‘Luister en verstaan die betekenis’
“Luister almal na my, en verstaan die betekenis.”—MARK. 7:14.
1, 2. Waarom het baie wat na Jesus geluister het, nie die betekenis van sy woorde verstaan nie?
’N PERSOON hoor dalk dat iemand met hom praat. Hy let dalk selfs op die stemtoon. Maar van watter nut sou dit wees as hy nie die betekenis van die woorde verstaan nie? (1 Kor. 14:9). Net so het duisende mense gehoor wat Jesus gesê het. Hy het selfs met hulle in ’n taal gepraat wat hulle kon verstaan. Maar nie almal het verstaan wat sy woorde beteken nie. Daarom het Jesus vir sy gehoor gesê: “Luister almal na my, en verstaan die betekenis.”—Mark. 7:14.
2 Waarom het baie nie die betekenis van Jesus se woorde verstaan nie? Party het vooropgesette menings en verkeerde beweegredes gehad. Jesus het van hulle gesê: “Julle skuif die gebod van God behendig opsy om julle oorlewering te behou” (Mark. 7:9). Hierdie mense het nie werklik probeer om die betekenis van sy woorde te verstaan nie. Hulle wou nie hulle weë en beskouings verander nie. Hulle ore was dalk oop, maar hulle hart was heeltemal toe! (Lees Matteus 13:13-15.) Maar hoe kan ons seker maak dat ons hart oop bly sodat ons by Jesus se onderrigting kan baat vind?
HOE OM BY JESUS SE ONDERRIGTING BAAT TE VIND
3. Waarom kon die dissipels Jesus se woorde verstaan?
3 Ons moet die voorbeeld van Jesus se nederige dissipels volg. Hy het van hulle gesê: “Gelukkig is julle oë omdat hulle sien, en julle ore omdat hulle hoor” (Matt. 13:16). Waarom kon húlle verstaan en ander nie? Eerstens, hulle was bereid om vrae te vra en om te soek na die ware betekenis agter Jesus se woorde (Matt. 13:36; Mark. 7:17). Tweedens, hulle was bereid om voort te bou op wat hulle reeds in hulle hart aanvaar het. (Lees Matteus 13:11, 12.) Derdens, hulle was bereid om wat hulle gehoor en verstaan het, nie net in hulle persoonlike lewe te gebruik nie, maar ook om ander te probeer help.—Matt. 13:51, 52.
4. Watter drie stappe moet ons volg om Jesus se illustrasies te verstaan?
4 As ons Jesus se illustrasies wil verstaan, moet ons die voorbeeld van sy getroue dissipels volg. Dit behels ook drie stappe. Ons moet eerstens bereid wees om tyd in te ruim om te studeer en om te peins oor wat Jesus gesê het, om die nodige navorsing te doen en om die gepaste vrae te vra. Dit lei tot kennis (Spr. 2:4, 5). Daarna moet ons kyk hoe hierdie kennis inpas by wat ons reeds weet en onderskei hoe ons persoonlik daarby kan baat vind. Dit lei tot begrip (Spr. 2:2, 3). Laastens moet ons gebruik wat ons geleer het deur dit in ons lewe toe te pas. Dit toon dat ons wysheid verkry het.—Spr. 2:6, 7.
5. Lig die verskil toe tussen kennis, begrip en wysheid.
5 Wat is die verskil tussen kennis, begrip en wysheid? Dit kan so toegelig word: Stel jou voor dat jy in die middel van ’n pad staan en dat ’n bus op jou afpyl. Eerstens besef jy dat dit ’n bus is—dit is kennis. Daarna besef jy dat die bus jou sal omry as jy daar bly staan—dit is begrip! Daarom spring jy uit die pad uit—dit is wysheid! Geen wonder dat die Bybel beklemtoon dat ons “praktiese wysheid [moet bewaar]” nie. Dit beteken ons lewe!—Spr. 3:21, 22; 1 Tim. 4:16.
6. Watter vier vrae sal ons vra terwyl ons sewe van Jesus se illustrasies ondersoek? (Sien bygaande venster)
6 In hierdie en die volgende artikel sal ons sewe illustrasies ondersoek wat Jesus gebruik het. Terwyl ons dit doen, sal ons die volgende vrae vra: Wat beteken die illustrasie? (Dit help ons om kennis te verkry.) Waarom het Jesus hierdie illustrasie gegee? (Dit lei tot begrip.) Hoe kan ons hierdie inligting gebruik om onsself sowel as ander te help? (Dit is wysheid.) En laastens, wat leer dit ons omtrent Jehovah en Jesus?
DIE MOSTERDSAADJIE
7. Wat beteken die illustrasie van die mosterdsaadjie?
7 Lees Matteus 13:31, 32. Wat beteken Jesus se illustrasie van die mosterdsaadjie? Die saadjie self stel die Koninkryksboodskap voor sowel as wat die verkondiging van hierdie boodskap tot gevolg het—die Christengemeente. Die Christengemeente het in 33 HJ ’n klein begin gehad, wat vergelyk kan word met die mosterdsaadjie, wat “die kleinste van al die sade is”. Maar binne ’n paar dekades het die gemeente vinnig gegroei. Die uitbreiding het alle verwagting oortref (Kol. 1:23). Hierdie groei was voordelig, want Jesus sê vir ons dat “die voëls van die hemel . . . blyplek tussen sy takke [kon] vind”. Hierdie figuurlike voëls stel opregtes van hart voor wat geestelike voedsel, skaduwee en skuiling in die Christengemeente vind.—Vergelyk Esegiël 17:23.
8. Waarom het Jesus die illustrasie van die mosterdsaadjie gebruik?
8 Waarom het Jesus hierdie illustrasie gebruik? Hy het die verstommende groei van ’n mosterdsaadjie gebruik om die vermoë toe te lig van God se Koninkryksreëling om uit te brei, te beskerm en alle hindernisse te oorkom. Sedert 1914 was die groei van die sigbare deel van God se organisasie uitsonderlik! (Jes. 60:22). Diegene wat met hierdie organisasie assosieer, geniet wonderlike geestelike beskerming (Spr. 2:7; Jes. 32:1, 2). En die voortdurende uitbreiding van Koninkryksbelange is onstuitbaar en oorkom alle teenstand.—Jes. 54:17.
9. (a) Watter les kan ons uit die illustrasie van die mosterdsaadjie leer? (b) Wat leer dit ons omtrent Jehovah en Jesus?
9 Wat kan ons uit die illustrasie van die mosterdsaadjie leer? Ons woon moontlik in ’n gebied waar daar min Getuies is of waar dit lyk of ons predikingswerk nie juis onmiddellike resultate oplewer nie. Maar as ons in gedagte hou dat die Koninkryksreëling alle hindernisse kan oorkom, sal dit ons versterk om te volhard. Toe broer Edwin Skinner byvoorbeeld in 1926 in Indië aangekom het, was daar net ’n handjie vol Getuies in daardie land. Daar was aanvanklik min groei, en die werk was moeilik. Maar hy het aanhou preek en gesien hoe die Koninkryksboodskap groot hindernisse oorkom. Nou is daar meer as 37 000 bedrywige Getuies in Indië, en meer as 108 000 het die Gedenkmaal verlede jaar bygewoon. Beskou ook ’n voorbeeld van die indrukwekkende wyse waarop die Koninkryksreëling uitgebrei het. In dieselfde jaar dat broer Skinner in Indië aangekom het, het die werk in Zambië begin. Nou preek meer as 170 000 verkondigers daar, en 763 915 het die Gedenkmaal in 2013 bygewoon. Dit beteken dat 1 uit elke 18 mense in Zambië dit bygewoon het. Watter verstommende groei!
DIE SUURDEEG
10. Wat beteken die illustrasie van die suurdeeg?
10 Lees Matteus 13:33. Wat beteken die illustrasie van die suurdeeg? Hierdie illustrasie verwys ook na die Koninkryksboodskap en wat dit voortbring. “Die hele massa” meel stel al die nasies voor, en die gistingsproses stel die verspreiding van die Koninkryksboodskap deur middel van die predikingswerk voor. Hoewel die groei van die mosterdsaadjie duidelik sigbaar is, is die verspreiding van die suurdeeg aanvanklik onsigbaar. Die werking daarvan word eers ’n rukkie later gesien.
11. Waarom het Jesus die illustrasie van die suurdeeg gebruik?
11 Waarom het Jesus hierdie illustrasie gebruik? Hy het getoon dat die Koninkryksboodskap die vermoë het om oral te versprei en om veranderinge teweeg te bring. Die Koninkryksboodskap het “die mees afgeleë deel van die aarde” bereik (Hand. 1:8). Maar die veranderinge wat deur die boodskap teweeggebring word, is nie altyd sigbaar nie; party van die veranderinge word aanvanklik dalk nie eens gesien nie. Maar daar is veranderinge—nie net wat getalle betref nie, maar ook veranderinge in die persoonlikhede van diegene wat hierdie kragtige boodskap aanneem.—Rom. 12:2; Ef. 4:22, 23.
12, 13. Gee voorbeelde van hoe die Koninkrykspredikingswerk gegroei het net soos dit in die illustrasie van die suurdeeg beskryf word.
12 Die uitwerking van die predikingswerk word dikwels eers gesien jare nadat die werk vir die eerste keer gedoen is. Byvoorbeeld, Franz en Margit, wat nou by ’n ander tak dien, het in 1982 by die takkantoor in Brasilië gedien. Hulle het in ’n klein dorpie velddiens gedoen. Een van die Bybelstudies wat hulle begin het, was met ’n ma en haar vier kinders. Die oudste seun, wat toe net 12 jaar oud was, was baie skaam en het dikwels probeer wegkruip voordat die studie begin het. Toe die egpaar ’n nuwe toewysing ontvang het, kon hulle nie meer die studie hou nie. Maar 25 jaar later het hulle hierdie dorpie weer besoek. Wat het hulle gevind? ’n Gemeente met 69 verkondigers, van wie 13 gewone pioniers was, wat in ’n nuwe Koninkryksaal vergader het. En wat van die skaam seun? Hy dien nou as die koördineerder van die liggaam van ouer manne! Net soos die suurdeeg in Jesus se illustrasie het die Koninkryksboodskap gegroei en baie lewens verander—tot die vreugde van die besoekende egpaar!
13 Die ongesiene krag van die Koninkryksboodskap om mense te verander, is veral duidelik in lande waar die Koninkrykswerk deur die wet beperk word. Dit is moeilik om vas te stel hoe ver die boodskap in sulke lande versprei het, en die resultate verbaas ons dikwels. Neem byvoorbeeld Kuba. Die Koninkryksboodskap het Kuba in 1910 bereik, en broer Russell het die land in 1913 besoek. Maar die groei was aanvanklik stadig. Wat sien ons nou in Kuba? Daar is meer as 96 000 verkondigers van die goeie nuus, en 229 726 het die Gedenkmaal in 2013 bygewoon—dit is 1 uit elke 48 inwoners van hierdie eiland. Selfs in lande waar die werk nie verbied is nie, het die Koninkryksboodskap moontlik al gebiede bereik waar plaaslike Getuies dink min getuieniswerk gedoen word.a—Pred. 8:7; 11:5.
14, 15. (a) Hoe kan ons persoonlik baat vind by die les agter die illustrasie van die suurdeeg? (b) Wat leer dit ons omtrent Jehovah en Jesus?
14 Hoe kan ons baat vind by wat Jesus ons in die illustrasie van die suurdeeg geleer het? Wanneer ons nadink oor die betekenis van Jesus se illustrasie, besef ons dat ons nie oorbesorg hoef te wees oor hoe die Koninkryksboodskap die miljoene mense sal bereik wat dit nog nie gehoor het nie. Jehovah het alles onder beheer. Maar wat is ons werk? God se Woord antwoord: “Saai jou saad in die oggend en laat jou hand tot die aand nie rus nie; want jy weet nie waar dit sukses sal behaal nie, hetsy hier of daar, en of hulle al twee ewe goed sal wees nie” (Pred. 11:6). Maar ons moet natuurlik nooit vergeet om te bid dat die predikingswerk suksesvol moet wees nie, veral in lande waar daar beperkings op die werk is.—Ef. 6:18-20.
15 Ons moet ook nie mismoedig word as dit lyk of ons werk aanvanklik nie resultate oplewer nie. Ons moet nooit “die dag van klein dinge” verag nie (Sag. 4:10). Die resultate sal uiteindelik dalk baie groter en wonderliker wees as wat ons ooit verwag het!—Ps. 40:5; Sag. 4:7.
DIE REISENDE KOOPMAN EN DIE VERBORGE SKAT
16. Wat beteken die illustrasie van die reisende koopman en die illustrasie van die verborge skat?
16 Lees Matteus 13:44-46. Wat beteken die illustrasie van die reisende koopman en van die verborge skat? In Jesus se dag het party koopmanne tot by die Indiese Oseaan gereis om die beste pêrels te kry. Die koopman in hierdie illustrasie stel opregtes van hart voor wat groot moeite doen om hulle geestelike behoefte te bevredig. Die “een pêrel van groot waarde” stel die kosbare Koninkrykswaarheid voor. Omdat die koopman besef het hoe waardevol hierdie pêrel is, was hy bereid om alles wat hy gehad het, “dadelik” te verkoop sodat hy dit kon koop. Jesus het ook gepraat van ’n man wat in ’n veld gewerk en ’n verborge skat gevind het. Anders as die koopman het hierdie man nie na ’n skat gesoek nie. Maar soos die koopman was hy bereid om “alles” te verkoop om die skat te kry.
17. Waarom het Jesus die illustrasie van die reisende koopman en van die verborge skat gegee?
17 Waarom het Jesus hierdie twee illustrasies gegee? Hy het getoon dat die waarheid op verskillende maniere gevind word. Party mense soek daarna en doen groot moeite om dit te vind. Ander soek nie daarna nie, maar vind dit—dalk omdat iemand dit na hulle toe bring. Hoe dit ook al sy, elke man het die waarde besef van wat hy gevind het en was bereid om groot opofferings te maak om dit te verkry.
18. (a) Hoe kan ons by hierdie twee illustrasies baat vind? (b) Wat leer dit ons omtrent Jehovah en Jesus?
18 Hoe kan ons by hierdie twee illustrasies baat vind? (Matt. 6:19-21). Vra jou af: ‘Het ek dieselfde gesindheid as hierdie mans? Is die waarheid vir my net so kosbaar? Is ek bereid om opofferings daarvoor te maak of laat ek toe dat ander dinge, soos die sorge van die daaglikse lewe, my aandag aflei?’ (Matt. 6:22-24, 33; Luk. 5:27, 28; Fil. 3:8). Hoe groter ons opregte vreugde is omdat ons die waarheid gevind het, hoe meer vasbeslote sal ons wees om dit altyd eerste in ons lewe te stel.
19. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
19 Mag ons toon dat ons geluister het en werklik die betekenis van hierdie Koninkryksillustrasies verstaan. Onthou, ons doen dit deur nie net te weet wat dit beteken nie, maar ook deur die lesse toe te pas wat ons daaruit leer. In die volgende artikel sal ons nog drie illustrasies bespreek en kyk watter lesse ons daaruit kan leer.
a Daar was soortgelyke ondervindinge in lande soos Argentinië (2001 Yearbook, bladsy 186); Oos-Duitsland (1999 Yearbook, bladsy 83); Papoea-Nieu-Guinee (2005 Yearbook, bladsy 63); en Robinson Crusoe-eiland (Die Wagtoring, 15 Junie 2000, bladsy 9).