Hoe jy ’n goeie Bybybelvertaling kan kies
DIE Bybel is oorspronklik in ou Hebreeus, Aramees en Grieks geskryf. Gevolglik moet die meeste mense wat dit wil lees, op ’n vertaling staatmaak.
Die Bybel is vandag die wêreld se mees vertaalde boek—dele daarvan is beskikbaar in meer as 2 400 tale. In party tale is daar nie net een vertaling nie, maar baie. As jy ’n keuse in jou taal het, wil jy sekerlik die allerbeste vertaling gebruik wat jy kan vind.
Om ’n ingeligte keuse te maak, moet jy weet wat die antwoorde op die volgende vrae is: Watter verskillende soorte vertalings is beskikbaar? Wat is die sterk en swak punte van elke soort vertaling? En waarom moet jy versigtig wees wanneer jy party vertalings van die Bybel lees?
Van die een uiterste na die ander
Bybelvertalings dek ’n wye spektrum van style, maar dit val in drie basiese kategorieë. Interlineêre vertalings is aan die een end van die spektrum. Hierdie vertalings bevat die teks in die oorspronklike taal tesame met ’n woord-vir-woord-vertaling in die doeltaal.
Geparafraseerde vertalings is aan die ander end van die spektrum. Die vertalers van hierdie weergawes gee die boodskap van die Bybel, soos hulle dit verstaan, vryelik weer op ’n wyse wat hulle meen by hulle gehoor byval sal vind.
’n Derde kategorie sluit vertalings in wat ’n balans tussen hierdie twee uiterstes probeer handhaaf. Hierdie vertalings van die Bybel streef daarna om die betekenis en gevoelswaarde oor te dra van die uitdrukkings in die oorspronklike taal, terwyl dit ook die teks maklik maak om te lees.
Is woord-vir-woord-vertalings die beste?
’n Streng woord-vir-woord-vertaling is dikwels nie die beste manier om die betekenis van elke Bybelvers weer te gee nie. Waarom nie? Daar is ’n aantal redes. Hier is twee:
1. Daar is nie twee tale wat presies dieselfde grammatika, woordeskat en sinskonstruksie het nie. ’n Professor in Hebreeus, S. R. Driver, sê dat tale “nie net in grammatika en oorsprong verskil nie, maar ook . . . in die manier waarop gedagtes in ’n sin saamgevoeg word”. Mense wat verskillende tale praat, dink verskillend. “Gevolglik”, sê professor Driver verder, “is die sinskonstruksie van verskillende tale nie dieselfde nie.”
Aangesien geen taal presies dieselfde woordeskat en grammatika as Bybelse Hebreeus en Grieks het nie, sal ’n woord-vir-woord-vertaling van die Bybel onduidelik wees of dalk selfs die verkeerde betekenis oordra. Kyk na die volgende voorbeelde.
In sy brief aan die Efesiërs het die apostel Paulus ’n uitdrukking gebruik wat letterlik vertaal word met “in die (dobbelsteen) blokkie van die mense” (Efesiërs 4:14, The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures).a Hierdie uitdrukking verwys na die gebruik om ander met dobbelstene te kul. Maar in die meeste tale maak ’n letterlike vertaling van hierdie sinspeling nie veel sin nie. Die betekenis van hierdie uitdrukking word duideliker oorgedra deur dit met “die bedrieëry van mense” te vertaal.
Toe Paulus aan die Romeine geskryf het, het hy ’n Griekse uitdrukking gebruik wat letterlik “kokend met die gees” beteken (Romeine 12:11, Kingdom Interlinear). Maak hierdie bewoording sin in jou taal? Die uitdrukking beteken eintlik “gloei van die gees”.
In een van sy beroemdste toesprake het Jesus ’n uitdrukking gebruik wat dikwels soos volg vertaal word: “Geseënd is die armes van gees” (Matteus 5:3). Maar ’n letterlike vertaling van hierdie uitdrukking is in baie tale onduidelik. In party gevalle impliseer ’n streng letterlike vertaling selfs dat “die armes van gees” nie by hulle volle verstand is nie of ’n gebrek aan geesdrif en vasberadenheid het. In hierdie geval het Jesus mense egter geleer dat hulle geluk nie daarvan afhang dat hulle hulle fisiese behoeftes bevredig nie, maar dat hulle erken dat hulle God se leiding nodig het (Lukas 6:20). Vertalings soos “dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” of “dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is” dra dus die betekenis van hierdie uitdrukking akkurater oor.—Matteus 5:3; Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.
2. Die betekenis van ’n woord of ’n uitdrukking kan verander na gelang van die konteks waarin dit gebruik word. Byvoorbeeld, die Hebreeuse uitdrukking wat gewoonlik na die mensehand verwys, kan ’n groot verskeidenheid betekenisse hê. Na gelang van die konteks kan hierdie woord byvoorbeeld vertaal word met “vrygewigheid”, “onder leiding van” of “mag” (1 Konings 10:13; 1 Kronieke 25:2; Spreuke 18:21). Trouens, hierdie spesifieke woord word op meer as 40 verskillende maniere in die Engelse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif vertaal.
Omdat die konteks kan beïnvloed hoe ’n woord vertaal word, gebruik die Engelse uitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling byna 16 000 uitdrukkings om sowat 5 500 uitdrukkings in Bybelse Grieks te vertaal en meer as 27 000 uitdrukkings om ongeveer 8 500 Hebreeuse uitdrukkings te vertaal.b Waarom word woorde op soveel verskillende maniere vertaal? Die vertaalkomitee was van mening dat dit belangriker is om hierdie woorde volgens die konteks op die verstaanbaarste manier te vertaal as om ’n streng letterlike vertaling te lewer. Die Nuwe Wêreld-vertaling is nietemin so konsekwent moontlik in sy vertaling van Hebreeuse en Griekse woorde in die doeltaal.
Dit is duidelik dat Bybelvertaling meer behels as om bloot ’n woord uit die oorspronklike taal op dieselfde manier te vertaal elke keer dat dit voorkom. Vertalers moet goeie oordeel aan die dag lê om woorde te kies wat die gedagtes van die teks in die oorspronklike taal akkuraat en verstaanbaar oordra. Daarbenewens moet hulle die woorde en sinne in hulle vertaling so saamvoeg dat dit aan die grammatikareëls van die doeltaal voldoen.
Wat van vrye vertalings?
Die vertalers van wat dikwels ’n geparafraseerde Bybel, of ’n vrye vertaling, genoem word, veroorloof hulle vryhede met die teks van die oorspronklike taal. Hoe so? Hulle voeg dinge in wat volgens hulle mening die moontlike betekenis van die oorspronklike teks oordra of hulle laat van die inligting uit wat in die oorspronklike teks voorkom. Geparafraseerde vertalings vind miskien byval omdat dit maklik is om te lees. Maar juis omdat dit so vry vertaal is, vertroebel of verander dit soms die betekenis van die oorspronklike teks.
Kyk hoe een geparafraseerde Bybel Jesus se bekende modelgebed vertaal: “Ons Vader in die hemel, openbaar wie u is” (Matteus 6:9, The Message: The Bible in Contemporary Language). ’n Akkurater vertaling van Jesus se woorde gee hierdie gedeelte soos volg weer: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word.” Let ook op hoe Johannes 17:26 in party Bybels vertaal word. Volgens een vrye vertaling het Jesus die aand van sy inhegtenisname vir sy Vader in gebed gesê: “Ek het u aan hulle bekend gemaak” (Today’s English Version). Maar ’n getrouer weergawe van Jesus se gebed is: “Ek het u naam aan hulle bekend gemaak.” Kan jy sien hoe party vertalers in werklikheid die feit verberg dat God ’n naam het wat gebruik en vereer moet word?
Waarom is dit nodig om versigtig te wees?
Party vrye vertalings verdoesel die sedelike standaarde wat deur die oorspronklike teks oorgedra word. The Message: The Bible in Contemporary Language sê byvoorbeeld in 1 Korintiërs 6:9, 10: “Besef julle nie dat dit nie die manier is om te lewe nie? Onregverdige mense wat hulle nie aan God steur nie, sal nie aan sy koninkryk deel hê nie. Diegene wat mekaar gebruik en misbruik, seks gebruik en misbruik, die aarde en alles daarin gebruik en misbruik, kwalifiseer nie as burgers van God se koninkryk nie.”
Vergelyk hierdie vertaling met die akkurater weergawe in die Nuwe Wêreld-vertaling: “Wat! Weet julle nie dat onregverdiges God se koninkryk nie sal beërf nie? Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of afpersers sal God se koninkryk beërf nie.” Let daarop dat die besonderhede wat die apostel Paulus uiteengesit het oor presies watter soort gedrag ons moet vermy, nie eens in die vrye vertaling gemeld word nie.
Vooroordele wat leerstellings betref, kan ook ’n vertaler se werk beïnvloed. Byvoorbeeld, volgens Today’s English Version, wat gewoonlik die Good News Bible genoem word, sê Jesus vir sy volgelinge: “Gaan in deur die nou poort, want die poort na die hel is wyd, en die pad wat daarheen lei, is maklik, en baie reis daarop” (Matteus 7:13). Die vertalers het die woord “hel” ingevoeg, hoewel Matteus se verslag uitdruklik “vernietiging” sê. Waarom het hulle dit gedoen? Waarskynlik omdat hulle die gedagte wou bevorder dat die goddeloses vir ewig gefolter in plaas van vernietig sal word.c
Hoe om die beste vertaling te vind
Die Bybel is geskryf in die omgangstale van gewone mense, soos boere, herders en vissers (Nehemia 8:8, 12; Handelinge 4:13). ’n Goeie vertaling van die Bybel maak dus die boodskap daarin toeganklik vir opregte mense, ongeag hulle agtergrond. ’n Goeie vertaling sal ook die volgende doen:
◼ Die oorspronklike boodskap wat deur God geïnspireer is, akkuraat oordra.—2 Timoteus 3:16.
◼ Die betekenis van woorde letterlik vertaal wanneer die bewoording en konstruksie van die oorspronklike teks so ’n vertaling in die doeltaal moontlik maak.
◼ Die korrekte betekenis van ’n woord of ’n uitdrukking oordra wanneer ’n letterlike vertaling van die uitdrukking in die oorspronklike taal die betekenis sal verdraai of vertroebel.
◼ Natuurlike, maklik verstaanbare taal gebruik wat mense sal wil lees.
Is so ’n vertaling beskikbaar? Miljoene lesers van hierdie tydskrif verkies om die Nuwe Wêreld-vertaling te gebruik. Waarom? Omdat hulle saamstem met die benadering van die vertaalkomitee, soos uiteengesit in die voorwoord by die eerste Engelse uitgawe: “Ons bied geen geparafraseerde vertaling van die Skrif nie. Dit was deurgaans ons strewe om so ’n letterlike vertaling as moontlik te lewer, waar die hedendaagse Engelse idioom dit toelaat en waar ’n letterlike vertaling nie die gedagte weens onbeholpe taal verberg nie.”
Die Nuwe Wêreld-vertaling is in sy geheel of gedeeltelik al in meer as 60 tale gedruk, met ’n gesamentlike oplaag van meer as 145 000 000! As dit in jou taal beskikbaar is, kan jy gerus vir Jehovah se Getuies ’n eksemplaar vra en self die voordele van hierdie akkurate vertaling sien.
Opregte Bybelstudente wil die boodskap wat deur God geïnspireer is, verstaan en daarvolgens optree. As jy so iemand is, het jy ’n akkurate Bybelvertaling nodig. Jy verdien in werklikheid niks minder nie.
[Voetnote]
a ’n Interlineêre vertaling stel die leser in staat om ’n letterlike vertaling van elke woord tesame met die teks van die oorspronklike taal te sien.
b Dit is opmerkenswaardig dat party Engelse Bybelvertalings ’n groter verskeidenheid ekwivalente as die Nuwe Wêreld-vertaling gebruik en dus nie so konsekwent is nie.
c Die Bybel leer dat ons by die dood na stof terugkeer, dat die siel sterf en dat ons dan nie meer gedagtes of gevoelens het nie (Genesis 3:19; Prediker 9:5, 6; Esegiël 18:4). Dit leer nêrens dat die siele van die goddeloses ewige foltering in ’n brandende hel ondergaan nie.
[Lokteks op bladsy 21]
Geparafraseerde vertalings vind miskien byval omdat dit maklik is om te lees. Maar juis omdat dit so vry vertaal is, vertroebel of verander dit soms die betekenis van die oorspronklike teks
[Lokteks op bladsy 22]
Die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif is in sy geheel of gedeeltelik al in meer as 60 tale gedruk, met ’n gesamentlike oplaag van meer as 145 000 000!
[Venster/Prent op bladsy 20]
’N PARAFRASE UIT DIE OU TYD
Parafrases, of vrye vertalings, van die Bybel is niks nuuts nie. In die ou tyd het die Joodse volk vertalings saamgestel, wat nou die Aramese Targoems, of vrye parafrases van die Skrif, genoem word. Hoewel dit nie akkurate vertalings is nie, openbaar dit hoe die Joodse volk party tekste verstaan het en help dit vertalers om die betekenis van sekere moeilike gedeeltes vas te stel. Byvoorbeeld, by Job 38:7 word “seuns van God” verklaar as “groepe van die engele”. By Genesis 10:9 toon die Targoems dat die Hebreeuse voorsetsel wat gebruik word om Nimrod te beskryf, die vyandige betekenis van “teen” of “in verset teen” oordra en nie net “voor” beteken in ’n neutrale sin nie. Hierdie parafrases het die Bybelteks vergesel, maar was nooit bedoel om die Bybel te vervang nie.
[Prent]
’N GEDEELTE VAN WALTON SE “BIBLIA POLYGLOTTA”, VOLTOOI IN 1657 JOB 38:1-15
Hebreeuse Bybelteks (met Latynse interlineêre vertaling)
Ooreenstemmende teks van ’n Aramese Targoem
[Prent op bladsy 19]
’N GEDEELTE VAN “THE KINGDOM INTERLINEAR TRANSLATION OF THE GREEK SCRIPTURES”, EFESIËRS 4:14
In die linkerkolom is ’n woord-vir-woord-vertaling. In die regterkolom is ’n vertaling van die betekenis
[Foto-erkenning op bladsy 18]
Agtergrond: Shrine of the Book, Israel Museum, Jerusalem