Help hulle om sonder versuim terug te keer!
“Na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe.”—JOH. 6:68.
1. Wat het Petrus gesê toe baie dissipels Jesus verlaat het?
BY EEN geleentheid het baie dissipels wat een van Jesus Christus se leringe verwerp het, hom verlaat. “Julle wil nie miskien ook gaan nie?” het hy sy apostels gevra. Petrus het geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe” (Joh. 6:51-69). Daar was nêrens anders om heen te gaan nie. Judaïsme het destyds geen “woorde van die ewige lewe” gehad nie, en sulke woorde kan beslis nie vandag in Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens, gevind word nie. Vir enigiemand wat van God se kudde afgedwaal het, maar wat Jehovah wil behaag, ‘is dit hoog tyd om wakker te word’ en na die kudde terug te keer.—Rom. 13:11, King James Version.
2. Wat moet in gedagte gehou word aangaande vertroulike of regterlike aangeleenthede?
2 Jehovah het besorgdheid oor die verlore skape van Israel getoon. (Lees Esegiël 34:15, 16.) Christen- ouer manne het eweneens ’n begeerte en ’n verantwoordelikheid om ’n skaapgeaarde te help wat van die kudde afgedwaal het. Wat moet gedoen word as hulle ’n verkondiger vra om met ’n onbedrywige te studeer wat hulp wil hê en die studiehouer vind uit dat die persoon ’n ernstige sonde gepleeg het? Die verkondiger moenie oor ’n regterlike of vertroulike aangeleentheid raad gee nie, maar moet eerder voorstel dat hy met die ouer manne praat. As hy dit nie doen nie, moet die verkondiger die ouer manne inlig.—Lev. 5:1; Gal. 6:1.
3. Hoe het die man met 100 skape gereageer toe een wat verlore was, gevind is?
3 In die vorige artikel is daar verwys na Jesus se illustrasie van ’n man wat 100 skape gehad het. Toe een uit die kudde weggeraak het, het hy die 99 laat staan en die verlore skaap gaan soek. Hoe bly was daardie man tog toe hy dit gevind het! (Luk. 15:4-7). Ons ervaar soortgelyke vreugde wanneer een van God se skape wat uit die kudde weggeraak het, terugkeer. Uit liefde het ouer manne en ander gemeentelede moontlik die onbedrywige besoek. Hulle wil ook sien dat die persoon na die kudde terugkeer en God se steun, beskerming en seën geniet (Deut. 33:27; Ps. 91:14; Spr. 10:22). Wat kan hulle doen as hulle ’n geleentheid kry om in hierdie opsig te help?
4. Wat toon Galasiërs 6:2, 5?
4 Miskien kan hulle iemand aanspoor om na die gemeente terug te keer deur liefdevol vir hom te toon dat Jehovah Sy skape liefhet en net dinge van ons vereis wat ons kan doen. Dit sluit in om die Skrif te bestudeer, Christelike vergaderinge by te woon en die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Dit is dalk gepas om Galasiërs 6:2, 5 te lees en te meld dat Christene mekaar se laste kan help dra, maar dat ‘elkeen sy eie vrag [van geestelike verantwoordelikheid] sal dra’. Niemand anders kan namens ons getrou wees aan God nie.
Is hulle oorweldig deur die “sorge van die lewe”?
5, 6. (a) Waarom is dit belangrik dat ons noukeurig luister na wat onbedrywige medegelowiges sê? (b) Hoe kan jy onbedrywiges help om te sien dat dit vir hulle nadelig is om nie met God se volk te assosieer nie?
5 Om vas te stel hoe om onbedrywige medegelowiges te help, moet ouer manne en ander geestelik volwasse verkondigers noukeurig luister wanneer hierdie persone vertel hoe hulle voel. Gestel jy is ’n ouer man wat ’n egpaar besoek wat van die gemeente wegbly omdat hulle oorweldig is deur die “sorge van die lewe” (Luk. 21:34). Finansiële probleme of groter gesinsverantwoordelikhede het hulle dalk in geestelike onbedrywigheid laat verval. Hulle soek miskien verligting, maar jy kan daarop wys dat afsondering nie die oplossing is nie. (Lees Spreuke 18:1.) Jy kan hulle taktvol vra: “Is julle gelukkiger sedert julle opgehou het om vergaderinge by te woon? Is julle gesinslewe beter? Is die vreugde van Jehovah nog steeds julle vesting?”—Neh. 8:10.
6 As die onbedrywiges oor sulke vrae nadink, kan dit hulle help om te sien dat hulle geestelikheid en vreugde afgeneem het omdat hulle nie meer met die gemeente assosieer nie (Matt. 5:3; Heb. 10:24, 25). Dit is dalk moontlik om hulle te help besef dat hulle van hulle vreugde verloor het omdat hulle nie meer die goeie nuus verkondig nie (Matt. 28:19, 20). Wat sal dan vir hulle die verstandige weg wees?
7. Wat kan ons diegene wat van die kudde afgedwaal het, aanspoor om te doen?
7 Jesus het gesê: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe [nie] . . . Bly dus wakker en doen te alle tye smeekbedes dat julle daarin sal slaag om te ontkom aan al hierdie dinge wat bestem is om te gebeur” (Luk. 21:34-36). Diegene wat van die kudde afgedwaal het, maar wat die vreugde wil ervaar wat hulle voorheen gehad het, kan aangespoor word om vir heilige gees en God se hulp te bid en om in ooreenstemming met hulle gebede op te tree.—Luk. 11:13.
Het iets hulle laat struikel?
8, 9. Hoe kan ’n ouer man redeneer met iemand wat gestruikel het?
8 Omdat mense onvolmaak is, sal daar persoonlikheidsbotsings wees, en dit kan iemand laat struikel. Party is tot struikeling gebring wanneer iemand wat in die gemeente gerespekteer word, onchristelik opgetree het. As ’n onbedrywige deur so iets beïnvloed is, kan die besoekende ouer man daarop wys dat Jehovah niemand laat struikel nie. Waarom sou enigiemand dan sy of haar verhouding met God en Sy volk verbreek? Moet ’n mens nie eerder aanhou om God te dien, in die volle vertroue dat “die Regter van die hele aarde” weet wat gebeur het en sake op die regte manier sal hanteer nie? (Gen. 18:25; Kol. 3:23-25). As iemand letterlik struikel en val, sal hy nie doelbewus in daardie posisie bly sonder om eens te probeer opstaan nie.
9 In ’n poging om geestelike hulp te verleen, kan ’n ouer man meld dat party met verloop van tyd vind dat die situasie wat hulle laat struikel het, nie meer so belangrik lyk nie. Trouens, die struikelblok bestaan dalk nie eens meer nie. As iemand gestruikel het omdat hy dissipline ontvang het, kan biddende bepeinsing hom tot die slotsom laat kom dat hy ten minste gedeeltelik skuldig was en nie moes toegelaat het dat die dissipline hom laat struikel nie.—Ps. 119:165; Heb. 12:5-13.
Was dit ’n lering?
10, 11. Watter redenasie kan doeltreffend wees om iemand te help wat ’n Bybellering anders verstaan het?
10 Party het dalk God se kudde verlaat omdat hulle nie met die een of ander skriftuurlike lering saamgestem het nie. Die Israeliete wat uit Egiptiese slawerny bevry is, het God se “werke vergeet” wat hy ten behoewe van hulle gedoen het en “het nie op sy raad gewag nie” (Ps. 106:13). Dit kan nuttig wees om ’n onbedrywige daaraan te herinner dat “die getroue en verstandige slaaf” uitstekende geestelike voedsel voorsien (Matt. 24:45). Dit is hoe die persoon aanvanklik die waarheid geleer het. Waarom sal hy dan nie vasbeslote wees om weer in die waarheid te wandel nie?—2 Joh. 4.
11 Wanneer ’n ouer man persone probeer help wat van God se kudde afgedwaal het, kan hy verwys na die dissipels wat Jesus verlaat het omdat hulle een van sy leringe verwerp het (Joh. 6:53, 66). Omdat hulle opgehou het om met Christus en sy getroue volgelinge te assosieer, het hulle hulle geestelikheid en hulle vreugde verloor. Het diegene wat opgehou het om met die Christengemeente te assosieer, ’n ander plek gevind waar daar ryk geestelike voedsel is? Nee, want daar is geen ander plek nie!
Was dit onbetaamlike gedrag?
12, 13. Hoe kan iemand wat van die kudde afgedwaal het en erken dat hy ’n ernstige sonde gepleeg het, gehelp word?
12 Party hou op om te preek en vergaderinge by te woon omdat hulle ’n ernstige sonde gepleeg het. Hulle dink dalk dat hulle uitgesit sal word as hulle hulle oortreding aan die ouer manne bely. Maar hulle sal nie uit die gemeente gesit word as hulle die onskriftuurlike gebruik gestaak het en opreg berouvol is nie (2 Kor. 7:10, 11). Hulle sal eerder terugverwelkom word, en die ouer manne sal hulle die nodige geestelike hulp gee.
13 Wat moet jy doen as jy ’n geestelik volwasse verkondiger is wat gevra is om ’n onbedrywige te help en hy vir jou sê dat hy hom aan ’n ernstige oortreding skuldig gemaak het? Soos vroeër gemeld is, moet jy nie verder by die situasie betrokke raak nie, maar eerder voorstel dat hy na die ouer manne toe gaan. As hy dit nie wil doen nie, sal jy jou besorgdheid oor Jehovah se naam en die geestelike welsyn van die gemeente toon deur in ooreenstemming met goddelike riglyne aangaande sulke aangeleenthede op te tree. (Lees Levitikus 5:1.) Die ouer manne sal weet hoe om iemand te help wat wil terugkeer en volgens God se wil wil lewe. Liefdevolle dissipline is dalk nodig (Heb. 12:7-11). As die persoon erken dat hy teen God gesondig het, die oortreding gestaak het en opreg berouvol is, sal die ouer manne hom help, en hy kan Jehovah se vergifnis ontvang.—Jes. 1:18; 55:7; Jak. 5:13-16.
’n Seun se terugkeer bring vreugde mee
14. Vertel Jesus se illustrasie oor die verlore seun in jou eie woorde.
14 Die verkondiger wat gevra is om ’n afgedwaalde skaap te help, kan na Jesus se illustrasie in Lukas 15:11-24 verwys. In hierdie gelykenis verkwis ’n jong man sy erfenis op ’n losbandige lewe. Later begin hy sy losbandige lewenswyse haat. Sy maag is leeg, hy verlang huis toe en hy neem ’n besluit—hy gaan terug huis toe! Terwyl hy nog ver weg is, sien sy vader hom, en hy hardloop en val sy seun om die hals, soen hom teer en is vervul met vreugde. As die een wat weggedryf het, oor hierdie illustrasie nadink, kan dit hom beweeg om na die kudde terug te keer. Aangesien hierdie stelsel van dinge binnekort vernietig gaan word, moet hy sonder versuim ‘huis toe kom’.
15. Waarom dryf party van die gemeente weg?
15 Die meeste persone wat van die gemeente wegdryf, is nie presies soos die verlore seun nie. Party dryf geleidelik weg, net soos ’n boot wat losgeraak het, stadig al hoe verder van die land af wegdryf. Ander raak so beswaar met sorge dat hulle geestelike dinge verwaarloos. En nog ander laat toe dat iemand in die gemeente hulle laat struikel of verlaat die gemeente omdat hulle nie met ’n sekere skriftuurlike lering saamstem nie. ’n Paar maak hulle skuldig aan onskriftuurlike gedrag. Maar die gedagtes wat in verband met elkeen van hierdie situasies bespreek is, kan jou in staat stel om diegene wat die kudde om hierdie of ander redes verlaat het, te help om terug te keer voordat dit te laat is.
“Welkom terug, my kind!”
16-18. (a) Hoe het een ouer man ’n broer gehelp wat jare lank onbedrywig was? (b) Waarom het hierdie broer onbedrywig geraak, hoe is hy gehelp, en hoe is hy deur die gemeente ontvang?
16 Een Christen- ouer man sê: “Ons plaaslike liggaam van ouer manne wend ’n doelbewuste poging aan om onbedrywiges te besoek. Ek het aan ’n broer gedink met wie ek gestudeer het en wat ek gehelp het om die waarheid te leer ken. Hy was al ongeveer 25 jaar lank onbedrywig en het ’n baie moeilike tyd deurgemaak; daarom het ek verduidelik hoe die toepassing van geestelike beginsels in die Bybel hom kan help. Ná ’n ruk het hy Koninkryksaal toe begin kom en ’n persoonlike Bybelstudie aanvaar om hom te help om te bly by sy besluit om na die kudde terug te keer.”
17 Waarom het die broer onbedrywig geraak? Hy erken: “Ek het meer aandag aan wêreldse sake begin skenk as aan geestelike dinge. Toe het ek opgehou om te studeer, velddiens te doen en vergaderinge by te woon. Toe ek my kom kry, was ek nie meer deel van die Christengemeente nie. Maar die persoonlike en opregte belangstelling van die ouer man het my gehelp om terug te kom.” Hierdie broer se probleme het begin afneem nadat hy ’n persoonlike Bybelstudie aanvaar het. Hy sê: “Ek het besef wat in my lewe ontbreek het—die liefde en leiding van Jehovah en sy organisasie.”
18 Hoe is hierdie broer in die gemeente ontvang? Hy sê: “Ek voel soos die verlore seun van wie Jesus Christus gepraat het. Trouens, een van ons bejaarde susters wat 30 jaar gelede daar was en nog steeds bedrywig is, het vir my gesê: ‘Welkom terug, my kind!’ Dit het my hart diep geraak. Dit het gevoel of ek werklik tuisgekom het. En ek wil my opregte waardering uitspreek vir die liefde, hartlikheid, geduld en belangstelling wat daardie ouer man en die hele gemeente teenoor my getoon het. Hulle liefde vir Jehovah en hulle naaste het my werklik gehelp om na die kudde terug te keer.”
Spoor hulle aan om nóú op te tree!
19, 20. Hoe kan jy onbedrywiges aanspoor om sonder versuim na die kudde terug te keer, en hoe kan jy vir hulle wys dat God nie te veel van ons verwag nie?
19 Ons lewe in die laaste dae, en die einde van die teenswoordige stelsel van dinge is op hande. Moedig onbedrywiges dus aan om Christelike vergaderinge by te woon. Spoor hulle aan om dit onmiddellik te begin doen. Wys daarop dat Satan hulle verhouding met God probeer vernietig en hulle wil laat dink dat dit verligting van hulle lewenslaste sal bring as hulle ware aanbidding verlaat. Jy kan hulle verseker dat hulle slegs ware verkwikking kan geniet as hulle Jesus se getroue volgelinge is.—Lees Matteus 11:28-30.
20 Herinner onbedrywiges daaraan dat God van ons verwag om te doen wat ons kan. Toe Lasarus se suster Maria gekritiseer is omdat sy Jesus kort voor sy dood met duur welriekende olie gesalf het, het hy gesê: “Laat staan haar. . . . Sy het gedoen wat sy kon” (Mark. 14:6-8). Jesus het die behoeftige weduwee geprys wat ’n baie klein bydrae by die tempel gemaak het. Sy het ook gedoen wat sy kon (Luk. 21:1-4). Die meeste van ons kan Christelike vergaderinge bywoon en aan die Koninkrykspredikingswerk deelneem. Met Jehovah se hulp sal baie van dié wat nou onbedrywig is, weer hierdie dinge kan doen.
21, 22. Waarvan kan jy diegene verseker wat tot Jehovah terugkeer?
21 As ’n skaapgeaarde wat van die kudde afgedwaal het, bang is om weer sy broers in die oë te kyk, kan jy hom herinner aan die vreugde wat daar was toe die verlore seun huis toe gekom het. Diegene wat na die gemeente terugkeer, is ’n rede tot soortgelyke vreugde. Spoor hulle aan om nóú stappe te doen om die Duiwel teë te staan en nader aan God te kom.—Jak. 4:7, 8.
22 ’n Vreugdevolle verwelkoming wag op diegene wat tot Jehovah terugkeer (Klaagl. 3:40). Hulle vorige ondervindinge in God se diens het hulle ongetwyfeld groot vreugde verskaf. Ongekende toekomstige seëninge wag op diegene wat sonder versuim na die kudde terugkeer!
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe kan jy ’n Christen help wat gestruikel en onbedrywig geraak het?
• Watter redenasie kan iemand help wat God se kudde verlaat het weens ’n persoonlike beskouing oor ’n lering?
• Hoe kan iemand wat huiwerig is om na die gemeente terug te keer, gehelp word?
[Prent op bladsy 13]
Luister noukeurig wanneer ’n onbedrywige medegelowige vertel hoe hy voel
[Prent op bladsy 15]
Party kan beweeg word om na die kudde terug te keer as hulle nadink oor Jesus se illustrasie van die verlore seun