Dien Jehovah voordat die rampspoedige dae kom
“Dink . . . aan jou Grootse Skepper.”—PRED. 12:1.
1, 2. (a) Watter raad is Salomo geïnspireer om aan jongmense te gee? (b) Waarom is Salomo se raad ook vir Christene in hulle 50’s en ouer van belang?
KONING SALOMO is geïnspireer om vir jongmense te sê: “Dink . . . aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid, voordat die rampspoedige dae kom.” Wat is die “rampspoedige dae”? Salomo het gedagteprikkelende digterlike taal gebruik om die rampspoedige dae van bejaardheid te beskryf—bewende hande, wankelrige bene, tandverlies, swak sig, hardhorendheid, grys hare en ’n krom postuur. Niemand moet wag totdat hy hierdie stadium van die lewe bereik om Jehovah te begin dien nie.—Lees Prediker 12:1-5.
2 Baie Christene in hulle 50’s en ouer het nog steeds baie energie. Hulle het dalk al begin grys word, maar hulle het waarskynlik nog nie die swak gesondheid wat Salomo beskryf het nie. Kan hierdie ouer Christene baat vind by die geïnspireerde raad wat Salomo aan jongmense gegee het: “Dink . . . aan jou Grootse Skepper”? Wat beteken hierdie raad?
3. Wat behels dit om aan ons Grootse Skepper te dink?
3 Al dien ons Jehovah al baie jare lank, sal dit goed wees as ons elke nou en dan tyd opsy sit om met waardering te dink aan die grootsheid van ons Skepper. Hoe ontsagwekkend is die skepping tog! Die komplekse ontwerp daarvan gaan die mens se verstand te bowe. Die ryk verskeidenheid van die dinge wat Jehovah gemaak het, bied ons baie geleenthede om die lewe te geniet. Wanneer ons nadink oor Jehovah se skeppingswerke, kry ons opnuut waardering vir sy liefde, wysheid en krag (Ps. 143:5). Maar om aan ons Grootse Skepper te dink, behels ook dat ons nadink oor ons verpligtinge teenoor hom. Wanneer ons oor hierdie dinge nadink, is ons sekerlik vasbeslote om ons dankbaarheid aan ons Skepper te toon deur hom so lank as wat ons lewe na die beste van ons vermoë te dien.—Pred. 12:13.
UNIEKE GELEENTHEDE WANNEER JY OUER IS
4. Watter vraag kan Christene met baie ondervinding hulle afvra, en waarom?
4 As jy dekades se ondervinding as ’n volwassene opgedoen het, moet jy jou ’n belangrike vraag afvra: ‘Wat sal ek nou met my lewe doen terwyl ek nog ’n mate van energie en krag het?’ As ’n ervare Christen het jy geleenthede wat ander nie het nie. Jy kan die dinge wat jy by Jehovah geleer het, aan jonger mense oordra. Jy kan ander opbou deur ondervindinge te vertel wat jy in God se diens gehad het. Koning Dawid het gebid vir geleenthede om dit te doen. Hy het geskryf: “O God, u het my van my jeug af geleer . . . Selfs tot die ouderdom en grysheid toe, o God, moet u my nie verlaat nie, totdat ek vir die geslag van u arm kan vertel, vir almal wat sal kom, van u mag.”—Ps. 71:17, 18.
5. Hoe kan ouer Christene die dinge wat hulle geleer het, aan ander oordra?
5 Hoe kan jy die wysheid wat jy oor die jare opgedoen het, aan ander oordra? Kan jy jonger knegte van God na jou huis nooi om opbouende assosiasie te geniet? Kan jy hulle nooi om saam met jou in die Christelike bediening te werk sodat hulle die vreugde kan sien wat jy in Jehovah se diens ondervind? Elihu van die ou tyd het gesê: “Die dae moet praat, en die veelheid van jare moet wysheid bekend maak” (Job 32:7). Die apostel Paulus het ervare Christenvroue aangespoor om ander deur hulle woorde en hulle voorbeeld aan te moedig. Hy het geskryf dat ‘die bejaarde vroue onderrigters moet wees van wat goed is’.—Tit. 2:3.
WAT JY KAN DOEN OM ANDER TE HELP
6. Waarom moet Christene met baie jare se ondervinding nie onderskat wat hulle kan doen om ander te help nie?
6 As jy ’n ervare Christen is, is daar baie wat jy kan doen om ander te help. Dink aan die dinge wat jy nou verstaan wat jy nie 30 of 40 jaar gelede geweet het nie. Jy weet hoe om Bybelbeginsels in die lewe toe te pas. Jy het ongetwyfeld die vermoë om mense se harte met Bybelwaarheid te bereik. As jy ’n ouer man is, weet jy hoe om broers te help wat ’n misstap begaan (Gal. 6:1). Jy het moontlik geleer hoe om oor gemeentelike bedrywighede, byeenkomsafdelings of die bou van Koninkryksale toesig te hou. Jy weet dalk hoe om dokters aan te spoor om mediese strategieë te gebruik wat nie van bloed gebruik maak nie. Selfs al het jy net onlangs die waarheid geleer, het jy waardevolle lewensondervinding. As jy byvoorbeeld kinders grootgemaak het, het jy baie praktiese wysheid verkry. Ouer Christene kan ’n kragtige bron van aanmoediging vir Jehovah se volk wees deur die broers en susters te onderrig, te lei en te versterk.—Lees Job 12:12.
7. Watter nuttige opleiding kan ouer Christene aan jonger mense voorsien?
7 Op watter ander maniere kan jy ander help? Dalk kan jy jonger mense wys hoe om Bybelstudies te begin en te hou. Kan jy, as jy ’n suster is, vir jong moeders wenke gee oor hoe hulle geestelik bedrywig kan bly terwyl hulle na hulle klein kindertjies omsien? Of kan jy, as jy ’n broer is, jong broers leer om toesprake met entoesiasme te hou en om doeltreffender verkondigers van die goeie nuus te wees? Kan jy vir hulle wys hoe jy bejaarde broers en susters geestelik aanmoedig wanneer jy hulle besoek? Al het jy nie meer die fisiese krag wat jy voorheen gehad het nie, het jy uitstekende geleenthede om jonger mense op te lei. God se Woord sê: “Die sieraad van jong manne is hulle krag, en die prag van ou manne is hulle grysheid.”—Spr. 20:29.
DIENS WAAR DAAR HULP NODIG IS
8. Wat het die apostel Paulus gedoen toe hy ouer was?
8 Selfs toe die apostel Paulus ouer geword het, het hy Jehovah na die beste van sy vermoë gedien. Teen die tyd dat hy in Rome uit die gevangenis vrygelaat is, ongeveer 61 HJ, het hy al jare lank baie beproewinge in die sendingdiens verduur, en hy kon ’n makliker lewe gekies het deur hom in Rome te vestig om daar te preek (2 Kor. 11:23-27). Die broers in daardie groot stad sou sy volgehoue ondersteuning ongetwyfeld waardeer het. Maar Paulus het gesien dat hulp dringender nodig was in ander lande. Hy het saam met Timoteus en Titus sy sendingwerk voortgesit en gereis na Efese, toe na Kreta en waarskynlik na Masedonië (1 Tim. 1:3; Tit. 1:5). Ons weet nie of hy Spanje besoek het nie, maar hy was van plan om dit te doen.—Rom. 15:24, 28.
9. Wanneer het Petrus moontlik getrek om te dien waar hulp nodig was? (Sien prent aan begin van artikel.)
9 Die apostel Petrus was dalk oor die 50 toe hy getrek het om te gaan dien waar daar hulp nodig was. Hoe weet ons dit? As hy net so oud was soos Jesus, of dalk ’n bietjie ouer, sou hy omtrent 50 jaar oud gewees het toe hy in die jaar 49 HJ saam met die ander apostels in Jerusalem vergader het (Hand. 15:7). ’n Rukkie ná daardie vergadering het Petrus in Babilon gaan woon, waarskynlik om vir die groot aantal Jode in daardie gebied te preek (Gal. 2:9). Ongeveer 62 HJ, toe hy sy eerste geïnspireerde brief geskryf het, het hy nog daar gewoon (1 Pet. 5:13). Dit kan ’n uitdaging wees om jou in ’n vreemde land te vestig, maar Petrus het nie toegelaat dat sy ouderdom hom keer om die vreugde te smaak wat dit meebring om Jehovah na die beste van jou vermoë te dien nie.
10, 11. Vertel ’n ondervinding van ’n ouer persoon wat getrek het om te gaan dien waar hulp nodig is.
10 Vandag besef baie Christene wat in hulle 50’s en ouer is, dat hulle omstandighede verander het en dat hulle Jehovah nou op nuwe maniere kan dien. Party het getrek na gebiede waar hulp nodig is. Robert skryf byvoorbeeld: “Ek en my vrou was in ons middelvyftigerjare toe ons besef het watter geleenthede ons het om ons diens uit te brei. Ons enigste seun het die huis verlaat, ons het nie meer bejaarde ouers gehad vir wie ons moes sorg nie en ons het ’n klein erfporsie ontvang. Ek het uitgewerk dat die geld wat ons sou kry uit die verkoop van ons huis, genoeg sou wees om ons verband af te betaal en om ons te onderhou totdat ek my pensioen begin ontvang. Ons het gehoor dat baie mense in Bolivia Bybelstudies aanvaar en dat die lewenskoste laag is. Ons het dus besluit om te trek. Dit was nie maklik om by ons nuwe tuiste aan te pas nie. Alles was so anders as waaraan ons in Noord-Amerika gewoond was. Maar ons pogings is ryklik beloon.”
11 Robert voeg by: “Ons hele lewe draai nou om gemeentelike bedrywighede. Party van die mense met wie ons die Bybel gestudeer het, is gedoop. Een gesin met wie ons gestudeer het, bly in nederige omstandighede in ’n dorpie wat etlike kilometer van ons af is. Nietemin pak hierdie gesin elke week die moeilike reis na die dorp aan om die vergaderinge by te woon. Stel jou ons vreugde voor toe ons sien hoe die gesin vorder en toe die oudste seun selfs begin pionier het!”
DIE ANDERSTALIGE VELD
12, 13. Vertel ’n ondervinding van ’n Christen wat Jehovah op nuwe maniere begin dien het nadat hy afgetree het.
12 Anderstalige gemeentes en groepe kan grootliks by die voorbeeld van ouer broers en susters baat vind. Dit kan ook baie aangenaam wees om in hierdie veld te werk. Byvoorbeeld, Brian skryf: “Ek en my vrou het gevind dat die lewe eentonig geword het nadat ek die Britse aftreeouderdom van 65 bereik het. Ons kinders het die huis verlaat, en ons het selde belangstellendes gevind met wie ons die Bybel kon studeer. Toe ontmoet ek ’n jong Chinese man wat navorsing by die plaaslike universiteit gedoen het. Hy het ’n uitnodiging na ons vergaderinge aanvaar, en ek het die Bybel met hom begin studeer. Ná ’n paar weke het hy ’n Chinese kollega begin saambring. Twee weke later het hy ’n derde en toe ’n vierde kollega saamgebring.
13 “Teen die tyd dat ’n vyfde Chinese navorser vir ’n Bybelstudie gevra het, het ek gedink: ‘Net omdat ek 65 is, beteken dit nie dat ek uit Jehovah se diens moet aftree nie.’ Toe het ek my vrou, wat twee jaar jonger as ek is, gevra of sy daarvan sal hou om Chinees te leer. Ons het ’n taalkursus op band gebruik. Dit was tien jaar gelede. Om in ’n anderstalige veld te preek, het ons weer jonk laat voel. Tot dusver het ons die Bybel met 112 Chinese mense gestudeer! Die meeste van hulle het al vergaderinge bygewoon. Een van hulle dien nou saam met ons as ’n pionier.”
GENIET DIT OM TE DOEN WAT JY KAN
14. Waaruit kan ouer Christene vreugde put, en hoe kan Paulus se voorbeeld hulle aanmoedig?
14 Hoewel baie Christene in hulle 50’s goeie geleenthede het om nuwe dinge in Jehovah se diens te doen, is dit nie vir almal moontlik nie. Party van hulle het swak gesondheid en ander sorg vir bejaarde ouers of afhanklike kinders. Jy kan vreugde put uit die wete dat Jehovah waardeer wat jy ook al in sy diens doen. Moet dus nie gefrustreerd wees oor wat jy nie kan doen nie, maar geniet eerder wat jy kan doen. Dink aan die apostel Paulus se voorbeeld. Hy was jare lank onder huisarres en kon nie sy sendingreise voortsit nie. Maar wanneer mense hom ook al besoek het, het hy oor die Skrif met hulle gepraat en hulle in die geloof versterk.—Hand. 28:16, 30, 31.
15. Waarom word bejaarde Christene grootliks waardeer?
15 Jehovah waardeer ook wat bejaarde persone in sy diens kan doen. Hoewel Salomo te kenne gegee het dat die rampspoedige dae van swak gesondheid nie die beste tyd in die lewe is nie, waardeer Jehovah wel wat bejaarde Christene kan doen om hom te loof (Luk. 21:2-4). Gemeentes waardeer die getroue voorbeeld van knegte van Jehovah wat hom al jare lank dien.
16. Watter voorregte het die bejaarde Anna waarskynlik nie geniet nie, maar wat kon sy doen om God te aanbid?
16 Die Bybel vertel ons van ’n bejaarde vrou met die naam Anna wat Jehovah tot op haar oudag getrou geloof het. Toe Jesus gebore is, was sy ’n 84-jarige weduwee. Sy het waarskynlik nie lank genoeg gelewe om ’n volgeling van Jesus te word, om met die heilige gees gesalf te word of om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig nie. Maar Anna het dit geniet om te doen wat sy kon. ‘Sy was nooit van die tempel afwesig nie en het nag en dag heilige diens verrig’ (Luk. 2:36, 37). Wanneer die priester elke oggend en aand in die tempel reukwerk geoffer het, was Anna saam met dié wat in die voorhof bymekaargekom het om ’n halfuur lank ’n stille gebed te doen. Toe sy die baba Jesus gesien het, het sy begin om “met almal wat op Jerusalem se verlossing gewag het, oor die kind te praat”.—Luk. 2:38.
17. Hoe kan ons bejaarde Christene en dié met swak gesondheid help om ’n aandeel aan ware aanbidding te hê?
17 Vandag moet ons op die uitkyk wees na maniere waarop ons bejaarde Christene of dié met swak gesondheid kan help. Party wat bitter graag die gemeentelike vergaderinge en byeenkomste wil bywoon, sal dit dalk selde kan doen. Op sommige plekke reël gemeentes liefdevol dat hierdie bejaardes oor die telefoon na die vergaderinge kan luister. Op ander plekke is dit dalk nie moontlik nie. Christene wat nie die vergaderinge kan bywoon nie, kan nietemin ’n aandeel daaraan hê om ware aanbidding te ondersteun. Hulle gebede dra byvoorbeeld tot die sukses van die Christengemeente by.—Lees Psalm 92:13, 14.
18, 19. (a) Waarom besef ouer Christene dalk nie wat ’n groot aanmoediging hulle vir ander is nie? (b) Wie kan die raad: “Dink . . . aan jou Grootse Skepper”, toepas?
18 Bejaarde Christene besef dalk nie wat ’n aanmoediging hulle vir ander is nie. Byvoorbeeld, hoewel Anna soveel jare lank getrou was by die tempel, het sy heel moontlik nie besef dat ander eeue later nog deur haar voorbeeld aanmoedig sou word nie. Anna se liefde vir Jehovah is in die Bybel opgeteken. Jou liefde vir God is ongetwyfeld ook in die hart van jou medeaanbidders opgeteken. Dit is dus geen wonder nie dat God se Woord sê: “Grysheid is ’n pragtige kroon wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word”!—Spr. 16:31.
19 Ons almal is beperk met betrekking tot wat ons in Jehovah se diens kan doen. Maar laat dié van ons wat nog ’n mate van krag en energie het, die geïnspireerde woorde ter harte neem: “Dink . . . aan jou Grootse Skepper . . . voordat die rampspoedige dae kom.”—Pred. 12:1.