‘Julle moet die swakkes help’
“OORLEWING van die geskikste”—die sterke lewe ten koste van die swakke. Gevoelloos en wreed? “Nee, in werklikheid goed en nuttig”, sê voorstanders van die ewolusieteorie, want hulle beweer dat dit verbetering meebring. Maar selfs talle van hierdie persone was diep geskok toe hulle gehoor het van die Derde Duitse Ryk se pogings om hierdie “wet” toe te pas ten opsigte van persone wat hulle as swak of onwenslik beskou het.
Is sulke afgryslike optrede nodig om ’n persoon daarvan te oortuig dat die swakkes vriendelik bejeën moet word en nie verdruk of vernietig moet word nie? Nie onder persone met ware agting vir die Bybel nie, want God se Woord staan nie net neutraal teenoor of duld nie net die swakkes nie. Dit het meegevoel vir hulle. Dit beveel dat hulle bygestaan, gehelp en ondersteun word (Hand. 20:35; 1 Thess. 5:14). Maar staan ander owerhede en agentskappe nie ook medelye teenoor die swakkes voor nie? Ja, maar die Bybel is uniek daarin dat dit volgehoue pogings om in die behoeftes van die swakkes te voorsien, kan uitlok.
Die Bybel se vermoë om persone te beweeg om die swakkes te help staan nou in verband met sy vermoë om ware liefde, nederigheid en geloof voort te bring. Volgehoue hulp aan die swakkes verg hierdie eienskappe, want anders as in die geval van sterkes, kan swakkes dikwels ’n ander nie beloon of terugbetaal vir sy hulp nie (Luk. 14:12-14). Daarbenewens oortuig die Bybel die leser dat hulp aan die swakkes God en Christus nie alleen behaag nie, maar nodig is om hulle guns te verkry. In ons onvolmaaktheid het ons almal swakhede waarvoor ons God en Christus se hulp nodig het (Hebr. 4:15, 16). Kan ons daarvan seker wees dat hulle ons met ons swakhede sal help indien ons ander nie met hulle s’n help nie?—Vergelyk Mattheüs 6:14, 15.
VERKEERDE BESKOUINGS VAN SWAKKES RY HULPVERLENING IN DIE WIELE
’n Groot hindernis om die swakkes te help, ontstaan wanneer die sterker persoon meer bewus raak van ’n ander se swakheid as van sy eie. Daarbenewens kan ’n ander se swakheid die gedagtes so oorheers dat die persoon negatief beskou word. Die gevolg is dat die swakke nie gehelp word nie en dat die sterk persoon dalk meen dat hy rede het om nie hulp te verleen nie. Die Skrif laat ’n persoon egter besef dat ’n groot aantal onwenslike omstandighede in die lewens van mense dikwels te wyte is aan swakheid, sodat hulle hulp eerder as afkeuring nodig het.
’n Voorbeeld is die aandag wat die Skrif aan die armes wy. ’n Mens kan die saak taamlik objektief beskou en dink dat mense gewoonlik arm is omdat hulle in gebreke bly om goeie oordeel aan die dag te lê en dus die onvermydelike gevolge maai. Die medelydende persoon sal egter die swakke beskou as iemand wat sy hulp nodig het, ten spyte van die feit dat ’n gebrek aan goeie oordeel of ’n ander swakheid daartoe bygedra het. God se wet aan Israel was spesifiek wat hierdie saak betref: “En as jou broer by jou verarm en agter raak, moet jy hom ondersteun . . . Ek is die HERE julle God wat julle uit Egipteland uitgelei het om julle die land Kanaän te gee, om julle God te wees.” “Jy [moet] jou hart nie verhard en jou hand nie toehou vir jou arm broer nie.”—Lev. 25:35-38; Deut. 15:7.
Israel sou nooit op hul eie uit Egipte kon ontsnap en Kanaän in besit kon neem nie. Hulle was te swak en het Jehovah se hulp nodig gehad. Hoe onvanpas was dit dan tog vir ’n Israeliet wat ’n hoeveelheid materiële dinge verkry het om nie sy arm broer te help nie en aldus te versuim om sy God na te volg! Dit sou verstandig van hom wees om God te vrees, wetende wat Jehovah se reaksie is op die weg wat hy teenoor die swakkes inslaan: Inhaligheid sou sonde aan sy kant wees. Maar indien ’n persoon vrygewig was, sou Jehovah al sy dade en ondernemings seën.—Deut. 15:8-11.
In die vroeë Christengemeente het die hulpbehoewendes nie net dié ingesluit wat stoflik arm was nie. Toe Paulus aan die gemeente in Thessalonika geskryf het, het hy gesê dat dit nie net die ouere manne nie, maar al die broers se verantwoordelikheid was om daadwerklik in ’n verskeidenheid behoeftes te voorsien: “Ons versoek julle, broeders, vermaan die onordelikes, bemoedig die kleinmoediges, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal” (1 Thess. 5:14). In ander briewe bespreek Paulus breedvoerig die toestand van diegene met ’n swak gewete. Hulle het ook aandag verdien (Romeine hoofstuk 14; 1 Korinthiërs hoofstuk 8). Ja, onder die vroeë Christene was daar persone met ’n groot verskeidenheid swakhede—maar almal moes met begrip behandel en bygestaan word.
Dit is moeilik vir ’n sterk persoon wanneer daar op hom neergesien word of indien hy vermy word. Hoeveel moeiliker dus vir ’n swak persoon om hierdie dinge te verduur! Hoewel mense nie oor die algemeen aan Dawid as ’n swak persoon dink nie, het hy juis so ’n moeilike tydperk beleef: “Wees my genadig, HERE, want ek is benoud; van verdriet het my oog mat geword, my siel en my liggaam. . . . my krag struikel deur my ongeregtigheid, en my gebeente teer uit. Vanweë al my teëstanders het ek ’n voorwerp van smaad geword, ja, grootliks vir my bure, en ’n voorwerp van skrik vir my bekendes; die wat my op straat sien, vlug weg van my af. Ek is vergeet uit die hart, soos ’n dooie; . . . maar ék vertrou op U, o HERE! Ek sê: U is my God. My tye is in u hand” (Ps. 31:10-16). In plaas daarvan om te sien hoedat sy broers hom te hulp snel, het hy gesien hoedat hulle hom vermy. Dit het vir Dawid gevoel asof slegs God hom bystaan.
Wat kan meebring dat ’n swak persoon so behandel word? Een rede is dalk dat ons toegelaat het dat ’n ander se negatiewe beskouing van iemand ons dunk van hom beïnvloed. Nog ’n rede kan wees dat iemand swakheid met goddeloosheid verwar. Die Fariseërs het skynbaar op albei hierdie maniere gefouteer. In antwoord op hulle murmurering teen Jesus omdat hy tyd deurgebring het saam met persone wat hulle nie alleen as swak nie maar ook as sondig beskou het, het hy gesê: “Die wat gesond is [die sterkes], het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.”—Matt. 9:12, 13; Mark. 2:17.
Selfs wanneer daar besluit word of ’n persoon uitgesit moet word, is ’n vraag wat beantwoord moet word die volgende: Is hierdie persoon werklik goddeloos of bloot swak? Indien dit ’n saak van swakheid is, kan die indiwidu dalk reageer op opregte, liefdevolle bystand wat geduldig verleen word. Tot watter mate is daar hulp aan die oortreder verleen? Kan meer krag en tyd daaraan gewy word om die hart van die indiwidu te bereik om hom aan te spoor om sy weg te verander?
Hoewel die belange van die indiwidu belangrik is, is die uitwerking van sy dade op die gemeente en die regverdige posisie daarvan voor God ook belangrik. Indien ouere manne versuim om goddeloosheid uit die gemeente te verwyder, sal skade aangerig word (1 Kor. 5:6-13). Dit is egter moontlik om oorhaastig, liefdeloos of met ’n gebrek aan oordeel op te tree. Indien ’n indiwidu wat weens swakheid en nie goddeloosheid nie gesondig het as gevolg hiervan skade berokken word, sal dit ook vir die gemeente skadelik wees en die regverdige posisie daarvan voor God nadelig raak.
Dit verg insig om reg op te tree teenoor diegene wat ’n misstap begaan het. Maar namate die Christen homself hierop toelê, verbeter sy waarnemingsvermoëns nie alleen om ware swakheid te identifiseer nie, maar ook om te onderskei watter hulp of optrede op daardie oomblik die nodigste is (Hebr. 5:14). Indien hy wel ’n fout begaan tydens sy pogings om die probleem op te los, mag dit dan nie wees omdat hy versuim het om vriendelikheid en barmhartigheid aan die dag te lê nie.—Ps. 25:6, 7; 51:3; Jak. 2:13; Jud. 22, 23.
Wat is dus ons reaksie wanneer jongmense of ander swak oordeel aan die dag lê (iets wat op talle gebiede kan gebeur)? Hoe goed is dit tog as ons ons daarvan weerhou om hulle dadelik te veroordeel en eerder nadink oor wat ons kan doen om hulle te help! Vind ons dat ons ons pogings verdubbel om iemand te help wat ’n ernstige fout in die gemeente begaan het? Hoeveel nuttiger is dit tog as om daardie persoon se fout ’n onderwerp van bespreking onder ander broers te maak. En hoe bedagsaam is dit tog om, wanneer ’n ander se swakheid tydens ’n gesprek geopper word, ’n poging aan te wend om die gesprek in ’n ander rigting te stuur, moontlik om te gesels oor hoe hulp of bystand aan die persoon verleen kan word. “Wie ’n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ’n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar”, sê die geïnspireerde spreuk.—Spr. 17:9; 11:13.
HOE KAN ONS DIE SWAKKES HELP?
As ’n mens die swakkes wil help, is dit belangrik dat jy hulpvaardig is en nie op hulle neersien nie. Vervolgens wil ons vasstel wat die onderliggende probleem is: Is dit eensaamheid, ’n gebrek aan begrip of baie min liefde by die huis? Is dit moontlik ekonomiese druk of persoonlike teleurstelling, swak gesondheid of ’n gevoel van nutteloosheid weens bejaardheid? Dit is maar net ’n paar van die probleme wat krag in die swakke kan laat kwyn. In elke geval bestaan daar ook ’n behoefte aan ’n dieper begrip van die Skrif en van God se liefde. Deeglike bepeinsing oor die persoon se lewensituasie tesame met ’n hartlike, opregte besoek kan help om vas te stel wat die onderliggende moeilikheid is.
Diegene wat werklik daarin belangstel om die swakkes te help, het die voorbeeld van die apostel Paulus om hulle te lei. Hy het gesê: “Wie is swak en ek is nie swak nie?” (2 Kor. 11:29). Paulus het met almal gesimpatiseer. Hy het ervaar wat ander ervaar het en is deur hulle benoudheid geraak. Tot watter mate? Te oordele na sy raad in Handelinge 20:35 het sy medelye gewis nie net by vriendelike woorde gebly nie: “Ek het julle in alles getoon dat ons deur so te arbei die swakkes moet help.” Sy optrede teenoor die swakkes was in die gees van die apostel Johannes se latere vermaning: “Laat ons nie liefhê met woorde of met die tong nie, maar met die daad en in waarheid.”—1 Joh. 3:18.
Hoewel dit hulp aan die swakkes sterk voorstaan, beskryf die Skrif nie in besonderhede wat ’n indiwidu vir hulle moet doen nie. Waarom nie? Dit is ongetwyfeld omdat sulke instruksies, ongeag hoe breedvoerig hulle ook al was, nooit alle omstandighede sou kon dek nie. Maar die Bybel laat geen twyfel daaromtrent dat ons opregte, simpatieke medelye vir die swakkes moet verkry nie. Ons moet optree om in hulle behoeftes te voorsien. Hoewel hierdie raad eenvoudig en algemeen is, bring dit spesifieke resultate onder Christene met die regte harttoestand mee.
ELKE INDIWIDU WAT AAN DIE GEMEENTE VERBONDE IS, IS KOSBAAR
Almal in die gemeente sal gehelp word om hulle verantwoordelikheid na te kom om die swakkes te help indien hulle die waarde van elke lid van die gemeente besef. Maar van watter nut is ’n lid as hy swak is en gehelp moet word? Is hy nie eerder ’n las vir die gemeente nie? Paulus het die saak nie so beskou nie: “Maar veel eerder is dié lede van die liggaam noodsaaklik wat die swakste lyk; . . . God het die liggaam saamgestel en aan die misdeelde lid oorvloediger eer gegee, sodat daar geen verdeeldheid in die liggaam mag wees nie, maar dat die lede gelyke sorg vir mekaar mag dra” (1 Kor. 12:22-25). Die gemeente wat elke indiwidu sowel as sy deelname aan Christelike bedrywighede binne die raamwerk van sy beperkings op prys stel, is ’n hartlike, gelukkige gemeente, vol lewe en krag.
Wie kan sê wat die gevolg sal wees van pogings om die swakkes te help? “Saai jou saad in die môre, en laat teen die aand jou hand nie rus nie; want jy weet nooit watter een sal geluk nie, hierdie of daardie, en of altwee saam goed sal wees nie” (Pred. 11:6). Ons kan veral van God se hulp verseker wees wanneer ons ander geestelik bystaan. Hoeveel wat vandag voortreflike knegte van Jehovah is, het blywende geestelike hulp ontvang toe hulle swak was!
’n Swak persoon kan nie gou sterk word nie. Net soos herstel van liggaamlike swakheid stadig kan wees, kan dit lank duur om geestelik sterk te word. Maar betoon ons geduld met die swakkes? Het ons hulle net so lief as wat ons hulle sou gehad het indien hulle sterk was? Watter seëninge geniet almal tog wanneer hierdie liefde betoon word! Die swakker broer het die seën dat daar na hom omgesien word en dat hy tydens sy moeilikhede onderskraag word. Die sterker een verkry die groter seën wat slegs mededeelsaamheid kan bring. Die gemeente as geheel ervaar ’n immertoenemende hartlikheid namate elke lid op die ander staatmaak en in hulle belangstel. God en Christus word verheerlik aangesien hulle eie weergalose hulp aan die swakkes deur hulle aardse knegte weerspieël word.