Nehemia
4 Toe Sanbalʹlat+ hoor dat ons die muur herbou, het hy kwaad geword en hom baie vererg, en hy het die Jode bly spot. 2 Hy het voor sy broers en die leërmag van Samariʹa gevra: “Wat maak hierdie magtelose Jode? Gaan hulle dit op hulle eie doen? Gaan hulle offerandes bring? Gaan hulle binne ’n dag klaarmaak? Gaan hulle die swartgebrande klippe lewend maak wat op die stowwerige hope rommel lê?”+
3 En Tobiʹa,+ die Ammoniet,+ het langs hom gestaan en het gesê: “Selfs as ’n jakkals op hulle klipmuur klim, sal hy dit laat omval.”
4 Hoor, o ons God, want ons word gespot, en laat hulle beledigings+ op hulle eie koppe terugkom,+ en laat hulle as gevangenes weggeneem word na ’n ander land. 5 En moenie hulle skuld bedek of hulle sonde voor u uitvee nie,+ want hulle het die bouers beledig.
6 Ons het aangehou om die muur te bou, en ons het al die gapings toegemaak en die hele muur tot op die helfte van sy hoogte herbou, en die volk het aangehou om met hulle hele hart te werk.
7 Toe Sanbalʹlat, Tobiʹa,+ die Arabiere,+ die Ammoniete en die Asdodiete+ hoor dat die herstelwerk aan die mure van Jerusalem vorder en dat die gapings toegemaak word, het hulle baie kwaad geword. 8 Hulle het planne beraam om teen Jerusalem te kom veg en om ’n versteuring te kom veroorsaak. 9 Maar ons het tot ons God gebid, en ons het wagte geplaas om ons dag en nag teen hulle te beskerm.
10 Die mense van Juda het egter gesê: “Die werkers* het moeg geword, en daar is soveel rommel wat verwyder moet word. Ons sal nooit die muur kan bou nie.”
11 En ons vyande het bly sê: “Voordat hulle hulle oë uitvee, sal ons tussen hulle inkom en hulle doodmaak en die werk stopsit.”
12 Wanneer die Jode wat naby ons vyande gewoon het, ingekom het, het hulle oor en oor* vir ons gesê: “Hulle sal ons uit alle rigtings aanval.”
13 Daarom het ek manne geplaas op die laagste dele van die plek agter die muur, die dele wat maklik aangeval kon word, en ek het hulle volgens families geplaas met hulle swaarde, hulle spiese en hulle boë. 14 Toe ek sien hoe bang hulle is, het ek onmiddellik opgestaan en vir die leiers,+ die amptenare en die res van die volk gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie.+ Dink aan Jehovah, wat groot en ontsagwekkend is.+ Veg vir julle broers, julle seuns en dogters, julle vrouens en huise.”
15 Nadat ons vyande gehoor het dat ons uitgevind het wat hulle doen en dat die ware God hulle plan laat misluk het, het ons almal weer aan die muur begin werk. 16 Van daardie dag af het die helfte van my manne die werk gedoen,+ en die ander helfte van hulle het die spiese, die skilde, die boë en die pantsers* vasgehou. En die leiers+ het hulle ondersteuning gegee aan* die hele huis van Juda 17 wat die muur gebou het. Die werkers wat die vragte gedra het, het die werk met een hand gedoen terwyl hulle ’n wapen* met die ander hand vasgehou het. 18 Elke bouer het ’n swaard aan sy heup gehad terwyl hy gebou het, en die een wat die horing moes blaas,+ het langs my gestaan.
19 Ek het toe vir die leiers, die amptenare en die res van die volk gesê: “Die werk is groot en uitgebreid, en ons is ver van mekaar af al langs die muur versprei. 20 Wanneer julle die geluid van die horing hoor, moet julle by ons bymekaarkom. Ons God sal vir ons veg.”+
21 Ons het dus aangehou werk terwyl die ander helfte die spiese vasgehou het, van dagbreek af totdat die sterre uitgekom het. 22 Ek het toe vir die volk gesê: “Laat die manne, elkeen met sy dienaar, in Jerusalem oornag. In die nag sal hulle ons beskerm, en gedurende die dag sal hulle werk.” 23 Ek, my broers, my dienaars+ en die wagte wat my gevolg het, het nooit ons klere uitgetrek nie, en elkeen van ons het sy wapen in sy regterhand vasgehou.