomgang met iemand te hê met wie jy nie getroud is nie. Maar ’n kind moet ’n sterker beweegrede hê om gehoorsaam te wees as net die feit dat sy ouers so sê. Hierdie wette kom van Jehovah. Die kind moet leer dat dit wys is om God se gebooie te gehoorsaam.—Spreuke 6:16-19; Hebreërs 13:4.
8. Watter soort onderrigting kan kinders help om wys op te tree?
8 Die kompleksiteit van die heelal, die groot verskeidenheid lewende dinge, die verandering van die seisoene—al hierdie dinge kan ’n jong kind help om te verstaan dat daar ’n alwyse Skepper is (Romeine 1:20; Hebreërs 3:4). Verder moet die kind geleer word dat God vir hom lief is en deur die offerande van Sy Seun voorsiening gemaak het om hom die ewige lewe te gee en dat hy God kan bly maak deur gehoorsaam te wees aan wat Hy sê. Dan sal die kind waarskynlik ’n begeerte ontwikkel om Jehovah te dien, ten spyte van die Duiwel se pogings om hom te keer.—Spreuke 22:6; 27:11; Johannes 3:16.
9. (a) Wat behels lewensreddende onderrigting? (b) Wat word vaders beveel om te doen, en wat is daarby betrokke?
9 Die soort onderrigting wat ’n kind beskerm en hom beweeg om te doen wat reg is, verg tyd, aandag en beplanning. Dit behels dat ouers God se leiding aanvaar. Die Bybel sê: “Vaders, . . . hou aan om [julle kinders] in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Wat beteken dit? In die oorspronklike Grieks dra “verstandsregulering” die gedagte oor van “denkwyse inskerp”. Vaders word dus in werklikheid aangespoor om Jehovah se denkwyse by hulle kinders in te skerp. Hoe sal dit die kinders tog nie beskerm nie! As God se gedagtes, die manier waarop hy dink, by kinders se verstande ingeprent word, beskerm dit hulle teen oortreding.
’n Begeerte wat liefde as dryfveer het
10. Wat moet jy weet om jou kind doeltreffend te onderrig?
10 As jy egter jou begeerte wil vervul om jou kind reg groot te maak, moet liefde die dryfveer van jou pogings wees. Goeie kommunikasie is belangrik. Vind uit wat in jou kind se lewe aangaan en wat sy of haar beskouing van sake is. Vra jou kind taktvol uit terwyl ’n ontspanne atmosfeer heers. Soms sal wat hy sê, jou dalk skok. Probeer jou bes om nie te oorreageer nie. Luister eerder met simpatieke besorgdheid.
11. Hoe kan ’n ouer God se denkwyse by ’n kind inskerp?
11 Jy het heel moontlik uit die Bybel vir jou kind gelees oor God se wette wat geslagsonsedelikheid verbied, miskien al verskeie kere (1 Korintiërs 6:18; Efesiërs 5:5). Dit het jou kind dalk laat besef wat Jehovah behaag en wat hom nie behaag nie. Maar om Sy denkwyse by ’n kind in te skerp, behels meer. Kinders het hulp nodig om oor die waarde van Jehovah se wette te redeneer. Hulle moet daarvan oortuig word dat sy wette reg en goed is en dat dit reg en liefdevol is om dit te gehoorsaam. Slegs as jy uit die Skrif met jou kinders redeneer sodat hulle God se beskouing aanvaar, kan daar gesê word dat jy sy denkwyse by hulle ingeskerp het.
12. Hoe kan ’n ouer sy kind help om die regte beskouing van geslagsomgang te verkry?
12 Wanneer julle oor geslagsomgang praat, kan jy vra: “Dink jy dat gehoorsaamheid aan Jehovah se wet om nie voor die huwelik geslagsomgang te hê nie, ’n mens van geluk sal beroof?” Moedig jou kind aan om sy antwoord te verduidelik. Nadat jy gepraat het oor God se wonderdadige voorsiening om ’n kind voort te bring, kan jy vra: “Dink jy ons liefdevolle God sal wette maak wat verhinder dat ons die lewe geniet? Of dink jy sy wette is daar om ons gelukkig te maak en ons te beskerm?” (Psalm 119:1, 2; Jesaja 48:17). Vind uit hoe jou kind hieroor voel. Daarna kan jy die aandag vestig op voorbeelde wat toon hoe geslagsonsedelikheid hartseer en probleme tot gevolg gehad het (2 Samuel 13:1-33). As jy met jou kind redeneer sodat hy God se beskouing verstaan en aanvaar, sal dit baie help om God se denkwyse by hom in te skerp. Maar daar is iets anders wat jy kan doen.
13. Wat sal ’n kind veral aanspoor om Jehovah te gehoorsaam?
13 Dit is verstandig om jou kind nie net te leer wat die gevolge van ongehoorsaamheid aan Jehovah is nie, maar om ook te verduidelik hoe Jehovah persoonlik geraak word deur die manier waarop ons lewe. Wys vir jou kind uit die Bybel dat ons Jehovah kan bedroef as ons nie sy wil doen nie (Psalm 78:41). Jy kan vra: “Waarom wil jy nie Jehovah se hart seermaak nie?” en verduidelik: “God se vyand Satan sê dat ons Jehovah net weens selfsugtige redes dien en nie omdat ons hom liefhet nie.” Verduidelik dan dat Job God se hart bly gemaak het deur sy onkreukbaarheid te handhaaf en sodoende ’n antwoord op Satan se valse aantyging voorsien het (Job 1:9-11; 27:5). Jou kind moet verstaan dat hy Jehovah deur sy gedrag óf hartseer óf gelukkig kan maak (Spreuke 27:11). Kinders kan hierdie en baie ander belangrike lesse geleer word met behulp van die boek Leer by die Groot Onderwyser.a
Verblydende resultate
14, 15. (a) Watter lesse in die Onderwyser-boek het kinders se hart geraak? (b) Watter goeie resultate het jy gehad toe jy die boek gebruik het? (Sien ook die venster op bladsye 18-19.)
14 ’n Oupa in Kroasië wat die Onderwyser-boek saam met sy sewejarige kleinseun lees, skryf dat die seuntjie vir hom gesê het: “Mamma het gesê ek moet iets doen, maar ek wou nie. Toe onthou ek die hoofstuk ‘Gehoorsaamheid beskerm jou’, en daarom het ek teruggegaan en vir haar gesê dat ek gehoorsaam sal wees.” Aangaande die hoofstuk “Hoekom ons nie leuens moet vertel nie” het ’n egpaar in Florida, VSA, gesê: “Dit bevat vrae wat kinders nooi om hulle hart oop te maak en foute te erken wat hulle andersins nie sou erken nie.”
15 Die Onderwyser-boek het meer as 230 prente, en daar is ’n byskrif, of beskrywing, by elke prent of groep prente. “My seun kyk dikwels lank na ’n prent en wil nie hê dat ek moet omblaai nie”, het ’n waarderende moeder gesê. “Die prente is nie net mooi nie, maar dit dra ook ’n les oor, of dit laat ten minste die kinders vrae vra. ’n Prent van ’n kind wat in ’n donker kamer sit en televisie kyk, het my seun laat vra: ‘Mamma, wat doen daardie seun?’ en sy stemtoon het aangedui dat hy weet dat iets verkeerd is.” Die byskrif by die prent sê: “Wie kan alles sien wat ons doen?”
Noodsaaklike onderrigting vir vandag
16. Watter onderrigting is vandag vir kinders noodsaaklik, en waarom?
16 Kinders moet weet wat die gepaste en ongepaste gebruik van hulle geslagsdele is. Maar dit is nie altyd maklik om hieroor te gesels nie. ’n Koerantrubriekskrywer het gemeld dat sy grootgeword het in ’n tyd toe dit as onbeskof beskou is om woorde te gebruik wat na die geslagsorgane verwys. Oor die onderrigting van haar kinders het sy geskryf: “Ek sal eenvoudig my verleentheid moet oorkom.” Ja, wanneer ouers weens verleentheid nie oor geslagsomgang praat nie, beskerm dit nie ’n kind nie. Molesteerders buit ’n kind se onkunde uit. Leer by die Groot Onderwyser bespreek die onderwerp op ’n heilsame, waardige wyse. Om kinders oor geslagsomgang in te lig, neem nie hulle onskuld weg nie, maar ’n versuim om dit te doen, kan daartoe lei dat hulle daarvan beroof word.
17. Hoe help die Onderwyser-boek ouers om hulle kinders van geslagsomgang te leer?
17 In hoofstuk 10, wat praat van die bose engele wat aarde toe gekom en kinders verwek het, word die kind gevra: “Wat weet jy van geslagsomgang?” Die boek gee ’n eenvoudige, waardige antwoord. Later beskryf hoofstuk 32 hoe kinders teen molesteerders beskerm kan word. Talle briewe het gewys dat hierdie onderrigting noodsaaklik is. Een het gesê: “Verlede week het ek my seun Javan na die kinderarts geneem, en sy het gevra of ons die gepaste gebruik van die geslagsorgane al met hom bespreek het. Sy was baie beïndruk dat ons dit met behulp van ons nuwe boek gedoen het.”
18. Hoe bespreek die Onderwyser-boek die verering van nasionale embleme?
18 ’n Ander hoofstuk handel oor die Bybelverslag van die drie jong Hebreërs Sadrag, Mesag en Abednego, wat geweier het om te buig voor ’n beeld wat die Babiloniese Staat voorgestel het (Daniël 3:1-30). Sommige verbind dalk nie beeldediens met vlagsaluering, soos die Onderwyser-boek doen nie. Maar let op wat die skrywer Edward Gaffney in ’n onderhoud met U.S. Catholic gesê het. Hy het gemeld dat sy dogter ná haar eerste dag by ’n openbare skool vir hom gesê het dat sy ’n “nuwe gebed by die skool” geleer het en dat hy haar toe gevra het om dit vir hom op te sê. “Sy het haar hand op haar hart gesit”, het Gaffney gesê, “en trots begin: ‘Ek sweer trou aan die vlag . . . ’” Hy het verder gesê: “Skielik het dit tot my deurgedring. Die Jehovah se Getuies was reg. Daar is ’n aspek van nasionale aanbidding wat op ’n baie vroeë stadium in ons skole bevorder word—’n onvoorwaardelike, onbeperkte lojaliteit.”
Dit is die inspanning werd
19. Watter belonings ontvang ouers as hulle hulle kinders onderrig?
19 Dit is werklik die inspanning werd om jou kinders te onderrig. ’n Moeder in Kansas, VSA, het trane in haar oë gekry toe sy ’n brief van haar seun ontvang het. Hy het geskryf: “Ek voel baie bevoorreg dat ek ’n opvoeding gehad het wat my gehelp het om emosioneel redelik stabiel en gebalanseerd te bly. Ma en Pa moet beslis hiervoor geprys word” (Spreuke 31:28). Leer by die Groot Onderwyser kan nog baie meer ouers help om hulle kinders te onderrig sodat hierdie kosbare erfenis beskerm kan word.
20. Wat moet ouers altyd onthou, en hoe moet dit hulle raak?
20 Ons kinders verdien al die tyd, aandag en inspanning wat ons hulle kan gee. Hulle is so ’n kort tydjie jonk. Benut elke geleentheid om saam met hulle te wees en hulle te help. Julle sal nooit spyt wees daaroor nie. Hulle sal vir julle lief word. Onthou altyd, julle kinders is God se gawe aan julle. Wat ’n kosbare erfenis is hulle tog! (Psalm 127:3-5). Behandel hulle dan as sodanig, asof julle teenoor God aanspreeklik is vir hoe julle hulle grootmaak, want ouers, julle ís aanspreeklik teenoor hom.
[Voetnoot]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies. Sien hoofstuk 40, “Hoe om God gelukkig te maak”.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom is dit veral nou belangrik dat ouers hulle kinders beskerm?
• Watter soort onderrigting verleen wysheid?
• Watter belangrike sake moet vandag met kinders bespreek word?
• Hoe het die Onderwyser-boek ouers gehelp om hulle kinders te leer?
[Venster/Prente op bladsy 18, 19]
’n Boek vir almal
Leer by die Groot Onderwyser is saamgestel om ouers of ander volwassenes te help om die leringe van Jesus Christus saam met kinders te lees en dit met hulle te bespreek. Maar volwassenes wat die boek op hulle eie gelees het, het opregte waardering uitgespreek vir wat hulle geleer het.
’n Man in Texas, VSA, het gesê: “Leer by die Groot Onderwyser is treffend in sy eenvoud en is ’n aansporing op enige ouderdom—selfs op 76, wat my ouderdom is. Baie dankie, van iemand wat Jehovah al sedert sy jeug dien.”
’n Leser van Londen, Engeland, vertel: “Die pragtige prente sal beslis die harte van ouers sowel as kinders diep raak. Die vrae en die manier waarop die boek saamgestel is, is wonderlik, en dit is baie goed om te sien dat sensitiewe onderwerpe bespreek word, soos in hoofstuk 32, ‘Hoe Jesus beskerm is’.” Sy het afgesluit: “Hoewel hierdie boek ongetwyfeld saamgestel is hoofsaaklik met die kinders van Jehovah se Getuies in gedagte, vermoed ek dat onderwysers en ander ook baie bly sal wees om ’n eksemplaar te ontvang. Ek sien daarna uit om dit in die komende maande en jare te gebruik.”
’n Vrou van Massachusetts, VSA, het kommentaar gelewer oor die talle “weldeurdagte prente”. Sy het geskryf: “Al is die boek vir kinders bedoel, het ek opgelet dat die onderwerpe wat bespreek word, ons as volwassenes ook kan help om oor ons persoonlike verhouding met Jehovah na te dink.”
“Wat ’n wonderlike boek!” het ’n vrou van Maine, VSA, uitgeroep. “Dit is nie net vir jonges nie, maar vir ons almal as God se kinders. Dit het my dieper geraak as wat ek gedink het moontlik is en het gevoelens in my gewek en dit dan laat kalmeer, sodat daar vrede in my was. Ek voel baie na aan Jehovah as my Vader. Hy het al die pyn weggeneem wat ek met die verloop van die jare ervaar het en het sy voorneme baie duidelik gemaak.” Sy het afgesluit: “Ek sê vir almal: ‘Lees dit gerus.’”
’n Vrou van Kioto, Japan, het vertel dat sy vir haar kleinkinders gelees het en hulle toe vir haar vrae gevra het soos: “‘Wat doen daardie seun? Hoekom kry hierdie dogtertjie raas? Wat van hierdie ma? Wat van hierdie leeu?’ Dit bespreek dinge waarin ons belangstel, en daarom hou ek baie meer daarvan as van enige boek wat ek in ’n biblioteek kan kry.”
’n Vader in Calgary, Kanada, sê dat hy onmiddellik nadat hy die boek ontvang het, vir sy sesjarige dogtertjie en sy negejarige seun daaruit begin lees het. “Hulle het dadelik wonderlik gereageer”, vertel hy. “My kinders het in die boek gevolg en die vrae uit hulle hart beantwoord. Hulle het gevoel dat hulle deel van die studie is, en dit het hulle die geleentheid gegee om te sê hoe hulle voel. Dit het hulle geesdriftig gemaak, en my dogtertjie sê dat sy elke aand uit die nuwe boek wil studeer.”
Ná een studie het die vader gesê: “Ek en my seun het ure lank oor Jehovah en sy voornemens gepraat. Hy het baie vrae gehad wat uit die boek kom. Ek het trane in my oë gekry toe hy vir my nagsê en vra: ‘Kan ons dit weer doen, Pappa? Ek het soveel vrae, en ek wil alles van Jehovah weet.’”
[Prent op bladsy 15]
Ouers, wat kan julle uit Manoag se voorbeeld leer?
[Prent op bladsy 16]
Kinders, wat kan julle uit die voorbeeld van die drie Hebreërs leer?
[Prente op bladsy 17]
Die prente en byskrifte in die “Onderwyser”-boek is kragtige onderrigmiddels
Watter leuen vertel Ananias vir Petrus?
Wie kan alles sien wat ons doen?