Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w78 10/1 bl. 19-23
  • Kan jy beproewinge suksesvol verduur?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kan jy beproewinge suksesvol verduur?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE DOEL VAN BEPROEWINGE EN VOLHARDING
  • WYSHEID OM BEPROEWINGE DIE HOOF TE BIED
  • DIE NOODLOTTIGE UITWERKING VAN TWYFEL
  • RAAD AAN RYK EN ARM
  • DIE BELONING VAN VOLHARDING
  • Hou ondanks beproewinge vas aan jou geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Hoe om ons vreugde te behou wanneer ons deur moeilike tye gaan
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Volharding word beloon
    Ons Koninkryksbediening—2004
  • Bly na aan Jehovah se organisasie
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1978
w78 10/1 bl. 19-23

Kan jy beproewinge suksesvol verduur?

“Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle met verskeie beproewinge te kampe het, daar julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk.”—Jak. 1:2, 3, NW.

1. Watter vrae kan by ons opkom wanneer ons lees van die beproewinge wat Christene verduur het en steeds verduur?

ONS het mense al hoor sê: “Ek wonder of ek sou kon volhard”, wanneer hulle lees van die beproewinge van Christene van die eerste eeu, asook van die in Nazi-lande tydens die Tweede Wereldoorlog en, meer onlangs, in lande rondom die wereld. Selfs in die daaglikse lewe van alle Christene duik daar egter probleme op wat nie alleen moeilik is om te verduur nie, maar dikwels baie moeilik is om te hanteer. Kan iemand wat geloof in Christus bely en wat ’n kneg van God is, volhard? Kan hy beproewinge en probleme met ware versekering van sukses tegemoetgaan?

2, 3. Waarom was Jakobus se brief tydig en gepas?

2 Dit was aan persone wat beproewinge verduur het en met sulke vrae te kampe gehad het dat Jakobus, die halfbroer van Jesus Christus, geskryf het. Sy woorde bied veel vertroosting, want hy het geskryf aan Christene wat nie alleen kwaai vervolg is nie, maar ’n tyd genader het wanneer die aangeleenthede van die Romeinse nasie vir die Christene onstuimiger sou raak.

3 Slegs ’n kort rukkie nadat Jakobus geskryf het, sou Christene in Rome valslik deur Romeinse keiser Nero beskuldig word van die groot brand van 64 G.J. wat ’n groot deel van daardie stad sou vemietig. Dit sou natuurlik aanleiding gee tot die vervolging van Christene dwarsdeur die ryk. Dan, ’n rukkie later, in die jaar 70, sou Jerusalem en die land Juda deur die Romeinse leers verwoes word. Christene in Jerusalem wat aan Christus se waarskuwing gehoorsaam was, sou oor die Jordaan vlug voor die stad se vemietiging en hulle lewens red, maar al hulle besittings verloor en talle ontberinge verduur.

4. Hoe help Jakobus se brief Christene om die verkeerde gesindheid te vermy wat in Psalm 73:2, 3, 5, 11-13 beskryf word?

4 Jakobus se brief was dus tydig. Maar hetsy Christene swaar vervolg word of nie, hulle het volharding nodig. Want hulle moet lewe in ’n wêreld wat Christelike beginsels veronagsaam en daarbenewens het hulle te kampe met siekte en talle ander probleme. Die 73ste psalm praat van probleme waarmee God se knegte te kampe het en wat nie-Christene nie het nie. Waarom nie? Omdat nie-Christene gewoonlik nie omgee nie. Hulle het nie die hoop en die geloof wat Christene in God het nie, en hulle word nie beweeg om hom te behaag nie. Jakobus se brief help Christene om die gesindheid te vermy wat Asaf, die skrywer van die psalm, ’n ruk lank gehad het. Asaf het gesê:

“Wat my aangaan, my voete het amper gestruikel, my voetstappe het byna uitgegly. Want ek was afgunstig op die onsinniges toe ek die voorspoed van die goddelose mense sien. In die moeite van sterwelinge is hulle nie, en saam met ander mense word hulle nie geplaag nie. En hulle sê: Hoe sou God dit weet, en sou daar kennis by die Allerhoogste wees? Kyk, so is die goddelose mense, en altyd onbesorg vermeerder hulle die rykdom! Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas.”—Ps. 73:2, 3, 5, 11-13.

5. Jakobus rig sy brief aan “die twaalf stamme wat in die verstrooiing is”. Aan wie het hy geskryf?

5 Jakobus open sy brief op ’n beskeie wyse, nie deur na sy familieverwantskap met Jesus Christus te verwys nie, maar deur homself ’n “dienskneg van God en die Here Jesus Christus” te noem. Hy rig hom tot “die twaalf stamme wat in die verstrooiing is” en sê “Groete!” (Jak. 1:1). Dit is nie die twaalf stamme van natuurlike Israel nie. Die inhoud van die brief openbaar dit. Jakobus sou nie geskryf het soos hy wel geskryf het indien sy lesers bloot vleeslike Jode was nie. Daarbenewens was hierdie aanspreekvorm algemeen onder Christene, veral die van ware Joodse afkoms, soos Jakobus was. Paulus noem die Christengemeente “die Israel van God”. (Gal. 6:16; vergelyk Romeine 2:28, 29.) Teen daar­die tyd was Christene tot in elke deel van die Romeinse Ryk verstrooi. Die apostel Paulus se arbeid in die westelike deel van die beskaafde wêreld en Petrus se pogings in die omgewing van Babilon in die ooste het veel bygedra tot die vermeerdering wat Christene geniet het. Petrus het sy eerste brief gerig aan “die vreemdelinge van die verstrooiing” in dele van Klein-Asië.—1 Pet. 1:1.

DIE DOEL VAN BEPROEWINGE EN VOLHARDING

6. Waarom moet die Christen ‘dit louter vreugde ag’ wanneer hy met beproewinge te kampe het, en van waiter waarde is beproewinge vir hom?

6 Jakobus gaan voort: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle met verskeie beproewinge te kampe het” (Jak. 1:2, NW). In sy Bergpredikasie het Jesus gesê: “Salig is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerhande kwaad teen julle spreek om My ontwil. Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele” (Matt. 5:11, 12). Daar is nie alleen ’n hemelse beloning nie, maar dit hou ook nou ’n voordeel in, soos Jakobus byvoeg: “daar julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk” (Jak. 1:3, NW). Geloof wat beproewinge deurstaan, is beter—dit is beproefde geloof. Hierdie soort geloof bewerk sterker volharding vir die volgende beproewing.

7. Waarom moet die Christen nie probeer om beproewinge te ontduik of moeg word tydens beproewinge nie?

7 Die Christen moet nie probeer om beproewinge te ontduik of meen dat hy lank genoeg volhard het nie. Jakobus sê: “Maar die lydsaamheid [volharding, NW] moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kort kom nie” (Jak. 1:4). Die werk wat volharding in die Christen verrig, moenie deur ’n geklaery, murmurering of opstandigheid belemmer word nie. Indien hy getrou volhard, nie oor God of sy eie broers kla nie en nie weens vrees of moegheid ophou om vir ander van God se voomemens deur Sy koninkryk te vertel nie, sal hy volmaak en sonder gebrek word. Sulke volharding sal hom help om sy persoonlikheid te verander. Hy sal ’n persoon word wat in staat is om ander te help—met redelikheid, simpatie en barmhartigheid. As hy nie beproewinge met volharding verduur nie, kan hy nie op hierdie wyse kwalifiseer nie. Hy kan nie ’n vervolmaakte Christen wees nie.—Vergelyk Mattheüs 5:48; 24:13.

WYSHEID OM BEPROEWINGE DIE HOOF TE BIED

8, 9. Hoe seker kan ons wees dat ons die wysheid sal hê om ’n sekere beproewing die hoof te bied en te volhard?

8 Hoe seker kan ons wees dat ons die krag en wysheid sal hê om ’n sekere probleem—enige beproewing—die hoof te bied en te volhard? Jakobus sê: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word” (Jak. 1:5). Ons kan dus seker wees dat indien ons bid vir wysheid om enige probleem of beproewing waarmee ons te kampe het te hanteer, dit aan ons gegee sal word.

9 Dit beteken nie dat die probleem altyd vanself sal weggaan of dat dit dadelik opgelos sal word nie, maar ons sal in staat wees om die weg in te slaan wat vir ons en die ander betrokkenes geestelik goed is. Ons sal die beproewing end-uit verduur en as beter Christene daaruit kom as wat ons voor die beproewing was. En ander wat ons waarneem, en wat ’n regte hart het, sal gehelp word.

10. (a) Watter soort antwoord kry ons dikwels wanneer ons vir sekere dinge bid? (b) Op watter maniere kan ons gebed verhoor word wanneer ons bid om wysheid om ’n beproewing die hoof te bied?

10 Daar is talle dinge waaroor ons kan bid wat nie verhoor sal word op die wyse wat ons begeer nie. Ons sal ’n antwoord kry, moontlik verskillend van dié wat ons verwag; dit sal wees wat God weet vir ons die beste is. Trouens, party dinge waarvoor ons vra, sal dalk nie tot ons voordeel strek indien hulle gegee word soos ons versoek of begeer nie. Maar wysheid om ’n beproewing die hoof te bied word gewis deur God beloof. Ons sal beslis die nodige wysheid ontvang indien ons reg vra. Die wysheid sal in een of meer van drie maniere gegee word: (1) Sekere Skriftuurplase wat die antwoord verstrek wat ons nodig het, sal onder ons aandag gebring word, hetsy deur ons eie studie of deur ons broers. (2) Omstandighede en gebeure, soos deur God se voorsienigheid bestier, sal ons in staat stel om duidelik te sien wat ons moet doen. Sekere hindernisse sal dalk uit ons weg verwyder word. (3) God se heilige engele kan ons gees in die regte rigting stuur.

11. Hoe gee God ‘eenvoudig, sonder om te verwyt’?

11 God gee mildelik, dit wil sê, met ’n eenvoudige, heelhartige gees, meer as waarvoor ’n mens vra (Ef. 3:20; 1 Joh. 5:14, 15). Hy doen dit sonder om te verwyt. Indien jy jou versoek tot ’n mens rig, sal hy dalk sê: ‘Dit is ’n dom versoek.’ Hy kan selfs met veragting op jou neersien. Of hy kan na verskeie versoeke ongeduldig raak en kortaf weier. Maar nie God nie. Hy sê nooit: ’Wat ’n dwase versoek!’ nie. Hy laat ’n mens ook nie minderwaardig voel nie. Hy verwyt jou nie oor jou gedrag in die verlede, soos mense geneig is om te doen nie. Hy het innige waardering vir die persoon wat die geloof het en besorg genoeg is om herhaaldelik vir ’n sekere ding te bid.—Vergelyk Lukas 18:1-14.

12. Waarvan verseker Jakobus se woorde “dit sal aan hom gegee word” ons?

12 “Dit sal aan hom gegee word.” Wysheid, wat ons onder die leiding van God se gees verkry, is een van die dinge wat God baie graag aan sy knegte gee. Hy is bly wanneer ons om wysheid vra. Dit strek altyd tot ons welsyn en help ons wanneer ons bid om God se Woord te verstaan soos dit op ons situasie van toepassing is (1 Kor. 2:9, 10). Jesus het gesê: “As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat hom bid?”—Luk. 11:13; Mark. 11:24.

DIE NOODLOTTIGE UITWERKING VAN TWYFEL

13. Met watter gesindheid moet ’n mens om wysheid bid, en waarom?

13 “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word” (Jak. 1:6). Die een wat die versoek rig, moet volle geloof hê in God en sy Seun, en in hulle bereidwilligheid om te voorsien wat nodig is, en hy moet niks anders in gedagte hê as die belange van die Christelike geloof en die voornemens van God nie. Hy moet nie vir een ding bid terwyl hy in werklikheid iets anders begeer nie. Sy gebed moet uit die grond van sy hart kom. Andersins is hy soos ’n golf van die see wat heen en weer en op en af beweeg. Elke wind—elke invloed van buite, elke vrees—laat hom verander.

14. Wat sê Jakobus verder oor die man wat twyfel?

14 Jakobus maak die volgende gevolgtrekking oor so ’n persoon: “Die mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie—so ’n dubbelhartige [Grieks, “dubbelsielige”] man, onbestendig in al sy weë” (Jak. 1:7, 8). Hy is besluiteloos en probeer om tegelykertyd twee rigtings in te slaan, verdeeld tussen iets van die wêreld en die dinge van God; of beïnvloed deur ander dinge as God se Woord, en huldig eers die een mening en dan die ander. (Vergelyk Mattheüs 6:24.) Hy aarsel dalk selfs om die saak met God te bespreek. Die een oomblik is hy geesdriftig en die volgende oomblik mismoedig. Hy tree so op nie net wat gebed betref nie, maar ook wat ander dinge in verband met geloof betref. Hy is nie ’n standvastige, betroubare getuie van Jehovah nie. Inteendeel, die Skrif sê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.”—Hebr. 11:6.

RAAD AAN RYK EN ARM

15. Hoe kan die broer wat gering is “in sy hoogheid” roem?

15 Nog steeds gedagtig aan beproewinge, praat Jakobus vervolgens van die een wat gering is: “Laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid” (Jak. 1:9). Die meeste Christene was en is vandag nog mense van nederige afkoms (1 Kor. 1:26). Daar hulle van lae stand is, maak hulle ekonomiese toestand dit vir hulle moeiliker wanneer vervolging uitbreek. En party wat ryk was, is deur vervolging verarm. Hulle kan hulle nietemin verheug, want in die Christengemeente strek hulle nederige staat hulle geensins tot nadeel nie. Hulle is kinders van God, ‘medeburgers van die heiliges en huisgenote van God’ (Ef. 2:19). Die arm man kan sy aardse armoede vergeet weens die oortreffende rykdom van sy verhouding met God en Christus, en die liefde van sy Christenbroers. En hy kan bly wees dat hy ander kan help deur die “goeie nuus” aan hulle te verkondig. Oor hierdie dinge kan hy roem.

16. Hoe kan die ryk broer “in sy geringheid” roem?

16 Die ryk man wat ’n Christen geword het, kan roem “in sy geringheid”. Nou is dit nie sy rykdom wat werklik tel nie. In plaas van hoogmoedigheid, iets waartoe rykdom dikwels aanleiding gee, is die gees van Christus een van nederigheid (Filip. 2:3-8). Hy kan hom verheug oor die insig dat hy nou, deur God se onverdiende goedheid, “die verleiding van die rykdom” kan onderskei en dat rykdom nie die ding is waarin hy sy vertroue moet stel nie (Matt. 13:22). Hy besef ook dat die besteding van tyd en inspanning om wêreldse rykdom te vergaar ’n verkwisting is en die neiging het om die geestelikheid en dikwels die gesondheid van ’n persoon te ruïneer. Jakobus meld redes waarom: “Want soos ’n blom van die gras sal hy verbygaan.” Hy weet dat sy rykdom hom nie langer sal laat lewe nie. “Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk.”—Jak. 1:10, 11.

17. Verduidelik Jakobus se beskrywing van wat met die ryk man en sy “sierlikheid” gebeur.

17 Die gras word deur die son verdor en die sierlikheid daarvan vergaan. Wanneer die ryk man oud word en sterf, is die glans van die rykdom wat hom omring en hom ’versier’ eweneens iets van die verlede. Die arm man sterf natuurlik ook, maar hy het nooit die sierlike, bloeiende voorkoms van die ryk man gehad nie. Maar hierdie “sierlikheid” van die ryk man word deur sy erfgename en ander oorgeneem en dikwels verdwyn die “ryk” wat hy opgebou het of word die doelwitte wat hy nagestreef het, verwerp. “In sy weë”, moontlik tydens ’n sakereis of terwyl hy besig is met ’n plan om meer rykdom te verkry, sterf hy. In talle gevalle sterf die ryk man voordat hy ’n geleentheid gehad het om sy rykdom te geniet. Die ryk man wat ’n Christen word, kan andersyds sy materiële rykdom geniet, want hy gebruik dit om die belange van God se koninkryk te bevorder. Hy kan gewoonlik reël om meer tyd aan die verkondiging van die “goeie nuus” te wy en kan bydra tot die instandhouding van vergaderplekke en tot die bevordering van die Koninkrykswerk soos dit wêreldwyd gedoen word.

DIE BELONING VAN VOLHARDING

18. Watter beloning beskryf Jakobus vir die een wat beproewing getrou verduur?

18 Hoewel Jakobus in verse 3 en 4 op die onmiddellike voordele van volharding wys, beklemtoon hy in vers 12 die finale uitslag of resultaat—die beloning wanneer beproewinge standvastig verduur is. Hy skryf: “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet” (Jak. 1:12). Die “kroon van die lewe” is die gawe van lewe wat God gee aan “die wat Hom liefhet” tydens die talle beproewinge wat God laat saamwerk om sy knegte te vervolmaak, mits hulle die beproewinge standvastig, gelate en, met sy hulp, seëvierend verduur (Rom. 8:28). Dit beteken nie dat hy die reg op lewe deur sy werke of volharding verdien nie, want lewe is die gawe deur geloof in Jesus Christus. Maar die Christen wat volhard, het bewys dat hy daardie geloof het. Die gehalte daarvan is beproef en sterk en volkome bevind.

19. Wat is dus die behoorlike Christelike beskouing van beproewinge?

19 Gevolglik KAN die Christen enige beproewinge waarmee hy te kampe het, verduur, selfs die ernstigstes. Hy moet nie tydens hierdie beproewinge op sy eie krag staatmaak nie. Hy moet God se wysheid en krag soek deur gebed in die naam van Jesus Christus, wat, toe hy op aarde was, die volmaakte voorbeeld van volharding gestel het. Die Christen kan sy volle vertroue plaas in die apostel Petrus se vertroostende versekering: “Mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ’n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!”—1 Pet. 5:10; Rom. 8:35-39.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel