God se krag—Waarneembaar in die sterre
“Slaan julle oë op in die hoogte en kyk. Wie het hierdie dinge geskep? Die Een wat hulle leër volgens getal uitlei, hulle almal selfs by die naam noem. Weens die oorvloed van dinamiese energie, en omdat hy sterk in krag is, ontbreek nie een van hulle nie.”—JESAJA 40:26.
ONS son is ’n ster van net gemiddelde grootte. Nietemin is die massa daarvan 330 000 keer groter as dié van die aarde. Die meeste van die nabygeleë sterre is kleiner as die son. Maar ander sterre, soos die een wat V382 Cygni genoem word, het ’n massa wat ten minste 27 keer groter is as dié van ons son.
Hoeveel energie straal ons son uit? Stel jou voor hoe hewig ’n vuur sal moet wees as jy 15 kilometer daarvandaan is en nog steeds die hitte kan voel. Die son is gemiddeld sowat 150 miljoen kilometer van die aarde af. Maar op ’n sonnige dag kan die hitte daarvan blase op jou vel brand! Dit is opmerkenswaardig dat net omtrent ’n miljardste van die son se energie die aarde bereik. En tog is hierdie fraksie van die son se krag genoeg om lewe op die planeet te onderhou.
Trouens, wetenskaplikes het bereken dat die totale energie wat ons son alleen uitstraal, genoeg is om sowat 31 biljoen planete soos die aarde te onderhou. Of om hierdie ontsaglike hoeveelheid energie op ’n ander manier te meet: As al die son se krag vir net een sekonde vasgevang kan word, sal dit die Verenigde State voorsien “van genoeg energie, teen hulle huidige verbruik, vir die volgende 9 000 000 jaar”, sê die Space Weather Prediction Center (SWPC) se webwerf.
Die son se energie is afkomstig van sy kern—’n kernreaktor wat atome teen mekaar laat bots en ’n geweldige hoeveelheid krag vrystel. Die son is so groot en sy kern is so dig dat dit miljoene jare neem vir die energie wat in die kern voortgebring word om tot by die oppervlak te kom. “As die Son vandag sou ophou om energie voort te bring”, sê die SWPC se webwerf, “sou dit 50 000 000 jaar neem voordat ’n wesenlike uitwerking op Aarde gevoel word!”
Dink nou aan hierdie feit: Wanneer jy op ’n helder nag opkyk, sien jy duisende sterre, wat elkeen, soos ons son, groot hoeveelhede energie uitstraal. En wetenskaplikes bereken dat daar miljarde der miljarde sterre in die heelal is!
Waar het al hierdie sterre vandaan gekom? Die meeste navorsers meen tans dat die heelal, om redes wat hulle nog nie verstaan nie, sowat 14 miljard jaar gelede skielik ontstaan het. Die Bybel sê eenvoudig: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1:1). Die Een wat die ontsaglike energiebronne geskep het wat ons sterre noem, kan ongetwyfeld beskryf word as “sterk in krag”.—Jesaja 40:26.
Hoe God sy krag gebruik
Jehovah God gebruik sy krag om diegene te onderskraag wat sy wil doen. Byvoorbeeld, die apostel Paulus het hom ingespan om ander van God te leer. Paulus was nie bomenslik nie, maar hy kon ondanks hewige teenstand baie vermag. Hoe? Hy het erken dat hy “krag wat bo die normale is”, van God ontvang het.—2 Korintiërs 4:7-9.
Jehovah God het ook sy krag gebruik om diegene te vernietig wat sy sedelike standaarde skaamteloos geskend het. Jesus Christus het gewys na die vernietiging van Sodom en Gomorra en na die Vloed van Noag se dag as voorbeelde van Jehovah se selektiewe gebruik van vernietigingskrag. Jesus het voorspel dat Jehovah binnekort weer sy krag sal gebruik om diegene te vernietig wat Sy standaarde ignoreer.—Matteus 24:3, 37-39; Lukas 17:26-30.
Watter uitwerking het dit op jou?
Nadat jy gepeins het oor die krag van God wat in die sterre gesien kan word, voel jy moontlik soos koning Dawid, wat gesê het: “Wanneer ek u hemel sien, die werke van u vingers, die maan en die sterre wat u berei het, wat is die sterflike mens dat u aan hom dink, en die mensekind dat u vir hom sorg?”—Psalm 8:3, 4.
Ja, dit laat ons nederig voel wanneer ons besef hoe onbeduidend ons blykbaar is in vergelyking met die uitgestrektheid van die heelal. Maar ons hoef nie oorweldig te voel deur God se krag nie. Jehovah het die profeet Jesaja geïnspireer om hierdie gerusstellende woorde neer te skryf: “Hy [God] gee die vermoeide krag; en aan die een sonder dinamiese energie skenk hy volle sterkte in oorvloed. Seuns sal moeg sowel as afgemat raak, en jong manne sal vir seker struikel, maar dié wat op Jehovah hoop, sal nuwe krag kry. Hulle sal opvaar met vlerke soos arende. Hulle sal hardloop en nie afgemat raak nie; hulle sal loop en nie moeg raak nie.”—Jesaja 40:29-31.
As dit jou begeerte is om God se wil te doen, kan jy seker wees dat hy jou sy heilige gees sal gee om jou te onderskraag. Maar jy moet daarvoor vra (Lukas 11:13). Met God se steun kan jy enige beproewing verduur en die krag verkry om te doen wat reg is.—Filippense 4:13.
[Lokteks op bladsy 7]
Met God se steun kan jy die krag verkry om te doen wat reg is
[Prente op bladsy 7]
Kloksgewys van links bo: Maalstroom-sterrestelsel, Pleiades-sterreswerm, Orion-newel, Andromeda-sterrestelsel
[Prente op bladsy 7]
Die massa van die son is 330 000 keer groter as dié van die aarde
[Foto-erkennings op bladsy 7]
Pleiades: NASA, ESA and AURA/Caltech; al die ander hierbo: National Optical Astronomy Observatories