Waarom moet ons vir aanbidding bymekaarkom?
“Laat ons op mekaar ag gee . . . en nie ons onderlinge vergadering nalaat [nie].”—HEBREËRS 10:24, 25.
1-3. (a) Hoe het Christene al getoon dat hulle graag saam wil vergader? (Sien prent aan begin van artikel.) (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?
TOE Corinna 17 jaar oud was, is haar ma in hegtenis geneem en ver weg na ’n strafkamp gestuur. Later is Corinna ook duisende kilometers van haar tuiste af na Siberië geneem. Sy het daar op ’n plaas gewerk en is soos ’n slaaf behandel. Sy is partykeer gedwing om buite in die ysige koue te werk, al was sy nie warm aangetrek nie. Selfs onder hierdie moeilike omstandighede het Corinna en ’n ander suster besluit om alles in hulle vermoë te doen om ’n gemeentelike vergadering te gaan bywoon.
2 Corinna het gesê: “Ons het ons werksplek die aand verlaat en na ’n treinstasie 25 kilometer daarvandaan gestap. Die trein het tweeuur die oggend vertrek, en ons het ses uur lank gery voordat ons afgeklim en tien kilometer na die vergaderplek gestap het.” Corinna was so bly dat sy die vergadering bygewoon het. Sy het gesê: “By die vergadering het ons Die Wagtoring gestudeer en Koninkryksliedere gesing. Dit was vir ons ’n baie opbouende en geloofversterkende ondervinding.” Die twee susters was eers drie dae later terug op die plaas, maar die plaasbestuurder het nie eers agtergekom dat hulle weg was nie.
3 Jehovah se volk het nog altyd daarna uitgesien om saam te vergader. Christene in die eerste eeu wou byvoorbeeld graag bymekaarkom om Jehovah te aanbid en meer omtrent hom te leer (Handelinge 2:42). Jy geniet dit waarskynlik ook om vergaderinge by te woon. Maar soos al jou broers en susters, vind jy dit dalk moeilik om gereeld by die vergadering te wees. Jy moet dalk lang ure werk of jy het baie om te doen of jy voel altyd moeg. Wat sal ons dus help om alles in ons vermoë te doen om by ons vergaderinge te wees?[1] (Sien eindnota.) Hoe kan ons ons Bybelstudente en ander aanspoor om gereeld by ons vergaderinge te wees? Hierdie artikel sal verduidelik waarom die bywoning van vergaderinge (1) goed is vir ons, (2) ander help en (3) Jehovah behaag.[2]—Sien eindnota.
DIE VERGADERINGE IS GOED VIR ONS
4. Hoe help vergaderinge ons om meer van Jehovah te leer?
4 Vergaderinge onderrig ons. Elke vergadering help ons om meer van Jehovah te leer. Byvoorbeeld, die meeste gemeentes het onlangs die boek Kom nader aan Jehovah by die Gemeentelike Bybelstudie gestudeer. Hoe het jy gevoel toe ons Jehovah se eienskappe bespreek het en toe jy gehoor het hoe jou broers oor hom voel? Dit het sekerlik jou liefde vir Jehovah versterk. By die vergaderinge leer ons ook meer oor die Bybel deur aandagtig te luister na toesprake, demonstrasies en voorlesings uit die Bybel (Nehemia 8:8). En dink aan al die dinge wat ons elke week ontdek wanneer ons vir die Bybelleesgedeelte voorberei en wanneer ons hoor wat ander daaruit geleer het.
5. Hoe het vergaderinge jou al gehelp om toe te pas wat jy in die Bybel leer en om bekwamer in die bediening te word?
5 Vergaderinge help ons om toe te pas wat ons in die Bybel leer (1 Tessalonisense 4:9, 10). Het jy byvoorbeeld al ’n Wagtoring-studie bygewoon wat jou beweeg het om meer in Jehovah se diens te doen, om jou gebede te verbeter of om ’n broer of suster te vergewe? Ons het ook die vergadering in die week, waar ons leer hoe om die goeie nuus te verkondig en hoe om ander te help om Bybelwaarhede te verstaan.—Matteus 28:19, 20.
6. Hoe moedig ons vergaderinge ons aan en versterk dit ons?
6 Vergaderinge moedig ons aan. Satan se wêreld probeer om ons geloof af te breek en kan ons gespanne en mismoedig laat voel. Maar ons vergaderinge moedig ons aan en gee ons die krag om Jehovah te bly dien. (Lees Handelinge 15:30-32.) Ons bespreek dikwels hoe Bybelprofesieë vervul is. Dit gee ons groter vertroue dat Jehovah se beloftes vir die toekoms ook vervul sal word. Ons broers en susters moedig ons aan, nie net wanneer hulle toesprake hou nie, maar ook wanneer hulle kommentaar lewer en Jehovah loof deur uit die hart te sing (1 Korintiërs 14:26). En wanneer ons voor en ná die vergadering met hulle gesels, voel ons verkwik omdat ons baie vriende het wat werklik vir ons omgee.—1 Korintiërs 16:17, 18.
Ons vergaderinge moedig ons aan en gee ons die krag om Jehovah te bly dien
7. Waarom is dit so belangrik om vergaderinge by te woon?
7 By die vergaderinge ontvang ons die hulp van God se heilige gees. Jesus gebruik die heilige gees om die gemeentes te lei. Trouens, hy het vir ons gesê dat ons moet “hoor wat die gees vir die gemeentes sê” (Openbaring 2:7). Heilige gees kan ons help om versoekings te weerstaan en om moedig te preek. Dit kan ons ook help om goeie besluite te neem. Daarom moet ons alles in ons vermoë doen om ons vergaderinge by te woon sodat ons die hulp van God se heilige gees kan ontvang.
ONS HELP ANDER BY DIE VERGADERINGE
8. Hoe help dit ons broers wanneer hulle ons by die vergaderinge sien en hoor hoe ons kommentaar lewer en sing? (Sien ook die venster “Hy voel altyd beter ná die vergadering”.)
8 By die vergaderinge het ons geleenthede om vir ons broers en susters te toon dat ons vir hulle lief is. Baie in ons gemeente ondervind groot probleme. Die apostel Paulus het geskryf: “Laat ons oor mekaar besorg wees” (Hebreërs 10:24, 25; voetnoot in NW). Ons kan toon dat ons vir ons broers omgee deur saam te vergader om mekaar aan te moedig. Wanneer ons vergaderinge bywoon, toon ons vir ons broers dat ons saam met hulle wil wees, met hulle wil gesels en in hulle belangstel. Ons moedig hulle ook aan wanneer hulle hoor hoe ons kommentaar lewer en hoe ons uit die hart sing.—Kolossense 3:16.
9, 10. (a) Verduidelik hoe Jesus se woorde in Johannes 10:16 ons help om te verstaan waarom dit belangrik is om saam met ons broers te vergader. (b) Hoe kan ons iemand wat deur sy familielede verwerp is, help as ons die vergaderinge gereeld bywoon?
9 Wanneer ons die vergaderinge bywoon, bring dit ons nader aan ons broers. (Lees Johannes 10:16.) Jesus het hom met ’n herder vergelyk en sy volgelinge met ’n kudde skape. Dink hieraan: As twee skape op ’n heuwel is, twee skape in ’n vallei en nog ’n skaap op ’n ander plek, vorm hierdie vyf skape ’n kudde? Nee, want ’n kudde skape bly bymekaar en volg die herder. Net so moet ons ons nie van ons broers en susters afsonder deur van die vergaderinge weg te bly nie. Ons moet saam vergader om deel te wees van “een kudde” en om “een herder” te volg.
10 Ons vergaderinge help ons om as ’n liefdevolle familie verenig te wees (Psalm 133:1). Party in die gemeente is deur hulle familielede, soos hulle ouers of broers en susters, verwerp. Maar Jesus het belowe om hulle ’n familie te gee wat vir hulle lief sal wees en na hulle sal omsien (Markus 10:29, 30). As jy vergaderinge gereeld bywoon, kan jy vir iemand in die gemeente soos ’n vader, moeder, broer of suster word. As ons hieroor nadink, sal ons ons bes wil doen om by al die vergaderinge te wees.
ONS BEHAAG JEHOVAH
11. Hoe help vergaderingbywoning ons om Jehovah te gee wat hom toekom?
11 By die vergaderinge gee ons Jehovah wat hom toekom. Aangesien hy ons Skepper is, moet ons hom dank, eer en loof. (Lees Openbaring 7:12.) Ons kan dit by die vergaderinge doen wanneer ons tot Jehovah bid, vir hom sing en oor hom praat. Ons het elke week wonderlike geleenthede om Jehovah te aanbid!
Jehovah sien dat ons werklik by die vergaderinge wil wees en waardeer al die moeite wat ons doen om daar te wees
12. Hoe voel Jehovah as ons sy opdrag gehoorsaam om vergaderinge by te woon?
12 Jehovah het ons geskep, en ons moet hom gehoorsaam. Hy het ons beveel om aan te hou om saam te vergader, veral namate die einde nader kom. Wanneer ons hierdie opdrag gehoorsaam, behaag dit Jehovah (1 Johannes 3:22). Hy sien dat ons werklik by die vergaderinge wil wees en hy waardeer al die moeite wat ons doen om daar te wees.—Hebreërs 6:10.
13, 14. Hoe kom ons nader aan Jehovah en Jesus by ons vergaderinge?
13 Wanneer ons vergaderinge bywoon, toon ons vir Jehovah dat ons nader aan hom en sy Seun wil kom. By die vergaderinge studeer ons die Bybel en leer Jehovah ons wat ons moet doen en hoe ons moet lewe (Jesaja 30:20, 21). Selfs wanneer mense wat Jehovah nie dien nie, ons vergaderinge bywoon, besef hulle dat God ons lei (1 Korintiërs 14:23-25). By ons vergaderinge voorsien Jehovah leiding deur middel van sy heilige gees, en wat ons daar leer, kom van Hom. Wanneer ons vergaderinge bywoon, luister ons dus na wat Jehovah sê, ervaar ons sy liefde vir ons en kom ons nader aan hom.
14 Jesus, die Hoof van die gemeente, het gesê: “Waar twee of drie in my naam bymekaar is, daar is ek in hulle midde” (Matteus 18:20). Die Bybel sê ook dat Jesus tussen die gemeentes “wandel” (Openbaring 1:20–2:1). Dit is duidelik dat Jehovah en Jesus met ons is en ons by ons vergaderinge versterk. Hoe dink jy voel Jehovah wanneer jy alles in jou vermoë doen om nader aan hom en sy Seun te kom?
15. Hoe toon ons vir God dat ons hom wil gehoorsaam as ons vergaderinge bywoon?
15 Wanneer ons vergaderinge bywoon, toon ons vir Jehovah dat ons hom wil gehoorsaam. Jehovah dwing ons nie om te doen wat hy sê nie (Jesaja 43:23). Wanneer ons kies om sy opdrag te gehoorsaam om vergaderinge by te woon, toon ons dus dat ons vir hom lief is en dat hy die reg het om vir ons te sê wat om te doen (Romeine 6:17). Byvoorbeeld, ons werkgewer verwag dalk dat ons so baie moet werk dat ons die vergaderinge nie gereeld kan bywoon nie. Of miskien dreig die regering ons met boetes, tronkstraf of selfs iets ergers as ons vergader om Jehovah te aanbid. Of soms wil ons eerder iets anders doen as om die vergadering by te woon. In elkeen van hierdie situasies moet ons besluit wat ons gaan doen (Handelinge 5:29). Maar elke keer dat ons kies om aan Jehovah gehoorsaam te wees, maak ons sy hart bly.—Spreuke 27:11.
HOU AAN OM SAAM MET JOU BROERS TE VERGADER
16, 17. (a) Hoe weet ons dat vergaderinge baie belangrik was vir Christene in die eerste eeu? (b) Hoe het broer George Gangas oor Christelike vergaderinge gevoel?
16 Nadat Christene op Pinkster in die jaar 33 vergader het, het hulle aangehou om gereeld bymekaar te kom om Jehovah te aanbid. Hulle het “voortgegaan om hulle toe te lê op die leer van die apostels” en het met mekaar geassosieer (Handelinge 2:42). En selfs toe hulle deur die Romeinse regering en die Joodse godsdiensleiers vervolg is, het hulle nie opgehou om saam te vergader nie. Al was dit nie maklik nie, het hulle alles in hulle vermoë gedoen om saam te vergader.
17 Vandag is Jehovah se knegte ook baie dankbaar vir die vergaderinge, en hulle geniet dit om daar te wees. George Gangas, wat meer as 22 jaar lank ’n lid van die Bestuursliggaam was, het gesê: “Vir my is dit een van die lewe se grootste vreugdes en ’n bron van bemoediging om saam met my broers te vergader. Ek hou daarvan om een van die eerstes by die Koninkryksaal te wees en, indien moontlik, een van die laastes wat huis toe gaan. Ek ervaar ’n innerlike vreugde wanneer ek met God se knegte gesels. Wanneer ek by hulle is, voel ek tuis, in ’n geestelike paradys.” Hy het bygevoeg: “My diepste begeerte is om die vergaderinge by te woon.”
18. Hoe voel jy oor ons vergaderinge, en wat is jy vasbeslote om te doen?
18 Voel jy ook so oor jou aanbidding van Jehovah? Indien wel, hou aan om alles in jou vermoë te doen om saam met jou broers by die vergaderinge te wees, selfs wanneer dit moeilik is. Wys vir Jehovah dat jy net soos koning Dawid voel, wat gesê het: “Jehovah, ek het die woning van u huis liefgehad.”—Psalm 26:8.
^ [1] (paragraaf 3) Party van ons broers en susters kan die vergaderinge nie gereeld bywoon nie weens omstandighede buite hulle beheer. Party is byvoorbeeld baie siek. Hulle kan seker wees dat Jehovah hulle situasie verstaan en alles wat hulle doen om hom te aanbid, baie waardeer. Die ouer manne kan hulle help om na die vergaderinge te luister deur byvoorbeeld ’n telefoonverbinding te reël of die vergaderinge vir hulle op te neem.
^ [2] (paragraaf 3) Sien die venster “Redes om vergaderinge by te woon”.