Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w08 4/1 bl. 13-16
  • Die grootmaak van kinders in ’n permissiewe wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die grootmaak van kinders in ’n permissiewe wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Soos pyle in die hand”
  • Hoe om die pyl deeglik voor te berei
  • Hoe om die pyl te beskerm
  • Hoe om die pyl te rig
  • Leer julle kinders om Jehovah lief te hê
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
w08 4/1 bl. 13-16

Die grootmaak van kinders in ’n permissiewe wêreld

HET jy al ooit ’n kind sien soebat om ’n speelding wat die ouer nie wil koop nie? Of ’n kind wat wil rondhardloop en speel wanneer die ouer gesê het: “Bly hier”? Jy kan sien dat die ouer in sulke gevalle in die belang van die kind wil optree. Tog gee die ouer alte dikwels toe. As gevolg van die kind se aanhoudende gekerm verander die ouer sy nee na ja.

Baie ouers glo blykbaar dat goeie ouers hulle kinders byna altyd hulle sin gee. Daar is byvoorbeeld in die Verenigde State ’n meningspeiling onder 750 kinders tussen die ouderdomme van 12 en 17 gedoen. Toe hulle gevra is hoe hulle reageer wanneer hulle ouers vir hulle nee sê, het byna 60 persent van die kinders gesê dat hulle aanhou vra. Sowat 55 persent het gevind dat hierdie taktiek gewoonlik werk. Hulle ouers voel miskien dat sulke permissiwiteit van liefde getuig, maar is dit werklik die geval?

Kyk na hierdie wyse spreuk uit die ou tyd: “As ’n mens sy kneg van jongs af bederf, sal hy in sy latere lewe ’n ondankbare word” (Spreuke 29:21). ’n Kind is weliswaar nie ’n kneg nie. Maar stem jy nie saam dat die beginsel ook op die grootmaak van kinders van toepassing is nie? As kinders bederf word deurdat hulle alles kry wat hulle wil hê, kan dit hulle uiteindelik ‘ondankbaar’ laat word—bedorwe, eiesinnige volwassenes wat niks waardeer nie.

Daarteenoor raai die Bybel ouers aan: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom” (Spreuke 22:6). Wyse ouers volg hierdie raad deur duidelike, konsekwente en redelike reëls neer te lê en te handhaaf. Hulle verwar nie liefde met permissiwiteit nie; ook beloon hulle nie hulle kinders vir ’n gekerm, ’n geneul of woedebuie nie. Hulle is dit eerder eens met Jesus se wyse woorde: “Laat julle woord Ja eenvoudig Ja beteken, julle Nee, Nee” (Matteus 5:37). Maar wat behels die opleiding van kinders? Kyk na ’n kragtige illustrasie.

“Soos pyle in die hand”

Die Bybel lig die ouer-kind-verhouding toe op ’n wyse wat ’n kind se behoefte aan ouerlike leiding beklemtoon. Psalm 127:4, 5 sê: “Soos pyle in die hand van ’n sterk man, so is die seuns van die jeug. Gelukkig is die man wat sy pylkoker daarmee gevul het.” Kinders word dus met pyle vergelyk, en die ouer met ’n sterk krygsman. Net soos ’n boogskutter weet dat sy pyle die teiken nie per toeval sal tref nie, besef liefdevolle ouers dat die grootmaak van kinders nie aan die toeval oorgelaat kan word nie. Hulle wil hê dat hulle kinders ’n “teiken” moet bereik—’n sinvolle lewe as gelukkige, verantwoordelike volwassenes. Hulle wil hê dat hulle kinders goeie keuses moet maak, wys moet wees en onnodige probleme moet vermy asook sinvolle doelwitte moet bereik. Maar dit is nie genoeg om sulke dinge net te wil hê nie.

Wat is nodig sodat ’n pyl sy teiken kan tref? Dit moet deeglik voorberei, goed beskerm en met inspanning op die teiken gerig word. Net so moet kinders voorberei, beskerm en gerig word sodat hulle reis na volwassenheid suksesvol kan wees. Kom ons kyk een vir een na hierdie drie aspekte van die grootmaak van kinders.

Hoe om die pyl deeglik voor te berei

Die pyle wat deur boogskutters in Bybeltye gebruik is, is baie noukeurig voorberei. Die pyl, wat moontlik van ligte hout gemaak is, moes met die hand gekerf en so reguit moontlik gemaak word. Die punt moes skerp wees. Aan die ander ent van die pyl is vere vasgeheg om die pyl in vlug te stabiliseer en op koers te hou.

Ouers wil hê dat hulle kinders soos daardie reguit pyle moet wees—regverdig, sonder enige afwyking. As hulle wys is, sluit hulle dus nie hulle oë vir ernstige foute nie, maar help hulle kinders liefdevol om daaraan te werk en dit te bowe te kom. Dit sal met enige kind baie werk verg, want “dwaasheid sit vas in die hart van ’n seun” (Spreuke 22:15). Die Bybel spoor ouers derhalwe aan om hulle kinders te dissiplineer (Efesiërs 6:4). Ja, dissipline speel ’n noodsaaklike rol daarin om ’n kind se verstand en karakter te vorm en reg te stel.

Dit is geen wonder nie dat Spreuke 13:24 sê: “Wie sy roede terughou, haat sy seun, maar hy wat hom liefhet, gee ag op hom met dissipline.” In hierdie konteks stel die roede van dissipline teregwysing voor, watter vorm dit ook al aanneem. Deur liefdevolle dissipline toe te dien, probeer ’n ouer foute regstel wat, as dit toegelaat word om diep wortel te skiet, die kind groot hartseer sal besorg wanneer hy ’n volwassene is. Ja, om sulke dissipline terug te hou, kom op haat neer; om dit toe te dien, is ’n blyk van liefde.

’n Liefdevolle ouer help die kind ook om die redes vir die reëls te verstaan. Dissipline beteken dus nie net om bevele te gee en straf toe te dien nie, maar, nog belangriker, om die kind te help verstaan waarom dit nodig is. Die Bybel sê: “’n Verstandige seun bewaar die wet.”—Spreuke 28:7.

Die vere wat ’n boogskutter aan sy pyle vasheg, help dit om reguit te trek nadat dit die boog verlaat het. Net so kan Bybelleringe wat van die Insteller van die gesinsreëling kom, kinders bybly selfs nadat hulle die huis verlaat het en kan dit hulle regdeur hulle lewe tot voordeel strek (Efesiërs 3:14, 15). Maar hoe kan ouers seker maak dat hierdie leringe werklik aan hulle kinders “vasgeheg” is?

Let op God se raad aan Israelitiese ouers in Moses se tyd: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit by jou kind inskerp” (Deuteronomium 6:6, 7). Ouers moet dus twee dinge doen. Eerstens moet hulle self God se Woord leer en toepas, in werklikheid ’n liefde vir God se wette aankweek (Psalm 119:97). Dan is hulle in ’n posisie om die tweede deel van die teks toe te pas—om God se wette by hulle kinders ‘in te skerp’. Dit beteken om die waarde van hierdie wette in hulle kinders se harte in te prent deur middel van doeltreffende onderrigting en veelvuldige herhaling.

Dit is duidelik dat dit glad nie ouderwets is om kinders Bybelbeginsels te leer of om liefdevolle dissipline te gebruik om ernstige foute reg te stel nie. Hierdie dinge is noodsaaklik om daardie kosbare “pyle” voor te berei vir ’n reguit en stabiele vlug na volwassenheid.

Hoe om die pyl te beskerm

Kom ons gaan terug na die illustrasie in Psalm 127:4, 5. Onthou dat die boogskutter ‘sy pylkoker gevul het’ met sy pyle. Nadat die pyle voorberei is, moes dit beskerm word. Die boogskutter het dit derhalwe in ’n pylkoker gedra, waar dit nie maklik beskadig sou word of sou breek nie. Dit is interessant dat die Bybel profeties van die Messias praat as ’n skerp pyl wat sy Vader “in sy pylkoker verberg” het (Jesaja 49:2). Jehovah God, die liefdevolste Vader denkbaar, het inderdaad sy geliefde Seun, Jesus, teen allerhande kwaad beskerm totdat die vasgestelde tyd aangebreek het vir die Messias om doodgemaak te word soos voorspel is. Selfs toe het God sy Seun beskerm sodat die dood hom nie permanent sou skaad nie en het Hy hom veilig na die hemel teruggebring, om vir ewig te lewe.

Net so is dit vir goeie ouers ’n saak van erns om hulle kinders teen die gevare van hierdie verdorwe wêreld te beskerm. Ouers verbied hulle kinders dalk om aan sekere bedrywighede deel te neem wat hulle onnodig aan gevaarlike invloede sal blootstel. Wyse ouers neem byvoorbeeld hierdie beginsel ernstig op: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). As kinders beskerm word teen omgang met persone wat nie die sedelike standaarde van die Bybel respekteer nie, sal dit waarskynlik verhoed dat hulle ’n aantal duur, selfs dodelike, foute begaan.

Kinders waardeer moontlik nie altyd hulle ouers se beskerming nie. Trouens, dit grief hulle soms, want as jy jou kinders wil beskerm, sal dit dikwels beteken dat jy vir hulle nee moet sê. ’n Gerespekteerde skrywer van boeke oor die grootmaak van kinders sê: “Hoewel hulle dit nie altyd wys nie en jou waarskynlik nie op daardie oomblik sal bedank nie, wil kinders eintlik hê dat ouers ’n veilige, voorspelbare struktuur in hulle lewe moet voorsien. Ons kan dit doen deur ouers te wees wat ons gesag laat geld en wat perke aan gedrag stel.”

Ja, om jou kinders te beskerm teen enigiets wat hulle van hulle vrede, hulle onskuld of hulle rein posisie voor God kan beroof, is ’n belangrike manier waarop jy jou liefde vir hulle toon. Met verloop van tyd sal hulle waarskynlik jou beweegredes verstaan, en hulle sal jou liefdevolle beskerming waardeer.

Hoe om die pyl te rig

Let daarop dat Psalm 127:4, 5 die ouer met “’n sterk man” vergelyk. Beteken dit dat net ’n vader ’n bekwame ouer kan wees? Glad nie. Die beginsel van hierdie illustrasie is in werklikheid van toepassing op vaders sowel as moeders—en ook op enkelouers (Spreuke 1:8). Die uitdrukking “sterk man” gee te kenne dat heelwat krag nodig was om ’n pyl uit ’n boog te skiet. In Bybeltye is boë soms met koper bedek, en daar is gesê dat ’n soldaat “die boog trap”, miskien deur die boog met sy voet te stut sodat hy ’n snaar daarin kon sit (Jeremia 50:14, 29). Dit is duidelik dat dit baie energie en inspanning geverg het om dié stywe snaar terug te trek om daardie pyle op hulle teiken af te skiet!

Net so verg dit groot inspanning om kinders groot te maak. Hulle kan hulleself net so min grootmaak as wat ’n pyl homself op die teiken kan afskiet. Ongelukkig is baie ouers vandag blykbaar nie bereid om die nodige moeite te doen nie. Hulle kies die maklikste uitweg. Hulle laat die televisie, die skool en portuurs hulle kinders leer oor reg en verkeerd, oor sedes, oor seks. Hulle gee hulle kinders alles wat hulle wil hê. En wanneer dit te moeilik lyk om nee te sê, sê hulle eenvoudig ja—en regverdig dikwels hulle besluit deur te sê dat hulle nie hulle kinders se gevoelens wil seermaak nie. In werklikheid is dit hulle permissiwiteit wat hulle kinders werklike, blywende skade sal berokken.

Dit is harde werk om kinders groot te maak. Om hierdie werk heelhartig en met die leiding van God se Woord te doen, is beslis veeleisend, maar die belonings is van onskatbare waarde. Die tydskrif Parents het gesê: “Studies . . . het bevind dat kinders wat grootgemaak word deur ouers wat liefdevol is maar hulle gesag laat geld—dié wat hulle kinders ondersteun maar ferm perke handhaaf—op akademiese gebied uitblink, beter sosiale vaardighede ontwikkel, ’n goeie selfbeeld het en oor die algemeen gelukkiger is as kinders wie se ouers te toegeeflik of uitermate streng is.”

Daar is ’n selfs beter beloning. Ons het vroeër die eerste deel van Spreuke 22:6 bespreek: “Lei ’n seun op volgens die weg vir hom.” Die vers gaan voort met hierdie hartverblydende woorde: “Ook as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.” Waarborg hierdie geïnspireerde spreuk sukses? Nie noodwendig nie. Jou kind het wilsvryheid en sal dit gebruik namate hy ouer word. Maar hierdie vers bied ouers ’n liefdevolle versekering. Wat is dit?

As jy jou kinders volgens die Bybel se raad oplei, skep jy die gunstigste omstandighede vir ’n wonderlike gevolg—om te sien dat jou kinders gelukkige, vergenoegde en verantwoordelike volwassenes word (Spreuke 23:24). Maak dus seker dat jy daardie kosbare “pyle” voorberei en beskerm en jou inspan om hulle op die teiken te rig. Jy sal nooit spyt wees nie.

[Prent op bladsy 13]

Toon ouers liefde vir hulle kinders deur hulle altyd hulle sin te gee?

[Prent op bladsy 15]

’n Liefdevolle ouer verduidelik die redes vir gesinsreëls

[Prent op bladsy 15]

Goeie ouers beskerm hulle kinders teen die gevare van hierdie verdorwe wêreld

[Prent op bladsy 16]

Dit is harde werk om kinders groot te maak, maar die belonings is van onskatbare waarde

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel