Ons hemelse Vader—Watter soort persoon is hy werklik?
BAIE mense kan die Onse Vader, die modelgebed wat Jesus sy dissipels geleer het, uit hulle kop opsê (Matteus 6:9-13). Elke keer wanneer hulle hierdie gebed opsê, noem hulle God “Ons Vader”. Maar hoeveel mense kan sê dat hulle hom goed ken?
Wat van jou? Hoe goed ken jy God? Geniet jy ’n hegte verhouding met hom, praat jy met hom en vertel jy hom van jou vreugdes en hartseer? Wat behels dit nou eintlik om hom te ken?
“Jehovah is sy naam”
’n Kleuter ken sy pa moontlik net as Pappa. Maar namate hy groter word, leer ken hy sy pa se naam en reputasie en is hy waarskynlik trots op hom. Wat van ons hemelse Lewegewer? Ken jy sy persoonlike naam en wat dit beteken?
Al herhaal baie mense die woorde “Laat u naam geheilig word” elke keer wanneer hulle die Onse Vader opsê, weet hulle moontlik nie wat om te antwoord wanneer hulle gevra word: “Wat is hierdie naam?” nie. Die sterrehemel, ’n majestueuse berg, ’n kleurvolle koraalrif wat wemel van lewe—dit alles getuig van die feit dat God bestaan. Maar dit onthul nie wat sy naam is nie. Om uit te vind wat hierdie naam is, moet ons na die Bybel gaan. Dit sê kort en kragtig: “Jehovah is sy naam.”—Eksodus 15:3.
God wil hê dat ons hom by sy naam, Jehovah, moet ken. Waarom? Omdat sy naam die soort persoon wat hy is, verteenwoordig. Hierdie naam beteken letterlik “Hy laat word”. Met ander woorde, hy word wat ook al nodig is om sy voorneme te vervul. Dink so daaraan: Om vir sy gesin te sorg, word ’n vader ’n broodwinner, ’n raadgewer, ’n regter, ’n onderhandelaar, ’n beskermer en ’n onderrigter, na gelang van die gesin se behoeftes en omstandighede. Net so verseker die naam Jehovah ons dat God heeltemal in staat is om sy wil uit te voer tot seën van almal wat hom dien, ongeag wat gebeur.
Kom ons bespreek die verskillende rolle wat ons liefdevolle God as ’t ware aanneem in ooreenstemming met die betekenis van sy naam. Dit sal jou help om te besef watter soort God Jehovah is en ook om uit te vind wat jy moet doen om nader aan hom te kom.
“Die God van liefde en van vrede”
Die apostel Paulus het ons Maker “die God van liefde en van vrede” genoem (2 Korintiërs 13:11). Waarom? Jesus Christus het vroeër gesê: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Weens sy innige liefde vir die mensdom het God sy geliefde Seun as ’n losprys gegee, wat dit vir diegene wat geloof in hom beoefen, moontlik maak om eindelose lewe te geniet, sonder die pyn en lyding wat die gevolg van sonde is. Daarom het Paulus ook gesê: “Die loon wat die sonde betaal, is die dood, maar die gawe wat God gee, is die ewige lewe deur Christus Jesus, ons Here” (Romeine 6:23). Moet dit ons nie beweeg om God lief te hê en nader aan hom te kom nie?
God betoon sy liefde nie net teenoor die mensdom as ’n geheel nie, maar ook teenoor getroue individue. Moses het vir die eertydse Israeliete, wat dikwels eiesinnig was, gesê: “Hou julle aan om so met Jehovah te handel, o dwase en onwyse volk? Is hy nie jou Vader wat jou voortgebring het nie, hy wat jou gemaak en vastigheid gegee het nie?” (Deuteronomium 32:6). Besef jy wat dit beteken? As ’n liefdevolle Vader het Jehovah vir sy volk omgegee, al was hy bewus van hulle tekortkominge. En hy het voorsien in al hulle regmatige behoeftes—materieel, emosioneel en geestelik.
Ons almal ervaar goeie en slegte tye in die lewe en is soms bekommerd, selfs neerslagtig. Ons het iemand nodig wat ons kan help om ons situasie en probleme in die regte perspektief te sien. Wie kan ons help? Deur middel van sy Woord, die Bybel, toon Jehovah dat hy ’n liefdevolle Raadgewer en Versorger is. Hierdie Heilige Boek verduidelik waarom ons soveel lyding ervaar en hoe ons dit kan verduur. Net soos ’n vader sy seun wat geval en seergekry het, liefdevol help, buk Jehovah in sy groot liefde as ’t ware af om ons die nodige hulp te gee. Jehovah se hand is beslis nie te kort teenoor dié wat geloof in hom stel nie.—Jesaja 59:1.
God se liefde vir ons blyk ook uit die feit dat hy die “Hoorder van die gebed” is (Psalm 65:2). Hoe so? Die apostel Paulus verduidelik: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word; en die vrede van God wat alle denke te bowe gaan, sal julle harte en julle verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). Deur opreg tot God te bid en die leiding te volg wat hy in sy Woord voorsien, kan jy ook “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, ervaar.
“’n God van kennis”
Jehovah God word in die Bybel beskryf as “die Een wat volmaak is in kennis”. As “’n God van kennis” verstaan hy die menslike natuur en die behoeftes van mense beter as enigiemand anders (Job 36:4; 1 Samuel 2:3). Hy het deur middel van sy kneg Moses bekend gemaak dat “die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens van elke uiting uit Jehovah se mond lewe” (Deuteronomium 8:3; Matteus 4:4). Dit beteken dat ons meer as net materiële voorsienings nodig het om ware bevrediging in die lewe te smaak.
Ons Skepper voorsien aan ons waardevolle leiding en raad deur middel van sy Woord, die Bybel. Wanneer ons die Bybel bestudeer en God se raad in ons lewe toepas, vind ons baat by “elke uiting uit Jehovah se mond”. Zuzanna, ’n Christenvrou, het byvoorbeeld oor haar gesinslewe gesê: “Ons huwelik is versterk omdat ons die Bybel saam lees, Christelike vergaderinge saam bywoon en ander vertel wat ons geleer het. Danksy God se geestelike onderrigting het ons dieselfde doelwitte en geniet ons ’n hegter verhouding.”
Sal jy graag wil baat vind by die geestelike raad en leiding wat God voorsien? As jy die Bybel gereeld bestudeer en die raad daarin toepas, sal jy talle geestelike seëninge van hom kan ontvang.—Hebreërs 12:9.
Die “God van redding”
Die wêreld is vandag vol onenigheid. Niemand weet vir seker wat môre sal bring nie. As jy in ’n oorloggeteisterde land woon, smag jy dalk na vrede. In baie ander wêrelddele lewe mense in vrees weens misdaad en geweld, ekonomiese onbestendigheid en terreurdade. Wie sal ons van al hierdie dinge verlos? Die mensdom het nou, meer as ooit tevore, beskerming en verlossing nodig.
“Die naam van Jehovah is ’n sterk toring. Die regverdige hardloop daarin en word beskerm”, sê die Bybel (Spreuke 18:10). As ons God se naam ken en daarop vertrou, kan dit ons aandag vestig op wat hy reeds gedoen het en nog sal doen om dié te verlos wat geloof in hom stel. Jehovah God het bo enige twyfel bewys dat hy sy volk kan verlos. Hy het byvoorbeeld Israel gered deur Farao se strydwaens en krygsmag te vernietig. Jehovah is die God van getrouheid, die God wat aan die geteisterdes dink en ten behoewe van hulle wil optree.—Eksodus 15:1-4.
Ons ewige toekoms hang ook daarvan af dat ons geloof stel in Jehovah God as die Redder. Koning Dawid van eertydse Israel, wat talle ontberinge die hoof moes bied, het hierdie soort geloof geopenbaar toe hy van Jehovah geskryf het: “U is my God van redding” (Psalm 25:5). Die apostel Petrus het vol vertroue gesê: “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos.”—2 Petrus 2:9.
God het aangaande iemand wat op hom vertrou vir hulp, belowe: “Ek sal hom beskerm omdat hy my naam leer ken het” (Psalm 91:14). Hedendaagse knegte van God het ondervind hoe betroubaar hierdie belofte is. Henryk in Pole dien Jehovah al 70 jaar lank getrou, ondanks ontberinge en vervolging. Toe Henryk maar net 16 jaar oud was, is sy pa na die Auschwitz-konsentrasiekamp gestuur. Henryk en sy broer is in ’n Nazi-verbeteringskool geplaas. Daarna is hy van die een konsentrasiekamp na die ander verskuif. Aangaande die gebeure van daardie tyd vertel Henryk: “Deur al my beproewinge heen het Jehovah my nooit verlaat nie. Hy het my altyd gehelp om getrou te bly, al het ek verskeie kere die dood in die gesig gestaar.” Ja, Jehovah gee sy knegte die geloof en krag om te volhard.
God sal binnekort ’n Redder wees vir almal wat geloof in hom beoefen en op hom vertrou vir verlossing. Hy sê: “Ek is Jehovah, en buiten my is daar geen redder nie” (Jesaja 43:11). By “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” sal hy die goddeloses van die aarde af uitwis en die regskapenes verlos (Openbaring 16:14, 16; Spreuke 2:21, 22). Jehovah verseker ons: “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:11.
Hoe om “kinders van God” te word
In die dae van die profeet Maleagi het die Israeliete beweer dat Jehovah hulle Vader is. Maar wanneer hulle eer en toegewydheid aan hom moes bewys, het hulle verontreinigde brood asook blinde en kreupel diere as offerandes gebring. Daarom het Jehovah hulle gevra: “As ek dan ’n vader is, waar is my eer?”—Maleagi 1:6.
Moenie dieselfde fout maak as daardie ontroue Israeliete nie. Ons spoor jou aan om eerder van Jehovah God te leer en nader aan hom te kom. “Kom nader aan God”, was die dissipel Jakobus se aansporing, “en hy sal nader aan julle kom.”—Jakobus 4:8.
Om Jehovah as Vader te hê, bring sekere verantwoordelikhede mee. As jy daarna streef om God te eer deur sy standaarde in elke aspek van jou lewe lojaal te handhaaf, sal hy jou pogings nooit vergeet nie. Inteendeel, hy sal jou help om op die reguit pad te wandel wat lei na die beloofde nuwe wêreld, waarin daar geen “dood . . . meer [sal] wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4). Dán sal alle gehoorsame mense “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak . . . word en die glorieryke vryheid van die kinders van God . . . hê”.—Romeine 8:21.
[Lokteks op bladsy 5]
God wil hê dat ons hom by sy naam, Jehovah, moet ken, wat letterlik “Hy laat word” beteken
[Lokteks op bladsy 6]
“Deur al my beproewinge heen het Jehovah my nooit verlaat nie.”—HENRYK
[Lokteks op bladsy 7]
“Ons huwelik is versterk omdat ons die Bybel saam lees, Christelike vergaderinge saam bywoon en ander vertel wat ons geleer het.”—ZUZANNA