Wanneer sal God se Koninkryk kom?
“HERE, herstel u in hierdie tyd die koninkryk vir Israel?” (Handelinge 1:6). Die apostels wou graag weet wanneer Jesus sy Koninkryk sou oprig. Vandag, sowat 2 000 jaar later, wil mense nog steeds graag weet: Wanneer sal God se Koninkryk kom?
Aangesien Jesus die Koninkryk die tema van sy predikingsboodskap gemaak het, verwag jy miskien dat hy hierdie vraag bespreek het. En hy het inderdaad! Hy het baie gesê oor ’n spesifieke tydperk wat hy sy “teenwoordigheid” genoem het (Matteus 24:37). Hierdie teenwoordigheid hou ten nouste verband met die oprigting van die Messiaanse Koninkryk. Wat is hierdie teenwoordigheid? Kom ons kyk na vier waarhede wat die Bybel oor die teenwoordigheid van Christus openbaar.
1. Christus se teenwoordigheid sou eers lank ná sy dood begin. Jesus het ’n illustrasie vertel waarin hy homself vergelyk het met ’n man wat “na ’n ver land gereis [het] om . . . koninklike mag te verkry”, of om “’n koninkryk te verkry” (Lukas 19:12; voetnoot in NW). Hoe is hierdie profetiese illustrasie vervul? Wel, Jesus het gesterf en is opgewek; toe het hy na die “ver land”, dit wil sê die hemel, gereis. Soos Jesus in ’n soortgelyke illustrasie voorspel het, sou hy eers “ná ’n lang tyd” in koninklike mag terugkeer.—Matteus 25:19.
Etlike jare ná Jesus se hemelvaart het die apostel Paulus geskryf: “Hierdie man [Jesus] het vir altyd een offerande vir sondes gebring en het aan die regterhand van God gaan sit, en hy wag van toe af totdat sy vyande ’n voetbank vir sy voete gemaak word” (Hebreërs 10:12, 13). ’n Lang wagtydperk het dus gevolg nadat Jesus in die hemel gekom het. Die wagtyd het uiteindelik geëindig toe Jehovah God sy Seun die Koning van die langverwagte Messiaanse Koninkryk gemaak het. Tóé het Christus se teenwoordigheid begin. Sou mense op aarde hierdie betekenisvolle gebeurtenis sien?
2. Die teenwoordigheid is onsigbaar vir menseoë. Onthou dat Jesus die teken van sy teenwoordigheid bespreek het (Matteus 24:3). Sou ’n teken nodig gewees het as sy teenwoordigheid vir menseoë sigbaar was? Ter toeligting: Stel jou voor dat jy see toe ry. Langs die pad sien jy moontlik padtekens wat vir jou wys in watter rigting om te ry, maar wanneer jy eers by die see is en op die strand staan en uitkyk oor die watermassa wat tot aan die horison strek, sal jy dan verwag om ’n bord met ’n groot pyl te sien wat vorentoe wys met die woord “See” daarop? Natuurlik nie! ’n Teken is mos nie nodig om vir jou iets te wys wat jy duidelik met jou oë kan sien nie.
Jesus het die teken van sy teenwoordigheid beskryf, nie om op iets te wys wat mense met hulle oë kon sien nie, maar om hulle te help om iets te onderskei wat in die hemel sou gebeur. Daarom het Jesus gesê: “Die koninkryk van God kom nie met opvallende waarneembaarheid nie” (Lukas 17:20). Hoe sou die teken dan vir mense op aarde toon dat Christus se teenwoordigheid begin het?
3. Jesus se teenwoordigheid sou gekenmerk word deur ’n tyd van geweldige probleme hier op aarde. Jesus het gesê dat sy teenwoordigheid as Koning in die hemel gekenmerk sou word deur oorloë, hongersnode, aardbewings, pessiektes en wetteloosheid op aarde (Matteus 24:7-12; Lukas 21:10, 11). Wat sou die oorsaak van al hierdie ellende wees? Die Bybel verduidelik dat Satan, “die heerser van hierdie wêreld”, woedend is omdat hy weet dat sy tyd baie kort is noudat Christus se teenwoordigheid as Koning begin het (Johannes 12:31; Openbaring 12:9, 12). Hierdie sigbare bewyse van Satan se woede en van Christus se teenwoordigheid is oorvloedig in ons tyd. Veral sedert 1914, ’n jaar wat geskiedkundiges as ’n keerpunt erken, is hierdie bewyse op ’n ongeëwenaarde en wêreldwye skaal te sien.
Dit alles klink dalk na slegte nuus, maar dit is nie. Dit beteken dat die Messiaanse Koninkryk nou in die hemel regeer. Hierdie regering sal binnekort sy heerskappy hier oor die hele aarde uitoefen. Maar hoe sal mense van hierdie Koninkryk weet sodat hulle die heerskappy daarvan kan aanvaar en onderdane daarvan kan word?
4. Jesus se teenwoordigheid word gekenmerk deur ’n wêreldwye predikingswerk. Jesus het gesê dat sy teenwoordigheid soos “die dae van Noag” sou wees (Matteus 24:37-39).a Noag het nie net ’n ark gebou nie; hy was ook “’n prediker van regverdigheid” (2 Petrus 2:5). Noag het mense gewaarsku dat God se oordeel op hande was. Jesus het gesê dat sy volgelinge op aarde iets soortgelyks gedurende sy teenwoordigheid sou doen. Hy het voorspel: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.
Soos ons in die vorige artikel gesien het, sal God se Koninkryk al die regerings van hierdie wêreld vernietig. Die predikingswerk maak mense bewus van die feit dat hierdie hemelse regering binnekort sal optree, en dit gee almal ’n geleentheid om die komende vernietiging te oorleef en onderdane van hierdie Koninkryk te word. Die sleutelvraag is dus: Hoe sal jy reageer?
Sal God se Koninkryk goeie nuus vir jou beteken?
Jesus het ’n boodskap van onvergelyklike hoop verkondig. Ná die opstand in Eden duisende jare gelede het Jehovah God hom voorgeneem om ’n regering te vorm wat sake sou regstel deur getroue mense terug te bring tot die toestand wat God oorspronklik vir hulle in gedagte gehad het—ewige lewe in ’n paradys hier op aarde. Wat kan opwindender wees as die wete dat hierdie langverwagte regering nou reeds in die hemel regeer? Dit is nie die een of ander vae, abstrakte begrip nie, maar ’n lewende werklikheid!
God se aangestelde Koning heers nou te midde van sy vyande (Psalm 110:2). In hierdie verdorwe wêreld wat van God vervreemd is, vervul die Messias sy Vader se wens om almal te soek wat God wil leer ken soos hy werklik is en hom “met gees en waarheid” wil aanbid (Johannes 4:24). Mense van alle rasse, ouderdomme en maatskaplike agtergronde kan die hoop hê om vir ewig onder die heerskappy van God se Koninkryk te lewe (Handelinge 10:34, 35). Ons spoor jou aan om hierdie wonderlike geleentheid aan te gryp. Leer nou omtrent God se Koninkryk sodat jy vir ewig onder die regverdige heerskappy daarvan kan lewe!—1 Johannes 2:17.
[Voetnoot]
a Jesus se woorde help om die verkeerde idee reg te stel wat geskep word deur die manier waarop die woord “teenwoordigheid” in party Bybelvertalings verkeerd vertaal word. Party vertalings gee dit weer met “koms”, “wederkoms” of “terugkeer”, wat almal op ’n kortstondige gebeurtenis dui. Let egter daarop dat Jesus nie sy teenwoordigheid met die Vloed van Noag se dag, ’n gebeurtenis, vergelyk het nie, maar met “die dae van Noag”, ’n kritieke tydperk. Soos daardie eertydse tydvak, sou Christus se teenwoordigheid oor ’n tydperk strek waartydens mense te behep sou wees met die daaglikse lewensaangeleenthede om ag te slaan op ’n waarskuwing wat gegee word.
[Prente op bladsy 8, 9]
Die slegte nuus wat ons elke dag hoor, bewys dat goeie dinge op hande is
[Erkenning]
Lugafweerkanon: U.S. Army photo