Ons het die ware weg na liefde, vreugde en vrede gevind
Ek en my vrou gaan vandag ’n Bybelstudie saam met ’n jong dwelmslaaf hou. Elke keer wanneer ons hom besoek, wonder ons of hy in die dieptes van terneergedruktheid of angs gaan wees. Moontlik is dit wat diegene wat in 1970 saam met ons gestudeer het, gewonder het, want ons was toe hippies wat dieselfde soort lewe gelei het as hierdie jong man.
Hoewel ons ongetroud was, het ek en Romy en vyf ander jongmense in ’n groot woonstel in Rome, Italië, gewoon. Ons wou uitvind wat die betekenis van die lewe is, ons wou weet hoe om mense te laat begryp wat liefde, vrede en waarheid is deur argitektuur, musiek, drama en selfs strokiesverhale te bestudeer. Benewens die feit dat ons hasjisj en LSD gebruik het, het ons transendentale meditasie beoefen en die okkulte bestudeer. Maar in plaas daarvan dat dit ons probleme opgelos en antwoorde op ons vrae verstrek het, het ons al hoe meer verward geraak.
Omdat ons gesien het dat dinge vererger, het ons dit oorweeg om die samelewing, die stad en die Gesagsorde te verlaat. Saam met ons metgeselle het ons ’n reis na Polinesië beplan, waar ons gehoop het om na aan die natuur te lewe en met ons eie hande die dinge te maak wat ons nodig het om te lewe. Dit was ons laaste hoop.
Voordat ons vertrek het, wou ek en Romy trou om ons onderskeie families tevrede te stel, hoewel wettige huwelik vir ons min beteken het. Om my meisie se ouers te ontmoet, is ons in 1970 na Switserland. Romy is deur haar moeder grootgemaak. Haar vader het geskei en weer getrou, maar was nou een van Jehovah se Getuies. Volgens Romy sou hy ons tot die dood toe met die Bybel verveel.
’N BESOEK AAN ROMY SE VADER
Toe ons by haar vader se huis aankom, het hy vir ons gesê dat ons slegs in die kombuis of buitekant kon rook en dat een van ons onder en die ander een op die boverdieping sou moes slaap, aangesien ons nie wettig getroud was nie. Sulke fermheid het ons tot nadenke gestem.
Ons was werklik vasbeslote om vir hom te toon dat die Bybel bloot die drumpel van geestelike ontwikkeling is en nie die reiniging van die siel leer nie, iets wat ’n mens in staat stel om in harmonie met die heelal en ’n mens se naaste te lewe. My toekomstige skoonvader het egter vir ons verduidelik dat al ons pogings om ons geestelik te verhef in werklikheid die Duiwel se doel gedien het, en dat ons die deur vir hom oopgemaak het elke keer wanneer ons onsself vir transendentale meditasie geledig het. Dit is interessant dat ons ondervinding met dwelmmiddels en die okkulte ons daarvan oortuig het dat die Duiwel bestaan, want gedurende ons meditasies het ons waarlik gevoel hoedat bose vibrasies ons vul. Ons was besorg daaroor en het die saak met ons onderrigter bespreek. Hy het bloot vir ons gesê dat indien ons ’n toestand van reinheid wou bereik, ons die moed moes hê om verder te gaan as die kwaad in ons.
Romy se vader het ons gewaarsku teen die verstandelike leemte wat die demone in staat stel om iemand te besit. Hy het uit Lukas 11:24-26 gelees: “Wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus; en as hy dit nie vind nie, sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit uitgevee en versierd. Dan gaan hy en neem sewe ander geeste, slegter as hy self, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste.” My eie ervarings het my ’n idee gegee van die waaragtigheid van wat die Bybel daar sê.
Na hierdie bespreking het ek en Romy dit gewaag om aan mekaar ons mantra, die geheime formule wat nodig is vir meditasie, te openbaar. Hierdie woord het skaars oor ons lippe gekom toe ons albei yskoud en lam van vrees geword het. lets het ons so pas verlaat, en terwyl dit wild weggejaag het, het dit ons die gevoel laat kry dat ons in ’n warrelwind vasgevang is. Verskrik deur hierdie verskynsel het ons Romy se vader wakker gemaak om ons te help. Toe hy ons vrees sien, het hy dadelik aangebied om vir ons tot Jehovah te bid. Daardie nag het ons rustig geslaap, hoewel apart, soos Romy se vader versoek het.
BYBELSTUDIE BEGIN
Kort na ons terugkeer na Rome het ons na die takkantoor van die Wagtoringgenootskap gegaan om te vra of ons die Bybel saam met Jehovah se Getuies kan bestudeer. Dit was nog steeds ons voorneme om hippies te bly. Maar ons het toe minder dwelmmiddels geneem, uit vrees dat ons deur die Duiwel lastig geval sal word.
Die verwelkoming wat ons by die tak te beurt geval het, sowel as ons toer deur die gebou, het ons diep beïndruk. Niemand het ons weens ons hippieklere aangefrons nie, al was dit skokkend. Die mense op straat het egter dikwels omgedraai en lelike dinge aan ons gesê. Voordat ons vertrek het, het ons ons adres daar gelaat sodat iemand ons kon besoek vir ’n Bybelstudie.
Aanvanklik het twee jong persone ons besoek om God se Woord te bespreek. Maar aangesien hulle jonger as ons was, het Romy hulle altyd uitgelag. Later het ’n Getuie wat ouer en veel strenger as die twee jong Getuies was, ons besoek. Hoewel hy ons herhaaldelik nie tuis gevind het nie, het hy steeds teruggekom, ’n lang ruk gewag en notas gelaat waarin hy verdere afsprake maak. Hy het hom nie laat ontmoedig nie. Reg uit die staanspoor het hierdie getuie met gebed geopen en ons gevra om nie tydens die studie te rook nie. Hy het ons dikwels genooi om by hulle te kom eet, want hy het geweet dat ons nie goed eet nie.
Met fermheid en liefde het hy ons bewus gemaak van ons trots en ons meerderwaardigheidsgevoel wat die produk van ons verkeerde filosofiese begrippe was. Hy het ons oortuig van die dringende behoefte om weg te breek van bose geesmagte. ’n Ontleding van Handelinge hoofstuk 19 en Deuteronomium 7:25, 26 het ons beweeg om geleidelik van sekere boeke ontslae te raak, onder andere die oor die okkulte, asook klere wat tydens inwydingsessies gedra is.
Dit het nogtans vir ons gevoel asof ons in ’n net gevang was. Sonder dat ons daarvan geweet het, was briewe wat ’n vriendin van my vrou geskryf het ’n bron van moeilikheid. In die donker het hierdie briewe haar duidelik bewus gemaak van die teenwoordigheid van bomenslike wesens wie se oë haar aangestaar het. Sodra ons die ligte aangeskakel het, het die verskynsels geëindig. Gewoonlik was dit voldoende om die naam “Jehovah” hardop te sê. Sodra ons God se naam aangeroep het, het die demoniese invloed gewyk, net om ’n paar uur later terug te keer. Dit het voortgeduur totdat ons die briewe vernietig het.
Een nag, terwyl ons albei ingesluimer het, het my vrou skielik die voorgevoel gekry dat ek haar gaan vermoor. Ek het gevoel hoedat ’n onweerstaanbare krag my arm beetkry om my te dwing om die misdaad teen my sin te pleeg. Hoewel ek my met al my mag teëgesit het, het hierdie krag my meedoënloos voortgedryf. Slegs deur God se naam “Jehovah” aaneen hardop uit te spreek was ek in staat om myself te bedwing. Om die ergste te voorkom, het ek vir my vrou gesê om gou aan te trek en na die huis van ’n Getuie, ’n ouere man wat van ons probleme bewus was, te gaan. Kort daarna het ek ook soontoe gegaan. Dit was drie-uur in die oggend. Daar hy die situasie dadelik begryp het, het hy geluister, ons gerusgestel en ’n passende gebed gedoen, waarna hy aangebied het dat ons by sy huis slaap. Die volgende dag het die Getuie wat saam met ons gestudeer het, ons na ons huis vergesel.
REAKSIE VAN VRIENDE
Intussen het ons begin om met ons vriende wat dwelmmiddels gebruik het oor Bybelwaarheid te gesels. Ons het aan hulle ’n Bybel en die publikasie “Die waarheid wat lei tot die ewige lewe” gegee. Maar hierdie vriende het my verhoed om met die Christelike lewenswyse te vorder. Hulle het voortdurend die waarheid gekritiseer en met my gespot omdat ek my hare wou laat afskeer en ophou om dwelmmiddels te gebruik. Ek kon dit egter nie verhelp om aan 2 Korinthiërs 6:14-18 te dink nie: “Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.”
Maar dit was net nie vir my maklik om met hierdie vriende te breek nie. Ek was veral lief vir een van my vriende wat so geskok was omdat ek my hare laat skeer het en gereeld begin werk het. Alles wat ek aangepak het, het hom diep geskok. Dit het my baie ontstel. Toe ek eendag terugkeer van die skool waar ek gewerk het, het ek op my motorfiets gefluit en gesing. Ek was so gelukkig. Dieselfde vriend, wat agter die stuurwiel van sy motor gesit het, het sy venster afgedraai, verbaas om my geluk te sien. My vreugde het hom laat besef dat dwelmmiddels hom al hoe ongelukkiger gemaak het.
Gevolglik het hy, sy sestienjarige vrou en sy neef daardie selfde dag na die Koninkryksaal gekom. Beïndruk deur die verwelkoming wat hulle gekry het en die geluk van die aanwesiges, het hulle begin om die Bybel te bestudeer saam met die Getuie wat met ons gestudeer het. Hulle is dieselfde jaar as ons gedoop. Ons is verheug dat reeds vier van ons vriende wat aan dwelmmiddels verslaaf was, hulle lewens aan Jehovah toegewy het.
Onder Jehovah se Getuies het ons talle ware vriende en ware liefde, vreugde en vrede gevind. Ons sal nooit die geduld vergeet wat betoon is deur die vrou van die Getuie wat die Bybel saam met ons bestudeer het nie. Sy het Romy geleer hoe om te kook en ons huis netjies en skoon te hou. Dit is aan haar te danke dat my vrou Jehovah ook op hierdie gebiede van ’n Christelike lewe kan behaag (Spr. 31:27). Uiteindelik is ons waarlik verenig in ’n gelukkige huweliksverhouding.—Bygedra.
[Lokteks op bladsy 6]
Ons ondervinding met dwelmmiddels en die okkulte het ons daarvan oortuig dat die Duiwel bestaan
[Lokteks op bladsy 7]
Wettige huwelik het vir ons min beteken
[Lokteks op bladsy 7]
Slegs deur God se naam “Jehovah” aaneen hardop uit te spreek was ek in staat om myself te bedwing
[Lokteks op bladsy 8]
My vreugde het hom laat besef dat dwelmmiddels hom al hoe ongelukkiger gemaak het