“Laat u koninkryk kom”—Maar wanneer?
“Wanneer julle al hierdie dinge sien, [moet julle] weet dat hy naby is, voor die deur.”—MATT. 24:33.
1, 2. (a) Wat kan ’n uitwerking hê op wat ons sien? (b) Wat weet ons omtrent God se Koninkryk?
JY HET dalk al opgemerk dat ooggetuies van ’n gebeurtenis dikwels die besonderhede daarvan heeltemal anders onthou. Net so sal ’n persoon dit dalk moeilik vind om te onthou presies wat die dokter gesê het nadat hy die diagnose gehoor het. Of iemand soek miskien na sy sleutels of bril, al is dit binne bereik. Al hierdie situasies het moontlik te doen met ’n verskynsel wat volgens navorsers ’n soort blindheid is—’n persoon sien iets nie raak nie of vergeet iets omdat sy aandag op iets anders gevestig is. Dit is blykbaar hoe ons brein werk.
2 Vandag ondervind baie mense ’n soortgelyke soort blindheid wanneer dit kom by wêreldgebeure. Hulle erken dalk dat die wêreld baie sedert 1914 verander het, maar hulle sien nie wat die ware betekenis van hierdie gebeure is nie. As Bybelstudente weet ons dat God se Koninkryk in ’n sin in 1914 gekom het toe Jesus in die hemel as Koning gekroon is. Maar ons weet dat die antwoord op die gebed: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde”, meer behels (Matt. 6:10). Dit is duidelik dat dit die einde van die teenswoordige goddelose stelsel insluit. Slegs wanneer dit gebeur, kan God se wil op die aarde gedoen word soos dit in die hemel gedoen word.
3. Hoe vind ons by ’n studie van God se Woord baat?
3 Omdat ons God se Woord gereeld bestudeer, kan ons sien dat profesieë nou in vervulling gaan. Hoe verskil dit tog van mense oor die algemeen! Hulle is so betrokke by hulle lewe en strewes dat hulle die duidelike bewyse oor die hoof sien dat Christus sedert 1914 heers en dat hy binnekort God se oordeel sal voltrek. Jy kan jou egter afvra: ‘Is ek nog net so bewus van die betekenis van ons tye as wat ek jare gelede was?’ Waarop is jou aandag toegespits, al het jy in onlangser jare ’n Getuie geword? Wat ons antwoord hierop ook al is, kom ons kyk na drie belangrike redes waarom ons die vertroue kan hê dat God se gesalfde Koning binnekort bykomende stappe sal doen om te verseker dat God se wil ten volle op die aarde gedoen word.
DIE RUITERS HET HULLE VERSKYNING GEMAAK
4, 5. (a) Wat doen Jesus sedert 1914? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat word deur die rit van die drie ruiters afgebeeld, en hoe is hierdie profesie vervul?
4 In 1914 is Jesus Christus—wat uitgebeeld word as ’n ruiter op ’n wit perd—sy hemelse kroon gegee. Hy het onmiddellik uitgegaan om sy oorwinning oor Satan se goddelose stelsel te voltooi. (Lees Openbaring 6:1, 2.) Die beskrywende profesie in Openbaring hoofstuk 6 het ons rede gegee om te verwag dat wêreldtoestande vinnig ná die oprigting van God se Koninkryk sou agteruitgaan—oorloë, voedseltekorte, pessiektes en ander dinge wat tot die dood lei. Hierdie verwikkelinge word uitgebeeld deur die rit van drie ruiters wat kort agter Jesus Christus volg.—Op. 6:3-8.
5 Soos voorspel is, is ‘vrede van die aarde weggeneem’, ondanks die feit dat baie nasies belowe het om saam te werk en vrede te handhaaf. Die Eerste Wêreldoorlog was maar net die begin van groot oorloë, soos onlangse wêreldverwikkelinge bewys. En hoewel baie ekonomiese en wetenskaplike vooruitgang sedert 1914 gemaak is, is hongersnode steeds ’n bedreiging vir wêreldveiligheid. Wat meer is, wie kan ontken dat allerhande pessiektes, natuurrampe en ander “dodelike plae” elke jaar die lewens van miljoene slagoffers eis? Die omvang, algemeenheid en intensiteit van hierdie gebeurtenisse is ongekend in die mensegeskiedenis. Neem jy die betekenis hiervan ter harte?
Namate die rit van die ruiters vorder, versleg wêreldtoestande al hoe meer (Sien paragrawe 4, 5)
6. Wie het op die vervulling van Bybelprofesieë ag geslaan, en wat het dit hulle beweeg om te doen?
6 Terwyl baie mense se aandag afgelei is deur die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog en die Spaanse griep, het gesalfde Christene met groot afwagting uitgesien na 1914 as die einde van die Heidense Tye, oftewel “die vasgestelde tye van die nasies” (Luk. 21:24). Hulle was nie heeltemal seker wat sou gebeur nie. Maar hulle het geweet dat 1914 ’n keerpunt met betrekking tot goddelike heerskappy sou wees. Toe hulle onderskei dat Bybelprofesieë vervul word, het hulle met vrymoedigheid vir ander vertel dat God begin heers het. Hulle pogings om die Koninkryk te verkondig, het hewige vervolging tot gevolg gehad. Die feit dat dit in baie nasies gebeur het, was op sigself ’n verdere vervulling van profesieë. In die daaropvolgende dekades het die vyande van die Koninkryk “moeilikheid deur verordening beraam”. Hulle het ons broers ook fisies aangerand, in die tronk gegooi en selfs tereggestel deur hulle te hang, te skiet of te onthoof.—Ps. 94:20; Op. 12:15.
7. Waarom het die meeste mense nie die ware betekenis van wêreldgebeure onderskei nie?
7 Daar is soveel bewyse dat God se Koninkryk alreeds in die hemel opgerig is. Waarom onderskei die meeste mense dan nie wat wêreldgebeure beteken nie? Waarom kan hulle nie die verband sien tussen die toestand van die wêreld en die spesifieke Bybelprofesieë waarvan God se volk mense al lank vertel nie? Is dit dalk omdat die meeste mense se aandag net gevestig is op wat hulle met hulle oë kan sien? (2 Kor. 5:7). Maak hulle beheptheid met menseaangeleenthede hulle blind vir wat God doen? (Matt. 24:37-39). Word die aandag van party afgelei deur die geraas van sataniese propaganda? (2 Kor. 4:4). Dit verg geloof en geestelike insig om te sien wat in die geesteryk plaasvind. Hoe bly kan ons tog wees dat ons nie blind is vir wat werklik aan die gang is nie!
GODDELOOSHEID GAAN VOORT VAN KWAAD TOT ERGER
8-10. (a) Hoe word 2 Timoteus 3:1-5 vervul? (b) Waarom kan ons sê dat goddeloosheid van kwaad tot erger voortgaan?
8 Daar is ’n tweede rede waarom ons weet dat God se Koninkryk binnekort volle beheer van die aarde se aangeleenthede sal oorneem: Goddeloosheid gaan voort van kwaad tot erger. Die gedrag wat in 2 Timoteus 3:1-5 voorspel is, kan al byna ’n eeu lank gesien word. Dit het ook geleidelik vererger wat omvang, tydsduur en algemeenheid betref. Kan jy sien dat dit die geval is? Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde wat dit goed toelig.—Lees 2 Timoteus 3:1, 13.
9 Dink aan die teenstelling tussen wat in die 1940’s of 1950’s skokkend was en wat vandag gebeur in die werksplek, in die vermaaklikheidswêreld, in sport en in die modewêreld. Uiterse geweld en onsedelikheid is vandag iets algemeens. Mense probeer ander skok met hulle gewelddadige, onsedelike en wreedaardige gedrag. Wat in die 1950’s as gewaagde televisieprogramme beskou is, word vandag as gepaste vermaak vir die hele gesin beskou. En baie mense erken dat homoseksuele baie invloed het in die vermaaklikheids- en modewêreld, waar hulle hulle lewenswyse bevorder. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat ons weet wat God se beskouing is!—Lees Judas 14, 15.
10 Of ’n Christen kan nadink oor die teenstelling tussen wat in die 1950’s as opstandige gedrag deur jongmense beskou is en wat vandag gebeur. Ouers het hulle bekommer—en heel tereg—oor of hulle kinders sigarette rook, alkohol drink of suggestief dans. Vandag het skokkende berigte algemeen geword: ’n Vyftienjarige student skiet op sy klasmaats. Twee is dood, en dertien is gewond. ’n Groep dronk tieners vermoor ’n negejarige meisie wreed en rand haar pa en neef aan. In een Asiatiese land is jongmense blykbaar verantwoordelik vir die helfte van die misdade wat in die voorafgaande tien jaar gepleeg is. Kan enigiemand redelikerwys ontken dat dinge baie vererger het?
11. Waarom besef baie mense nie dat dinge vererger nie?
11 Die apostel Petrus het tereg gesê “dat daar in die laaste dae spotters sal kom met hulle spotterny, wat ooreenkomstig hulle eie begeertes handel en sê: ‘Waar is sy beloofde teenwoordigheid dan? Van die dag af dat ons voorvaders ontslaap het, bly alles dan net soos van die begin van die skepping af’” (2 Pet. 3:3, 4). Wat verklaar moontlik waarom party mense so optree? Hoe algemener ’n situasie is, hoe minder geneig is mense blykbaar om daaraan aandag te skenk. ’n Geleidelike afname in die sedelikheid van die samelewing oor die algemeen is dalk minder skokkend as ’n skielike, onverwagte verandering in die gedrag van iemand wat ons goed ken. Hierdie geleidelike sedelike agteruitgang is nietemin gevaarlik.
12, 13. (a) Waarom moet ons nie deur wêreldverwikkelinge ontmoedig word nie? (b) Watter vertroue sal ons help om hierdie tye “wat moeilik is om deur te kom”, die hoof te bied?
12 Die apostel Paulus het ons gewaarsku dat ‘die laaste dae moeilik sal wees om deur te kom’ (2 Tim. 3:1). Maar dit is nie onmoontlik om dit deur te kom nie, en daarom moet ons nie van die werklikheid wegskram nie. Jehovah, sy gees en die Christengemeente kan ons help om enige teleurstellings of vrese waarvoor ons te staan kom, met welslae te oorkom. Ons kán getrou bly. “Die krag wat bo die normale is”, is God s’n, nie ons eie nie.—2 Kor. 4:7-10.
13 Dit is goed om te weet dat Paulus die profesie oor die laaste dae ingelei het met die woorde “weet dít”. Hierdie woorde is ’n waarborg dat wat daarop volg, beslis sal gebeur. Daar bestaan geen twyfel dat die goddelose mensegemeenskap van kwaad tot erger sal voortgaan totdat Jehovah ingryp om ’n einde daaraan te maak nie. Geskiedkundiges het gesien dat gemeenskappe of selfs nasies ineengestort het wanneer hulle vinnig sedelik agteruitgegaan het. Maar nog nooit tevore in die geskiedenis het die algemene sedelikheid van die hele wêreld so erg agteruitgegaan nie. Baie mense ignoreer wat dit impliseer, maar die unieke verwikkelinge sedert 1914 moet ons die vertroue gee dat God se Koninkryk binnekort daadwerklik sal optree.
HIERDIE GESLAG SAL NIE VERBYGAAN NIE
14-16. Wat is ’n derde rede waarom ons kan glo dat God se Koninkryk binnekort sal “kom”?
14 Daar is ’n derde rede waarom ons vertroue kan hê. Verwikkelinge onder God se volk toon dat die einde naby is. Byvoorbeeld, voordat God se Koninkryk in die hemel opgerig is, was ’n groep getroue gesalfdes bedrywig in God se diens. Wat het hulle gedoen toe party van hulle verwagtinge oor wat in 1914 sou gebeur, nie verwesenlik is nie? Die meeste het hulle onkreukbaarheid ondanks beproewinge en vervolging gehandhaaf en aangehou om Jehovah te dien. Oor die jare het die meeste van daardie gesalfdes—indien nie almal nie—hulle aardse loopbaan getrou voltooi.
15 In sy breedvoerige profesie oor die voleinding van hierdie stelsel van dinge het Jesus gesê: “Hierdie geslag [sal] hoegenaamd nie . . . verbygaan voordat al hierdie dinge plaasgevind het nie.” (Lees Matteus 24:33-35.) Ons verstaan dat Jesus na twee groepe gesalfde Christene verwys het toe hy van “hierdie geslag” gepraat het. Die eerste groep het in 1914 gelewe, en hulle het die teken van Christus se teenwoordigheid in daardie jaar onderskei. Diegene wat hierdie groep uitgemaak het, het nie bloot in 1914 gelewe nie, maar hulle is in of voor daardie jaar as seuns van God met heilige gees gesalf.—Rom. 8:14-17.
16 Die tweede groep wat deel uitmaak van “hierdie geslag”, is gesalfde tydgenote van die eerste groep. Hulle lewe het nie bloot oorvleuel met die lewe van diegene in die eerste groep nie, maar hulle is met heilige gees gesalf gedurende die tyd dat die lede van die eerste groep nog op aarde was. Nie elke gesalfde persoon wat vandag lewe, maak dus deel uit van “hierdie geslag” waarvan Jesus gepraat het nie. Die lede van hierdie tweede groep word ook nou oud. Nogtans gee Jesus se woorde in Matteus 24:34 ons die vertroue dat ten minste ’n paar lede van “hierdie geslag hoegenaamd nie sal verbygaan” voordat hulle die begin van die groot verdrukking sien nie. Dit moet ons oortuiging versterk dat daar min tyd oor is voordat die Koning van God se Koninkryk sal optree om die goddeloses te vernietig en ’n regverdige nuwe wêreld tot stand te bring.—2 Pet. 3:13.
CHRISTUS SAL BINNEKORT SY OORWINNING VOLTOOI
17. Watter slotsom kan ons bereik in die lig van die profesieë wat ons bespreek het?
17 Watter slotsom kan ons bereik in die lig van die profesieë wat ons bespreek het? Jesus het gewaarsku dat ons nie sal weet wat die presiese dag of uur sal wees nie—en ons weet dit nie (Matt. 24:36; 25:13). Maar soos Paulus gesê het, weet ons wel in watter “tyd” ons lewe (Lees Romeine 13:11.) Ons lewe in die laaste dae. As ons ten volle aandag skenk aan Bybelprofesieë en wat Jehovah God en Jesus Christus doen, sal ons beslis die oortuigende bewyse sien dat ons inderdaad na aan die einde van hierdie stelsel van dinge lewe.
18. Wat wag op diegene wat weier om God se Koninkryk te erken?
18 Diegene wat weier om die ontsaglike gesag te aanvaar wat gegee is aan Jesus Christus, die seëvierende Ruiter van die wit perd, sal binnekort gedwing word om hulle fout te erken. Hulle sal geen uitweg hê nie. Dan sal baie in angs uitroep: “Wie kan staan?” (Op. 6:15-17). Maar die volgende hoofstuk van Openbaring voorsien ’n antwoord. Die gesalfdes en diegene met ’n aardse hoop sal wel in daardie dag “staan” omdat hulle God se goedkeuring geniet. Dan sal “’n groot menigte” van daardie ander skape die groot verdrukking oorleef.—Op. 7:9, 13-15.
19. Waarna sien jy uit as iemand wat die vertroue het dat die laaste dae binnekort sal eindig?
19 As ons nou ons aandag gevestig hou op die ontvouende vervulling van Bybelprofesieë in hierdie opwindende tye, sal ons aandag nie afgelei word deur die geraas van Satan se wêreld nie; en ons sal ook nie blind wees vir die ware betekenis van wêreldgebeure nie. Christus sal binnekort sy oorwinning oor hierdie goddelose mensegemeenskap voltooi deur die finale oorlog in regverdigheid te voer (Op. 19:11, 19-21). Watter wonderlike versekering gee die Bybel ons tog oor die geluk wat ons dan sal kan smaak!—Op. 20:1-3, 6; 21:3, 4.