Vier vrae oor die einde word beantwoord
JESUS CHRISTUS het gepraat van ’n toekomstige tyd wanneer “die einde [sal] kom”. In sy beskrywing van daardie tyd het hy gesê: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie.”—Matteus 24:14, 21.
Wat Jesus oor die einde gesê het, sowel as ander Bybelgedeeltes oor hierdie onderwerp, laat ’n aantal belangrike vrae ontstaan. Slaan gerus jou Bybel oop en lees wat dit in antwoord op hierdie vrae sê.
1 Wat sal tot ’n einde kom?
Die Bybel leer nie dat die letterlike aarde vernietig sal word nie. “[God] het die aarde op sy vaste plekke gegrondves”, het die psalmis geskryf. “Tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid sal niks dit laat wankel nie” (Psalm 104:5). Die Bybel leer ook nie dat alle lewe op aarde in ’n verwoestende brand vernietig sal word nie (Jesaja 45:18). Jesus self het aangedui dat daar mense sou wees wat die einde sal oorleef (Matteus 24:21, 22). Wat sal dan volgens die Bybel tot ’n einde kom?
Menseregerings, wat misluk het, sal tot ’n einde kom. God het die profeet Daniël geïnspireer om te skryf: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”—Daniël 2:44.
Oorloë en besoedeling sal tot ’n einde kom. Psalm 46:9 beskryf wat God sal doen: “Hy laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur.” Die Bybel leer ook dat God “die verderwers van die aarde [sal] verderf”.—Openbaring 11:18.
Misdaad en ongeregtigheid sal tot ’n einde kom. God se Woord belowe: “Die regskapenes sal op die aarde woon, en die onberispelikes sal daarop oorbly. Wat die goddeloses betref, hulle sal van die aarde af uitgeroei word; en die verraderlikes sal daarvan weggeruk word.”a—Spreuke 2:21, 22.
2 Wanneer sal die einde kom?
Jehovah God het ’n “vasgestelde tyd” bepaal om ’n einde aan goddeloosheid te maak en sy Koninkryksregering oor die aarde te laat regeer (Markus 13:33). Maar die Bybel toon duidelik dat ons nie die spesifieke datum van die einde kan uitwerk nie. Jesus het gesê: “Van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matteus 24:36). Jesus en sy dissipels het egter voorspel wat die toestande op aarde sal wees net voordat God die einde bring. Die einde is op hande wanneer al die volgende gebeure terselfdertyd en wêreldwyd plaasvind.
Politieke, omgewings- en maatskaplike beroeringe vind op ongeëwenaarde skaal plaas. In antwoord op die dissipels se vrae oor die einde, het Jesus gesê: “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, daar sal aardbewings op die een plek na die ander wees, daar sal voedseltekorte wees. Hierdie dinge is ’n begin van weë van benoudheid” (Markus 13:8). Die apostel Paulus het geskryf: “In die laaste dae [sal daar] kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God.”—2 Timoteus 3:1-5.
’n Wêreldwye, veeltalige predikingsveldtog vind plaas. Jesus het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matteus 24:14.
3 Wat sal ná die einde gebeur?
Die Bybel leer nie dat alle goeie mense van die aarde af weggeneem sal word om vir ewig in hemelse saligheid te lewe nie. Jesus het eerder geleer dat God se oorspronklike voorneme vir die mensdom vervul sal word. “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf”, het Jesus gesê (Matteus 5:5; 6:9, 10). Vir diegene wat sterf voordat die einde kom, bied die Bybel die belofte van ’n toekomstige opstanding (Job 14:14, 15; Johannes 5:28, 29). Wat sal ná die einde gebeur?
Jesus sal vanuit die hemel as Koning van God se Koninkryk regeer. “Ek het in die nagvisioene gesien”, het die profeet Daniël geskryf, “en kyk! met die wolke van die hemel het iemand soos ’n seun van die mens [die verrese Jesus] gekom; en hy het toegang tot die Oue van Dae [Jehovah God] verkry, en hulle het hom tot naby, ja, tot voor Hom gebring. En aan hom [Jesus] is heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk gegee, sodat al die volke, volksgroepe en tale hóm sou dien. Sy heerskappy is ’n heerskappy van onbepaalde duur wat nie sal verbygaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”—Daniël 7:13, 14; Lukas 1:31, 32; Johannes 3:13-16.
Onderdane van God se Koninkryk sal volmaakte gesondheid, blywende sekuriteit en die ewige lewe geniet. “Hulle sal beslis huise bou en dit bewoon”, het die profeet Jesaja geskryf. “En hulle sal beslis wingerde plant en die vrug daarvan eet. Hulle sal nie bou sodat iemand anders dit bewoon nie; hulle sal nie plant sodat iemand anders dit eet nie” (Jesaja 65:21-23). Die apostel Johannes het aangaande daardie tyd geskryf: “Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.
4 Wat moet jy doen om die einde te oorleef?
Die apostel Petrus het erken dat party wat in die tyd van die einde lewe, die spot sal dryf met die idee dat God ooit in menseaangeleenthede sal ingryp en goddeloosheid op die aarde sal beëindig (2 Petrus 3:3, 4). Tog spoor Petrus diegene wat in ons dag lewe, aan om die volgende te doen.
Leer uit die geskiedenis. God het “hom nie daarvan weerhou . . . om ’n eertydse wêreld te straf nie, maar [het] Noag, ’n prediker van regverdigheid, met sewe ander veilig bewaar . . . toe hy ’n watervloed oor ’n wêreld van goddelose mense gebring het”, het Petrus geskryf (2 Petrus 2:5). Aangaande diegene wat spot, het Petrus gesê: “Ooreenkomstig hulle wens ontgaan hierdie feit hulle aandag, dat daar van lankal af hemele was en ’n aarde wat kompak bo water uit en te midde van water gestaan het deur die woord van God; en deur dié middele is die wêreld van daardie tyd vernietig toe dit met water oorstroom is. Maar deur dieselfde woord is die hemele en die aardeb wat nou is, vir die vuur weggelê en word dit bewaar tot die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense.”—2 Petrus 3:5-7.
Lewe volgens God se sedelike standaarde. Diegene wat graag die einde wil oorleef, se lewe sal gekenmerk word deur “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid”, het Petrus geskryf (2 Petrus 3:11). Let op dat Petrus “heilige gedrag” en “dade van godvrugtige toegewydheid” beklemtoon. Meer is dus nodig as net ’n oppervlakkige belydenis van geloof of ’n poging om dinge op die nippertjie met God reg te stel.
Watter spesifieke gedrag en dade is vir God aanneemlik? Vergelyk gerus wat jy weet met wat die Bybel oor hierdie onderwerp leer. Jehovah se Getuies sal jou graag help. Vra hulle om jou in jou Bybel te wys wat die grondslag vir hulle antwoorde is. As jy dit doen, sal dit jou heel moontlik help om die toekoms met moed en vertroue tegemoet te gaan, ondanks die dinge oral om ons wat nou vir ons vrees veroorsaak.
[Voetnote]
a Sien ook die artikel “Het almal ’n gelyke geleentheid om God te leer ken?” op bladsy 22 van hierdie nommer.
b Petrus verwys hier in simboliese sin na die aarde. Die Bybelskrywer Moses het eweneens in simboliese sin na die aarde verwys. Hy het geskryf: “Die hele aarde het steeds een taal . . . gehad” (Genesis 11:1). Net soos dit nie die letterlike aarde is wat “een taal” praat nie, is dit ook nie die letterlike aarde wat vernietig sal word nie. Soos Petrus sê, is dit eerder goddelose mense wat vernietig gaan word.
[Lokteks op bladsy 7]
Die aarde sal nie ophou bestaan nie, maar dié wat dit verderf, sal wel