God se liefde—Sigbaar in ’n moeder se liefde
“Kan ’n vrou haar suigeling vergeet sodat sy haar nie oor die seun van haar moederskoot ontferm nie? Selfs hierdie vroue kan vergeet, maar ek sal jou nie vergeet nie.”—JESAJA 49:15.
’N PASGEBORE baba lê snoesig in sy moeder se arms terwyl sy hom voed. Dit is ’n toneel van teerheid en liefde. “Toe ek die eerste keer my baba in my arms gehou het”, sê ’n moeder met die naam Pam, “het ek ’n oorweldigende gevoel van liefde en verantwoordelikheid vir hierdie nuwe lewetjie ervaar.”
Hoewel dit voor die hand liggend lyk, het navorsing bevestig dat ’n moeder se liefde ’n diepgaande invloed op haar baba se ontwikkeling het. ’n Dokument wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie se Program vir Geestesgesondheid gepubliseer is, sê: “Studies het getoon dat babas wat weggegooi en van hulle moeders geskei word, ongelukkig en terneergedruk raak, soms selfs paniekerig.” Hierdie selfde dokument meld ’n studie wat toon dat kinders wat van kleins af liefde en aandag ontvang, waarskynlik ’n aansienlik hoër IK sal hê as kinders wat verwaarloos word.
Aangaande die belangrikheid van ’n moeder se liefde sê Alan Schore, ’n professor van psigiatrie aan UCLA se Mediese Fakulteit in die Verenigde State: “Die kind se eerste verhouding, dié met die moeder, dien as ’n patroon, aangesien dit die individu se vermoëns om alle latere emosionele verhoudings te smee, permanent vorm.”
Ongelukkig kan depressie, siekte of ander druk veroorsaak dat ’n moeder haar kind verwaarloos of selfs “haar suigeling vergeet” (Jesaja 49:15). Maar dit is die uitsondering, nie die reël nie. Trouens, dit lyk of moeders geprogrammeer is om hulle kinders lief te hê. Navorsers het uitgevind dat moeders tydens geboorte verhoogde vlakke van die hormoon oksitosien het, wat sametrekkings aanbring en later ’n rol in melkvorming speel. Dieselfde hormoon, wat by mans sowel as vroue voorkom, speel glo ook ’n rol in die drang om op ’n liefdevolle, onbaatsugtige wyse op te tree.
Wat is die oorsprong van liefde?
Diegene wat geloof in evolusie voorstaan, leer dat onselfsugtige liefde, soos dié tussen ’n moeder en haar kind, toevallig ontstaan het en deur natuurlike seleksie bewaar is omdat dit die spesie tot voordeel gestrek het. Die Internettydskrif Mothering Magazine beweer byvoorbeeld: “Die eerste gedeelte van ons brein wat geëvolueer het ná die deel wat van reptiele oorgeërf is, is die limbiese stelsel, die setel van die emosies. Dit is hierdie deel van die brein wat moeders en hulle babas toelaat om ’n band te vorm.”
Navorsing het weliswaar aan die lig gebring dat die limbiese stelsel ’n bydraende rol by ons emosies speel. Maar klink dit vir jou redelik dat ’n moeder se liefde vir haar kind die produk is van die toevallige vergroeiing van ’n reptielbrein?
Kyk na die alternatief. Die Bybel sê dat mense na God se beeld geskep is, dit wil sê met die vermoë om God se eienskappe te weerspieël (Genesis 1:27). God se oorheersende eienskap is liefde. “Hy wat nie liefhet nie, het God nie leer ken nie”, het die apostel Johannes geskryf. Hoe so? “Want God is liefde” (1 Johannes 4:8). Let asseblief daarop dat hierdie Bybelvers nie sê dat God liefde het nie. Dit sê eerder dat God liefde is. Hy is die Bron van liefde.
Die Bybel beskryf liefde so: “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Die liefde faal nooit nie” (1 Korintiërs 13:4-8). Klink dit redelik om te glo dat die edelste eienskap wat daar is, deur blinde toeval ontstaan het?
Watter uitwerking het dit op jou?
Toe jy die beskrywing van liefde in die vorige paragraaf gelees het, het jou hart nie daarna gesmag om iemand te hê wat hierdie soort liefde teenoor jou betoon nie? So ’n verlange is heeltemal natuurlik. Waarom? Omdat “ons . . . die nakomelinge van God is” (Handelinge 17:29). Ons is gemaak om sulke liefde te ontvang en te betoon. En ons kan seker wees dat God innige liefde vir ons het (Johannes 3:16; 1 Petrus 5:6, 7). Die teks wat aan die begin van hierdie artikel aangehaal is, sê dat God se liefde vir ons selfs kragtiger, blywender is as dié van ’n moeder vir haar kind!
Maar jy wonder dalk: ‘As God wys, kragtig en liefdevol is, waarom maak hy dan nie ’n einde aan lyding nie? Waarom laat hy toe dat kinders sterf, onderdrukking voortduur en die aarde verderf word weens wanbestuur en gierigheid?’ Dit is goeie vrae wat redelike antwoorde verdien.
Ondanks wat agnostici dalk sê, is dit moontlik om bevredigende antwoorde op hierdie vrae te vind. Miljoene mense in honderde lande het sulke antwoorde gevind deur die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Die uitgewers van hierdie tydskrif nooi jou om dieselfde te doen. Namate jou kennis van God deur middel van ’n studie van sy Woord en sy skepping toeneem, sal jy sien dat hy nie afsydig of onkenbaar is nie. Jy sal waarskynlik eerder oortuig raak dat God “nie ver van elkeen van ons af is nie”.—Handelinge 17:27.
[Lokteks op bladsy 8]
God se liefde vir ons is blywender as dié van ’n moeder vir haar kind