Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 12/1 bl. 9-10
  • Die Bergpredikasie”—Saligsprekinge 6 tot 9

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bergpredikasie”—Saligsprekinge 6 tot 9
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “DIE VREDEMAKERS” WORD KINDERS VAN GOD
  • VERVOLG, NOGTANS GELUKKIG
  • Hoe Jesus se woorde geluk bevorder
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Vervolg en tog gelukkig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Gelukkig is diegene wat “die gelukkige God” dien
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Gelukkige knegte van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 12/1 bl. 9-10

DIE BERGPREDIKASIE saligsprekinge 6 tot 9

JESUS het saligspreking nommer ses van sy Bergpredikasie soos volg gestel: “Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”—Matt. 5:8.

“Die wat rein van hart is”, is persone wat innerlik rein is. Hulle liefde, begeertes, waardering en beweegredes is rein. Dit vorm ’n groot teenstelling met blote uiterlike of seremoniële reinheid (Matt. 23:25-28; Mark. 7:3, 4). Die Skrif beklemtoon nie uiterlike betonings van vroomheid nie, maar spoor aan tot “liefde uit ’n rein hart en ’n goeie gewete en ’n ongeveinsde geloof”.—1 Tim. 1:5.

Die wat rein van hart is, is veral salig of gelukkig want “hulle sal God sien”. Dit beteken nie noodwendig dat hulle Hom letterlik met die mense-oog sal sien nie, want ‘geen mens kan God sien en bly lewe nie’ (Ex. 33:20; Joh. 1:18; 1 Joh. 4:12). Maar daar is ander maniere waarop aanbidders met regte beweegredes op aarde tans ‘God kan sien’. Byvoorbeeld, as ’n mens sien hoe God in jou belang optree weens jou onkreukbaarheid, is dit ’n manier om “God [te] aanskou” (Job 19:26; 42:5). Besoeke aan die tempel te Jerusalem om te gaan aanbid word beskrywe as reise om voor “die aangesig van die HERE” te verskyn of om sy aangesig te sien.—Ex. 34:24; Deut. 31:11; Jes. 1:12.

Die Griekse woord wat Mattheüs vir “sien” gebruik, beteken ook “om met die verstand te sien, om te bespeur, te weet”. Aangesien Jesus God se persoonlikheid volmaak weerspieël het, kon hy sê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Joh. 14:7-9). Die wat rein van hart is wat Jesus as die Messias aangeneem het en na hom geluister het, het diepe insig in God se persoonlikheid verkry. Deur geloof in Jesus se soenoffer te beoefen het hulle vergifnis van sondes en ’n verhouding met God verkry en was hulle in staat om hom aanneemlik voor sy troon te aanbid (Ef. 1:7). Om God in hierdie sin te sien sal vir geesgesalfde Christene ’n hoogtepunt bereik wanneer hulle in die hemel kom, want daar sal hulle God en Christus inderdaad sien.—1 Joh. 3:2; 2 Kor. 1:21, 22.

Die geleentheid om God deur juiste kennis en ware aanbidding te sien is egter net vir diegene wat rein van hart is. Die Skrif toon dat persone wat sonde bedrywe, God en sy Seun nie sien en hulle ook nie ken nie. “Hy wat kwaad doen, het God nie gesien nie.”—1 Joh. 3:6; 3 Joh. 11; Ps. 24:3, 4.

“DIE VREDEMAKERS” WORD KINDERS VAN GOD

Jesus het die sewende saligspreking van die Bergpredikasie soos volg gestel: “Salig is die vredemakers [vredeliewendes, NW], want hulle sal kinders van God genoem word.”—Matt. 5:9.

“Die vredemakers” blyk uit wat hulle vermy sowel as wat hulle doen. Vredeliewende indiwidue is nie aggressief of strydlustig nie; hulle vergeld ook nie kwaad vir kwaad wanneer hulle onreg aangedoen word nie (Rom. 12:14-21). Maar hulle geaardheid het ook ’n positiewe aspek.

Die Griekse woord vir vredeliewendheid beteken “vredemakers”. Nie alleen gedra hulle hulleself vreedsaam nie, maar hulle doen ook hulle bes om vrede en harmonie tussen strydende partye te stig. Hulle weier om deel te hê aan enigiets wat ‘vriende skei’ of om so iets te vergoelik (Spr. 16:28; 17:9). Deur woord en voorbeeld staan hulle vredeliewendheid binne sowel as buite die Christengemeente voor.—Rom. 14:19; Hebr. 12:14.

Die vredemakers is salig of gelukkig, “want hulle sal kinders van God genoem word”. Hulle geniet ’n intieme verhouding met God as sy kinders. Om hierdie verhouding te behou, moet hulle egter die hoedanighede van God se persoonlikheid, wat vredeliewendheid insluit, navolg (2 Kor. 13:11; Filip. 4:9; 1 Thess. 5:23; Hebr. 13:20; Jak. 3:17). Enigeen wat liefdeloos in vyandskap met sy medemens leef, “is nie uit God nie”.—1 Joh. 3:10.

In Jesus se dag het die Jode geglo dat hulle kinders van God is omdat hulle Sy skepsele is (Jes. 64:8). Maar Jesus het getoon dat dit nie die geval was nie al was hulle ook die natuurlike saad van Abraham (Joh. 8:39, 41). Vir sekeres het Jesus inderdaad gesê: “Julle het die duiwel as vader” (Joh. 8:44). Aangesien die hele mensdom sonde erf van Adam wat as ’n aardse “seun van God” geskape is, word mense nie outomaties seuns van God nie.—Rom. 3:23; 5:12; Luk. 3:38.

Slegs aan die vredeliewendes wat Jesus as die Messias en sondedraer aangeneem het, is “mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo” (Joh. 1:12; Jes. 53:12; 1 Pet. 2:24). Die “groot menigte” vredeliewende “ander skape” van die Goeie Herder Jesus Christus sal hom as hulle “Ewige Vader” hê gedurende sy duisendjarige koninkryk, maar aan die einde daarvan sal hy hulle aan sy eie hemelse Vader oorgee om die kroos van God te word.—Openb. 7:9-17; Joh. 10:14-16; Jes. 9:5; 1 Kor. 15:27, 28.

VERVOLG, NOGTANS GELUKKIG

As die agtste saligspreking in hierdie reeks het Jesus gesê: “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Matt. 5:10). Toe hy hieroor uitbrei, het hy ’n negende saligspreking geuiter: “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.”—Matt. 5:11, 12; vergelyk Lukas 6:22, 23.

“Die wat vervolg word”, is Christene wat gesmaad, belaster en verstoot is “ter wille van die geregtigheid”, of “ter wille van die Seun van die mens”. Hulle ly omdat hulle Jehovah aanbid en omdat hulle die naam van Jesus Christus dra en getrou in sy voetspore volg.—1 Pet. 2:19-21.

Die rede vir blydskap hier is dieselfde as die wat vir die eerste saligspreking gemeld word, naamlik: “aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (Vergelyk Mattheüs 5:3.) Al beteken dit ook dat hulle gesmaad word, uit hulle gemeenskappe verstoot word en in sommige gevalle selfs doodgemaak word, weet Christene dat die ‘vreugde’ om saam met Christus in God se hemelse koninkryk te regeer of om volmaakte menselewe as die aardse onderdane daarvan te geniet deeglik die moeite word is.—Matt. 25:21, 23; Hebr. 12:2; Openb. 21:1-5.

Hierdie ‘loon in die hemele’ (dit wil sê, van God af) is nie in die sin van loon wat deur werk verdien is nie. Onder geen omstandighede kan sondige mense God se guns verdien en hom verplig om hulle te seën nie (Gal. 2:16; Jak. 2:10). Die loon in die vorm van Koninkrykseëninge is ’n “onuitspreeklike gawe”, ’n blyk van God se welwillendheid en vrygewigheid (2 Kor. 9:15; Jak. 1:16-18). Dit is ’n loon wat Christene ontvang omdat hulle getrou smaad, vervolging en bose leuens, wat weens hulle onverbreeklike toewyding aan God oor hulle vertel is, verduur het.

Jesus het ook ’n teenstelling van hierdie laaste twee saligsprekinge gemeld toe hy gesê het: “Wee julle wanneer al die mense goed van julle praat, want hulle vaders het net so aan die valse profete gedoen” (Luk. 6:26). In plaas daarvan om God se waarheid bekend te maak het die “valse profete” van eertydse Israel gesê wat mense wou hoor; en die volk wou “dit graag so hê” (Jer. 5:31). Maar sulke gewildheid was nog nooit ’n aanduiding van God se guns nie. Jehovah God se goedkeuring word slegs weggedra deur persone wat ooreenkomstig sy Woord spreek en handel (Ps. 15:1, 2). Diegene wat dit doen, kan egter vervolging verwag, want Jesus het gesê: “As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg.”—Joh. 15:20.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel