Jehovah beloon dié wat hom ernstig soek
“Hy wat tot God nader, moet glo dat hy is en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek.”—HEB. 11:6.
1, 2. (a) Wat is die verband tussen liefde en geloof? (b) Watter vrae sal ons bespreek?
ONS is lief vir Jehovah “omdat hy ons eerste liefgehad het” (1 Joh. 4:19). Jehovah toon sy tere liefde deur sy lojale knegte te seën. Hoe groter ons liefde vir ons God word, hoe sterker word ons geloof. Ons glo nie net dat God bestaan nie, maar ook dat hy altyd diegene beloon vir wie hy lief is.—Lees Hebreërs 11:6.
2 Jehovah beloon sy knegte! Dit is ’n belangrike deel van wie hy is en wat hy doen. Ons geloof is nie volkome tensy ons vas oortuig is dat God diegene sal beloon wat hom ernstig soek nie, want “geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word” (Heb. 11:1). Ja, as ons geloof het, is ons seker dat God sy belofte om ons te seën, sal vervul. Maar hoe vind ons baat by die hoop op ’n beloning? Hoe het Jehovah sy knegte in die verlede sowel as in ons tyd beloon? Kom ons kyk.
JEHOVAH BELOWE OM SY KNEGTE TE SEËN
3. Watter belofte vind ons in Maleagi 3:10?
3 Jehovah God het belowe om sy getroue knegte te beloon, en hy nooi ons om ons vertroue hierin te stel. Ons lees: “‘Stel my asseblief . . . op die proef’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘of ek nie vir julle die sluise van die hemel sal oopmaak en op julle ’n seën sal uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie’” (Mal. 3:10). Ons toon groot waardering en dankbaarheid wanneer ons Jehovah se uitnodiging aanvaar.
4. Waarom kan ons vertroue stel in Jesus se versekering in Matteus 6:33?
4 Jesus het sy dissipels verseker dat God hulle sou ondersteun as hulle die Koninkryk eerste stel. (Lees Matteus 6:33.) Jesus was seker dat Jehovah hierdie belofte sou vervul, want hy het geweet dat Jehovah altyd sy beloftes hou (Jes. 55:11). En as ons sterk geloof in Jehovah beoefen, kan ons seker wees dat hy die volgende belofte sal nakom: “Ek sal jou hoegenaamd nie verlaat of jou ooit versaak nie” (Heb. 13:5). Hierdie geïnspireerde belofte help ons om vertroue te stel in Jesus se woorde in Matteus 6:33.
5. Waarom is Jesus se antwoord aan Petrus geloofversterkend?
5 Die apostel Petrus het Jesus eenkeer gevra: “Ons het alles verlaat en u gevolg; wat sal daar dan vir ons wees?” (Matt. 19:27). Jesus het Petrus nie bestraf omdat hy hierdie vraag gevra het nie. Hy het eerder vir sy dissipels gesê dat hulle beloon sal word vir hulle opofferings. Die getroue apostels en ander sal saam met hom in die hemel regeer. Maar daar is selfs nou belonings. Jesus het gesê: “Elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of landerye ter wille van my naam verlaat het, sal baie keer soveel ontvang en die ewige lewe beërf” (Matt. 19:29). Die seëninge wat sy dissipels sou kry, sou baie groter wees as enige persoonlike opofferings wat hulle dalk sou maak. Is geestelike vaders, moeders, broers, susters en kinders nie baie waardevoller as enigiets wat ons ter wille van die Koninkryk prysgee nie?
“’N ANKER VIR DIE SIEL”
6. Waarom belowe Jehovah om sy aanbidders te beloon?
6 Die beloning wat Jehovah sy aanbidders belowe, help hulle om getrou te bly wanneer hulle geloof getoets word. Jehovah God se getroue knegte geniet nou reeds ryk geestelike seëninge, en hulle sien gretig uit na selfs groter seëninge in die toekoms (1 Tim. 4:8). Ja, ons vaste oortuiging dat Jehovah “die beloner word van dié wat hom ernstig soek”, sal ons help om standvastig in die geloof te bly.—Heb. 11:6.
7. Hoe dien hoop as ’n anker?
7 In die Bergpredikasie het Jesus gesê: “Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele; want so het hulle die profete voor julle vervolg” (Matt. 5:12). Party van God se knegte sal ’n beloning in die hemel ontvang. Ander het die vooruitsig om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe. Dit is beslis rede om ‘bly te wees en te spring van vreugde’ (Ps. 37:11; Luk. 18:30). Hetsy ons ’n hemelse of ’n aardse hoop het, dit kan dien as “’n anker vir die siel, seker sowel as vas” (Heb. 6:17-20). Net soos ’n anker ’n skip tydens ’n storm vashou, kan die vaste hoop op ’n beloning ons help om emosioneel, verstandelik en geestelik stabiel te bly. Dit kan ons die krag gee om ondanks probleme te volhard.
8. Waarom kan hoop help om angstigheid te verminder?
8 Ons Bybelse hoop kan help om angstigheid te verminder. God se beloftes is soos geestelike salf wat strelend is vir ons angstige hart. Dit is vir ons baie vertroostend om te weet dat ons ‘ons las op Jehovah kan werp’ en dat ‘hy ons sal onderskraag’! (Ps. 55:22). Ons kan volle vertroue hê dat God “oneindig meer kan doen as alles wat ons vra of wat ons ons voorstel” (Ef. 3:20). Dink net—God kan nie net “meer” nie, maar “oneindig meer” doen as wat ons vra!
9. Hoe seker kan ons wees dat Jehovah ons sal seën?
9 As ons die beloning wil ontvang, moet ons ten volle op Jehovah vertrou en hom gehoorsaam. Moses het vir die nasie Israel gesê: “Jehovah sal jou vir seker seën in die land wat Jehovah jou God jou as ’n erfdeel gee om dit in besit te neem, as jy net vir seker na die stem van Jehovah jou God luister om hierdie hele gebod wat ek jou vandag beveel, sorgvuldig uit te voer. Want Jehovah jou God sal jou inderdaad seën net soos hy jou beloof het” (Deut. 15:4-6). Het jy vaste vertroue dat Jehovah jou sal seën as jy aanhou om hom getrou te dien? Jy het goeie rede om hierdie vertroue te hê.
JEHOVAH WAS HULLE BELONER
10, 11. Hoe het Jehovah Josef beloon?
10 Die Bybel is tot ons voordeel neergeskryf. Dit bevat baie verslae van hoe God sy getroue knegte beloon het (Rom. 15:4). Josef is ’n uitstekende voorbeeld. Sy broers het hom as ’n slaaf verkoop. Later het Potifar se vrou hom vals beskuldig en het hy in ’n Egiptiese tronk beland. Was hy afgesny van sy God? Glad nie! “Jehovah was . . . voortdurend met Josef en het steeds liefderyke goedhartigheid teenoor hom bewys . . . Jehovah was met Josef, en wat hy gedoen het, het Jehovah laat slaag” (Gen. 39:21-23). Josef het gedurende hierdie moeilike tye geduldig op sy God gewag.
11 Jare later het Farao Josef uit die tronk vrygelaat en hierdie nederige slaaf die onderheerser van Egipte gemaak (Gen. 41:1, 37-43). Josef het later twee seuns gehad. Hy het “die eersgeborene Manasse genoem, want, soos hy dit gestel het: ‘God het my al my moeite en die hele huis van my vader laat vergeet.’ En die tweede het hy Efraim genoem, want, soos hy dit gestel het: ‘God het my vrugbaar gemaak in die land van my ellende’” (Gen. 41:51, 52). God het Josef vir sy lojaliteit beloon. Hierdie beloning het tot gevolg gehad dat die Israeliete sowel as die Egiptenaars gedurende ’n hongersnood aan die lewe kon bly. En Josef het geweet dat dit Jehovah was wat hom beloon en geseën het.—Gen. 45:5-9.
12. Wat het Jesus gehelp om tydens toetse getrou te bly?
12 Jesus Christus het ook tydens verskeie toetse van geloof aan God gehoorsaam gebly, en hy is daarvoor beloon. Wat het hom gehelp? God se Woord verduidelik: “Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het” (Heb. 12:2). Jesus het beslis vreugde daaruit geput om God se naam te heilig. En hy is beloon met sy Vader se goedkeuring en baie wonderlike voorregte. Die Bybel sê dat “hy aan die regterhand van die troon van God gaan sit” het. En ons lees ook: “God [het] hom . . . tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is.”—Fil. 2:9.
JEHOVAH VERGEET NIE WAT ONS DOEN NIE
13, 14. Hoe voel Jehovah oor wat ons vir hom doen?
13 Ons kan seker wees dat Jehovah ons pogings om hom te dien, waardeer. Hy verstaan as ons onseker voel of ’n gebrek aan selfvertroue het. Hy het medelye wanneer ons geldelike probleme ondervind of wanneer ons weens ons gesondheid of emosies nie soveel in sy diens kan doen as wat ons graag wil nie. En ons kan vol vertroue wees dat Jehovah innige waardering het vir wat sy knegte doen om getrou aan hom te bly.—Lees Hebreërs 6:10, 11.
14 Onthou ook dat ons die “Hoorder van die gebed” kan nader en seker kan wees dat hy na ons bekommernisse sal luister (Ps. 65:2). “Die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting” sal ons al die emosionele en geestelike ondersteuning gee wat ons nodig het. Hy kan selfs ons medeaanbidders gebruik om dit te doen (2 Kor. 1:3). Dit verbly Jehovah se hart as ons medelye aan ander betoon. “Hy wat aan die geringe guns betoon, leen aan Jehovah, en Hy sal hom vir sy handelswyse beloon” (Spr. 19:17; Matt. 6:3, 4). As ons diegene wat probleme ondervind, op onselfsugtige wyse help, beskou Jehovah ons goeie daad as ’n lening aan Hom. En hy belowe dat hy ons daarvoor sal beloon.
BELONINGS—NOU EN VIR EWIG
15. Na watter belonings sien jy uit? (Sien prent aan begin van artikel.)
15 Geesgesalfde Christene word versterk deur die vooruitsig om “die kroon van regverdigheid” te ontvang, “wat die Here, die regverdige regter, . . . in daardie dag as beloning sal gee” (2 Tim. 4:7, 8). As God jou ’n ander vooruitsig gegee het, moet jy egter nie dink dat dit ’n minderwaardige beloning sal wees nie. Jesus se miljoene “ander skape” sien gretig uit na die toekomstige beloning van die ewige lewe op ’n paradysaarde. Daar sal hulle “hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede”.—Joh. 10:16; Ps. 37:11.
16. Watter gerusstelling vind ons in 1 Johannes 3:19, 20?
16 Soms voel ons dalk dat ons min uitrig, of ons wonder dalk of Jehovah tevrede is met ons pogings. Ons kan selfs twyfel of ons goed genoeg is om enigsins ’n beloning te ontvang. Maar ons moet nooit vergeet nie: “God is groter as ons hart en weet alles.” (Lees 1 Johannes 3:19, 20.) God waardeer alles wat ons met ’n hart vol geloof en liefde in sy diens doen, al dink ons dalk dat dit nie veel is nie.—Mark. 12:41-44.
17. Wat is sommige van die belonings wat ons nou geniet?
17 Selfs in hierdie donker laaste dae van Satan se goddelose stelsel van dinge seën Jehovah sy volk. Hy maak seker dat ware aanbidders floreer in hulle geestelike paradys, waar hulle ’n oorvloed geestelike voorsienings ontvang (Jes. 54:13). Soos Jesus belowe het, beloon Jehovah ons nou deur ons toe te laat om deel te wees van ’n liefdevolle geestelike gesin met broers en susters regoor die wêreld (Mark. 10:29, 30). Wat meer is, diegene wat God ernstig soek, word beloon met die grootste gemoedsrus, tevredenheid en geluk.—Fil. 4:4-7.
18, 19. Hoe voel Jehovah se knegte oor die belonings wat hulle ontvang?
18 Jehovah se knegte regoor die wêreld kan getuig dat hulle wonderlike belonings van hom ontvang. Byvoorbeeld, Bianca van Duitsland sê: “Ek kan Jehovah nie genoeg dank dat hy my help met my bekommernisse en elke dag aan my sy is nie. Die wêreld daarbuite is chaoties en bied geen hoop nie. Maar ek werk ten nouste saam met Jehovah en voel veilig by hom. Wanneer ek ook al opofferings vir hom maak, seën hy my honderdvoudig.”
19 Of dink aan die 70-jarige Paula wat in Kanada woon en erg gestremd is weens spina bifida. “Die feit dat ek min kan rondbeweeg, beteken nie dat ek min in die bediening hoef te doen nie”, sê sy. “Ek neem deel aan ander aspekte van die bediening, soos telefoon- en informele getuieniswerk. Ek het ’n notaboekie waarin ek tekste en punte uit ons publikasies neerskryf. Dit is vir my baie aanmoedigend om van tyd tot tyd daardeur te gaan. Ek noem dit ‘my oorlewingsboekie’. Ontmoediging is tydelik as ons ons oë op Jehovah se beloftes gevestig hou. Jehovah sal ons altyd help, maak nie saak wat ons omstandighede is nie.” Jou omstandighede is dalk heeltemal anders as Bianca of Paula s’n. Maar jy kan waarskynlik dink aan maniere waarop Jehovah jou en diegene om jou beloon het. Dit is beslis goed om na te dink oor hoe Jehovah jou nou beloon en hoe hy jou in die toekoms sal beloon!
20. Waarna kan ons uitsien as ons aanhou om Jehovah met ons hele siel te dien?
20 Moet nooit vergeet dat jou innige gebede en vrymoedigheid van spraak teenoor God “’n groot beloning inhou” nie. Jy kan seker wees dat jy, “nadat [jy] die wil van God gedoen het, die vervulling van die belofte [sal] ontvang” (Heb. 10:35, 36). Daarom moet ons nou aanhou om ons geloof te versterk en Jehovah met ons hele siel te dien. Ons doen dit in die wete dat ons die gepaste beloning van Jehovah sal ontvang.—Lees Kolossense 3:23, 24.