Hoe die terugweg na die Paradys gebaan is
“[Jesus] het vir hom gesê: ‘Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees.’”—LUKAS 23:43, “NW”.
1, 2. (a) Wat beteken “paradys”, en soos wat moes die tuin van Eden gewees het? (b) Hoe word die Hebreeuse woord vir “tuin” in die Christelike Griekse Skrifte vertaal?
DIE mensdom het sy oorsprong in die Paradys gehad. Aangaande die skepping van die mens lees ons in die eerste boek van die Heilige Skrif: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword. Ook het die HERE God ’n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ’n plek gegee” (Genesis 2:7, 8). Die naam “Eden” beteken “Genot”, en die tuin van Eden was dus ’n uitgestrekte park van genot met ’n groot verskeidenheid pragtige kenmerke.
2 Die woord “paradys” is aan die Griekse taal ontleen, en in daardie taal beteken dit ’n parkagtige tuin. Die Griekse woord wat gebruik word om die Hebreeuse selfstandige naamwoord gan, wat “tuin” beteken, te vertaal, is pa·raʹdei·sos. Van Mattheüs tot Openbaring is die Skrif in die Griekse taal geskryf, en hierdie Griekse woord is gebruik in die verslag van wat die Here Jesus Christus gesê het toe hy op 14 Nisan van die jaar 33 G.J. die doodstraf aan ’n folterpaal op Kalvarie ondergaan het.
Jesus se paradysbelofte aan ’n kwaaddoener
3. (a) Wat het ’n simpatieke kwaaddoener Jesus gevra? (b) Watter oortuiging aangaande Jesus het uit die kwaaddoener se versoek geblyk?
3 Op daardie tydstip was twee kwaaddoeners langs Jesus aan folterpale genael. Een van hulle het opgehou om Jesus te smaad, maar die ander rower wat aan Jesus se ander kant gehang het, het dit steeds gedoen. Die simpatieke kwaaddoener het hom tot Jesus gewend en gesê: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom”, en het sodoende sy geloof uitgespreek dat Jesus, hoewel hy langs hom gehang het, in die toekoms ’n koninkryk sou ontvang (Lukas 23:42; Markus 15:32). Hoe moes dit tog nie die hart van die Here Jesus geraak het nie! Daardie vriendelike misdadiger het geglo dat Jesus Christus onskuldig was en dat hy nie so ’n swaar straf, naamlik paalstraf in openbare skande, verdien het nie (Lukas 23:41). Hy het deur sy versoek getoon dat hy geglo het dat Jesus uit die dode opgewek sou word en ’n koninkryk sou ontvang. Die kwaaddoener het ook geloof getoon in die feit dat hy self ’n opstanding kon hê en dat Jesus die Een sou wees wat hom uit die dode sou terugroep en hom ’n nuwe lewe op aarde sou gee.
4. Hoe het Jesus die kwaaddoener se versoek geantwoord, en wat dui dit aan?
4 Toe Jesus vir hom gesê het: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees”, het hy getoon dat daardie simpatieke kwaaddoener ’n opstanding sou kry. Dit moes vir die gelowige misdadiger ’n ware vertroosting gewees het. ’n Voorvereiste vir daardie man se opstanding was dat Jesus eers opgewek moes word. Dan sou Jesus sy godgegewe opwekkingsvermoë gebruik om hierdie kwaaddoener uit die dode terug te roep op die dag wanneer die mensewêreld opgewek sou word.—Lukas 23:43, NW; Johannes 5:28, 29; 1 Korinthiërs 15:20, 23; Hebreërs 9:15.
5, 6. (a) Wat het goewerneur Pontius Pilatus bokant Jesus laat skryf toe hy aan die paal gehang het? (b) In watter taal het Jesus waarskynlik met die kwaaddoener gepraat?
5 In watter taal het Jesus daardie belofte gedoen? Etlike tale was destyds daar in gebruik. Dit blyk uit die woorde wat goewerneur Pontius Pilatus bo Jesus Christus se kop laat skryf het toe hy aan die paal gehang het en wat hom geïdentifiseer het aangesien alle verbygangers dit kon lees. Die verslag in Johannes 19:19, 20 (vgl. NW) sê: “Pilatus het ook ’n opskrif geskrywe en dit op die [folterpaal] gesit; en daar was geskrywe: JESUS, DIE NASARENER, DIE KONING VAN DIE JODE. Hierdie opskrif dan het baie van die Jode gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was; en dit was geskrywe in Hebreeus en Grieks en Latyn.”
6 Op grond van die feit dat Jesus in Betlehem vir sy maagdemoeder, Maria, gebore is, was hy ’n Jood, of ’n Hebreër, van geboorte. Toe hy drie en ’n half jaar in sy geboorteland gepreek het, het hy dan ook blykbaar in die heersende Joodse taal, of Hebreeus, gepreek. Gevolglik het hy waarskynlik Hebreeus gepraat toe hy die simpatieke kwaaddoener gerusgestel het. Hy sou derhalwe die Hebreeuse woord gan—die woord wat in Genesis 2:8 voorkom—gebruik het toe hy van die Paradys gepraat het. Daar gebruik die Griekse Septuaginta-vertaling van die Heilige Skrif die woord pa·raʹdei·sos wanneer dit die oorspronklike woord gan vertaal.
7. Hoe is Jesus verheerlik toe hy opgewek is?
7 Jesus is op die derde dag nadat hy aan die paal genael is, of op 16 Nisan van die Hebreeuse kalender, uit die dode opgewek. Veertig dae later het hy na die hemel, sy oorspronklike tuiste, teruggekeer, maar nou in ’n meer verhewe toestand (Handelinge 5:30, 31; Filippense 2:9). Hy was nou met onsterflikheid beklee, ’n eienskap wat ook sy hemelse Vader besit. Jehovah God was die enigste Besitter van onsterflikheid totdat Jesus op daardie Sondag, 16 Nisan, uit die dode opgewek is.—Romeine 6:9; 1 Timotheüs 6:15, 16.
Die losprys baan die weg
8. Wat was Jehovah se oorspronklike voorneme met die aarde, en wat toon dat dit steeds sy voorneme is?
8 Al hierdie dinge was stappe in God se voorneme dat die hele aarde met paradysagtige prag beklee moet word, ja, dat dit ’n aardomvattende paradys moet word (Genesis 1:28; Jesaja 55:10, 11). In 1 Korinthiërs 15:45 praat die apostel Paulus van Jesus as “die laaste Adam”. Dit toon dat God se oorspronklike voorneme met die aarde nie verander het nie en dat iemand die voorneme wat die eerste Adam nie uitgevoer het nie, sal vervul.
9. Wat het Jesus voorsien om die terugweg tot die Paradys te baan?
9 Volgens Paulus het Jesus “’n [ooreenstemmende] losprys” voorsien (1 Timotheüs 2:6, vgl. NW). Jesus Christus self het gesê: “Net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.” Hierdie feit het dit vir diegene wat geloof in Jesus Christus beoefen moontlik gemaak om die ewige lewe te verkry.—Mattheüs 20:28; Johannes 3:16.
10. (a) Wat het God hom voorgeneem met betrekking tot ’n beperkte aantal begunstigde mense? (b) Wanneer het die uitkiesing van die “klein kuddetjie” begin, en deur wie?
10 Toe Jesus na sy opstanding uit die dode na die hemel opgevaar het, kon hy ten behoewe van die mensegesin die waarde van sy losprysoffer vir God aanbied. Maar dit was sy hemelse Vader, Jehovah God, se voorneme om ‘’n volk vir sy Naam’ uit die nasies van die aarde te neem (Handelinge 15:14). Volgens Openbaring 7:4 en 14:1-4 sal hierdie groep uit net 144 000 individue bestaan, die “klein kuddetjie”, wat tot God se hemelse Koninkryk geroep is (Lukas 12:32). Die uitkiesing van hierdie besonder begunstigde knegte van Jehovah God het begin toe Jesus Christus se 12 apostels gekies is (Mattheüs 10:2-4; Handelinge 1:23-26). Jesus het vir die stigterslede van sy gemeente gesê: “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies” (Johannes 15:16). Hulle sou aan die spits staan van die verkondiging van die komende aardomvattende Paradys onder Koninkryksheerskappy.
Die vasgestelde tyd vir die Koninkryk
11. Wanneer sou die Messiaanse Koninkryk opgerig word?
11 Vandag bid ons steeds in die naam van die Here Jesus Christus tot Jehovah dat Sy Koninkryk moet kom (Mattheüs 6:9, 10; Johannes 14:13, 14). Die vasgestelde tyd vir die oprigting van die Messiaanse Koninkryk was aan die einde van “die tye van die nasies” (Lukas 21:24). Daardie Heidense Tye is teen die jaar 1914 vervul.a
12. Wat het in 1914 gebeur in ooreenstemming met Jesus se profesie oor merkwaardige dinge wat sy onsigbare teenwoordigheid sou kenmerk?
12 Daardie jaar is gekenmerk deur die eerste wêreldoorlog in die mensegeskiedenis. Dit het gestrook met Jesus se profesie oor die merkwaardige gebeure wat sy onsigbare teenwoordigheid in Koninkryksmag oor die aarde sou kenmerk. Sy dissipels het hom die vraag gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u [teenwoordigheid] en van die voleinding van die wêreld?” Jesus het geantwoord: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte. En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:3, 7, 8, 14, vgl. NW; Markus 13:10.
13. (a) In watter opsig is die verkondiging van God se Koninkryk goeie nuus? (b) Hoe lank word daar al gebid dat God se Koninkryk moet kom, en het sy getuies op aarde ooit moeg geraak om so te bid?
13 Hierdie goeie nuus van Jehovah se Koninkryk word nou in meer as 200 lande verkondig, en pogings word aangewend om dit na ander gebiede uit te brei. Dit is nuus, nie van ’n wêreldregering wat nog moet kom nie, maar van ’n koninkryk wat nou aan die bewind is, wat reeds regeer. Daardie Koninkryk is in 1914 opgerig. Dit het die toneel ingerig vir die antwoord op die gebed wat Jesus meer as 1 900 jaar gelede uiteengesit het. Daardie gebed word tot die Oprigter van daardie Koninkryk gerig sedert die een wat die Koning van daardie regering sou wees sy dissipels geleer het om daarvoor te bid. Gevolglik hoor die Skepper van daardie Koninkryk die versoek daarvoor al baie lank. Dit het hom behaag dat sy getuies op aarde deur al die jare heen die gebed tot hom rig, want dit het getoon dat hulle hul geloof in die koms van daardie Koninkryk behou het. Hulle het nie moeg geraak om daardie gebed tot die “Vader wat in die hemele is” te rig asof dit vir hulle iets alledaags geword het nie.—Mattheüs 6:9, 10.
14. Waarom hou Jehovah se Getuies aan om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig?
14 Al glo en maak Jehovah se Getuies bekend dat die Koninkryk in 1914 in die hemele opgerig is, hou hulle aan om hierdie goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. Hulle doen dit omdat daardie opgerigte Koninkryk nog nie uitsluitlike beheer oor die aarde oorgeneem het nie, maar toegelaat het dat die koninkryke van hierdie wêreld aanhou om hulle mag en gesag oor al die stamme en rasse van die mensdom uit te oefen (Romeine 13:1). Dit moet gevolglik ten volle “kom”, dit wil sê, dermate dat dit die enigste regering is wat oor die hele aarde heerskappy voer.—Daniël 2:44.
15. Watter salwing vind al sedert Pinkster 33 G.J. plaas en oortref die salwing van Israel se konings?
15 Hoewel Jesus as die Koning van daardie Koninkryk aangewys is, regeer hy nie alleen nie. Jehovah God het 144 000 volgelinge van sy koninklike Seun as mede-erfgename in die Messiaanse Koninkryk van God aangestel (Daniël 7:27). Net soos die konings van eertydse Israel deur die hoëpriester met heilige salfolie gesalf is, het Jehovah sedert Pinkster 33 G.J. toegesien dat die 144 000 mede-erfgename van Jesus Christus met Sy heilige gees gesalf word, en het hy hulle verwek tot geeslewe in die hemele saam met die “Koning van die konings en die Here van die here”.—Openbaring 19:16; vergelyk 1 Konings 1:39.
“Die laaste Adam” gaan die Paradys herstel
16. Watter vooruitsig was daar op die Koninkryk toe Jesus aan die paal genael is, maar waarom was hy nie ’n verkondiger van onjuiste nuus nie?
16 Toe Jesus in 33 G.J. aan die paal genael is, het dit nouliks moontlik gelyk dat hy enigsins ’n koninkryk kon hê. Maar toe hy die Koninkryk van God verkondig het, was hy nie ’n verkondiger van onjuiste nuus nie. Op die derde dag nadat hy aan die paal genael is, het die Stigter van die Koninkryk verseker dat Jesus se dissipels nie sou bid vir ’n regering wat onmoontlik was nie. Jehovah het sy toekomstige Verteenwoordiger in die Koninkryk waarvoor daar gebid is, opgewek en met onsterflikheid beklee.
17, 18. (a) Wat beteken die feit dat Jesus “die laaste Adam” genoem word? (b) Wat toon wêreldgebeure sedert 1914?
17 Jesus het geweet dat die Skepper van die eerste Paradys op aarde hom die verantwoordelikheid sou gee om die Paradys te hernieu en toe te sien dat die aardomvattende tuin bevolk word. In 1 Korinthiërs 15:45, 47 lees ons: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword; die laaste Adam ’n lewendmakende Gees. Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.” Die tweede Adam het uit die hemel neergedaal en word deur Jehovah gebruik om die Paradys hier op aarde te herstel. Dit was op grond hiervan dat die Here Jesus vir die simpatieke kwaaddoener gesê het: “Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:43, NW). Dit blyk weer eens uit hierdie gesprek dat die Paradys op die aarde onder die Koninkryk van die hemel in die hande van die verheerlikte Jesus Christus, “die laaste Adam”, tot stand gebring sal word.
18 Wêreldgebeure sedert 1914 strook met Jesus Christus se profesieë en bewys dus dat Jesus sedertdien aan die bewind is. Die mense van hierdie 20ste-eeuse geslag wat sedert 1914 lewe, beleef nou al meer as sewe dekades lank die vervulling van gebeure wat in Jesus se profesie in Mattheüs hoofstuk 24 gemeld is. Gevolglik nader hierdie tydperk sy einde en is die herstelling van die Paradys op aarde ophande.—Mattheüs 24:32-35; vergelyk Psalm 90:10.
’n Opwindende nuwewêreld-era is ophande
19, 20. (a) Waarin sal Jehovah diegene wat hom liefhet ná Armageddon inbring? (b) Wat sal kort na Armageddon gedoen moet word?
19 Jehovah sal diegene wat hom liefhet nie in ’n vervelige, saai stelsel van dinge inbring nadat hy sy universele soewereiniteit buite alle twyfel op die slagveld van Armageddon geregverdig het nie. Die naderende era vir die mensdom onder die heilsame heerskappy van die Messiaanse Koning, Jesus, die Seun van God, sal inderdaad uiters opwindend wees. O, hoeveel nuttige dinge sal daar tog nie gedoen moet word nie! Alle littekens wat ná die aardomvattende stryd tussen Jehovah se hemelse leërs en die opgestelde magte van boosheid op die aarde oorbly, sal verwyder word. Geen spoor daarvan sal oorbly nie.
20 Maar wat van al die krygstoerusting wat die nasies sal agterlaat? In die lig van die simboliese aanduiding van die tyd wat nodig sal wees om die brandbare dele daarvan weg te doen, sal dit ’n ontsaglike hoeveelheid wees (Esegiël 39:8-10). Die Armageddonoorlewendes sal moontlik die materiaal van enige oorblywende oorlogstoerusting van die nasies vir nuttige doeleindes kan aanwend.—Jesaja 2:2-4.
21. In watter situasie sal Armageddonoorlewendes hulle bevind wat soortgelyk is aan die ondervinding van die Vloedoorlewendes, maar met watter groot verskil?
21 Die geseënde hedendaagse teenbeelde van Noag en sy gesin as wonderdadige oorlewendes van die aardwye sondvloed sal hulle in ’n soortgelyke aardse situasie as dié van Noag se gesin bevind. Satan die Duiwel en sy demonmagte sal egter nie meer die onsigbare hemele om die aarde teister nie, maar sal reeds buite geveg gestel wees vir tien eeue (Openbaring 20:1-3). Die Armageddonoorlewendes sal die uitdagende taak hê om ’n aarde wat “daardie groot dag van die almagtige God” deurgemaak het te onderwerp en die uitwerking wat hierdie dag op die planeet gehad het die hoof te bied.—Openbaring 16:14.
22. Hoe sal die Armageddonoorlewendes reageer op die uitdaging om die Paradys oor die hele aarde uit te brei?
22 Aangesien daar betreklik min oorlewendes van die oorlog van Armageddon sal wees, sou ’n mens in die gewone loop van sake verwag dat hulle baie bang sal wees wanneer hulle die ontsaglike taak opgelê word om die Paradys oor die hele aarde uit te brei. Maar hulle sal die taak eerder onverskrokke en gehoorsaam, en met groot geesdrif, aanpak. Hulle besef terdeë dat hierdie aarde God se simboliese voetbank is, en dit is hulle opregte begeerte dat hierdie aardse sfeer só aantreklik en mooi gemaak moet word dat dit ’n waardige voetbank vir sy voete is.
23. Watter steun sal die Armageddonoorlewendes geniet as versekering dat hulle werk om die Paradys te herstel suksesvol sal wees?
23 Dit is verblydend en bemoedigend om te weet dat hulle nie alleen en sonder hulp gelaat sal word nadat hulle hierdie vreugdevolle diens ter vervulling van die goddelike opdrag aangaande die aarde aangepak het nie. (Vergelyk Jesaja 65:17, 21-24.) Hulle sal die volle, onbeperkte steun geniet van Hom wat die belofte van die herstelde Paradys gedoen het en wat op die dag van sy hemelvaart gesê het: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Mattheüs 28:18). Hy besit nog steeds daardie mag, oftewel gesag, en hy kán sy merkwaardige belofte aan die simpatieke kwaaddoener nakom, soos ons in die volgende artikel sal sien.
[Voetnoot]
a Kyk die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word, bladsye 138-41, vir besonderhede. Kyk ook Esegiël 21:27.
Hersieningsvrae
◻ Wat verseker Jesus se belofte op Kalvarieberg vir die mensdom en vir een misdadiger?
◻ Wat is die grondslag van die terugweg na die Paradys?
◻ Wat het die eerste Adam nie gedoen nie, maar wat sal “die laaste Adam” teweegbring?
◻ In watter soort stelsel van dinge sal Jehovah diegene wat hom liefhet ná Armageddon inbring?
[Prent op bladsy 13]
Die artikel “Einde van alle koninkryke in 1914” het in “The World Magazine” van 30 Augustus 1914 verskyn