Christophe Plantin—’n baanbreker op die gebied van Bybeldrukwerk
JOHANNES GUTENBERG (omstreeks 1397-1468) is daarvoor bekend dat hy die eerste Bybel geproduseer het wat met behulp van los drukletters gedruk is. Maar baie min mense weet van Christophe Plantin. Hy was ’n baanbreker op die gebied van drukwerk wat ’n belangrike rol daarin gespeel het om gedurende die 16de eeu boeke en Bybels aan mense regoor die wêreld beskikbaar te maak.
Christophe Plantin is in omstreeks 1520 in Saint-Avertin, Frankryk, gebore. Toe Plantin in sy laat twintigerjare was, het hy hom in Antwerpen in die Lae Lande gevestig omdat die godsdiensklimaat verdraagsamer was en ekonomiese geleenthede daar meer belowend was as in Frankryk.a
Plantin het sy loopbaan as ’n boekbinder en leerwerker begin. Sy ryklik versierde leerwerk was baie gesog onder die rykes. Maar ’n voorval in 1555 het Plantin van beroep laat verander. Terwyl hy op pad was om ’n leertas af te lewer wat bestel is vir die heerser van die Lae Lande, koning Filips II van Spanje, is Plantin in Antwerpen op straat aangeval. ’n Paar dronk mans het sy skouer met ’n swaard deurboor. Hoewel Plantin van die wond herstel het, kon hy nie handearbeid doen nie en was hy dus verplig om sy ambag te laat vaar. Met die finansiële ondersteuning van Hendrik Niclaes, die leier van ’n Anabaptistegroep, het Plantin drukwerk begin doen.
“Werk en volharding”
Plantin het sy drukkery De Gulden Passer (Die Goue Passer) genoem. Sy handelsmerk het bestaan uit twee goue tekenpassers met die inskripsie “Labore et Constantia”, wat “werk en volharding” beteken. Die handelsmerk het blykbaar by hierdie vlytige man gepas.
Omdat Plantin in ’n era van groot godsdiens- en politieke omwentelinge in Europa gelewe het, het hy moeilikheid probeer vermy. Drukwerk was vir hom belangriker as enigiets anders. Hoewel hy simpatiek was teenoor die Protestantse Hervorming, het hy “nie ’n duidelike standpunt oor godsdiens ingeneem nie”, sê die skrywer Maurits Sabbe. Om dié rede is Plantin geteister deur gerugte dat hy ketterse boeke druk. In 1562 is hy byvoorbeeld gedwing om vir meer as ’n jaar na Parys te vlug.
Toe Plantin in 1563 na Antwerpen teruggekeer het, het hy ’n vennootskap aangegaan met ryk handelaars, waarvan heelparty vir hulle Calvinistiese oortuigings bekend was. Tydens ’n vyf jaar lange vennootskap het Plantin se drukperse 260 verskillende werke gedruk. Dit het Hebreeuse, Griekse en Latynse Bybeluitgawes ingesluit, sowel as pragtig versierde uitgawes van die Nederlandse Katolieke Leuven-Bybel.
“Die belangrikste tipografiese prestasie”
In 1567, gedurende die tydperk toe weerstand teen Spaanse heerskappy in die Lae Lande toegeneem het, het Spanje se koning Filips II die hertog van Alba gestuur om as goewerneur daar op te tree. Met volmag van die koning het die hertog die groeiende Protestantse teenstand probeer uitwis. Plantin het dus met ’n enorme projek begin wat hy gehoop het alle agterdog dat hy ’n ketter is, uit die weg sou ruim. Hy het ’n sterk begeerte gehad om ’n vakkundige uitgawe van die Bybelteks in sy oorspronklike tale te druk. Vir hierdie nuwe uitgawe het Plantin daarin geslaag om die ondersteuning van Filips II te kry. Die koning het finansiële hulp belowe en die welbekende humanis Arias Montano gestuur om oor die projek toesig te hou.
Montano het ’n aanleg vir tale gehad, en hy het 11 uur per dag gewerk. Hy is bygestaan deur Spaanse, Belgiese en Franse taalkundiges. Hulle doelwit was om ’n nuwe weergawe van die bekende Complutensiese Poliglot voor te berei.b Benewens die Latynse Vulgaat, die Griekse Septuagint en die oorspronklike Hebreeuse teks het Plantin se nuwe Poliglot-Bybel ’n Aramese Targoem en die Siriese Pesjitta ingesluit, tesame met hulle onderskeie letterlike Latynse vertalings.
Drukwerk het in 1568 begin. Die kolossale taak is teen 1573 voltooi. Dit was vinnig vir daardie tyd. Montano het in ’n brief aan koning Filips II geskryf: “Meer word in een maand hier vermag as in ’n jaar in Rome.” Plantin het 1 213 eksemplare van die nuwe Poliglot-Bybel gedruk, waarvan elk uit agt groot dele bestaan het. Op die titelblad was daar ’n gedrukte prent van ’n leeu, ’n bul, ’n wolf en ’n lam wat vreedsaam uit dieselfde voerbak eet, ’n uitbeelding van Jesaja 65:25. ’n Ongebonde stel het 70 gulde gekos—’n aansienlike bedrag, aangesien die gemiddelde gesin destyds sowat 50 gulde per jaar verdien het. Die volledige stel het as die Antwerpen-Poliglot bekend geword. Dit is ook die Biblia Regia (Koninklike Bybel) genoem omdat koning Filips II dit geborg het.
Al het pous Gregorius XIII die Bybel goedgekeur, is Arias Montano hewig gekritiseer vir sy werk. Een rede hiervoor is dat Montano gemeen het dat die oorspronklike Hebreeuse teks beter was as die Latynse Vulgaat. Sy grootste teenstander was León de Castro, ’n Spaanse teoloog wat die Latynse Vulgaat as die hoogste gesag beskou het. De Castro het Montano daarvan beskuldig dat hy die teks met anti-Trinitariese filosofie besmet het. De Castro het byvoorbeeld spesifiek opgemerk dat die Siriese Pesjitta die vervalste invoeging in 1 Johannes 5:7, “in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (Ou Afrikaanse Bybelvertaling), weggelaat het. Die Spaanse Inkwisisie het egter bevind dat Montano onskuldig was van enige kettery. Die Antwerpen-Poliglot word deur party beskou as “die belangrikste tipografiese prestasie deur ’n enkele drukker gedurende die 16de eeu”.
’n Blywende bydrae
Die meeste drukkers van daardie tyd het slegs twee of drie perse besit. Op die hoogtepunt van sy produktiwiteit het Plantin egter niks minder as 22 perse en 160 werkers gehad nie. Oral in die Spaanse wêreld het hy die reputasie as ’n vername drukker verwerf.
Intussen het weerstand teen die Spaanse bewind in die Lae Lande toegeneem. Antwerpen was in hierdie konflik verwikkel. In 1576 het Spaanse huursoldate wat nie hulle betaling ontvang het nie, gemuit en die stad geplunder. Meer as 600 huise is afgebrand, en duisende van Antwerpen se inwoners is vermoor. Handelaars het uit die stad gevlug. Dit het ’n groot finansiële verlies vir Plantin beteken. Wat meer is, hy is gedwing om die muiters ’n buitensporige bedrag geld te betaal.
In 1583 het Plantin na Leiden getrek, ’n stad sowat 100 kilometer noord van Antwerpen. Daar het hy ’n drukkery op die been gebring en is hy as drukker vir die Universiteit van Leiden aangestel, ’n instelling wat deur Calvinistiese Protestante gestig is. Die ou aantygings van ontrouheid aan die Katolieke Kerk het weer kop uitgesteek. Plantin het dus aan die einde van 1585 na Antwerpen teruggekeer, kort nadat die stad weer onder Spaanse beheer gekom het. Teen daardie tyd was hy al in sy sestigerjare, en Die Goue Passer het slegs vier werknemers oorgehad wat op ’n enkele pers gewerk het. Plantin het die drukkery weer begin opbou. Maar dit het nooit sy vorige status heeltemal herwin nie, en Plantin is op 1 Julie 1589 oorlede.
Oor ’n tydperk van 34 jaar het Christophe Plantin 1 863 verskillende boekuitgawes gedruk, gemiddeld amper 55 per jaar. Dit sal selfs vandag ’n ongelooflike prestasie wees vir ’n onafhanklike drukker! Hoewel Plantin self nie ’n ferm godsdiensstandpunt ingeneem het nie, het sy werk nie net drukwerk en tipografie bevorder nie, maar ook die studie van die geïnspireerde Skrif (2 Timoteus 3:16). Ja, Plantin en ander drukkers van sy tyd het grootliks daartoe bygedra dat Bybels uiteindelik vir die man op straat beskikbaar geword het.
[Voetnote]
a Die uitdrukking “Lae Lande” verwys na die kusgebied tussen Duitsland en Frankryk, wat die hedendaagse België, Nederland en Luxemburg insluit.
b Hierdie veeltalige Bybel is in 1517 uitgegee. Dit het die teks in Hebreeus, Grieks en Latyn bevat en sommige dele in Aramees. Sien “Die Complutensiese Poliglot—’n geskiedkundige vertaalhulpmiddel” in Die Wagtoring van 15 April 2004, bladsye 28-31.
[Venster/Prent op bladsy 15]
DIE PLANTIN-MORETUS-MUSEUM
Die gebou in die stad Antwerpen waar Plantin en sy nakomelinge gewoon en gewerk het, is in 1877 as ’n museum vir die publiek geopen. Geen ander drukkery van daardie tydperk het behoue gebly nie. Vyf drukperse wat uit die 17de en 18de eeu dateer, word ten toon gestel. Twee ander—sover bekend die oudstes ter wêreld—dateer uit ’n tyd kort ná Plantin. Die museum huisves ongeveer 15 000 matryse wat gebruik is om drukletters te giet, 15 000 houtblokke en 3 000 gegraveerde koperplate. Die museumbiblioteek bevat 638 manuskripte wat uit die 9de tot die 16de eeu dateer, sowel as 154 boeke wat voor die jaar 1501 gedruk is. Dit sluit ’n oorspronklike Gutenberg-Bybel in wat voor 1461 gedruk is, sowel as een van Plantin se beroemde Antwerpen-Poliglot-Bybels.
[Prent op bladsy 15]
Arias Montano
[Prent op bladsy 16]
Die Antwerpen-Poliglot bevat die Hebreeuse teks, die Latynse “Vulgaat” en die Griekse “Septuagint”, sowel as die Siriese “Pesjitta” en ’n Aramese Targoem tesame met hulle Latynse vertalings
[Erkenning]
By courtesy of Museum Plantin-Moretus/Stedelijk Prentenkabinet Antwerpen
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Albei prente: By courtesy of Museum Plantin-Moretus/Stedelijk Prentenkabinet Antwerpen