Wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie!
“Ons wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie.”—2 KORINTIËRS 5:7.
1. Wat toon dat die apostel Paulus deur geloof gewandel het, nie deur aanskouing nie?
DIT is die jaar 55 G.J. Ongeveer 20 jaar het verloop sedert ’n man wat vroeër Saulus genoem is, ’n vervolger van Christene, die Christelike godsdiens aangeneem het. Hy het nie toegelaat dat die verloop van tyd sy geloof in God laat afneem of verswak nie. Hoewel hy nie hemelse werklikhede met sy fisiese oë gesien het nie, is hy standvastig in die geloof. Toe hy geskryf het aan gesalfde Christene, wat die hemelse hoop gehad het, het die apostel Paulus dus gesê: “Ons wandel deur geloof, nie deur aanskouing nie.”—2 Korintiërs 5:7.
2, 3. (a) Hoe toon ons dat ons deur geloof wandel? (b) Wat beteken dit om deur aanskouing te wandel?
2 Om deur geloof te wandel, verg volkome vertroue in God se vermoë om ons lewe te rig. Ons moet ten volle daarvan oortuig wees dat hy werklik weet wat vir ons die beste is (Psalm 119:66). Wanneer ons besluite in die lewe neem en dit uitvoer, neem ons “werklikhede wat ons nie sien nie”, in ag (Hebreërs 11:1, The New English Bible). Dit sluit die beloofde “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” in (2 Petrus 3:13). Om deur aanskouing te wandel, beteken daarenteen dat ons ’n lewensweg volg wat uitsluitlik gerig word deur wat ons met ons fisiese sinne waarneem. Dit is gevaarlik omdat dit daartoe kan lei dat ons God se wil heeltemal verontagsaam.—Psalm 81:12; Prediker 11:9.
3 Hetsy ons van die “klein kuddetjie” is, met die hemelse roeping, of van die “ander skape”, met die aardse hoop, elkeen van ons moet die vermaning ter harte neem om deur geloof te wandel en nie deur aanskouing nie (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Kom ons kyk hoe die toepassing van hierdie geïnspireerde raad ons sal beskerm sodat ons nie ’n slagoffer van “die tydelike genieting van sonde” word, in die strik van materialisme trap en die einde van hierdie stelsel van dinge uit die oog verloor nie. Ons sal ook ondersoek watter gevare dit inhou om deur aanskouing te wandel.—Hebreërs 11:25.
Verwerp “die tydelike genieting van sonde”
4. Watter keuse het Moses gemaak, en waarom?
4 Dink net aan die lewe wat Moses, ’n seun van Amram, kon gehad het. Moses is saam met die koninklike kinders in eertydse Egipte grootgemaak, en mag, rykdom en invloed was binne sy bereik. Moses kon geredeneer het: ‘Ek is goed opgevoed in die befaamde wysheid van Egipte, en ek is kragtig in woord en daad. As ek deel van die koningshuis bly, kan ek my posisie tot voordeel van my onderdrukte Hebreeuse broers gebruik!’ (Handelinge 7:22). Maar Moses het verkies om liewer “saam met die volk van God sleg behandel te word”. Waarom? Wat het Moses beweeg om alles te verwerp wat Egipte kon bied? Die Bybel antwoord: “Deur geloof het [Moses] Egipte verlaat, maar sonder om die toorn van die koning te vrees, want hy het standvastig gebly asof hy die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:24-27). Moses se geloof dat Jehovah regverdigheid gewis beloon, het hom gehelp om nee te sê vir sonde en ’n weelderige lewe en die vlietende genot daarvan.
5. Hoe spoor Moses se voorbeeld ons aan?
5 Ons moet ook dikwels moeilike besluite neem oor kwessies soos: ‘Moet ek sekere gebruike of gewoontes opgee wat nie heeltemal met Bybelbeginsels ooreenstem nie? Moet ek ’n betrekking aanvaar wat skynbare materiële voordele inhou maar wat my geestelike vooruitgang sal belemmer?’ Moses se voorbeeld spoor ons aan om nie keuses te maak wat die kortsigtigheid van hierdie wêreld weerspieël nie; ons moet eerder geloof beoefen in die versiende wysheid van “die Onsigbare”—Jehovah God. Laat ons, soos Moses, Jehovah se vriendskap kosbaarder ag as enigiets wat hierdie wêreld kan bied.
6, 7. (a) Hoe het Esau getoon dat hy verkies het om deur aanskouing te wandel? (b) Watter waarskuwende voorbeeld voorsien Esau vir ons?
6 Vergelyk Moses met Esau, ’n seun van die aartsvader Isak. Esau het onmiddellike bevrediging verkies (Genesis 25:30-34). Omdat hy “heilige dinge nie waardeer [het] nie”, het Esau sy regte as eersgeborene “in ruil vir een maaltyd” weggegee (Hebreërs 12:16). Hy het nie gedink aan hoe sy besluit om sy geboortereg te verkoop, sy verhouding met Jehovah sou raak of watter uitwerking sy optrede op sy nageslag sou hê nie. Hy het ’n gebrek aan geestelike sig gehad. Esau het sy oë gesluit vir God se kosbare beloftes en het min waarde daaraan geheg. Hy het deur aanskouing gewandel, nie deur geloof nie.
7 Esau voorsien ’n waarskuwende voorbeeld vir ons wat vandag lewe (1 Korintiërs 10:11). Wanneer ons besluite moet neem, hetsy groot of klein, moet ons nie deur die propaganda van Satan se wêreld verlei word, wat sê dat jy onmiddellik moet kry wat jy begeer nie. Ons kan ons gerus afvra: ‘Is daar tekens van Esauagtige neigings in die besluite wat ek neem? Sal die najaging van dinge wat ek nou wil hê, beteken dat ek geestelike belange op die agtergrond moet skuif? Stel my keuses my vriendskap met God en my toekomstige beloning in gevaar? Watter soort voorbeeld stel ek vir ander?’ As ons keuses waardering vir heilige dinge weerspieël, sal Jehovah ons seën.—Spreuke 10:22.
Vermy die strik van materialisme
8. Watter waarskuwing het die Christene in Laodisea ontvang, en waarom is dit vir ons van belang?
8 In ’n openbaring wat die apostel Johannes teen die einde van die eerste eeu ontvang het, het die verheerlikte Jesus Christus ’n boodskap aan die gemeente in Laodisea, Klein-Asië, gegee. Dit was ’n waarskuwende boodskap teen materialisme. Hoewel die Christene in Laodisea materieel ryk was, was hulle geestelik bankrot. Pleks van voort te gaan om deur geloof te wandel, het hulle toegelaat dat materiële besittings hulle geestelik verblind (Openbaring 3:14-18). Materialisme het vandag ’n soortgelyke uitwerking. Dit verswak ons geloof en veroorsaak dat ons ophou om ‘die wedloop om die lewe met volharding te hardloop’ (Hebreërs 12:1). As ons nie versigtig is nie, kan die “genietinge van hierdie lewe” geestelike bedrywighede in so ’n mate smoor dat hulle “heeltemal verstik” word.—Lukas 8:14.
9. Hoe beskerm vergenoegdheid en waardering vir geestelike voedsel ons?
9 ’n Sleutel tot geestelike beskerming is om vergenoegd te wees eerder as om hierdie wêreld ten volle te gebruik en ons materieel te verryk (1 Korintiërs 7:31; 1 Timoteus 6:6-8). Wanneer ons deur geloof wandel en nie deur aanskouing nie, vind ons vreugde in die teenswoordige geestelike paradys. Word ons nie beweeg om “met vreugde [uit te roep] weens die goeie toestand van die hart” wanneer ons voedsame geestelike voedsel inneem nie? (Jesaja 65:13, 14). Verder skep ons behae in ons omgang met diegene wat die vrugte van God se gees openbaar (Galasiërs 5:22, 23). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons bevrediging en verkwikking put uit wat Jehovah in ’n geestelike sin voorsien!
10. Watter vrae kan ons ons gerus afvra?
10 ’n Paar vrae wat ons ons gerus kan afvra, is: ‘Watter plek beklee materiële dinge in my lewe? Gebruik ek my materiële besittings om ’n lewe van genot te lei of om ware aanbidding te bevorder? Wat verskaf my die grootste bevrediging? Is dit Bybelstudie en omgang by Christelike vergaderinge, of is dit naweke weg van Christelike verantwoordelike? Sit ek baie naweke opsy vir ontspanning eerder as om hierdie tyd vir die veldbediening en ander bedrywighede in verband met rein aanbidding te gebruik?’ Om deur geloof te wandel, beteken dat ons besig bly met die Koninkrykswerk, met volle vertroue in Jehovah se beloftes.—1 Korintiërs 15:58.
Hou die einde in gedagte
11. Hoe help dit ons om die einde in gedagte te hou as ons deur geloof wandel?
11 As ons deur geloof wandel, help dit ons om vleeslike opvattings dat die einde nog ver is of glad nie kom nie, te verwerp. In teenstelling met skeptici wat Bybelprofesieë as onbelangrik beskou, onderskei ons hoe wêreldgebeure ooreenstem met wat God se Woord oor ons dag voorspel het (2 Petrus 3:3, 4). Byvoorbeeld, bewys die gesindheid en die gedrag van die mense oor die algemeen nie dat ons in “die laaste dae” lewe nie? (2 Timoteus 3:1-5). Met die oë van geloof sien ons dat huidige wêreldgebeure nie net ’n herhaling van die geskiedenis is nie. Hulle vorm eerder “die teken van [Christus se] teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge”.—Matteus 24:1-14.
12. Hoe is Jesus se woorde in Lukas 21:20, 21 in die eerste eeu vervul?
12 Beskou ’n gebeurtenis in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling wat ’n parallel in ons dag het. Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy sy volgelinge gewaarsku: “Wanneer julle Jerusalem deur leërkampe omsingel sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby gekom het. Laat dié wat in Judea is, dan na die berge begin vlug, en laat dié wat in die stad is, uitgaan” (Lukas 21:20, 21). Ter vervulling van hierdie profesie het Romeinse leërs onder bevel van Cestius Gallus Jerusalem in 66 G.J. beleër. Maar die leërs het skielik teruggetrek, wat vir die Christene die teken en die geleentheid gegee het ‘om na die berge te vlug’. In 70 G.J. het die Romeinse leërs teruggekeer, die stad Jerusalem aangeval en sy tempel vernietig. Josefus berig dat meer as ’n miljoen Jode gesterf het, en 97 000 is gevange geneem. Goddelike oordeel is aan daardie Joodse stelsel van dinge voltrek. Diegene wat deur geloof gewandel en op Jesus se waarskuwing ag geslaan het, het die rampspoed vrygespring.
13, 14. (a) Watter gebeure sal binnekort plaasvind? (b) Waarom moet ons ingestel bly op die vervulling van Bybelprofesieë?
13 Iets soortgelyks sal binnekort in ons dag plaasvind. Elemente in die Verenigde Nasies sal betrokke wees by die voltrekking van goddelike oordeel. Net soos die Romeinse leërs van die eerste eeu veronderstel was om die Pax Romana (Romeinse Vrede) te bewaar, is die Verenigde Nasies van vandag veronderstel om ’n instrument vir die handhawing van vrede te wees. Hoewel die Romeinse leërs relatiewe veiligheid dwarsdeur die destyds bekende wêreld probeer verseker het, het hulle die verwoester van Jerusalem geword. Bybelprofesieë toon dat gemilitariseerde moondhede in die Verenigde Nasies godsdiens vandag eweneens as ’n steurende element sal beskou en sal optree om hedendaagse Jerusalem—die Christendom—sowel as die res van Babilon die Grote te vernietig (Openbaring 17:12-17). Ja, die hele wêreldryk van valse godsdiens staan op die randjie van vernietiging.
14 Die verwoesting van valse godsdiens sal die begin van die groot verdrukking aandui. Die oorblywende elemente van hierdie goddelose stelsel van dinge sal in die finale deel van die groot verdrukking vernietig word (Matteus 24:29, 30; Openbaring 16:14, 16). As ons deur geloof wandel, help dit ons om ingestel te bly op die vervulling van Bybelprofesieë. Ons word nie mislei om te dink dat enige mensgemaakte instelling, soos die Verenigde Nasies, God se middel is om ware vrede en veiligheid te bring nie. Moet ons lewenswyse dan nie getuig van ons oortuiging dat ‘die groot dag van Jehovah naby is’ nie?—Sefanja 1:14.
Hoe gevaarlik is dit om deur aanskouing te wandel?
15. In watter strik het die nasie Israel getrap ten spyte daarvan dat hulle God se seën geniet het?
15 Die ondervindinge van eertydse Israel toon watter gevare dit inhou wanneer ’n mens toelaat dat jou geloof verswak omdat jy deur aanskouing wandel. Ten spyte daarvan dat die Israeliete die tien plae gesien het wat die valse gode van Egipte verneder het en toe die skouspelagtige verlossing deur die Rooi See ervaar het, was hulle ongehoorsaam en het hulle ’n goue kalf gemaak en dit begin aanbid. Hulle het rusteloos geraak en moeg geword om vir Moses te wag, wat ‘lank geneem het om van die berg af te kom’ (Eksodus 32:1-4). Ongeduld het hulle beweeg om ’n afgod te aanbid wat met die natuurlike oë gesien kon word. Die feit dat hulle deur aanskouing gewandel het, het Jehovah aanstoot gegee en tot die teregstelling van “ongeveer drieduisend man” gelei (Eksodus 32:25-29). Hoe jammer is dit tog wanneer ’n aanbidder van Jehovah vandag besluite neem wat getuig van ’n gebrek aan vertroue in Jehovah en in sy vermoë om sy beloftes te vervul!
16. Hoe is die Israeliete deur fisiese dinge beïnvloed?
16 Fisiese dinge het op ander maniere ’n negatiewe invloed op die Israeliete gehad. Omdat hulle deur aanskouing gewandel het, het hulle gebewe van angs vir hulle vyande (Numeri 13:28, 32; Deuteronomium 1:28). Dit het veroorsaak dat hulle Moses se godgegewe gesag bevraagteken het en oor hulle lot in die lewe gekla het. Hierdie gebrek aan geloof het daartoe gelei dat hulle die demoonbeheerde Egipte bo die Beloofde Land verkies het (Numeri 14:1-4; Psalm 106:24). Hoe gekrenk moes Jehovah tog gevoel het toe hy gesien het watter growwe oneerbiedigheid sy volk vir hulle onsigbare Koning toon!
17. Wat het veroorsaak dat die Israeliete Jehovah se leiding in Samuel se dag verwerp het?
17 Die begunstigde nasie Israel het in die profeet Samuel se dag weer in die strik getrap om deur aanskouing te wandel. Die volk wou ’n koning hê wat hulle kon sien. Al het Jehovah getoon dat hy hulle Koning was, was dit nie genoeg om hulle deur geloof te laat wandel nie (1 Samuel 8:4-9). Tot hulle eie nadeel het hulle dwaaslik die foutlose leiding van Jehovah verwerp en verkies om eerder soos die omliggende nasies te wees.—1 Samuel 8:19, 20.
18. Watter lesse kan ons leer oor die gevare wat dit inhou om deur aanskouing te wandel?
18 As Jehovah se hedendaagse knegte koester ons ons goeie verhouding met God. Ons is gretig om waardevolle lesse uit gebeure van die verlede te leer en in ons lewe toe te pas (Romeine 15:4). Wanneer die Israeliete deur aanskouing gewandel het, het hulle vergeet dat God hulle deur Moses gelei het. As ons nie versigtig is nie, kan ons ook vergeet dat Jehovah God en die Grotere Moses, Jesus Christus, die hedendaagse Christengemeente lei (Openbaring 1:12-16). Ons moet oppas dat ons nie ’n menslike beskouing verkry van die aardse deel van Jehovah se organisasie nie. As dit gebeur, kan dit lei tot ’n klaerige gees en ’n verlies van waardering vir Jehovah se verteenwoordigers sowel as vir die geestelike voedsel wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word.—Matteus 24:45.
Wees vasbeslote om deur geloof te wandel
19, 20. Wat is jy vasbeslote om te doen, en waarom?
19 “Ons het ’n worstelstryd”, sê die Bybel, “nie teen bloed en vlees nie, maar teen die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke” (Efesiërs 6:12). Ons grootste vyand is Satan die Duiwel. Sy doelwit is om ons geloof in Jehovah te vernietig. Hy sal geen vorm van oorreding oor die hoof sien wat ons kan laat afwyk van ons besluit om God te dien nie (1 Petrus 5:8). Wat sal ons beskerm sodat ons nie mislei word deur die fisiese dinge in Satan se stelsel nie? Ons moet deur geloof wandel, nie deur aanskouing nie! Vertroue in Jehovah se beloftes sal verhoed dat ons ‘skipbreuk ly wat ons geloof betref’ (1 Timoteus 1:19). Laat ons dan vasbeslote wees om tot elke prys deur geloof te bly wandel, met volle vertroue in Jehovah se seën. En mag ons aanhou bid dat ons ontkom aan al die dinge wat bestem is om in die nabye toekoms te gebeur.—Lukas 21:36.
20 Terwyl ons deur geloof wandel, nie deur aanskouing nie, het ons ’n voortreflike Voorbeeld. “Christus het vir julle gely”, sê die Bybel, “en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Die volgende artikel sal bespreek hoe ons kan bly wandel soos hy gewandel het.
Onthou jy?
• Wat het jy geleer uit die voorbeelde van Moses en Esau ten opsigte daarvan om deur geloof te wandel, nie deur aanskouing nie?
• Wat is die sleutel om materialisme te vermy?
• Hoe help dit ons om die opvatting dat die einde nog ver is, te vermy as ons deur geloof wandel?
• Waarom is dit gevaarlik om deur aanskouing te wandel?
[Prent op bladsy 17]
Moses het deur geloof gewandel
[Prent op bladsy 18]
Hou ontspanning jou dikwels weg van teokratiese bedrywighede?
[Prent op bladsy 20]
Hoe beskerm dit jou as jy aandag skenk aan God se Woord?