Die wêreld se geheime heerser ontmasker
“DIE heerser van hierdie wêreld [sal] uitgewerp word”, het Jesus eenkeer vir die mense gesê. Later het hy bygevoeg dat ‘die heerser van hierdie wêreld geen houvas op hom het nie’ en dat “die heerser van hierdie wêreld geoordeel is” (Johannes 12:31; 14:30; 16:11). Van wie het Jesus gepraat?
Wanneer ’n mens dink aan wat Jesus oor “die heerser van hierdie wêreld” gesê het, is dit duidelik dat hy nie na sy Vader, Jehovah God, kon verwys het nie. Wie is dan “die heerser van hierdie wêreld”? Hoe sal hy “uitgewerp” word, en hoe is hy “geoordeel”?
“Die heerser van hierdie wêreld” openbaar homself
Net soos ’n meestermisdadiger dikwels met trots oor sy mag spog, het die Duiwel oor sy mag gespog toe hy Jesus, die Seun van God, versoek het. Nadat Satan Jesus “al die koninkryke” van die wêreld gewys het, het hy die volgende aanbod gemaak: “Ek sal jou al hierdie gesag en hulle heerlikheid gee, want dit is aan my oorgegee, en ek gee dit aan wie ek wil. As jy dan ’n daad van aanbidding voor my verrig, sal dit alles joune wees.”—Lukas 4:5-7.
Hoe kan hierdie versoeking verklaar word as die Duiwel bloot ’n simbool van boosheid is, soos party al aangevoer het? Is Jesus versoek deur die een of ander bose gedagte of deur innerlike verwarring wat hy dalk ná sy doop ondervind het? Indien wel, hoe kan daar dan gesê word dat ‘daar geen sonde in hom is nie’? (1 Johannes 3:5). Jesus het beslis nie die Duiwel se mag oor die mensdom ontken nie, maar het dit eerder bevestig deur van hom te praat as “die heerser van die wêreld” en hom te beskryf as “’n mensemoordenaar” en “’n leuenaar”.—Johannes 14:30; 8:44.
Ongeveer 60 jaar ná Christus se ontmoeting met die Duiwel het die apostel Johannes Christene aan die Duiwel se kragtige invloed herinner en gesê dat ‘die hele wêreld in die mag van die bose lê’. Johannes het ook gesê dat hierdie een “die hele bewoonde aarde mislei” (1 Johannes 5:19; Openbaring 12:9). Dit is duidelik dat die Bybel van ’n onsigbare gees praat as “die heerser van die wêreld”. Maar hoe omvangryk is sy invloed oor die mensdom?
Die wêreldheerser delegeer mag aan ander
Die apostel Paulus het oor Christene se stryd vir die geloof geskryf en hulle grootste vyande duidelik geïdentifiseer. “Ons het ’n worstelstryd”, het hy reguit gesê, “nie teen bloed en vlees nie, maar teen die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke” (Efesiërs 6:12). Hierdie stryd is dus nie beperk tot die mensesfeer nie, aangesien dit “nie teen bloed en vlees” gevoer word nie, maar teen “bose geesmagte”.
Volgens die meeste moderne Bybelvertalings verwys “die bose geesmagte” hier nie na ’n abstrakte simbool van boosheid nie, maar na magtige, goddelose geespersone. Party vertalings gee dit weer as “die geestelike leërskare van goddeloosheid in die hemelse plekke” (Revised Standard Version), “die geestelike leërmag van boosheid in die hemele” (The Jerusalem Bible) en “die bomenslike magte van boosheid in die hemele” (The New English Bible). Die Duiwel oefen dus sy mag uit deur middel van ander opstandige engele wat “hulle eie gepaste woonplek” in die hemel verlaat het.—Judas 6.
Die profetiese Bybelboek Daniël openbaar hoe hierdie “wêreldheersers” sedert die ou tyd beheer oor die wêreld uitoefen. Die profeet Daniël, wat diep besorg was oor sy mede-Jode wat in 537 VHJ uit Babiloniese ballingskap na Jerusalem teruggekeer het, het drie weke lank vir hulle gebid. ’n Engel wat deur God gestuur is om die profeet gerus te stel, het vir hom gesê waarom hy vertraag is. Hy het gesê: “Die vors van die koninklike gebied van Persië het my een-en-twintig dae lank teëgestaan.”—Daniël 10:2, 13.
Wie was hierdie ‘vors van Persië’? Die engel het natuurlik nie na die Persiese koning Kores verwys nie, wat Daniël en sy volk destyds goedgesind was. Wat meer is, hoe kon ’n blote mensekoning ’n geesskepsel drie weke lank teëstaan as dit een engel slegs een aand geneem het om 185 000 dapper soldate dood te maak? (Jesaja 37:36). Hierdie vyandige ‘vors van Persië’ kon slegs ’n werktuig van die Duiwel gewees het, met ander woorde, ’n demoon wat beheer oor die gebied van die Persiese Ryk gegee is. Later in die verslag het God se engel gesê dat hy weer teen “die vors van Persië” en nog ’n demoonvors, “die vors van Griekeland”, sou moes veg.—Daniël 10:20.
Wat kan ons hieruit aflei? Eenvoudig gestel, daar is werklik onsigbare “wêreldheersers”, demoonvorste wat onder die gesag van hulle hoof, Satan die Duiwel, saam oor die wêreld beheer uitoefen. Maar wat was hulle oogmerk tot nou toe?
Die wêreldheerser wys sy ware kleure
In die laaste boek van die Bybel, Openbaring, vertel die apostel Johannes hoe Jesus, as Migael die aartsengel, die Duiwel en sy demone verower en praat hy van die rampspoedige gevolge wat dit gehad het toe hulle uit die hemel gewerp is. Ons lees: “Wee die aarde . . . , want die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het.”—Openbaring 12:9, 12.
Hoe het die Duiwel groot toorn geopenbaar? Net soos baie desperate misdadigers die beleid van ‘regeer of ruïneer’ volg, is die Duiwel en sy demone vasbeslote om die aarde en sy bewoners saam met hulle in die verderf te stort. Omdat die Duiwel weet dat sy tyd kort is, gebruik hy ’n belangrike element van die mensegemeenskap onder sy beheer—groot sake—om ’n koorsagtige verbruikersgees te bevorder, wat lei tot die uitputting van natuurlike hulpbronne en die wêreldwye vernietiging van die omgewing, en sodoende die mensdom se voortbestaan bedreig.—Openbaring 11:18; 18:11-17.
Sedert die begin van die mensegeskiedenis word die Duiwel se magsug ook in die politiek en godsdiens weerspieël. Die boek Openbaring beeld die politieke magte uit as wilde diere aan wie die Duiwel “groot gesag” gegee het. Dit beskryf ook die skaamtelose bondgenootskap tussen die politiek en godsdiens as afstootlike geestelike egbreuk (Openbaring 13:2; 17:1, 2). Dink aan die onderdrukking, slawerny, oorloë en etniese konflikte deur die eeue heen wat tot die verlies van miljoene lewens gelei het. Kan die skokkende en gruwelike gebeure wat die mensegeskiedenis ontsier, eerlikwaar beskryf word as die normale optrede van mense? Of was dit die gevolg van manipulasie deur onsigbare, goddelose geesmagte?
In die Bybel word die een wat menseleiers en wêreldmagte manipuleer, duidelik geïdentifiseer en ontmasker. Hetsy wetend of onwetend, die mensegemeenskap weerspieël die persoonlikheid van sy heerser en sy beleid van ‘regeer of ruïneer’. Maar hoe lank sal die mensdom onder die Duiwel se heerskappy ly?
Die Duiwel se doodsnik
Christus se bedrywigheid op aarde in die eerste eeu het die doodsklok vir die Duiwel en sy demone gelui. Toe Jesus se dissipels vertel het hoe hulle onsigbare demone uitgedryf het, het hy vir hulle gesê: “Ek het begin sien dat Satan reeds soos weerlig uit die hemel geval het” (Lukas 10:18). Met daardie woorde het Jesus sy vreugde uitgespreek oor sy toekomstige oorwinning oor die heerser van die wêreld, wat sou plaasvind wanneer Jesus weer in die hemel sou wees as Migael die aartsengel (Openbaring 12:7-9). ’n Deeglike studie van Bybelprofesieë toon dat hierdie oorwinning in of kort ná 1914 in die hemel plaasgevind het.a
Sedert daardie jaar weet die Duiwel dat daar min tyd oor is voordat hy vernietig sal word. Hoewel ‘die hele wêreld in sy mag lê’, is daar vandag miljoene mense wat nie mislei is deur sy desperate pogings om hulle te beheer nie. Die Bybel het hulle oë geopen vir sy ware identiteit en planne (2 Korintiërs 2:11). Paulus se woorde aan mede-Christene gee hulle hoop: ‘Die God wat vrede gee, sal Satan binnekort onder julle voete verbrysel.’—Romeine 16:20.b
Die Duiwel sal binnekort sy doodsnik gee! Onder Christus se liefdevolle heerskappy sal regverdige mense God se simboliese voetbank, die aarde, in ’n paradys omskep. Geweld, haat en hebsug sal vir altyd iets van die verlede wees. “Die vorige dinge sal nie onthou word nie”, sê die Bybel (Jesaja 65:17). Wat ’n verligting sal dit tog wees vir almal wat losbreek van die gesag van die geheime heerser van hierdie wêreld!
[Voetnote]
a Vir meer besonderhede oor hierdie jaar, sien die aanhangsel tot die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies, bladsye 215 tot 218.
b Hierdie woorde van Paulus laat ’n mens dink aan die eerste Bybelprofesie, wat in Genesis 3:15 opgeteken is en na die Duiwel se uiteindelike vernietiging wys. Om die gebeurtenis te beskryf, het Paulus ’n Griekse woord gebruik wat beteken “om te verbrysel, flenters te breek, in stukke te breek deur te verpletter”.—Vine’s Complete Expository Dictionary of Old and New Testament Words.
[Lokteks op bladsy 9]
Onder Christus se liefdevolle heerskappy sal regverdige mense die aarde in ’n paradys omskep