God se wysheid—Duidelik in die natuur
“Hy is die Een wat ons meer leer as die diere van die aarde, en hy maak ons wyser as selfs die voëls van die hemel.”—JOB 35:11.
VOËLS beskik oor verbasende vermoëns. Hulle voer bewegings in die lug uit wat deur vliegtuigontwerpers beny word. Party spesies vlieg duisende kilometers oor kenmerklose oseane en kom altyd by hulle bestemming uit.
Nog ’n uitsonderlike vermoë van voëls—wat die wysheid van hulle Maker selfs verder openbaar—is dat hulle deur middel van roepe en sang kan kommunikeer. Kyk na ’n paar voorbeelde.
Kommunikasie tussen voëls
Party voëlspesies begin kommunikeer nog voordat hulle uitgebroei het. ’n Kwartelwyfie lê byvoorbeeld tot agt eiers, teen ’n tempo van een eier per dag. As al die eiers ewe lank geneem het om uit te broei, sou dit oor ’n tydperk van agt dae plaasgevind het. Die ma sou dan die moeilike taak gehad het om vir energieke week oue kuikens te sorg terwyl sy nog op ’n onuitgebroeide eier sit. Wat egter wel gebeur, is dat ’n broeisel van agt kwartelkuikens almal binne ’n tydperk van ses uur uit hulle doppe breek. Hoe is dit moontlik? ’n Sleutelrede, doen navorsers aan die hand, is dat kwartelembrio’s vanuit die eiers met mekaar kommunikeer en op die een of ander manier sorg dat hulle byna gelyktydig uitbroei.
Wanneer voëls volwassenheid bereik, is dit gewoonlik die mannetjie wat sing. Hy doen dit veral gedurende paartyd om sy gebied af te baken of ’n maat te lok. Elk van die duisende voëlspesies het as ’t ware sy eie taal, en dit help die wyfies om maats van hulle eie spesie te identifiseer.
Voëls sing hoofsaaklik vroegoggend en met sonsondergang, en dit met goeie rede. Daar is gedurende hierdie tye minder wind en agtergrondgeluide. Navorsers het ontdek dat voëlgesang in die oggend en in die aand tot 20 keer verder gehoor word as in die middel van die dag.
Hoewel dit meestal die mannetjies is wat sing, gee mannetjies sowel as wyfies ’n verskeidenheid roepe, oftewel kort, afgebroke geluide, wat spesifieke betekenisse het. Gryskoppies het byvoorbeeld nege verskillende roepe. Hulle gebruik een soort roep om te waarsku teen ’n gevaar in die lug—soos ’n roofvoël—maar gee ’n ander roep om te waarsku teen ’n gevaar op die grond.
’n Voortrefliker gawe
Die instinktiewe wysheid van voëls is beslis indrukwekkend. Maar wat kommunikasievaardighede betref, is mense baie indrukwekkender. God het mense “wyser as selfs die voëls van die hemel” gemaak, sê Job 35:11. Slegs mense het die vermoë om abstrakte, ingewikkelde gedagtes en idees oor te dra deur middel van geluide wat deur die stembande voortgebring word of deur middel van gebare.
In teenstelling met alle ander skepsele is babas blykbaar geprogrammeer om ingewikkelde tale te leer. Die Internettydskrif American Scientist sê: “Klein kindertjies kan ’n taal aanleer selfs wanneer hulle ouers nie direk met hulle praat nie; dowe kinders sal selfs met hulle eie gebaretaal vorendag kom as hulle nie by die huis aan gebaretaal blootgestel word nie.”
Die vermoë om ons gedagtes en emosies deur middel van spraak of gebare oor te dra, is waarlik ’n wonderlike gawe van God. Maar ’n selfs groter gawe wat aan die mens gegee is, is die vermoë om met God te kommunikeer deur middel van gebed. Trouens, Jehovah God nooi ons om met hom te praat. “Moet julle oor niks kwel nie”, sê God se Woord, die Bybel, “maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word.”—Filippense 4:6.
Wanneer ons moeilike besluite moet neem, wil Jehovah hê dat ons gebruik moet maak van die ontsaglike hoeveelheid wysheid wat hy in die Bybel laat opteken het. Hy sal ons ook help om te sien hoe ons die raad wat ons daar vind, moet toepas. “As een van julle dan wysheid kortkom”, sê die Bybelskrywer Jakobus, “laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word.”—Jakobus 1:5.
Watter uitwerking het dit op jou?
Watter uitwerking het dit op jou wanneer jy luister na pragtige voëlgesang of na ’n kind wat leer om sy eerste woordjies te sê? Sien jy God se wysheid in die dinge wat hy gemaak het?
Nadat die psalmis Dawid gepeins het oor hoe hy gemaak is, het dit hom beweeg om vir God te sê: “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is. U werke is wonderbaar, soos my siel alte goed weet” (Psalm 139:14). As jy die wysheid van God wat duidelik in die skepping gesien kan word, met waardering ondersoek, sal dit beslis jou geloof versterk in sy vermoë om jou van betroubare leiding te voorsien.
[Lokteks op bladsy 5]
Die vermoë om te kommunikeer, is ’n gawe van God
[Foto-erkenning op bladsy 4]
© Dayton Wild/Visuals Unlimited