Hoe werklik is die Duiwel vir jou?
DIE Skrif beeld die Duiwel uit as ’n werklike persoon. Hy is onsigbaar vir mense om dieselfde rede dat God vir mense-oë onsigbaar is. “God is ’n Gees”, sê die Bybel (Johannes 4:24). Die Duiwel is ’n geesskepsel. Maar in teenstelling met die Skepper het die Duiwel ’n begin gehad.
Lank voordat Jehovah God mense geskep het, het hy ’n menigte geesskepsele gemaak (Job 38:4, 7). In die Bybel word hierdie geeste engele genoem (Hebreërs 1:13, 14). God het hulle almal volmaak geskep—nie één van hulle was ’n duiwel of het enige bose eienskap gehad nie. Hoe het die Duiwel dan ontstaan? Die woord “duiwel” beteken “lasteraar” en verwys dus na iemand wat kwaadwillige leuens oor ander vertel. “Satan” beteken “Teenstander”. Net soos ’n man wat vroeër eerlik was, van homself ’n dief maak deur te steel, het een van die volmaakte geesseuns van God aan ’n verkeerde begeerte toegegee en homself Satan die Duiwel gemaak. Die Bybel verduidelik die proses van selfverderwing soos volg: “Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde; en wanneer die sonde volbring is, bring dit die dood voort.”—Jakobus 1:14, 15.
Dit is klaarblyklik wat gebeur het. Toe Jehovah God die eerste mensepaar, Adam en Eva, geskep het, het die engel wat teen God in opstand sou kom, daarop gelet. Hy het geweet dat Jehovah Adam en Eva beveel het om die aarde te vul met regverdige mense, wat die Skepper sou aanbid (Genesis 1:28). Hierdie engel het gesien dat daar ’n moontlikheid bestaan dat hy eer en vernaamheid kon verkry. Sy gierigheid het hom hebsugtig laat begeer wat net die Skepper toekom—die aanbidding van mense. In plaas van dié verkeerde begeerte te verwerp, het hierdie geesseun van God dit gekoester totdat dit aanleiding gegee het tot ’n leuen en toe tot opstand. Kyk na wat hy gedoen het.
Die opstandige engel het ’n slang gebruik om met die eerste vrou, Eva, te praat. “Is dit werklik so dat God gesê het dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?” het die slang Eva gevra. Toe Eva meld wat God se bevel en die straf vir ongehoorsaamheid daaraan is, het die slang gesê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie. Want God weet dat die dag as julle [van die boom wat in die middel van die tuin is] eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:1-5). Hy het die aantyging gemaak dat God nie vir Adam en Eva die waarheid vertel het nie. Deur van die vrugte van daardie boom te eet, sou Eva glo soos God word en sou sy die gesag hê om te besluit wat goed en wat kwaad is. Dit was die eerste leuen wat ooit vertel is. Toe hy dit vertel het, het daardie engel ’n lasteraar geword. Hy het ook ’n teenstander van God geword. Die Bybel identifiseer dus hierdie vyand van God as “die oorspronklike slang, die een wat Duiwel en Satan genoem word”.—Openbaring 12:9.
“Wees waaksaam”
Die leuen wat die Duiwel aan Eva vertel het, het gewerk net soos hy beplan het. Die Bybel sê: “Gevolglik het die vrou gesien dat die boom goed is vir voedsel en dat dit ’n lus vir die oë is, ja, die boom was begeerlik om na te kyk. Toe het sy van sy vrugte begin neem en dit geëet. Daarna het sy ook vir haar man daarvan gegee toe hy by haar was, en hy het dit begin eet” (Genesis 3:6). Eva het Satan geglo en was ongehoorsaam aan God. Sy het Adam sover gekry om ook God se wet te verbreek. Die Duiwel het dus daarin geslaag om die eerste mensepaar ’n weg van opstand teen God te laat inslaan. Sedertdien oefen Satan ’n onsigbare invloed oor menseaangeleenthede uit. Wat is sy doel? Om mense af te keer van die aanbidding van die ware God en hulle aanbidding vir homself te verkry (Matteus 4:8, 9). Die Skrif waarsku dus met goeie rede: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind.”—1 Petrus 5:8.
Hoe duidelik toon die Bybel tog dat die Duiwel ’n werklike geespersoon is—’n engel wat verdorwe en gevaarlik geword het! As ons waaksaam wil bly, is dit eerstens noodsaaklik om te besef dat hy werklik bestaan. Maar dit is nie al wat nodig is om nugter van verstand en waaksaam te bly nie. Dit is ook belangrik om nie onkundig te wees omtrent Satan se “planne” en die metodes wat hy gebruik om mense te mislei nie (2 Korintiërs 2:11). Watter sette gebruik hy? En hoe kan ons dit met welslae weerstaan?
Die Duiwel buit die mens se ingebore behoefte uit
Die Duiwel neem mense al sedert die skepping van die mensdom waar. Hy ken die mens se samestelling—sy behoeftes, sy belangstellings en sy begeertes. Satan weet goed dat die mens met ’n geestelike behoefte geskep is, en die Duiwel het hierdie behoefte listig uitgebuit. Hoe? Deur godsdiensleuens aan die mensdom op te dis (Johannes 8:44). Baie godsdiensleringe oor God is teenstrydig en verwarrend. Wie se oogmerk dink jy bevorder dit? Teenstrydige leringe kan nie almal waar wees nie. Is dit dan nie moontlik dat baie godsdiensleringe spesifiek deur Satan uitgedink is en deur hom gebruik word om mense te mislei nie? Trouens, die Bybel verwys na hom as “die god van hierdie stelsel van dinge”, wat mense se verstande verblind het.—2 Korintiërs 4:4.
Goddelike waarheid bied beskerming teen godsdiensleuens. Die Bybel vergelyk die waarheid van God se Woord met die gordel wat ’n eertydse soldaat gedra het om sy lendene te help beskerm (Efesiërs 6:14). As jy kennis van die Bybel inneem en by die boodskap daarin bly, asof jy daarmee omgord is, sal God se Woord jou beskerm sodat jy nie deur godsdiensleuens en -dwalinge mislei word nie.
Die mens se geestelike behoefte het daartoe aanleiding gegee dat hy die onbekende ondersoek. Dit het hom blootgestel aan nog een van Satan se bedrieglike liste. Satan het die mens se nuuskierigheid oor wat vreemd en geheimsinnig is, uitgebuit en spiritisme gebruik om baie mense onder sy beheer te bring. Soos ’n jagter aas gebruik om sy prooi te lok, gebruik Satan liste soos waarsêery, sterrewiggelary, hipnose, handlesery en towery om mense oor die hele wêreld te lok en te verstrik.—Levitikus 19:31; Psalm 119:110.
Hoe kan jy jou teen die strik van spiritisme beskerm? Deuteronomium 18:10-12 sê: “Daar mag niemand onder jou gevind word wat sy seun of sy dogter deur die vuur laat gaan, wat van waarsêery gebruik maak, die toorkuns beoefen of voortekens soek of wat ’n towenaar is nie, of wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek of ’n geestemedium of ’n beroepsvoorspeller van gebeure om inligting vra of die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir Jehovah verfoeilik, en weens hierdie verfoeilike dinge verdryf Jehovah jou God hulle voor jou uit.”
Die skriftuurlike raad is duidelik: Moet niks met spiritisme te doen hê nie. Gestel jy beoefen die een of ander vorm van spiritisme en wil nou daarmee ophou. Jy kan die voorbeeld volg van die vroeë Christene in die stad Efese. Toe hulle “die woord van Jehovah” aangeneem het, sê die Bybel, het “heelparty van dié wat toorkunste beoefen het, . . . hulle boeke bymekaargebring en voor almal verbrand”. Daardie boeke was duur. Dit was 50 000 silwerstukke werd (Handelinge 19:19, 20). Maar Christene in Efese het nie geaarsel om dit te vernietig nie.
Satan buit menslike swakhede uit
’n Volmaakte engel het Satan die Duiwel geword omdat hy geswig het voor die begeerte na selfverheffing. Hy het ook by Eva ’n trotse, selfsugtige begeerte aangewakker om soos God te wees. Vandag hou Satan baie in sy greep deur trots in hulle te wek. Sommige dink byvoorbeeld dat hulle ras, etniese groep of nasionaliteit beter is as ander s’n. Hoe teenstrydig is dit tog met wat die Bybel leer! (Handelinge 10:34, 35). Die Bybel sê duidelik: “[God] het uit een mens elke nasie van die mense gemaak.”—Handelinge 17:26.
’n Doeltreffende verweer teen Satan se pogings om trots in mense te wek, is nederigheid. Die Bybel maan ons “om nie meer van [onsself] te dink as wat dit nodig is om te dink nie” (Romeine 12:3). “God staan die hoogmoediges teë”, sê dit, “maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges” (Jakobus 4:6). Een gewisse manier om Satan se pogings te weerstaan, is om nederigheid en ander eienskappe wat God goedkeur, in jou persoonlike lewe te openbaar.
Die Duiwel buit ook graag die menslike swakheid uit om voor verkeerde sinlike begeertes te swig. Dit was Jehovah God se voorneme dat mense die lewe geniet. Wanneer begeertes binne die perke van God se wil bevredig word, bring dit ware geluk mee. Maar Satan bring mense in die versoeking om hulle drange op onsedelike wyse te bevredig (1 Korintiërs 6:9, 10). Dit is baie beter om jou gedagtes gerig te hou op dinge wat kuis en deugsaam is (Filippense 4:8). Dit sal jou help om jou gedagtes en emosies streng te beheer.
Hou aan om die Duiwel te weerstaan
Kan jy die Duiwel met welslae weerstaan? Ja, jy kan. Die Bybel verseker ons: “Staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug” (Jakobus 4:7). Selfs al staan jy Satan teë, sal hy nie onmiddellik tou opgooi en ophou om dinge vir jou moeilik te maak terwyl jy kennis van God inneem nie. Nee, die Duiwel sal op “ ’n ander geskikte tyd” weer probeer (Lukas 4:13). Maar jy hoef die Duiwel nie te vrees nie. As jy aanhou om hom te weerstaan, sal hy jou nie van die ware God kan wegkeer nie.
Om die Duiwel te weerstaan, verg egter kennis van wie hy is en hoe hy mense mislei sowel as van die beskermende maatreëls wat jy teen sy sette kan neem. Daar is net een betroubare bron van daardie kennis—God se Woord, die Bybel. Wees dus vasbeslote om die geïnspireerde Skrif te bestudeer en om wat jy daaruit leer, in jou lewe toe te pas. Jehovah se Getuies in jou omgewing sal jou met graagte kosteloos met so ’n studie help op ’n tyd wat jou pas. Tree gerus met hulle in verbinding of skryf aan die uitgewers van hierdie tydskrif.
Wanneer jy die Bybel begin studeer, moet jy besef dat Satan moontlik teenstand of vervolging sal gebruik om jou te laat ophou om die waarheid uit God se Woord te leer. Sommige van jou geliefdes sal miskien vir jou kwaad word omdat jy die Bybel studeer. Dit sal dalk gebeur omdat hulle nie bekend is met die wonderlike waarhede daarin nie. Ander sal jou moontlik spot. Maar sal dit God behaag as jy voor sulke druk swig? Die Duiwel wil jou ontmoedig sodat jy ophou om omtrent die ware God te leer. Waarom moet jy toelaat dat Satan wen? (Matteus 10:34-39). Jy is niks aan hom verskuldig nie. Jy is jou lewe aan Jehovah verskuldig. Wees dus vasbeslote om die Duiwel te weerstaan en ‘Jehovah se hart bly te maak’.—Spreuke 27:11.
[Prent op bladsy 6]
Diegene wat Christene geword het, het hulle boeke oor spiritisme verbrand
[Prent op bladsy 7]
Wees vasbeslote om die Bybel te bestudeer