“Dienaars van onse God”—Pioniers in lewensbelangrike herstellingswerk
“Die vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle landbouers en wynboere wees. Maar júlle sal priesters van [Jehovah] genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God!”—Jes. 61:5, 6, vgl. NW.
1. Staatsministers wend vandag kragtige pogings aan om wat te doen, en in watter gemoedstemming?
STAATSMINISTERS het deelgeneem aan die groot herbouingswerk wat deur die Eerste Wêreldoorlog nodig gemaak is. Baie van dit wat hulle help herstel het, is weer vernietig deur die veel rampspoediger oorlog van 1939-1945. Herbouingswerk was weer eens nodig, maar op ’n veel groter skaal. Vandag wend staatsamptenare kragtige pogings aan om te verhoed dat hulle land in ’n vervalle toestand raak. Die ministerieë van regerings sit met die hand in die hare.
2, 3. (a) Watter belangriker herstellingswerk van ’n ander aard het ondanks die Tweede Wêreldoorlog voortgegaan? (b) Hoe is dit in beeldspraak in Jesaja 61:4-6 voorspel?
2 ’n Veel belangriker herstellingswerk van ’n ander aard het egter in die naoorlogse jaar 1919 begin. Ten spyte van die verwoesting wat deur die Tweede Wêreldoorlog gesaai is, het dit bestendig, ja, onstuitbaar, voortgegaan. Dit was herstellingswerk van ’n geestelike aard, gerugsteun deur ’n krag wat die ministeriële departemente van menseregerings nie besit het nie. Ooreenkomstig die woorde in Romeine 13:4 dien die magte van hierdie wêreld weliswaar as God se openbare dienaars, selfs ten goede van Christene. Maar diegene wat die weg gebaan het in die geestelike herstellingswerk is God se openbare dienaars van ’n hoër orde. Die werk wat deur sulke dienaars aangevoor is, is soos volg deur God se geïnspireerde profeet Jesaja voorspel:
3 “En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag. Die vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle landbouers en wynboere wees. Maar júlle sal priesters van [Jehovah] genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God! Julle sal die rykdom van die nasies eet.”—Jes. 61:4-6, vgl. NW.
4. In watter tyd van verandering sou Jesaja se profesie vervul word, en hoe en waar het Jesus Christus dit aangedui?
4 Die eerste-eeuse herstellingswerker Jesus Christus het aangedui wanneer daardie woorde van Jesaja in vervulling sou begin gaan. Die tyd hiervoor sou wees wanneer ’n eeue-oue nasie besig was om in duie te stort en ’n nuwe en beter nasie in aansyn gebring sou word. Die dissipels van Jesus Christus, wat deur die gees van God verwek is, sou die nuwe nasie uitmaak. Dit sou ’n geestelike Israel wees. Maar hoe het Jesus Christus aangedui wanneer die voorgemelde profesie van Jesaja vervul sou word? Hy het dit gedoen toe hy van die woorde wat tot hierdie profesie lei, aangehaal en op homself toegepas het. Dit was na die Pasga van 30 G.J. en Jesus het die sinagoge van sy tuisdorp, Nasaret, besoek. Hy het opgestaan om te lees. Hy het die boekrol van Jesaja se profesie oopgerol tot by die plek wat nou as hoofstuk 61 bekend is en het minstens ’n deel van wat nou vers een en twee is, gelees. Toe het hy vir sy gehoor gesê: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.”—Luk. 4:16-21.
5, 6. (a) Volgens watter vertaling het die geskiedskrywer Lukas, wat in Grieks geskryf het, die woorde van Jesus se aanhaling uit Jesaja opgeteken? (b) Hoe lui Jesaja 61:1-3 in die oorspronklike Hebreeuse teks?
5 Lukas, die geskiedskrywer wat hierdie gebeurtenis opgeteken het, het Jesus se aanhaling uit Jesaja se profesie laat lui soos dit in die Griekse vertaling bekend as die “Septuaginta”-vertaling verskyn. Maar hoe lui die profesie in die oorspronklike Hebreeuse teks, wat ongetwyfeld die teks was wat Jesus as ’n Palestynse Jood gelees het? Soos volg:
6 “Die gees van die Soewereine Heer Jehovah is op my, omdat Jehovah my gesalf het om goeie nuus aan die sagmoediges te vertel. Hy het my gestuur om die gebrokenes van hart te verbind, om vryheid uit te roep vir die wat gevange geneem is en die wye opening van die oë selfs vir die gevangenes; om uit te roep die jaar van welwillendheid aan die kant van Jehovah en die dag van wraak aan die kant van onse God; om al die treurendes te vertroos; om vir die wat oor Sion treur toe te deel, om hulle ’n hooftooisel te gee in plaas van as, die olie van jubeling in plaas van rou, die mantel van lof in plaas van die neerslagtige gees; en hulle moet genoem word groot bome van geregtigheid, die planting van Jehovah, sodat hy verheerlik kan word.”—Jes. 61:1-3, NW.
7. Watter woorde oor herstellingswerk volg daarop?
7 Dan volg die woorde oor herstellingswerk: “En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag.”—Jes. 61:4.
8. In watter gemoedstemming sou mense ten tye van die profesie se vervulling wees, en waarom sou daar dringend aan hulle aandag geskenk moes word?
8 Laat ons daarop let dat daar op die tyd vir Jesaja se profesie om vervul te word “sagmoediges”, “gebrokenes van hart”, “die wat gevange geneem is”, asook “gevangenes” en “die wat oor Sion treur”, sou wees. Hulle sou behoorlike aandag dringend nodig hê. Die tyd sou ryp wees hiervoor, omdat dit die tydperk was waarna verwys is as “die jaar van welwillendheid aan die kant van Jehovah”. Die aankoms van die een wat met “die gees van die Soewereine Heer Jehovah” gesalf is, sou die begin van daardie jaar van Sy welwillendheid aandui. Daardie simboliese “jaar” sou gevolg word deur “die dag van wraak aan die kant van onse God”. Dit het die werk van die geesgesalfde verkondiger van verlossing en vrylating inderdaad ’n baie dringende gemaak.
9. Van watter verandering het Jesus sy Nasareense gehoor in kennis gestel, en hoe het hulle getoon dat hulle nie ‘sagmoedig’ genoeg was om “goeie nuus” aan te neem nie?
9 Jesus het sy aardse nering verander. Tot op dertigjarige leeftyd was hy ’n timmerman in Nasaret, Galilea. Dit is waar die sinagoge was waar Jesus die betekenisvolle woorde van Jesaja se profesie gelees het. Hy het sy Nasareense gehoor van hierdie verandering van beroep in kennis gestel nadat hy Jesaja 61:1, 2 gelees het. Sy woorde was: “Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.” Toe het hy van hierdie feit bewys gelewer deur ’n Bybeltoespraak te hou wat sy landgenote nie gedink het die gewese timmerman sou kon doen nie. Hulle het gehoor dat Jesus ’n geneesheer geword het. Hulle wou dus hê dat hy ‘homself moet genees’ deur in sy “vaderstad” sy eie dorpsgenote te genees. Jesus het deur middel van illustrasies uit die Bybel verduidelik waarom hy dit nie sou doen nie. Hierop het hulle baie ontstoke geraak en hom om die lewe probeer bring. Hulle het onteenseglik getoon dat hulle nie “sagmoedig’ genoeg was om “goeie nuus” aan te neem nie.—Luk. 4:21-30.
10. By watter geleentheid is Jesus met heilige gees gesalf?
10 Ondanks sulke behandeling in sy tuisdorp het Jesus onbevrees voortgegaan om die doel waarvoor hy met “die gees van die Soewereine Heer Jehovah” gesalf is te vervul. In die noordelike herfs van 29 G.J. het hy Nasaret verlaat en na die Jordaan gegaan om deur Johannes die seun van Sagaria die priester gedoop te word. Onmiddellik nadat Jesus uit die doopwater opgekom het, het Johannes die Doper die heilige gees in die vorm van ’n duif op hom sien neerdaal. Terselfdertyd het hy Jehovah se stem uit die hemel hoor sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Matt. 3:13-17; Luk. 3:21, 22; Joh. 1:29-34). Daardie selfde gees het Jesus beweeg om hom 40 dae lank in die Judese woestyn in te onttrek.
11. Waarom het Jesus nog steeds die gees van salwing gehad toe hy sy toespraak in die sinagoge van Nasaret gehou het?
11 Na daardie 40 dae waartydens hy gevas en met sy Vader Jehovah gekommunikeer het, het Satan die Duiwel drie versoekings voor hom gestel. Indien Jesus voor daardie versoekings geswig het, sou hy die gees van salwing verloor het. Maar deur die Versoeker te weerstaan, het hy die geestelike salwing behou. Hy het dit dus steeds gehad toe hy sy toespraak in die sinagoge van Nasaret gehou het.—Matt. 4:1-13; Luk. 4:1-21.
12. Watter vrae ontstaan oor die Jode ten tye van Jesus se salwing met die oog op wat sedert 537 v.G.J. in die land van die Jode plaasgevind het?
12 Die salwing van Jesus met heilige gees in 29 G.J. het plaasgevind 565 jaar nadat Jesus se volk in 537 v.G.J. uit Babiloniese gevangenskap vrygelaat is en na hulle verwoeste vaderland, die provinsie van Juda, teruggekeer het. Hulle het “die verwoeste stede” van die land, met inbegrip van Jerusalem, waar hulle die tempel herbou het, ‘weer nuut gemaak’. Hulle het “die verwoeste plekke” wat die voorafgaande 70 jaar verlate gelê het ‘weer opgerig’ en het die land feitlik in ’n paradys omskep. Sion, of Jerusalem, het tydens die drie jaarlikse feeste van die Jode gewemel van miljoene aanbidders. Waarom sou daar dan ten tye van Jesus se salwing enige gebrokenes van hart onder die Jode of Israeliete wees? Waarom enige “wat gevange geneem is”? Waarom enige “gevangenes”? Waarom enige “wat oor Sion treur”? Waarom enige arme, nederige “sagmoediges” wat “goeie nuus” nodig het? Waarom sou daar in 29 G.J. enige sulke mense wees?
Diegene wat “goeie nuus”, vrylating en vertroosting nodig het
13. In watter soort slawerny het Joodse “gevangenes” gekom nadat hulle uit Babilon vrygelaat is en na hulle vaderland teruggekeer het?
13 Dit was weens die geestelike toestand waarin die nasie Israel verval het. Jehovah het weliswaar ’n “dag van wraak” oor die Babiloniese Ryk gebring, waarvan die heersers geweier het om ‘sy gevangenes los te laat huis toe’ (Jes. 14:17; Jer. 50:15, 28; 51:6, 11, 36). Toe hulle daarna in hulle vaderland herstel is, het daardie Joodse “gevangenes” nie in slawerny aan afgodediens verval deur letterlike gesnede beelde te aanbid nie. Hulle het egter in ’n groter slawerny verval, slawerny aan die godsdiensstelsel van Judaïsme. Dit was ’n stelsel wat deur leringe en tradisies van mense oorheers is, dinge wat die Wet en die gebooie van Jehovah God kragteloos gemaak het. Die amptelike skrifgeleerdes en Fariseërs het prominent geword in hierdie godsdiensstelsel. Hulle het die mense vir die waarheid verblind deur “die sleutel van die kennis” weg te neem. So het hulle die gewone mense verhinder om in die koninkryk van God in te gaan en swaar pakke op hulle gelaai wat hulle self nie wou aanraak nie.—Luk. 11:52.
14. Waarom was daar in Jesus se dag rede vir ’n oorblyfsel van die Jode om ‘oor Sion te treur’?
14 Soos blinde leiers het daardie Joodse godsdiensleiers boonop die verblinde Jode op ’n weg gerig wat in die sloot van volksvernietiging eindig. Hulle het Sion, of Jerusalem, op geslepe wyse beïnvloed om die ware Messias, Jesus, te verwerp en hom aan ’n folterpaal dood te maak asof hy ’n valse Christus was. Daardie godsdiensleiers het gesorg dat Jerusalem sy reputasie behou as ’n moordenaar van profete en ’n steniger van die wat God na hom gestuur het (Matt. 23:1-37). Het die “sagmoediges” van so ’n nasie dus ’n behoefte gehad aan “goeie nuus”? Het die “wat gevange geneem is” behoefte daaraan gehad dat daar vir hulle vryheid uitgeroep moet word? Was daar “gevangenes” wat ’n “wye opening van die oë” nodig gehad het deur uit die kerker van godsdienstige duisternis gebring te word? Was Sion, of Jerusalem, as die plek van Jehovah se aanbidding in so ’n godsdienstig verwoeste toestand dat daar werklik rede was om daaroor te treur? Ja, inderdaad! En die gesalfde Jesus het gesien dat daar destyds ’n oorblyfsel van sulke “treurendes” onder die Jode was.
15. Op watter manier het Johannes die Doper as ’n pionier gedien, en hoe het Jesus ’n pionier van lewe en redding geword?
15 Jesus het voorsien in die behoeftes van die “treurendes”, die “wat gevange geneem is”, die “gevangenes”, die arme “sagmoediges”. Hy het daardie treurendes vertroos deur die goeie nuus van “die koninkryk van die hemele” te verkondig, benewens dat hy siekes genees en selfs dooies opgewek het (Matt. 4:17; 11:4-6). Maar nog groter vertroosting en vryheid was vir daardie treurendes oor Sion in die vooruitsig. Dit is bewerkstellig deur Jesus se dood en opstanding en sy opvaring na die hemel om die waarde van sy soenoffer vir God aan te bied. Deur aldus die Bybelprofesieë oor hom te vervul, het Jesus Christus ’n pionier van lewe en redding geword vir diegene wat sy lewegewende bediening aanvaar. Johannes die Doper het voor Jehovah se Messias uitgegaan en die weg voorberei, sodat Johannes ook ’n pionier genoem kan word (Luk. 1:76, “New World Translation of the Christian Greek Scriptures”, 1950). Jesus het egter meer gedoen as Johannes om die weg tot lewe en redding te baan.
16. Wat, volgens Moffatt se vertaling van Handelinge 3:15, het Petrus Jesus genoem toe hy in die tempel te Jerusalem getuig het?
16 Dit was net soos die apostel Petrus ’n paar weke na Jesus se hemelvaart onbevrees aan die Jode in die tempel te Jerusalem gesê het: “Julle het die pionier van Lewe doodgemaak. Maar God het hom uit die dode opgewek, soos ons [Petrus en Johannes] kan getuig.”—Hand. 3:15, “Moffat”.
17. Wat, volgens Handelinge 5:31, het die twaalf apostels Jesus genoem toe hulle voor die Sanhedrin in Jerusalem gestaan het?
17 Die twaalf apostels van Jesus Christus het later voor die bloedskuldige Sanhedrin in Jerusalem, wat toe uit Sadduseërs, Fariseërs en skrifgeleerdes bestaan het, die volgende getuienis afgelê: “God het hom as ons pionier [Grieks: arkhegós] en verlosser tot sy regterhand verhoog om aan Israel bekering en vergifnis van sondes te skenk.”—Hand. 5:31, Mo.
18, 19. Wat het die apostel Paulus Jesus in Hebreërs 2:10 en 12:2 genoem?
18 Waar hy aan die oorblyfsel Hebreërs (Jode) skryf wat Jesus as die Messias, of Christus, aangeneem het en wat geestelike seuns van God geword het, het die Hebreeuse apostel Paulus gesê: “Want dit was gepas dat hy, vir wie en deur wie alle dinge bestaan, om baie seuns tot heerlikheid te bring, die pionier [arkhegós] van hulle redding deur lyde volmaak.”—Hebr. 2:10, “Revised Standard Version”; ook “Moffatt”.
19 Ook: “Terwyl ons na Jesus kyk, die pionier [arkhegós] en vervolmaker van ons geloof, wat vir die vreugde wat hom voorgehou is die kruis verduur het, die skande verag het, en wat aan die regterhand van die troon van God sit.”—Hebr. 12:2, RS; Mo.
20. Hoe het Jesus “die pionier . . . van ons geloof”, sowel as die vervolmaker daarvan, geword?
20 Daar word dus gesê dat Jesus vir sy dissipels ’n “pionier” is, die pionier van lewe, die pionier van redding, die pionier van ons geloof. Hy het honderde Bybelprofesieë oor die Messias, of Christus, werklikheid laat word. Sodoende het hy ’n nuwe en essensiële element in ons geloof teenoor Jehovah God ingebring. So het hy die pionier geword van die afgeronde geloof wat ware Christene nou het. Hy word dus gepas “die pionier . . van ons geloof” genoem (Hebr. 12:2, RS; Gal. 3:24, 25). Terselfdertyd word ons geloof in verband met Jehovah se Messias in Jesus Christus vervolmaak of voleindig. Die geloof van die Jode wat Jesus Christus verwerp het en wat aan die Mosaïese wet alleen bly vashou het, het onvolledig gebly.
“Groot bome van geregtigheid”
21. In watter mate sou Jesus se dissipels geestelik groei as gevolg van die feit dat hy aan hulle verskyn en hulle vertroos het?
21 Jesus Christus het verskeie kere gedurende die 40 dae na sy opstanding aan sy dissipels verskyn om hulle geloof op te bou. Hy het diegene vertroos wat oor die verwagte Messias getreur het. Wat het met diegene gebeur wat deur die verrese Jesus Christus vertroos is? Volgens die profesie van Jesaja 61:1-3 sou die gesalfde Jesus vir hulle “’n hooftooisel . . . in plaas van as, die olie van jubeling in plaas van rou, die mantel van lof in plaas van die neerslagtige gees” ‘toedeel’. As gevolg hiervan sou hulle geestelik groei sodat hulle genoem sou word: “groot bome van geregtigheid, die planting van Jehovah, sodat hy verheerlik kan word”.
22. Hoe moet die woorde “hooftooisel”, “as”, “olie” en “mantel” in Jesaja se profesie verstaan word, en hoe is hulle van Pinkster af aan op die dissipels van toepassing?
22 Die Bybel deel ons nie mee of enige van Jesus se apostels of dissipels as op hulle hoofde gegooi en in sak geklee gegaan het nie. Die profetiese uitdrukkings “hooftooisel”, “as”, “olie” en “mantel” is klaarblyklik in ’n figuurlike sin gebruik. Jesus se verskynings na sy opstanding het die dissipels se gevoelens oor die saak inderdaad heeltemal verander. Maar op die Pinksterdag wat gevolg het, het die Soewereine Heer Jehovah sy Seun Jesus Christus gebruik om heilige gees oor die wagtende dissipels in Jerusalem uit te stort. As aanduiding van die feit dat die gees uitgestort is, het wonderdadige vuurtonge bokant hulle hoofde gehang. Hierdie verskynsel was net tydelik en was nie die permanente “hooftooisel” wat in Jesaja se profesie voorspel is nie. Hulle hoofde sou eerder bekroon word met die vreugde van goddelike goedkeuring, soos die vreugde van ’n priester-bruidegom op ’n huweliksdag (Jes. 61:10). Dit was asof strelende olie oor hulle hoofde uitgegiet is, iets wat hulle so verkwik het dat hulle gejubel het. Die neerslagtige gees het verdwyn, en die lof van Jehovah God het hulle geïdentifiseer asof hulle ’n “mantel van lof” aangehad het. Persone wat daardie Pinkstertoneel aanskou het, het gesê: “Ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.”—Hand. 2:1-11.
23. (a) Watter soort werk het Jesus vir sy dissipels aangevoor? (b) Watter taak is die dissipels opgedra weens die feit dat hulle deur hom gesalf is?
23 Wat leer ons vandag hieruit? Dat Jesus Christus, ooreenkomstig sy salwing, ’n herstellingswerk aangevoor het ten behoewe van diegene wat sy dissipels geword het. Jehovah het hom gebruik om heilige gees op sy gedoopte dissipels uit te stort, sodat hierdie ontvangers van heilige gees self ook persone geword het wat met die gees van die Soewereine Heer Jehovah gesalf is (2 Kor. 1:21; 1 Joh. 2:20, 27). Nou het hulle ook die opdrag gehad om “goeie nuus” aan die “sagmoediges” in die nasie Israel te vertel, om vryheid uit te roep vir die wat gevange geneem is en vrylating vir die gevangenes en om almal wat oor Sion treur te vertroos. Sodoende kon hulle ander wat deur hulle vertroos en vrygestel is, help om hulle oor die “jaar van welwillendheid aan die kant van Jehovah” te verheug en om hom te loot dat hy hulle deur middel van sy gesalfdes in sy guns en diens herstel het.
24. Hoe is die geestelike land van Jesus se dissipels van Pinkster af aan op ’n soortgelyke wyse versier as wat die Paradys versier was, en tot wie se verheerliking?
24 Daardie uitstorting van die gees het ’n hemelsbreë verskil gemaak vir diegene wat daarmee gesalf is. In plaas daarvan dat hulle soos tingerige plantjies was wat gekwyn het weens ’n gebrek aan voeding, het hulle soos “groot bome van geregtigheid” geword wat net Jehovah deur Christus kon plant en kon laat groei. Die mens se oorspronklike “Paradys van Genot” is deur allerlei bome versier (Gen. 2:7-9). Maar van Pinkster af aan het Jehovah “groot bome” in die geestelike land van sy toegewyde volk, wat deur hulle vyande verwoes en verlate gelaat is, geplant. Hierdie figuurlike “groot bome” verwys na die moedige, onwankelbare, onbeweeglike Christene wat uittoring in hulle standpunt vir die geregtigheid van Jehovah God. Hy, as hulle Planter, is “verheerlik” deur hulle teenwoordigheid in die pasgestigte Christengemeente.
25. Onder watter verpligting het diegene gekom wat op Pinkster gedoop is, en in watter werk moes hulle as pioniers dien?
25 Benewens die oorspronklike gemeente van ongeveer 120 dissipels het duisende ander op Pinksterdag gesalfdes geword nadat hulle hul bekeer het, die Messias aangeneem het en deur die twaalf apostels in water gedoop is (Hand. 2:37-42). Hulle het ook onder die verpligtinge gekom wat die salwing van Jehovah se gees deur Christus hulle opgelê het. Hulle Leier, Jesus, het vir hulle die weg gebaan om die volmaakte geloof en lewe en redding te verkry. Hulle het “dienaars van onse God” geword (Jes. 61:6). As sodaniges moet hulle nou vir nog ander wat in ’n verhouding met God wil kom die weg baan om deur Christus met hom versoen te raak (2 Kor. 5:20). Sodoende sal hulle ’n vreugdevolle aandeel hê aan God se herstellingswerk.