Paradys
Definisie: In die Griekse Septuaginta-vertaling van die Bybel het die vertalers gepas die term “paradys” (pa·raʹdei·sos) vir die tuin van Eden gebruik, daar dit klaarblyklik ’n ingeslote park was. Ná die verhaal in Genesis het Bybeltekste wat van die paradys praat betrekking op (1) die tuin van Eden self, of (2) die aarde in sy geheel wanneer dit in die toekoms in ’n toestand soos dié van Eden omgeskep sal wees, of (3) florerende geestelike toestande onder God se knegte op aarde of (4) voorsienings in die hemel wat ’n mens aan Eden herinner.
Praat die “Nuwe Testament” van ’n toekomstige aardse paradys, of is dit slegs die “Ou Testament” wat daarvan praat?
Dit is nie Skriftuurlik om die Bybel in twee dele te verdeel en verklarings te beoordeel op grond daarvan of hulle in die “Ou” deel of die “Nuwe” deel is nie. In 2 Timotheüs 3:16 word ons meegedeel: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing.” Romeine 15:4 verwys na die voorchristelike geïnspireerde Skrifte wanneer dit sê: “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe.” ’n Betroubare antwoord op die vraag moet dus die hele Bybel in ag neem.
Genesis 2:8 sê: “Ook het die HERE God ’n tuin [“park”, Mo; “paradys”, Dy; pa·raʹdei·son, LXX] geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens [Adam] wat Hy geformeer het, ’n plek gegee.” Daar was ’n oorvloed van verskillende en bekorende plante en diere. Jehovah het die eerste mensepaar geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Gen. 1:28). God se oorspronklike voorneme dat die hele aarde ’n paradys moet wees vol mense wat sy wette met waardering gehoorsaam, sal nie onvervuld bly nie (Jes. 45:18; 55:10, 11). Dit is waarom Jesus gesê het: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” Dit is ook waarom hy sy dissipels leer bid het: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Matt. 5:5; 6:9, 10). In ooreenstemming hiermee verduidelik Efesiërs 1:9-11 dat dit God se voorneme is “om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig”. Hebreërs 2:5 (NW) praat van “die toekomende bewoonde aarde”. Openbaring 5:10 (NAV) meld diegene wat as mede-erfgename van Christus “oor die aarde [sal] regeer”. Openbaring 21:1-5 en 22:1, 2 voeg pragtige beskrywings by van toestande wat in die “nuwe aarde” sal bestaan en wat ’n mens herinner aan die oorspronklike Paradys in Eden met sy boom van die lewe.—Gen. 2:9.
Daarbenewens het Jesus die Griekse uitdrukking pa·raʹdei·sos gebruik toe hy van die toekomstige aardse paradys gepraat het. “Hy het vir hom [’n kwaaddoener wat langs Jesus gehang het en wat geloof in Jesus se komende koningskap betuig het] gesê: ‘Voorwaar, ek sê vandag vir jou: Jy sal saam met my in die Paradys wees.’”—Luk. 23:43, NW.
Hoe kan ons seker wees wat Jesus met Paradys bedoel het in sy woorde aan die kwaaddoener in Lukas 23:43?
Was dit ’n tydelike woonplek vir ‘die heengegane siele van die regverdiges’, ’n deel van Hades?
Wat is die oorsprong van daardie beskouing? The New International Dictionary of New Testament Theology sê: “Met die insypeling van die G[riekse] leerstelling oor die onsterflikheid van die siel, word die paradys die woonplek van die regverdiges gedurende die tussenstadium” (Grand Rapids, Mich.; 1976, geredigeer deur Colin Brown, Dl. 2, bl. 761). Was daardie onskriftuurlike beskouing algemeen onder die Jode toe Jesus op aarde was? Hastings se Dictionary of the Bible toon dat dit twyfelagtig is.—(Edinburg, 1905), Dl. III, bl. 669, 670.
Gestel dat daardie beskouing in die eerste eeu wel algemeen voorgekom het onder die Jode. Sou Jesus dit onderskryf het deur sy belofte aan die berouvolle kwaaddoener? Jesus het die Joodse Fariseërs en skrifgeleerdes onomwonde veroordeel omdat hulle oorleweringe verkondig het wat in stryd was met God se Woord.—Matt. 15:3-9; kyk ook onder “Siel”.
Jesus het wel na Hades gegaan toe hy gesterf het, soos getoon word in Handelinge 2:30, 31 (NW). (Soos hier berig, het die apostel Petrus, toe hy na Psalm 16:10 verwys het, Hades as die ekwivalent van Sjeool gebruik.) Maar die Bybel sê nêrens dat Sjeool/Hades of enige deel daarvan ’n paradys is wat aan ’n persoon genot verskaf nie. Prediker 9:5, 10 sê eerder dat diegene wat daar is ‘glad niks weet nie’.
Was die Paradys van Lukas 23:43 die hemel of ’n deel van die hemel?
Die Bybel steun nie die beskouing dat Jesus en die kwaaddoener hemel toe gegaan het op die dag dat Jesus met hom gepraat het nie. Jesus het voorspel dat hy eers op die derde dag opgewek sou word nadat hy om die lewe gebring is (Luk. 9:22). Gedurende daardie tydperk van drie dae was hy nie in die hemel nie, want na sy opstanding het hy vir Maria Magdalena gesê: “Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie” (Joh. 20:17). Dit was 40 dae ná Jesus se opstanding dat sy dissipels gesien het hoe hy van die aarde af opgeneem word en uit hulle gesig verdwyn toe hy met sy hemelvaart begin het.—Hand. 1:3, 6-11.
Die kwaaddoener het nie voldoen aan die vereistes om selfs later hemel toe te gaan nie. Hy is nie “weer gebore” nie, want hy is nie in water gedoop of deur God se gees verwek nie. Die heilige gees is eers meer as 50 dae ná die kwaaddoener se dood op Jesus se dissipels uitgegiet (Joh. 3:3, 5; Hand. 2:1-4). Op die dag van sy dood het Jesus ’n verbond vir ’n hemelse koninkryk gesluit met diegene ‘wat altyddeur by hom gebly het in sy versoekinge’. Die kwaaddoener het nie so ’n reputasie van getrouheid gehad nie en is nie ingesluit nie.—Luk. 22:28-30.
Wat dui daarop dat hierdie Paradys ’n aardse is?
Die Hebreeuse Skrifte het nooit die verwagting by getroue Jode gewek dat hulle met hemelse lewe beloon sou word nie. Daardie Skrifte het gewys op die herstelling van die Paradys hier op aarde. Daniël 7:13, 14 het voorspel dat wanneer “heerskappy en eer en koningskap” aan die Messias gegee is, “die volke en nasies en tale” hom sou vereer. Daardie onderdane van die Koninkryk sou hier op die aarde wees. Deur wat die kwaaddoener aan Jesus gesê het, het hy klaarblyklik die hoop uitgespreek dat Jesus hom in daardie toekomende tyd sou onthou.
Hoe sou Jesus dan saam met die kwaaddoener wees? Deur hom uit die dood op te wek, in sy fisiese behoeftes te voorsien en hom die geleentheid te bied om Jehovah se vereistes vir die ewige lewe te leer ken en sy lewe daarvolgens in te rig (Joh. 5:28, 29). Jesus het in die kwaaddoener se berouvolle en eerbiedige gesindheid ’n grondslag gesien om hom in te sluit onder die miljarde wat opgewek gaan word tot aardse lewe en die geleentheid sal kry om te toon dat hulle die ewige lewe in die Paradys waardig is.
Wanneer sal die kwaaddoener in die Paradys wees?
’n Mens se begrip van Lukas 23:43 word beïnvloed deur die leestekens wat die vertaler gebruik. Daar was geen leestekens in die oorspronklike Griekse Bybelmanuskripte nie. The Encyclopedia Americana (1956, Dl. XXIII, bl. 16) sê: “Geen poging om leestekens in te voeg is in die vroeëre manuskripte en inskripsies van die Grieke te sien nie.” Sulke leestekens is eers in die 9de eeu G.J. ingesit. Moet Lukas 23:43 lui: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (AB), of moet dit lui: ‘Voorwaar ek sê vandag vir jou: Jy sal saam met my in die Paradys wees’ (NW)? Die leerstellings van Christus en die res van die Bybel moet die grondslag vir die beslissing wees, en nie ’n komma wat by die teks gevoeg is eeue nadat Jesus daardie woorde geuiter het nie.
Die punktuasie in The Emphasised Bible, wat deur J. B. Rotherham vertaal is, kom ooreen met dié van die New World Translation. In ’n voetnoot oor Lukas 23:43 sê die Duitse Bybelvertaler L. Reinhardt: “Die leestekens soos dit nou [deur die meeste vertalers] in hierdie vers gebruik word, is ongetwyfeld vals en weerspreek die hele denkwyse van Christus en die kwaaddoener. . . . [Christus] het beslis nie die paradys as ’n onderafdeling van die doderyk beskou nie, maar eerder as die herstelling van ’n paradys op aarde.”
Wanneer sou Jesus ‘in sy koninkryk kom’ en sy Vader se voorneme om die aarde ’n paradys te maak, volbring? Die boek Openbaring, wat geskryf is ongeveer 63 jaar nadat die woorde in Lukas 23:42, 43 geuiter is, toon dat hierdie gebeure nog in die toekoms was. (Kyk bladsye 209-211, onder “Jaartalle”, en ook onder “Laaste dae”.)