LEWE SOOS EEN WAT AAN JEHOVAH BEHOORT
“Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan [Jehovah].”—Rom. 14:8.
1. Oor watter sake moet die Christengemeente eensgesind wees?
WARE Christene stel daarin belang om in vrede met ander te lewe (Rom. 12:18). Lede van die Christengemeente doen dit deur aandag te skenk aan die belangriker dinge en deur nie ’n ophef te maak van die dinge wat nie noodsaaklik is om geloof te bevorder nie (1 Tim. 1:4). Waar dit by die belangrike dinge kom, probeer hulle om eenheid van geloof en optrede te hê. Ter toeligting van hierdie eenheid wys die apostel Paulus op die menslike liggaam. Net soos die lede van ’n gesonde liggaam op ’n verenigde manier in die belang van die hele liggaam werk, wat dit in staat stel om werk wat die moeite werd is, gedoen te kry, so is dit in die Christengemeente. Daar moet geen verdeeldheid in hierdie “liggaam” wees nie, maar ‘die lede moet gelyke sorg vir mekaar dra’.—1 Kor. 12:25.
2. Waarom beskou en doen Christene nie alles eenders nie ten spyte van hulle eenheid?
2 Hierdie eenheid is egter nie eenvormigheid nie. Die feit dat Christene almal glo aan die een almagtige God en aan sy Seun Jesus Christus, wat Hoof van die gemeente is, maak hulle nie almal presies eenders nie, en laat hulle ook nie meganies praat soos robotte nie. Nee, elkeen het sy unieke persoonlikheid, sy eie siening van sake wat nie noodsaaklik vir redding is nie. Elkeen verskil in ’n meerdere of mindere mate van die ander in die manier waarop hy sake reël en dinge doen, selfs in daaglikse roetines van werk, in ontspanning en vermaak. Dit is in ’n groot mate omdat omstandighede en agtergronde van indiwidue grootliks verskil.
3, 4. Hoe leef die ware Christen “tot eer van die Here”?
3 Nietemin moet Christene wat hulle ook al doen met hulle hele hart soos vir Jehovah God doen. Die een Christen verstaan miskien nie ten volle waarom ’n ander een dinge op ’n sekere manier beskou of doen nie. Maar hy besef dat God die Regter van sy dienaars is. En net soos die Christen probeer om alles na die beste van sy begrip en vermoë te doen om vir Jehovah welgevallig te wees, so skryf hy dieselfde gewetensgetroue beweegredes aan sy broers toe. Hieroor sê die apostel:
“Niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”—Rom. 14:7, 8.
4 Selfs die opregste, pligsgetrouste Christen het onvolmaakthede en foute en maak hom dus soms skuldig aan selfsugtige dade. Maar dit is nie sy groot doel in die lewe om ryk te word of om hom aan ’n lewe van genot en gemak oor te gee nie. Hy leef nie net ten opsigte van homself of vir homself alleen nie. Sy vernaamste strewe in die lewe is om vir God welgevallig te wees deur Sy wil te doen. Hy is bereid om te enige tyd te sterf as sy dood God se doel kan dien. En net soos hy sy lewe geleef het soos een wie se lewe aan God behoort, so reken Jehovah hom in die dood as Syne. Wanneer hy voor die dood te staan kom, is hy inderdaad seker van ’n opstanding, want Jehovah beskou diegene wat hom hulle God maak as lewend, nie as dood nie.—Matt. 22:31, 32; Rom. 4:17.
LAAT ELKEEN TOE OM SY EIE SAKE TE BESTUUR
5. (a) Wat is die allerbelangrikste werk? (b) Hoe moet ’n Christen die manier waarop ’n ander persoon sy tyd en kragte bestee, beskou?
5 Die belangrikste werk wat ’n persoon kan doen, is om ander te help om ’n goeie naam by God en Christus te kry en te behou. Maar ander dinge moet ook gedoen word. ’n Man wat tyd daaraan wy om die “goeie nuus” te verkondig besluit miskien om ’n nuwe huis vir sy gesin te bou of om sy huis te vergroot. Omdat hy tyd en geld hieraan bestee, moet ander Christene nie die gevolgtrekking maak dat hy noodwendig materialisties is nie. Hulle oordeel hom as hulle sê: ‘Sy liefde vir die waarheid “verkoel”.’ Die man doen dit dalk omdat hy meen dat dit ’n Christen se plig is om ’n fatsoenlike, ordentlike huis in die oë van die gemeenskap te hê. Hy sal moontlik daardie huis as ’n vergaderplek vir ’n groep in die gemeente gebruik.
6. Hoe kan ’n persoon vind dat hy sy broer verkeerdelik oordeel wat vorms van ontspanning betref?
6 ’n Ander pligsgetroue Christen verkies moontlik ’n vorm van ontspanning wat op sigself nie verkeerd is nie. Hy hou dit ondergeskik aan sy bevordering van Koninkryksbelange. Ander sal nie daardie besondere manier kies om hulle te verkwik nie, maar sal dit as ’n tydverkwisting beskou. Maar hulle sal die Christen oordeel as hulle sê dat hy vir homself lewe en nie vir Jehovah nie, of dat hy sy diens tussen ‘God en Mammon’ verdeel.—Luk. 16:13.
7. Waarom kan ’n Christen nie voorskryf wat vir ander die beste is waar dit by materiële besittings kom nie?
7 Elkeen van ons het sy eie beskouing van watter materiële dinge hy nodig het of kan hê terwyl hy steeds Koninkryksbelange eerste stel en ywerig deelneem aan die belangrike werk om die “goeie nuus” aan ander te verkondig (Matt. 6:33; Mark. 13:10). ’n Man kan heelwat wêreldse goed besit en steeds hulle baas wees en hulle tot lof van Jehovah gebruik. ’n Ander kan miskien nie rykdom beheers nie en kom in versoeking om toe te laat dat dit hom van geestelike dinge af wegneem. Hy moet sy ‘liggaam kasty’ en leer om selfbeheersing te beoefen, terwyl hy sy vernaamste verpligting, naamlik om “die goeie nuus” te verkondig, in gedagte hou (1 Kor. 9:16, 27). Maar ’n ander Christen moet hom nie aanmatig om hierdie persoon te oordeel of om as ’n “gewete” vir hom op te tree nie, maar hy kan wel vriendelike hulp bied en raad gee aan een wat voor geldgierigheid swig.—1 Tim. 6:17.
BESKOU GEEN MENS “NA DIE VLEES” NIE
8. Hoe kan die arm man sowel as die ryk man oor hulle onderskeie posisies in die waarheid roem?
8 Jesus se halfbroer Jakobus sê in hierdie opsig: “Laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid, en die ryke in sy geringheid, want soos ’n blom van die gras sal hy verbygaan” (Jak. 1:9, 10). Die geringe, wat nie besittings of aansien in hierdie stelsel van dinge het nie, kan roem omdat daar in die wêreld geen notisie van hom geneem is nie, maar dat hy nou na die oordeel van God en van sy mede-Christene op dieselfde vlak as die ryke beskou word. Hy is ’n ‘medeburger van die heiliges en ’n huisgenoot van God’ (Ef. 2:19). Hy het die uitnemende rykdom om God te dien, en voor hom lê die beloning van lewe. Die ryk man kan roem op die feit dat hy gehelp is om te sien dat dit nutteloos is om sy kragte te bestee om skatte te vergaar. Uit die nuwe nederige posisie, wat soos die van Christus is, is hy bewus van die “verleiding van die rykdom” en kan hy insien hoe dwaas dit is om daarop te vertrou (Mark. 4:19). Hy weet “die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig”. Hy sien na dieselfde beloning uit as die geringe.—2 Kor. 4:18.
9. Waarom moet ons ‘niemand meer na die vlees ken’ nie?
9 Op grond van hierdie waarhede word die voortreflike reël vir alle Christene deur die apostel Paulus vermeld: “[Christus] het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie” (2 Kor. 5:15, 16). Dit is wat ’n mens geestelik is, nie wat hy uit ’n vleeslike, materiële standpunt blyk te wees nie, wat by God tel. Ons moet sake ook so beoordeel.
10. Waarom moet ons in gedagte hou dat Christus heerser oor die dooies en die lewendes is?
10 Dat die ware Christen sake nie tereg op ’n ander manier kan beskou nie word ook deur die apostel se woorde getoon. Nadat hy gesê het: “Ons behoort aan die Here”, sê hy voorts: “Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers” (Rom. 14:9). As sodanige heerser kan hy Christene nou help om hulle lewens met welslae vir die dinge van God te lei. Net soos hy “die wêreld oorwin” het, kan hulle ook oorwin (Joh. 16:33; Hebr. 7:25). As heerser oor die dode het Christus die gesag en die mag om hulle lewend te maak. Dit is vertroostend dat hulle, deur ’n lewe van diens aan God heen, en selfs in die dood, nooit verlaat word nie.—Rom. 8:31-34; 38, 39.
11. Waarom is dit volkome onvanpas vir Christene om hulle broers te oordeel?
11 Paulus sê hierdie dinge nie maar net om die hoop wat die Christen alreeds behoort te hê te herhaal nie. Hy gebruik hierdie argument as bewys dat dit onvanpas vir die Christen is om sy broer te oordeel, omdat daardie broer geheel en al aan God behoort. Hy laat die punt van sy argument in die volgende paar verse uitkom waar hy sê:
“Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee. Laat ons dan mekaar nie meer oordeel nie.”—Rom. 14:10-13.
VERMY DIT ALLEREERS OM ANDER TE LAAT STRUIKEL
12, 13. Hoe toon die apostel Paulus sowel as Jesus Christus wat liewer gedoen moet word as om ander te oordeel?
12 In die gemeente in Rome het party die dade en beweegredes van ander wat verskillende menings en verskillende gewetensbesware gehad het, veroordeel. Dit was verkeerd en gevaarlik vir almal wat daarby betrokke was. Dit het die groot Regter, wat niemand voorgetrek het nie, mishaag. Paulus toon ’n baie beter manier. Vir diegene wat geneig was om te oordeel sê hy nou: “Maar besluit [of “oordeel”] dit liewer, om nie die broeder ’n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie.”—Rom. 14:13.
13 Hulle kon hulle geneigdheid om ander te oordeel tot goeie voordeel aanwend deur liewer hulleself te beoordeel en deur te besluit om strenger toesig oor hulle eie gedrag te hou. Jesus het gewaarsku: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; . . . hoe sal jy vir jou broeder sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk! Geveinsde, haal eers die balk uit jou oog uit, en dan sal jy goed sien om die splinter uit die oog van jou broeder uit te haal.”—Matt. 7:1-5; vergelyk 1 Korinthiërs 11:31; 2 Korinthiërs 13:5.
14. Wat beteken dit om ’n broer te laat ‘struikel’? Gee ’n voorbeeld.
14 Om iemand te laat struikel beteken om iemand te laat sondig, want sonde word in die Bybel as ’n val voorgestel. (1 Kor. 10:12; 1 Tim. 6:9; vergelyk Mattheüs 5:27-30.) ’n Christen kan ’n broer soos volg laat struikel: Hy kan iets doen wat dit hom as Christen vry staan om te doen, sonder om eers vas te stel of dit die broer se gewete kan seermaak. Hierdie broer kan byvoorbeeld gewetenswroeging hê as hy sterk drank gebruik. Nogtans drink die Christen voor die broer, of bied hom ’n drankie aan. Die broer kan dink: ‘Wel, hy is ’n ryp Christen, dus kan ek maar sy voorbeeld volg.’ Dus verstout hy hom om voort te gaan. Maar terselfdertyd sê sy gewete vir hom dat dit nie reg is nie. Dit veroordeel hom. Hy handel nie uit geloof of soos vir God nie. Hy is dus laat struikel. Sy gewete is seergemaak en hy is neerslagtig omdat hy meen dat hy gesondig het. Dit kan vir hom moeilik wees om te herstel.—1 Kor. 8:12, 13; Rom. 14:23.
15. Tot watter sonde deur ’n medegelowige kan dit aanleiding gee as ’n Christen daarop staan om ’n sekere ding te doen omdat hy die “reg” het om dit te doen?
15 Of die optrede van die Christen wat daarop aandring dat hy die “vryheid” het om iets te doen wat hy onder normale omstandighede die reg het om te doen, kan veroorsaak dat iemand met ’n swak gewete hom oordeel. Deurdat hy sodanige “vryheid” onverstandig gebruik, kan dit maak dat die swakkere persoon valse agterdog en jaloesieë koester. Dit kan die vrede en eenheid van die gemeente in gevaar stel.
16. Waarom weerhou die een Christen hom van party dinge wat deur ’n ander as volkome in orde beskou word?
16 Paulus gee die rede aan waarom die een Christen kan besluit om iets nie te doen nie, wat vir die ander een volkome in orde is om te doen: “Ek weet en is oortuig in die Here Jesus dat niks op sigself onrein is nie, maar hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein.”—Rom. 14:14.
17, 18. (a) Watter groot vryheid het die Christen, soos deur die apostel Paulus toegelig word? (b) Waarom was party van die vroeë Christene nie in staat om hierdie vryheid ten volle te gebruik nie?
17 Die apostel toon die groot vryheid wat Christene inderdaad het deur te praat van voedsel, waarvan hy sê: “Wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken.” “Want”, sê hy voorts, “alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie; want dit word geheilig deur die woord van God [wat dit goedkeur] en die gebed.”—1 Tim. 4:3-5.
18 Alles wat God geskep en vir ’n sekere doel bestem het, soos voedsel, is goed, en die Christen kan daarvan eet sonder om te sondig—dit is rein. Maar party, veral onder die Joodse lede van die vroeë Christengemeente, het gewetens gehad wat swak was wat betref voedselsoorte wat onder die Mosaïese wet verbied was (Hand. 10:14, 15). Alhoewel ander Christene die saak verduidelik het, was dit, omdat dit so lank die gebruik en gewoonte was, vir hulle gewetens moeilik om sulke voedsel as rein te beskou. Dit was natuurlik nie vir hulle ’n moet om dit te eet nie. Maar iemand anders het besef dat God verklaar het dat die Wet op grond van Christus se offerande afgeskaf is, en dat alle voedselsoorte dus “wettig” en rein was. Hy kon dus heelhartig eet en God vir sy voorsienings dank.
19, 20. (a) Beskrywe die verskil tussen dinge wat gedoen moet word en dinge wat vir die Christen opsioneel is. (b) Hoe “wandel” ’n Christen wat vasbeslote is om sy Christelike vryheid te gebruik “nie meer volgens die liefde nie”?
19 Moet die Christen wat hierdie kennis het egter in die teenwoordigheid van die Joodse Christen eet? Paulus antwoord: “As jou broeder deur voedsel gegrief word, dan wandel jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur jou voedsel hom te gronde rig vir wie Christus gesterf het nie.”—Rom. 14:15.
20 Hoewel voedsel die voorbeeld is wat hier gebruik word, dek die beginsel enigiets wat ons ’n reg het om te doen, en nogtans aan ons eie keuse oorgelaat word. Daar is egter dinge wat God beveel gedoen moet word, waarby onkreukbaarheid, geregtigheid en gehoorsaamheid betrokke is. Dit is die “belangriker” dinge (Filip. 1:10, NW). Geen Christen kan tereg ten opsigte van hierdie punte ’n vergelyk tref of hulle agterweë laat nie. Maar as ’n persoon hardnekkig optree op gebiede van persoonlike voorkeur of mening, en nie vir die gevoelens van ander Christene omgee nie, handel hy nie volgens die liefde nie. lets wat nie uit liefde gedoen word nie is van geen waarde vir die een wat dit doen nie.—1 Kor. 13:1-3.
21. Watter uitwerking kan onbesorgde optrede op ’n ander hê?
21 Bowendien sal hardkoppige optrede baie onverstandig wees. Dit kan ’n ander broer leed aandoen, al berus daardie broer se mening dat die optrede verkeerd is ook nie op goeie grond nie. Hy kan mismoedig, kwaad, selfs daardeur gewalg word. Dit kan hom so skaad dat dit selfs sy geloof te gronde rig. Christus, wat sy lewe vir die mensdom gegee het, is sy Besitter (Jud. 4, NW). Hy reken hierdie broer, wat met sy bloed gekoop is, as kosbaar vir hom, en hy sal sekerlik nie ingenome wees met die een wat sy broer oordeel of hom rede gee om te struikel omdat hy op sy eie mening aandring nie.—Vergelyk Mattheüs 18:6, 14.
22. Wat moet ons ons dus voorneem om te doen?
22 Deur vir Jehovah te lewe weet ons dus: “Alles [wat God vir ons voorsien het om te gebruik of te doen] is [ons] geoorloof, maar nie alles is nuttig nie [dit hang af van tyd, omstandighede en wat tot ander se voordeel strek]; alles is [ons] geoorloof, maar nie alles stig nie. Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maak elkeen die voordeel van ’n ander.”—1 Kor. 10:23, 24.
Juig voor die HERE, o ganse aarde! Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel. Erken dat die HERE God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide.—Psalm 100:1-3.
[Prent op bladsy 13]
’n Christen moenie ’n ander laat struikel deur hom drank of voedsel wat deur sy gewete verwerp word aan te bied nie