Bly wandel soos Jesus Christus gewandel het
“Hy wat sê dat hy in eenheid met [God] bly, staan onder verpligting om self ook te bly wandel net soos hy [Jesus] gewandel het.”—1 JOHANNES 2:6.
1, 2. Wat behels dit om die blik stip gerig te hou op Jesus?
“LAAT ons die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding hardloop”, het die apostel Paulus geskryf, “terwyl ons die blik stip gerig hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus” (Hebreërs 12:1, 2). Om die weg van getrouheid te volg, vereis dat ons die blik stip gerig hou op Jesus Christus.
2 Die woord in die oorspronklike taal vir “die blik stip gerig hou”, soos dit in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik word, beteken “om die aandag sonder afleiding te vestig op”, “om van een ding weg te kyk om ’n ander te sien”, “om die blik te vestig op”. Een naslaanwerk sê: “Die oomblik wanneer die Griekse hardloper in die stadion sy aandag verwyder van die baan en die doelwit waarheen hy hardloop en dit op die skare toeskouers vestig, neem sy spoed af. Dieselfde geld vir die Christen.” Afleidings kan ons geestelike vooruitgang belemmer. Ons moet die blik stip gerig hou op Jesus Christus. En waarvoor soek ons in die Hoofbewerker? Die Griekse woord wat met “hoofbewerker” vertaal word, beteken “hoofleier, een wat die leiding in enigiets neem en dus die voorbeeld stel”. Om die blik stip gerig te hou op Jesus, vereis dat sy voorbeeld gevolg word.
3, 4. (a) Wat vereis dit van ons om te wandel soos Jesus Christus gewandel het? (b) Watter vrae verdien ons aandag?
3 “Hy wat sê dat hy in eenheid met [God] bly, staan onder verpligting om self ook te bly wandel net soos hy [Jesus] gewandel het”, sê die Bybel (1 Johannes 2:6). Ons moet in eenheid met God bly deur Jesus se gebooie te bewaar net soos hy dié van sy Vader bewaar het.—Johannes 15:10.
4 Om te wandel soos Jesus gewandel het, vereis dus dat ons hom as die Hoofleier noukeurig waarneem en dat ons sy voetstappe noukeurig volg. Die belangrike vrae wat in hierdie opsig ondersoek moet word, is: Hoe lei Christus ons vandag? Hoe moet dit ons beïnvloed as ons die wyse waarop hy gewandel het, navolg? Watter voordele hou dit in om te bly by die voorbeeld wat Jesus Christus gestel het?
Hoe Christus sy volgelinge lei
5. Watter belofte het Jesus aan sy volgelinge gemaak voordat hy opgevaar het hemel toe?
5 Voordat die verrese Jesus Christus opgevaar het hemel toe, het hy aan sy dissipels verskyn en vir hulle ’n belangrike werk gegee. Hy het gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies.” By daardie geleentheid het die Hoofleier ook belowe om met hulle te wees terwyl hulle hierdie toewysing uitvoer en gesê: “Kyk! ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die stelsel van dinge” (Matteus 28:19, 20). Hoe is Jesus Christus met sy volgelinge in hierdie tyd van die voleinding van die stelsel van dinge?
6, 7. Hoe lei Jesus ons deur middel van die heilige gees?
6 “Die helper, die heilige gees, wat die Vader in my naam sal stuur”, het Jesus gesê, “dié sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat ek julle vertel het” (Johannes 14:26). Die heilige gees, wat in Jesus se naam gestuur word, rig en versterk ons vandag. Dit verlig ons geestelik en help ons om “selfs die diep dinge van God” te verstaan (1 Korintiërs 2:10). Verder is die godvrugtige eienskappe “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing” “die vrugte van die gees” (Galasiërs 5:22, 23). Met behulp van die heilige gees kan ons hierdie eienskappe aankweek.
7 Wanneer ons die Skrif bestudeer en probeer toepas wat ons leer, help Jehovah se gees ons om toe te neem in wysheid, onderskeidingsvermoë, begrip en kennis sowel as om groter oordeels- en denkvermoë te ontwikkel (Spreuke 2:1-11). Die heilige gees help ons ook om versoekings en beproewinge te verduur (1 Korintiërs 10:13; 2 Korintiërs 4:7; Filippense 4:13). Christene word gemaan om ‘hulle van elke verontreiniging van die vlees en die gees te reinig en heiligheid tot volmaaktheid te bring’ (2 Korintiërs 7:1). Kan ons werklik sonder die hulp van die heilige gees aan God se vereiste van heiligheid, of reinheid, voldoen? Een van die middele wat Jesus gebruik om ons vandag te lei, is die heilige gees, wat Jehovah God sy Seun gemagtig het om te gebruik.—Matteus 28:18.
8, 9. Hoe gebruik Christus “die getroue en verstandige slaaf” om leierskap te voorsien?
8 Beskou nog iets deur middel waarvan Christus vandag die gemeente lei. Toe Jesus oor sy teenwoordigheid en die voleinding van die stelsel van dinge gepraat het, het hy gesê: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee? Gelukkig is daardie slaaf as sy heer by sy aankoms vind dat hy dit doen! Voorwaar, ek sê vir julle: Hy sal hom oor al sy besittings aanstel.”—Matteus 24:3, 45-47.
9 Die “heer” is Jesus Christus. Die “slaaf” is die groep gesalfde Christene op die aarde. Aan hierdie slaafklas is die taak toevertrou om na Jesus se aardse belange om te sien en om tydige geestelike voedsel te voorsien. ’n Klein groepie bekwame opsieners uit die saamgestelde “getroue en verstandige slaaf” maak die Bestuursliggaam uit, wat as die verteenwoordiger van die slaafklas dien. Hulle rig die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk en die voorsiening van geestelike voedsel op die regte tyd. So lei Christus die gemeente deur middel van die geesgesalfde “getroue en verstandige slaaf” en sy Bestuursliggaam.
10. Wat moet ons gesindheid teenoor die ouer manne wees, en waarom?
10 Nog ’n blyk van Christus se leierskap is die “gawes in die vorm van mense”—Christen- ouer manne, of opsieners. Hulle is gegee “om die heiliges reg te help, vir bedieningswerk, vir die opbouing van die liggaam van die Christus” (Efesiërs 4:8, 11, 12). Aangaande hulle sê Hebreërs 13:7: “Hou dié in gedagte wat die leiding onder julle neem, wat die woord van God tot julle gespreek het, en namate julle die uiteinde van hulle gedrag aanskou, moet julle hulle geloof navolg.” Die ouer manne neem die leiding in die gemeente. Aangesien hulle Christus Jesus navolg, word hulle geloof navolgenswaardig (1 Korintiërs 11:1). Ons kan ons waardering vir die ouermanreëling toon deur gehoorsaam en onderdanig te wees aan hierdie “gawes in die vorm van mense”.—Hebreërs 13:17.
11. Deur middel waarvan lei Christus sy volgelinge vandag, en wat behels dit om te wandel soos hy gewandel het?
11 Ja, Jesus Christus lei sy volgelinge vandag deur die heilige gees, “die getroue en verstandige slaaf” en die gemeentelike ouer manne. Om te wandel soos Christus gewandel het, behels dat ons verstaan hoe hy leiding gee en dat ons ons daaraan onderwerp. Dit vereis ook dat ons die wyse waarop hy gewandel het, navolg. “Tot hierdie weg is julle geroep”, het die apostel Petrus geskryf, “want ook Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Watter invloed moet dit op ons hê as ons Jesus se volmaakte voorbeeld navolg?
Wees redelik in die uitoefening van gesag
12. Watter aspek van Christus se voorbeeld is van besondere belang vir die ouer manne in die gemeente?
12 Hoewel Jesus ongeëwenaarde gesag van sy Vader ontvang het, was hy redelik in die manier waarop hy dit uitgeoefen het. Almal in die gemeente—veral die opsieners—moet hulle “redelikheid aan alle mense bekend [laat] word” (Filippense 4:5; 1 Timoteus 3:2, 3). Aangesien ouer manne ’n mate van gesag in die gemeente het, is dit noodsaaklik dat hulle Christus se voetstappe volg in hoe hulle dit uitoefen.
13, 14. Hoe kan ouer manne Christus navolg wanneer hulle ander aanspoor om God te dien?
13 Jesus het die beperkings van sy dissipels in ag geneem. Hy het nie meer van hulle geëis as wat hulle kon gee nie (Johannes 16:12). Sonder om druk op hulle uit te oefen, het Jesus sy volgelinge aangespoor om ‘hulle kragtig in te span’ om God se wil te doen (Lukas 13:24). Hy het dit gedoen deur die leiding te neem en deur hulle harte te raak. Hedendaagse Christen- ouer manne intimideer ander eweneens nie sodat hulle God uit skaamte of skuldgevoelens dien nie. Hulle spoor hulle eerder aan om Jehovah te dien uit liefde vir hom en vir Jesus, sowel as vir hulle naaste.—Matteus 22:37-39.
14 Jesus het nie die gesag wat aan hom toevertrou is, misbruik deur mense se lewe te beheer nie. Hy het nie onbereikbare standaarde gestel of tallose reëls neergelê nie. Sy benadering was om ander te motiveer deur hulle harte te bereik met die beginsels agter die wette wat deur middel van Moses gegee is (Matteus 5:27, 28). In navolging van Jesus Christus weerhou die ouer manne hulle daarvan om arbitrêre reëls te maak of op hulle eie sienswyse aan te dring. Wanneer dit by kleredrag en persoonsversorging of ontspanning en vermaak kom, probeer ouer manne harte bereik deur goddelike beginsels te gebruik, soos dié wat in Miga 6:8, 1 Korintiërs 10:31-33 en 1 Timoteus 2:9, 10 uiteengesit word.
Wees simpatiek en vergewensgesind
15. Hoe het Jesus op die tekortkominge van sy dissipels gereageer?
15 Christus het vir ons ’n navolgenswaardige voorbeeld gestel in die manier waarop hy op sy dissipels se tekortkominge en foute gereageer het. Beskou twee voorvalle gedurende sy laaste nag as ’n mens op aarde. Nadat hulle in Getsemane aangekom het, het Jesus “Petrus en Jakobus en Johannes saam met hom geneem” en vir hulle gesê: “Hou aan waak.” Daarna het hy “’n entjie verder gegaan en toe op die grond neergeval en begin bid”. Toe hy by hulle terugkom, het hy “hulle aan die slaap gevind”. Hoe het Jesus gereageer? Hy het gesê: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak” (Markus 14:32-38). Hy het Petrus, Jakobus en Johannes nie skerp bestraf nie, maar eerder simpatie betoon! Daardie selfde nag het Petrus Jesus drie keer verloën (Markus 14:66-72). Hoe het Jesus Petrus hierna behandel? “Die Here is werklik opgewek en het aan Simon [Petrus] verskyn” (Lukas 24:34). “Hy [het] aan Sefas verskyn”, sê die Bybel, “toe aan die twaalf” (1 Korintiërs 15:5). Jesus het nie ’n wrok gekoester nie, maar het die berouvolle apostel eerder vergewe en hom versterk. Later het Jesus groot verantwoordelikhede aan Petrus toevertrou.—Handelinge 2:14; 8:14-17; 10:44, 45.
16. Hoe kan ons wandel soos Jesus gewandel het wanneer ons medegelowiges ons teleurstel of ons die een of ander onreg aandoen?
16 Moet ons dan nie ook, wanneer ons medegelowiges ons weens menslike onvolmaaktheid teleurstel of ons die een of ander onreg aandoen, soos Jesus, simpatiek en vergewensgesind wees nie? Petrus het sy medegelowiges aangespoor: “Julle almal [moet] eensgesind wees, meegevoel betoon, broederlike geneentheid en tere medelye hê, nederig van verstand wees, nie kwaad met kwaad of uitskellery met uitskellery vergeld nie, maar seën eerder” (1 Petrus 3:8, 9). Sê nou iemand behandel ons nie soos Jesus sou gedoen het nie deur te weier om simpatiek of vergewensgesind te wees? Selfs dan staan ons onder verpligting om Jesus te probeer navolg en te reageer soos hy sou gereageer het.—1 Johannes 3:16.
Stel Koninkryksbelange eerste
17. Wat toon dat die uitvoering van God se wil die eerste plek in Jesus se lewe beklee het?
17 Daar is nog ’n manier waarop ons moet wandel soos Jesus Christus gewandel het. Die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk het die belangrikste plek in Jesus se lewe beklee. Nadat hy vir die Samaritaanse vrou naby die stad Sigar in Samaria getuig het, het Jesus vir sy dissipels gesê: “My voedsel is om die wil te doen van hom wat my gestuur het en om sy werk te volbring” (Johannes 4:34). Die uitvoering van sy Vader se wil het Jesus aan die gang gehou; dit was vir hom so versterkend, bevredigend en verkwikkend soos voedsel. Sal dit tot enigiets minder as ’n werklik sinvolle en bevredigende lewe lei as ons Jesus navolg deur ons voortdurend daarop toe te lê om God se wil te doen?
18. Watter seëninge bring dit mee wanneer kinders aangespoor word om die voltydse diens te betree?
18 Wanneer ouers hulle kinders aanspoor om die voltydse diens te betree, ontvang húlle sowel as hulle kinders baie seëninge. ’n Vader van tweelingseuns het pionierdiens van hulle kinderdae af voor hulle gestel as ’n doelwit. Nadat die tweeling hulle sekulêre opvoeding voltooi het, het hulle pioniers geword. Hierdie vader skryf oor die vreugdes wat hy as gevolg hiervan ontvang het: “Ons seuns het ons nie teleurgestel nie. Ons kan met dankbaarheid sê: ‘Seuns is ’n erfdeel van Jehovah’” (Psalm 127:3). En hoe baat kinders daarby wanneer hulle voltydse diens nastreef? ’n Moeder van vyf sê: “Die pionierdiens het al my kinders gehelp om ’n baie hegter verhouding met Jehovah aan te kweek, het hulle persoonlike studiegewoontes verbeter en het hulle gehelp om te leer hoe om hulle tyd wyslik te gebruik en om geestelike dinge eerste in hulle lewe te stel. Hoewel hulle almal baie aanpassings moes maak, is nie een van hulle spyt dat hulle dié weg gekies het nie.”
19. Watter toekomsplanne moet jongmense wyslik oorweeg?
19 Jongmense, wat is julle toekomsplanne? Wil julle in die een of ander beroep uitblink? Of streef julle ’n loopbaan in die voltydse diens na? “Let . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses”, het Paulus gemaan, “terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae boos is.” Hy voeg by: “Hou om dié rede op om onredelik te word, maar gaan voort om te begryp wat die wil van Jehovah is.”—Efesiërs 5:15-17.
Wees lojaal
20, 21. In watter opsig was Jesus lojaal, en hoe kan ons sy lojaliteit navolg?
20 Om te wandel soos Jesus gewandel het, vereis dat ons sy lojaliteit navolg. Die Bybel sê oor Jesus se lojaliteit: “Hoewel hy in God se gedaante bestaan het, [het hy] geen gewelddadige inbesitneming, naamlik om aan God gelyk te wees, oorweeg . . . nie. Nee, maar hy het homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en aan die mense gelyk geword. Wat meer is, toe hy hom in gestalte as ’n mens bevind het, het hy homself verneder en gehoorsaam geword tot in die dood, ja, die dood aan ’n folterpaal.” Jesus het Jehovah se soewereiniteit lojaal ondersteun deur hom te onderwerp aan God se wil vir hom. Hy het gehoorsaam geword tot in die dood aan ’n folterpaal. Ons moet ‘hierdie geestesgesindheid bewaar’ en ons lojaal daaraan onderwerp om God se wil te doen.—Filippense 2:5-8.
21 Jesus het ook lojaliteit aan sy getroue apostels getoon. Ondanks hulle swakhede en onvolmaakthede het Jesus hulle “tot die einde toe” liefgehad (Johannes 13:1). Ons moet eweneens nie toelaat dat die onvolmaakthede van ons broers ons ’n kritiese gesindheid laat ontwikkel nie.
Bly by die voorbeeld wat Jesus gestel het
22, 23. Watter voordele bring dit mee wanneer ons bly by die voorbeeld wat Jesus gestel het?
22 As onvolmaakte mense kan ons natuurlik nie presies in die voetstappe van ons volmaakte Voorbeeld wandel nie. Maar ons kan daarna streef om sy voetstappe noukeurig te volg. Om dit te doen, vereis dat ons verstaan hoe Christus leiding gee en ons daaraan onderwerp en dat ons bly by die voorbeeld wat hy gestel het.
23 As ons navolgers van Christus word, bring dit baie seëninge mee. Ons lewe word sinvoller en meer bevredigend omdat ons ons daarop toelê om God se wil eerder as ons eie te doen (Johannes 5:30; 6:38). Ons het ’n goeie gewete. Ons begin op ’n voorbeeldige wyse wandel. Jesus het almal wat swoeg en swaar belaai is, genooi om na hom toe te kom en verkwikking vir hulle siele te vind (Matteus 11:28-30). Wanneer ons Jesus se voorbeeld navolg, kan ook ons ander deur ons omgang verkwik. Laat ons dan bly wandel soos Jesus gewandel het.
Onthou jy?
• Hoe lei Christus vandag sy volgelinge?
• Hoe kan ouer manne Christus se leiding volg in die manier waarop hulle hulle godgegewe gesag uitoefen?
• Hoe kan ons Jesus se voorbeeld navolg wanneer ons voor die tekortkominge van ander te staan kom?
• Hoe kan jongmense Koninkryksbelange eerste stel?
[Prent op bladsy 23]
Christen- ouer manne help ons om Christus se leierskap te volg
[Prente op bladsy 24, 25]
Jongmense, watter planne maak julle sodat julle ’n lonende Christelike lewe kan lei?