Waarom die Christelike aanbidding voortrefliker is
Glanspunte uit die brief aan die Hebreërs
JEHOVAH GOD het voortrefliker aspekte van aanbidding in werking gestel toe hy sy Seun, Jesus Christus, aarde toe gestuur het. Dit is omdat Jesus, die Stigter van die Christelike geloof, hoër is as die engele en die profeet Moses. Christus se priesterskap is baie voortrefliker vergeleke met dié van die Leviete in eertydse Israel. En Jesus se offerande is verreweg voortrefliker as die diere wat onder die Mosaïese Wet geoffer is.
Hierdie punte word verduidelik in die brief aan die Hebreërs. Die brief is klaarblyklik deur die apostel Paulus omstreeks 61 G.J. in Rome geskryf en aan die Hebreeuse gelowiges in Judea gestuur. Van die vroeë tye af het die Griekse en Asiatiese Christene geglo dat Paulus die skrywer was, en dié mening word gesteun deur die deeglike vertroudheid van die skrywer met die Hebreeuse Geskrifte, asook deur die logiese wyse waarop hy sy argument ontplooi het, wat kenmerkend van die apostel is. Hy het moontlik nie sy naam verstrek nie vanweë die Joodse vooroordeel teen hom en omdat hy bekend gestaan het as “’n apostel van die nasies” (Romeine 11:13, NW). Laat ons nou die voortreflike aspekte van die Christelike geloof van naderby beskou, soos dit in Paulus se brief aan die Hebreërs uitgebring word.
Christus hoër as die engele en Moses
Eerstens word daar op die hoër posisie van God se Seun gewys (1:1–3:6). Die engele bring hulde aan hom, en God steun sy koninklike gesag. Daarom moet ons meer as die gewone aandag skenk aan wat die Seun gesê het. Ons moet ook onthou dat die Seun, hoewel hy as die mens Jesus ’n weinig minder as die engele gemaak is, nou bo hulle verhoog is en die heerskappy oor die toekomstige bewoonde aarde ontvang het.
Jesus Christus is ook Moses se meerdere. Hoe so? Wel, Moses was net ’n dienaar in die Israelitiese huis van God. Jehovah het Jesus egter aangestel oor God se hele huis, of die gemeente van God se volk.
Christene gaan God se rus binne
Die apostel wys vervolgens daarop dat dit moontlik is om in God se rus in te gaan (3:7–4:13). Die Israeliete wat uit Egiptiese slawerny bevry is, het nie in God se rus ingegaan nie omdat hulle ongehoorsaam en ongelowig was. Maar ons kan in daardie rus ingaan as ons geloof in God beoefen en Christus gehoorsaam volg. Dan sal ons, in plaas daarvan om net ’n weeklikse Sabbatdag te hou, elke dag die voortrefliker seën geniet om van alle selfsugtige werke te rus.
Om in God se rus in te gaan, is een van die beloftes van sy woord, wat ‘skerper is as enige tweesnydende swaard, en wat deurdring tot die skeiding van die siel en die gees’. Sy woord doen dit deurdat dit deurdring om tussen gesindhede en motiewe te onderskei, om tussen vleeslike begeertes en ’n geestelike gesindheid te onderskei. (Vergelyk Romeine 7:25, 26.) Indien ons “siel”, of lewe as mens, gepaard gaan met ’n godvrugtige “gees”, of gesindheid, sal ons in God se rus ingaan.
Voortreflike priesterskap en verbond
Dan toon Paulus die voortreflikheid van Christus se priesterskap en van die nuwe verbond (4:14–10:31). Jesus Christus wat sonder sonde is, het medelye met die sondige mensdom omdat hy, soos ons, in alle opsigte op die proef gestel is. Daarbenewens het God hom aangestel as ’n “priester vir ewig volgens die orde van Melgisedek”. Jesus besit, in teenstelling met die Levitiese hoëpriesters, ’n onvernietigbare lewe en het dus geen opvolgers nodig in sy reddingswerk nie. Dit is nie vir hom nodig om diereoffers te bring nie, want hy het sy veel voortrefliker sondelose liggaam geoffer en die hemel binnegegaan met die waarde van sy bloed.
Die nuwe verbond, wat deur Jesus se bloed bekragtig is, is voortrefliker as die Wetsverbond. Diegene in die nuwe verbond het God se wette in hulle hart en ontvang vergifnis van sondes (Jeremia 31:31-34). Dankbaarheid hiervoor beweeg hulle om hulle hoop in die openbaar te bely en saam met medegelowiges te vergader. In teenstelling met hulle het moedswillige sondaars geen offerande vir sondes meer oor nie.
Geloof is noodsaaklik!
Om die voordele van die voortreflike nuwe verbond te geniet, moet ons geloof hê (10:32–12:29). Ons moet ook volharding aan die dag lê indien ons die vervulling van Jehovah se beloftes wil verkry. Ons het ’n “groot wolk” van voor-Christelike Getuies om ons heen as ’n aanmoediging om te volhard. Maar ons moet veral ons oë oplettend gerig hou op Jesus se onberispelike gedrag onder lyding. Enige lyding wat God toelaat om oor ons te kom, kan in ’n sin beskou word as tugtiging wat die vredevolle vrug van geregtigheid kan lewer. Die betroubaarheid van Jehovah se beloftes moet ’n groter begeerte by ons wek om heilige diens aan hom te lewer “met godvrugtige vrees en ontsag”.—NW.
Paulus sluit af met vermaninge (13:1-25). Geloof moet ons beweeg om broederlike liefde aan die dag te lê, gasvry te wees, die lyding van medegelowiges in gedagte te hou, die huwelik eerbaar te hou en ‘tevrede te wees met wat ons het’. Ons moet die geloof navolg van diegene wat die leiding in die gemeente neem en moet aan hulle gehoorsaam wees. Verder moet ons afvalligheid vermy, die smaad dra wat Jesus gedra het, “gedurig . . . aan God ’n lofoffer bring” en altyd die goeie doen. Sulke gedrag is ook van die voortrefliker aspekte van die ware Christelike geloof.
[Venster/Prent op bladsy 24]
Verskeidenheid van doop: Aspekte van aanbidding by Israel se tabernakel het te doen gehad “net met voedsel en drank en ’n verskeidenheid van doop” (Hebreërs 9:9, 10, vgl. NW). Hierdie dopery was ritualistiese wassinge wat deur die Mosaïese Wet voorgeskryf is. Voorwerpe wat verontreinig is, is gewas, en seremoniële reiniging het ingesluit dat ’n persoon sy klere moes was en self moes bad (Levitikus 11:32; 14:8, 9; 15:5). Priesters het gebad, en alles wat met brandoffers te doen gehad het, is met water gewas (Exodus 29:4; 30:17-21; Levitikus 1:13; 2 Kronieke 4:6). Maar die “verskeidenheid van doop” het nie die ritualistiese “wassery van bekers en kanne en kopergoed” ingesluit wat sekere Jode beoefen het teen die tyd dat die Messias verskyn het nie; ook verwys Hebreërs 9:10 nie na die waterdoop wat Johannes die Doper gedoen het of na die doop van diegene wat as Christene hulle toewyding aan God simboliseer nie.—Mattheüs 28:19, 20; Markus 7:4; Lukas 3:3.