Jesus Christus—Die grootste Sendeling
“Ek [is] ’n verteenwoordiger . . . wat van hom af kom, en Hy het my uitgestuur.”—JOH. 7:29.
1, 2. Wat is ’n sendeling, en wie kan die grootste Sendeling genoem word?
WAARAAN dink jy wanneer jy die woord “sendeling” hoor? Party dink aan die Christendom se sendelinge, van wie talle inmeng in die politieke en ekonomiese aangeleenthede van die lande waar hulle dien. Maar as een van Jehovah se Getuies dink jy waarskynlik aan die sendelinge wat deur die Bestuursliggaam uitgestuur word om die goeie nuus in verskillende lande regoor die aarde te verkondig (Matt. 24:14). Hierdie sendelinge wy hulle tyd en energie onselfsugtig aan die edele werk om mense te help om nader aan Jehovah God te kom en ’n kosbare verhouding met hom te geniet.—Jak. 4:8.
2 Die woorde “sendeling” en “sendelinge” kom nie in die hoofteks van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif voor nie. Maar in die voetnoot by Efesiërs 4:11 toon die naslaanuitgawe dat die Griekse woord wat met “evangeliedienaars” vertaal word, ook as “sendelinge” weergegee kan word. Jehovah is die grootste Evangelis, maar hy kan nie die grootste Sendeling genoem word nie, want hy is nooit deur enigiemand gestuur nie. Jesus Christus het egter aangaande sy hemelse Vader gesê: “Ek [is] ’n verteenwoordiger . . . wat van hom af kom, en Hy het my uitgestuur” (Joh. 7:29). As ’n blyk van groot liefde vir die mensewêreld het Jehovah sy enigverwekte Seun na die aarde gestuur (Joh. 3:16). Jesus kan die grootste Sendeling, die voortreflikste Sendeling, genoem word, want een rede waarom hy na die aarde gestuur is, was om “van die waarheid te getuig” (Joh. 18:37). Hy was heeltemal suksesvol daarin om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, en ons vind nog steeds baat by sy diens. Ons kan byvoorbeeld sy onderrigmetodes in ons bediening toepas, hetsy ons as sendelinge dien of nie.
3. Watter vrae gaan ons bespreek?
3 Jesus se rol as ’n Koninkryksverkondiger laat vrae ontstaan soos: Wat het Jesus op die aarde ondervind? Waarom was sy onderrigting doeltreffend? En wat het sy bediening suksesvol gemaak?
’n Gewillige gees in ’n nuwe omgewing
4-6. Wat is ’n paar veranderinge waarmee Jesus te kampe gehad het toe hy na die aarde gestuur is?
4 Hedendaagse sendelinge en party Christene wat verhuis na plekke waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is, moet moontlik gewoond raak aan ’n laer lewenstandaard as waaraan hulle gewoond is. Maar ons kan ons nie eens die verskil voorstel tussen Jesus se omstandighede op die aarde en dié in die hemel nie, waar hy saam met sy Vader gewoon het tussen engeleskepsele wat Jehovah met suiwer beweegredes gedien het (Job 1:6; 2:1). Hoe anders was dit tog om tussen sondige mense in ’n verdorwe wêreld te wees! (Mark. 7:20-23). Jesus het selfs te kampe gehad met mededinging onder sy intiemste dissipels (Luk. 20:46; 22:24). Hy het natuurlik volmaak gereageer op alles wat hy op die aarde ondervind het.
5 Jesus het nie ’n mensetaal wonderdadig begin praat nie; hy het dit as ’n klein kindjie begin leer. Wat ’n verandering was dit tog vir hom wat vroeër die engele in die hemel aangevoer het! Op die aarde het Jesus ten minste een van “die tale van mense” gepraat. Dit was heeltemal anders as ‘die tale van engele’ (1 Kor. 13:1). Maar wat innemende woorde betref, het geen mens ooit soos Jesus gepraat nie.—Luk. 4:22.
6 Dink aan ander maniere waarop dinge grootliks vir God se Seun verander het toe hy na die aarde gekom het. Hoewel Jesus nie sonde van Adam geërf het nie, het Hy wel ’n mens geword, soos dié wat later sy “broers”, of gesalfde volgelinge, geword het. (Lees Hebreërs 2:17, 18.) Op die laaste nag van sy aardse lewe het Jesus nie vir sy hemelse Vader gevra om “meer as twaalf legioene engele” te stuur nie. Maar dink net aan die engeleskepsele waaroor hy as Migael, die Aartsengel, gesag gehad het! (Matt. 26:53; Jud. 9). Ja, Jesus het wel wonderwerke verrig; maar wat hy gedoen het terwyl hy op die aarde was, was betreklik min in vergelyking met wat hy in die hemel sou kon gedoen het.
7. Hoe het die Jode op die Wet gereageer?
7 Gedurende sy voormenslike bestaan as “die Woord” was Jesus moontlik God se Woordvoerder wat die Israeliete deur die wildernis gelei het (Joh. 1:1; Eks. 23:20-23). Tog het hulle “die Wet, soos oorgedra deur engele, ontvang . . . maar nie nagekom [nie]” (Hand. 7:53; Heb. 2:2, 3). Trouens, die eerste-eeuse Joodse godsdiensleiers het nie die ware betekenis van die Wet onderskei nie. Dink byvoorbeeld aan die Sabbatswet. (Lees Markus 3:4-6.) Die skrifgeleerdes en Fariseërs “het die gewigtiger sake van die Wet verontagsaam, naamlik geregtigheid en barmhartigheid en getrouheid” (Matt. 23:23). Jesus het nietemin nie tou opgegooi en opgehou om die waarheid bekend te maak nie.
8. Waarom kan Jesus ons te hulp kom?
8 Jesus het ’n gewillige gees gehad. Hy is beweeg deur liefde vir mense en wou hulle baie graag help. Hy het nooit die evangelisasiegees verloor nie. En as gevolg van sy getrouheid aan Jehovah terwyl hy op die aarde was, het Jesus “verantwoordelik geword vir die ewige redding van almal wat hom gehoorsaam”. En “deurdat hy self gely het toe hy op die proef gestel is, kan hy dié [soos ons] wat op die proef gestel word, te hulp kom”.—Heb. 2:18; 5:8, 9.
Goed opgelei as ’n onderrigter
9, 10. Watter soort opleiding het Jesus ontvang voordat hy na die aarde gestuur is?
9 Voordat hedendaagse Christene as sendelinge uitgestuur word, reël die Bestuursliggaam dat hulle opgelei word. Het Jesus Christus opleiding ontvang? Ja, maar hy het nie die rabbynse skole bygewoon voordat hy as die Messias gesalf is nie; hy is ook nie aan die voete van party vooraanstaande godsdiensleiers onderrig nie. (Joh. 7:15; vergelyk Handelinge 22:3.) Waarom was Jesus dan so bekwaam om te onderrig?
10 Ongeag wat Jesus by sy moeder, Maria, en sy pleegvader, Josef, geleer het, hy het sy vernaamste opleiding vir die bediening van die hoogste Bron ontvang. Jesus het in verband hiermee gesê: “Ek het nie op eie ingewing gespreek nie, maar die Vader wat my gestuur het, het vir my ’n gebod gegee oor wat om te sê en wat om te spreek” (Joh. 12:49). Let daarop dat die Seun spesifieke instruksies ontvang het oor wat om mense te leer. Voordat Jesus aarde toe gekom het, het hy ongetwyfeld baie tyd daaraan bestee om na sy Vader se onderrigting te luister. Kon hy enigsins beter opleiding ontvang het?
11. In watter mate het Jesus sy Vader se gesindheid teenoor die mensdom weerspieël?
11 Van die tyd dat hy geskep is, het die Seun ’n intieme verhouding met sy Vader gehad. Gedurende sy voormenslike bestaan het Jesus gesien wat God se gesindheid teenoor mense is deur te let op Jehovah se handelinge met hulle. God se liefde vir die mensdom is in so ’n mate deur die Seun weerspieël dat hy as verpersoonlikte wysheid kon sê: “Die dinge waarvoor ek lief was, was by die mensekinders.”—Spr. 8:22, 31.
12, 13. (a) Hoe het Jesus geleer deur sy Vader se handelinge met die Israeliete waar te neem? (b) Hoe het Jesus die opleiding gebruik wat hy ontvang het?
12 Die opleiding wat die Seun ontvang het, het ook ingesluit dat hy waargeneem het hoe sy Vader ongunstige omstandighede hanteer. Dink byvoorbeeld aan Jehovah se handelinge met die eiesinnige Israeliete. Nehemia 9:28 sê: “Sodra hulle rus gehad het, het hulle weer gedoen wat sleg is voor u [Jehovah], en u het hulle oorgelaat aan die hand van hulle vyande, wat hulle vertrap het. Dan het hulle teruggekeer en tot u om hulp geroep, en u het vanuit die hemel gehoor en hulle ooreenkomstig u oorvloedige barmhartigheid herhaaldelik verlos.” Omdat Jesus saam met Jehovah gewerk het en hom waargeneem het, het hy soortgelyke medelye aangekweek vir die mense in sy gebied.—Joh. 5:19.
13 Jesus het hierdie opleiding gebruik toe hy medelydend met sy dissipels gehandel het. Op die nag voor sy dood het al die apostels wat hy so liefgehad het, “hom verlaat en gevlug” (Matt. 26:56; Joh. 13:1). Die apostel Petrus het Christus selfs drie keer verloën! Jesus het dit nietemin vir sy apostels moontlik gemaak om tot hom terug te keer. Hy het vir Petrus gesê: “Ek het ’n smeekbede vir jou gedoen dat jou geloof jou nie begewe nie; en wanneer jy dan teruggekeer het, moet jy jou broers versterk” (Luk. 22:32). Geestelike Israel is met welslae op “die apostels en profete” gegrondves, en die name van die 12 getroue apostels van die Lam, Jesus Christus, is op die fondamentstene van die muur van Nuwe Jerusalem. Tot vandag toe floreer gesalfde Christene tesame met hulle toegewyde metgeselle, die “ander skape”, as ’n organisasie wat die Koninkryk verkondig onder die magtige hand van God en die leierskap van sy geliefde Seun.—Ef. 2:20; Joh. 10:16; Op. 21:14.
Hoe Jesus onderrig het
14, 15. In watter opsigte het Jesus se onderrigting van dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs verskil?
14 Hoe het Jesus sy opleiding gebruik terwyl hy sy volgelinge onderrig het? Wanneer ons Jesus se onderrigting vergelyk met dié van die Joodse godsdiensleiers, kan ons duidelik sien dat die manier waarop Jesus geleer het, baie voortrefliker was. Die skrifgeleerdes en Fariseërs ‘het God se woord kragteloos gemaak weens hulle oorlewering’. In teenstelling hiermee het Jesus nie uit homself gespreek nie; hy het by God se woord, of boodskap, gebly (Matt. 15:6; Joh. 14:10). Ons moet dit ook doen.
15 Daar is nog ’n faktor wat Jesus heeltemal anders as die godsdiensleiers gemaak het. Hy het van die skrifgeleerdes en Fariseërs gesê: “Alles wat hulle dan vir julle sê, doen en onderhou dit, maar volgens hulle dade moet julle nie doen nie, want hulle sê maar doen nie” (Matt. 23:3). Jesus se dade het met sy leringe gestrook. Kom ons kyk na ’n voorbeeld wat bewys dat dit die geval was.
16. Waarom sou jy sê dat Jesus in ooreenstemming met sy woorde in Matteus 6:19-21 gelewe het?
16 Jesus het sy dissipels aangespoor om ‘skatte in die hemel op te gaar’. (Lees Matteus 6:19-21.) Het Jesus in ooreenstemming met hierdie aansporing gelewe? Ja, want hy kon in alle eerlikheid van homself sê: “Jakkalse het gate en voëls van die hemel het slaapplekke, maar die Seun van die mens het geen plek om sy kop neer te lê nie” (Luk. 9:58). Jesus het ’n eenvoudige lewe gelei. Hy was hoofsaaklik besig met die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk, en hy het getoon wat dit beteken om vry te wees van die sorge wat dit meebring om skatte op die aarde op te gaar. Jesus het daarop gewys dat dit baie beter is om skatte in die hemel op te gaar, “waar nie mot of roes verteer nie en waar diewe nie inbreek en steel nie”. Volg jy Jesus se aansporing om skatte in die hemel op te gaar?
Eienskappe wat Jesus geliefd gemaak het by mense
17. Watter eienskappe het Jesus ’n uitsonderlike evangeliedienaar gemaak?
17 Watter eienskappe het Jesus ’n uitsonderlike evangeliedienaar gemaak? Een was sy gesindheid teenoor die mense wat hy gehelp het. Nederigheid, liefde en medelye was party van Jehovah se goeie eienskappe wat Jesus weerspieël het. Let op hoe hierdie eienskappe baie mense tot Jesus aangetrek het.
18. Waarom kan ons sê dat Jesus nederig was?
18 Nadat Jesus die toewysing aanvaar het om aarde toe te kom, het hy “homself ontledig en ’n slaaf se gedaante aangeneem en aan die mense gelyk geword” (Fil. 2:7). Dit was ’n nederige daad. Daarbenewens het Jesus nie neergesien op mense nie. Hy het nie die gesindheid gehad: ‘Ek het die hele pad van die hemel af gekom, en daarom moet julle na my luister’ nie. In teenstelling met selfverklaarde valse messiasse het Jesus nie sy rol as die ware Messias uitgebasuin nie. Soms het hy vir mense gesê om nie vir ander te vertel wie hy is of wat hy gedoen het nie (Matt. 12:15-21). Jesus wou hê dat mense hulle besluit om hom te volg, moes grond op wat hulle self gesien het. Hoe geseënd was sy dissipels tog dat hulle Here nie verwag het dat hulle soos die volmaakte engele moet wees met wie hy in die hemel geassosieer het nie!
19, 20. Hoe het liefde en medelye Jesus beweeg om mense te help?
19 Jesus Christus het ook liefde betoon—’n oorheersende eienskap van sy hemelse Vader (1 Joh. 4:8). Jesus het sy gehore uit liefde onderrig. Kyk byvoorbeeld na sy gevoelens vir ’n sekere jong heerser. (Lees Markus 10:17-22.) Jesus het “hom liefgekry” en wou hom help, maar die jong heerser het nie sy baie besittings opgegee om ’n volgeling van Christus te word nie.
20 Een van Jesus se eienskappe wat hom geliefd gemaak het, was sy medelye. Soos alle onvolmaakte mense, was diegene wat op sy onderrigting gereageer het, belas met probleme. Jesus was bewus hiervan en het hulle uit medelye en innige jammerte geleer. Ter toeligting: By een geleentheid was Jesus en sy apostels so besig dat hulle nie tyd gehad het om eens te eet nie. Maar wat was Jesus se reaksie toe hy sien dat ’n skare vergader het? “Hy is ontroer deur innige jammerte vir hulle, want hulle was soos skape sonder ’n herder. En hy het hulle baie dinge begin leer” (Mark. 6:34). Jesus het die ellendige toestand van die mense in sy gebied gesien en hom ingespan om hulle te leer en wonderwerke vir hulle te verrig. Party is deur sy goeie eienskappe aangetrek en deur sy woorde aangespoor en het sy dissipels geword.
21. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
21 Ons kan nog baie oor Jesus se aardse bediening leer, soos die volgende artikel sal toon. In watter ander opsigte kan ons Jesus Christus, die grootste Sendeling, navolg?
Hoe sal jy antwoord?
• Watter opleiding het Jesus ontvang voordat hy aarde toe gekom het?
• Hoe was die manier waarop Jesus geleer het, baie voortrefliker as die manier waarop die skrifgeleerdes en Fariseërs geleer het?
• Watter eienskappe het Jesus geliefd gemaak by mense?
[Prent op bladsy 15]
Hoe het Jesus die skares geleer?