“Jehovah se swaard en Gideon s’n!”
HULLE is so talryk soos sprinkane en verander vrugbare landerye in ’n woesteny. Die gebeure speel af gedurende die tydperk wanneer rigters in Israel regeer, en die Israeliete is wanhopig. Sewe jaar lank al val plunderende bendes Midianiete, Amalekiete en Oosterlinge die land op hulle kamele binne sodra die gesaaides begin opkom. Die vee van die plunderaars versprei oor die land op soek na weiding en verslind alles wat groen is. Die mense van Israel het nie eers esels of bulle of skape nie. Midian se skrikbewind is so erg dat die brandarm Israeliete gebruik maak van ondergrondse opslagplekke in die berge, die grotte en moeilik toeganklike plekke.
Waarom verkeer hulle in hierdie benarde toestand? Afvallige Israel dien valse gode. Gevolglik het Jehovah hulle aan onderdrukkers oorgegee. Wanneer die kinders van Israel dit nie meer kan verduur nie, roep hulle tot Jehovah om hulp. Sal hy luister? Wat kan ons uit Israel se ondervinding leer?—Rigters 6:1-6.
Behoedsame boer of “dapper, sterk man”?
Israelitiese boere dors normaalweg hulle koring met ’n os en ’n dorsslee op ’n oop, hooggeleë plek sodat die bries die kaf gedurende die wanproses kan wegvoer en dit van die graan kan skei. Maar weens die bedreiging van plunderaars wat daarop uit is om die land te stroop, is hierdie proses heeltemal te opsigtelik. Waar die Midianiete hom nie kan sien nie, dors Gideon koring in ’n wynpers—waarskynlik ’n groot, beskutte kuip wat uit rots gekap is (Rigters 6:11). Daar kan die graan moontlik net in klein hoeveelhede met ’n stok uitgeslaan word. Onder die omstandighede doen Gideon wat hy kan.
Stel jou voor hoe verbaas Gideon is wanneer Jehovah se engel aan hom verskyn en sê: “Jehovah is met jou, dapper, sterk man” (Rigters 6:12). As ’n man wat in die geheim koring in ’n wynpers dors, voel Gideon ongetwyfeld alles behalwe dapper. Maar daardie woorde toon dat God vertroue het dat Gideon ’n dapper leier in Israel kan wees. Hy moet nietemin self daarvan oortuig word.
Wanneer Jehovah hom die opdrag gee om ‘Israel uit Midian se palm te red’, sê Gideon beskeie: “Verskoon my, Jehovah. Waarmee sal ek Israel red? Kyk! My duisend is die geringste in Manasse, en ek is die kleinste in my vader se huis.” Die behoedsame Gideon vra ’n teken dat God met hom sal wees om Midian te verslaan, en Jehovah is bereid om Gideon se redelike behoefte aan gerusstelling in ag te neem. Gideon bied dan vir sy engelebesoeker ’n gawe van voedsel aan, en vuur styg uit ’n rots op en verteer die offerande. Nadat Jehovah Gideon gerusgestel het, bou Gideon ’n altaar op daardie plek.—Rigters 6:12-24.
“Laat Baäl homself wetlik verdedig”
Israel se grootste probleem is nie onderdrukking deur die Midianiete nie. Dit is slawerny aan Baälaanbidding. Jehovah is “’n jaloerse God”, en niemand kan hom aanneemlik dien terwyl hulle ander gode aanbid nie (Eksodus 34:14). Jehovah beveel Gideon dus om sy vader se Baälaltaar te vernietig en die heilige paal af te kap. Uit vrees vir hoe sy vader en ander sal reageer as hy dit oordag doen, tree Gideon in die nag op met die hulp van tien knegte.
Gideon se behoedsaamheid is geregverdig, want toe plaaslike Baälaanbidders uitvind dat hy “heiligskennis” gepleeg het, eis hulle sy lewe. Met onbetwisbare logika redeneer Gideon se vader, Joas, egter met die mense en sê dat Baäl homself kan verdedig as hy God is. Dan noem Joas sy seun gepas Jerubbaäl, wat beteken: “Laat Baäl homself wetlik teen hom verdedig.”—Rigters 6:25-32, voetnoot in NW.
God seën altyd sy knegte as hulle ’n moedige standpunt vir ware aanbidding inneem. Wanneer die Midianiete en hulle bondgenote weer Israelitiese gebied inval, ‘omhul Jehovah se gees Gideon’ (Rigters 6:34). Onder die invloed van God se gees, of werkende krag, kry Gideon manskappe bymekaar uit die stamme Manasse, Aser, Sebulon en Naftali.—Rigters 6:35.
Voorbereiding om op te tree
Hoewel Gideon nou ’n leër van 32 000 manskappe het, vra hy ’n teken van God. As ’n vlies wat op die dorsvloer gelaat word, nat word van die dou terwyl die grond droog bly, sal dit ’n teken wees dat God Israel deur hom sal red. Jehovah verrig hierdie wonderwerk, en Gideon vra en ontvang bevestiging wanneer die teken omgekeer word—nat grond en ’n droë vlies. Is Gideon oorversigtig? Blykbaar nie, want Jehovah staan sy versoek om gerusstelling toe (Rigters 6:36-40). Ons verwag nie vandag sulke wonderwerke nie. Nogtans kan ons Jehovah se leiding en gerusstelling uit sy Woord kry.
God sê nou dat Gideon se leër te groot is. As die Israeliete met so ’n groot leër oor hulle vyande seëvier, sal hulle dalk spog dat hulle hulleself gered het. Maar Jehovah moet erkenning kry vir die komende oorwinning. Wat is die oplossing? Gideon moet ’n voorsiening van die Mosaïese Wet toepas deur dié wat bevrees is, te vra om hulle te onttrek. Daarop keer 22 000 van sy manne terug huis toe, en net 10 000 bly oor.—Deuteronomium 20:8; Rigters 7:2, 3.
Vanuit God se standpunt is daar nog steeds te veel manskappe. Gideon word aangesê om hulle na die water te laat afgaan. Die Joodse geskiedskrywer Josefus sê dat God Gideon beveel het om sy troepe op die hitte van die dag na ’n rivier te laat stap. Hoe dit ook al sy, Gideon kyk hoe die manne drink. Net 300 steek een hand in die water en lek daaruit terwyl hulle uitkyk vir ’n moontlike vyandelike aanval. Net die 300 waaksames sal saam met Gideon gaan (Rigters 7:4-8). Stel jou voor dat jy in hulle situasie is. Aangesien jou vyand 135 000 man sterk is, moet jy sekerlik tot die slotsom kom dat ’n oorwinning net deur Jehovah se krag moontlik sal wees, nie jou eie nie!
God nooi Gideon om ’n dienaar saam te neem en die kamp van die Midianiete te gaan verken. Terwyl hulle daar is, hoor Gideon hoe ’n man ’n droom aan sy metgesel vertel, wat dit dadelik vertolk as ’n teken dat God besluit het om Midian in Gideon se hand te gee. Dit is net die aanmoediging wat Gideon nodig het. Hy is seker dat Jehovah hom en sy 300 manskappe die oorwinning oor die Midianiete sal gee.—Rigters 7:9-15.
Oorlogstrategie
Die 300 word verdeel in drie afdelings van 100 elk. Elke man word ’n horing en ’n groot leë kruik gegee. ’n Fakkel word in die kruik versteek. Gideon se eerste bevel is: ‘Hou my dop en doen net soos ek doen. Wanneer ek op die horing blaas, moet julle op julle s’n blaas en uitroep: “Jehovah se swaard en Gideon s’n!”’—Rigters 7:16-18, 20.
Die 300 Israelitiese krygsmanne beweeg stilletjies na die rand van die vyand se kamp. Dit is omtrent tienuur die aand—net nadat die wagte omgeruil is. Dit is blykbaar die regte tyd vir die aanval, want dit sal ’n rukkie neem voordat die nuwe wagte se oë aan die donker gewoond raak.
Dan oorval angs die Midianiete! Skielik word die stilte verbreek deur die verbryseling van 300 kruike, die lawaai van 300 horings en die uitroepe van 300 mans. Verbysterd, veral oor die uitroep “Jehovah se swaard en Gideon s’n!” voeg die Midianiete hulle eie geskreeu by die geraas. In die chaos is dit vir hulle onmoontlik om vriend van vyand te onderskei. Die 300 staan stil op hulle toegewese plekke terwyl God veroorsaak dat die vyand hulle swaarde gebruik om mekaar om die lewe te bring. Die kamp word op die vlug gejaag, hulle ontsnappingsroetes word afgesny en opruimwerk wat ’n moeilike agtervolging behels, verwyder die Midianitiese bedreiging vir goed. Die lang en wrede invalle het uiteindelik tot ’n einde gekom.—Rigters 7:19-25; 8:10-12, 28.
Gideon is selfs ná hierdie oorwinning beskeie. Wanneer die Efraimiete, wat blykbaar aanstoot geneem het omdat hulle nie na die geveg geroep is nie, met hom probeer rusie soek, reageer hy op ’n sagmoedige wyse. Sy sagte antwoord keer hulle woede af en laat hulle gees bedaar.—Rigters 8:1-3; Spreuke 15:1.
Noudat daar vrede heers, vra die Israeliete Gideon om hulle koning te word. Wat ’n versoeking! Maar Gideon verwerp dit. Hy het nie uit die oog verloor wie eintlik vir die oorwinning oor Midian verantwoordelik was nie. “Ek sal nie oor julle heers nie, en ook sal my seun nie oor julle heers nie”, sê hy. “Jehovah sal oor julle heers.”—Rigters 8:23.
Maar as gevolg van sy onvolmaaktheid lê Gideon nie altyd goeie oordeel aan die dag nie. Om die een of ander onbekende rede maak hy ’n efod van die oorlogsbuit en stel hy dit in sy stad ten toon. Die verslag sê dat die hele Israel “onsedelike gemeenskap” met die efod begin hou. Hulle aanbid dit, en dit word selfs vir Gideon en sy huisgesin ’n strik. Maar hy verval nie in afgodediens nie, want volgens die Skrif is hy ’n man met geloof in Jehovah.—Rigters 8:27; Hebreërs 11:32-34.
Lesse vir ons
Gideon se verhaal voorsien waarskuwende sowel as aanmoedigende lesse. Dit waarsku ons dat, as Jehovah sy gees en seën van ons sou verwyder weens opstandige gedrag, ons geestelike toestand sal word soos dié van brandarm inwoners van ’n land wat deur sprinkane verwoes is. Ons lewe in kritieke tye en moet altyd onthou dat Jehovah se seën “ryk [maak], en hy voeg daar geen pyn by nie” (Spreuke 10:22). Ons geniet God se seën omdat ons “hom met ’n volkome hart en met ’n gewillige siel [dien]”. Anders sal hy ons verstoot.—1 Kronieke 28:9.
Ons kan bemoediging put uit die verslag oor Gideon, want dit bewys dat Jehovah sy volk uit enige gevaar kan verlos, selfs deur diegene te gebruik wat swak of hulpeloos lyk. Die feit dat Gideon en sy 300 manskappe 135 000 Midianiete kon verslaan, getuig van God se oneindige krag. Ons verkeer dalk in groot nood en dit lyk miskien of ons teen ’n oormag stry. Maar die Bybelverslag oor Gideon moedig ons aan om op Jehovah te vertrou, wat almal wat geloof in Hom beoefen, sal seën en verlos.