Jehovah—die God met voornemens
“Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand.”—JESAJA 14:24.
1, 2. Wat sê baie mense oor die doel van die lewe?
MENSE op alle plekke vra: “Wat is die doel van die lewe?” ’n Westerse politieke leier het gesê: “Meer mense as ooit tevore vra: ‘Wie is ons? Wat is ons doel?’” Toe ’n koerant in ’n meningspeiling onder jongmense gevra het wat die doel van die lewe is, was die volgende tipiese antwoorde: “Om te doen net wat jou hart begeer.” “Om die beste van elke oomblik te maak.” “Om hoog te lewe.” “Om kinders te hê, gelukkig te wees en dan te sterf.” Die meeste het gemeen dat hierdie lewe al is wat daar is. Niemand het van ’n langtermyndoel van lewe op aarde gepraat nie.
2 ’n Confuciaanse geleerde het gesê: “Die ware sin van die lewe lê in ons alledaagse, menslike bestaan.” Hiervolgens sal mense voortdurend gebore word, vir 70 of 80 jaar sukkel, dan sterf en nooit weer lewe nie. ’n Evolusionêre wetenskaplike het gesê: “Ons smag dalk na ’n ‘meer verhewe’ antwoord—maar daar bestaan nie een nie.” Vir hierdie evolusioniste is die lewe ’n stryd om voortbestaan waarvan die dood die einde is. Volgens sulke filosofieë is die lewe sinloos.
3, 4. Hoe beïnvloed wêreldtoestande die wyse waarop baie mense die lewe beskou?
3 Baie mense twyfel of die lewe ’n doel het wanneer hulle sien dat die mens se bestaan met soveel ellende gepaardgaan. In ons tyd, waar die mens kamma ’n hoogtepunt in industriële en wetenskaplike prestasies bereik het, is ongeveer ’n miljard mense dwarsdeur die wêreld ernstig siek of ondervoed. Hierdie dinge veroorsaak jaarliks die dood van miljoene kinders. Gedurende hierdie 20ste eeu het daar ook vier keer soveel mense weens oorloë gesterf as gedurende die vorige vierhonderd jaar saam. Misdaad, geweld, dwelmmisbruik, gesinsverbrokkeling, vigs en ander seksueel oordraagbare siektes—die lys negatiewe faktore word al hoe langer. Wêreldleiers het nie oplossings vir hierdie probleme nie.
4 In die lig van sulke toestande het iemand die mening van baie uitgespreek toe sy gesê het: “Die lewe het nie ’n doel nie. As al hierdie slegte dinge gebeur, beteken die lewe nie veel nie.” En ’n bejaarde man het gesê: “Ek vra al feitlik my hele lewe lank waarom ek hier is. As daar ’n doel is, kan dit my nie meer skeel nie.” Omdat menigtes dus nie weet waarom God lyding toelaat nie, veroorsaak onrusbarende wêreldtoestande dat hulle geen ware hoop op die toekoms het nie.
5. Waarom dra hierdie wêreld se godsdienste by tot die verwarring oor die doel van die lewe?
5 Selfs godsdiensleiers is verdeeld, en onseker, oor die doel van die lewe. ’n Gewese deken van die St. Paulus-katedraal in Londen het gesê: “Ek het my hele lewe lank gesukkel om uit te vind wat die doel van die lewe is. . . . Ek het in my pogings gefaal.” Talle geestelikes leer weliswaar dat wanneer mense sterf die goeies hemel toe gaan en die slegtes vir ewig na ’n brandende hel toe gaan. Maar volgens hierdie opvatting sal die mens se lyding op die aarde nooit ophou nie. En as dit God se voorneme was dat mense in die hemel moes woon, waarom het hy hulle nie sommer van die begin af, soos die engele, geesskepsele gemaak en die mens daardeur soveel lyding gespaar nie? Verwarring oor die doel van die lewe op die aarde of weiering om te glo dat die lewe wel ’n doel het, is dus iets algemeens.
Die God met voornemens
6, 7. Wat sê die Bybel vir ons oor die Universele Soewerein?
6 Tog sê die boek met die grootste verspreiding in die geskiedenis, die Heilige Bybel, vir ons dat Jehovah, die Soewerein van die heelal, ’n God met ’n doel, oftewel voornemens, is. Dit toon dat hy ’n langtermynvoorneme, trouens, ’n ewige voorneme vir die mens op aarde het. En wanneer Jehovah hom iets voorgeneem het, sal dit beslis gebeur. Net soos die reën saad laat uitspruit, sê God, “so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur” (Jesaja 55:10, 11). Ongeag wat Jehovah sê hy sal doen, ‘dit kom tot stand’.—Jesaja 14:24.
7 Ons as mense kan die volle vertroue hê dat die Almagtige sy beloftes sal hou, want God ‘kan nie lieg nie’ (Titus 1:2; Hebreërs 6:18). Wanneer hy vir ons sê dat hy iets sal doen, is sy woord ’n waarborg dat dit sal gebeur. Dit is so te sê gedoen. Hy sê: “Ek [is] God . . . en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal ek doen; . . . soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen.”—Jesaja 46:9-11.
8. Kan diegene wat opreg begeer om God te leer ken hom vind?
8 Jehovah wil ook nie “hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9). Daarom wil hy nie hê dat enigiemand onkundig omtrent hom moet wees nie. ’n Profeet genaamd Asarja het gesê: “As julle [God] soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat” (2 Kronieke 15:1, 2). Daarom kan diegene wat opreg begeer om God en sy voornemens te leer ken dit beslis doen as hulle die poging aanwend om hom te soek.
9, 10. (a) Wat is voorsien vir diegene wat God wil ken? (b) Wat stel ’n ondersoek van God se Woord ons in staat om te doen?
9 Waar soek ’n mens? Vir diegene wat waarlik na God soek, het hy sy Woord, die Bybel, voorsien. Deur middel van sy heilige gees, dieselfde werkende krag wat hy gebruik het om die heelal te skep, het God getroue manne gerig om neer te skryf wat ons aangaande sy voornemens moet weet. Die apostel Petrus het byvoorbeeld oor Bybelprofesieë gesê: “Geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:21). Die apostel Paulus het eweneens gesê: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome [“bekwaam”, NW] kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”—2 Timotheüs 3:16, 17; 1 Thessalonicense 2:13.
10 Let op dat God se Woord ons in staat stel om nie net gedeeltelik of onvolledig nie, maar ‘volkome bekwaam, volkome toegerus’, te wees. Dit stel ’n mens in staat om seker te wees oor wie God is, wat sy voornemens is en wat hy van sy knegte verwag. Dit is wat ’n mens sou verwag van ’n boek wat deur God geskryf is. En dit is die enigste bron wat ons kan ondersoek om juiste kennis van God te kry (Spreuke 2:1-5; Johannes 17:3). As ons dit doen, sal ons “nie meer kinders . . . wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring” (Efesiërs 4:13, 14). Die psalmis het getoon wat die regte beskouing is: “U [God se] woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad.”—Psalm 119:105.
Progressief geopenbaar
11. Hoe het Jehovah sy voornemens aan die mens geopenbaar?
11 Reg van die mensegesin se begin af het Jehovah sy voornemens ten opsigte van hierdie aarde en die mense daarop geopenbaar (Genesis 1:26-30). Maar toe ons eerste ouers God se soewereiniteit verwerp het, het die mensdom in geestelike duisternis en die dood verval (Romeine 5:12). Jehovah het nogtans geweet dat daar mense sou wees wat hom sou wou dien. Daarom het hy deur die eeue heen sy voornemens progressief aan sy getroue knegte geopenbaar. Sommige met wie hy gekommunikeer het, was Henog (Genesis 5:24; Judas 14, 15), Noag (Genesis 6:9, 13), Abraham (Genesis 12:1-3) en Moses (Exodus 31:18; 34:27, 28). God se profeet Amos het geskryf: “Die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”—Amos 3:7; Daniël 2:27, 28.
12. Hoe het Jesus meer lig op God se voornemens gewerp?
12 Toe God se Seun, Jesus Christus, sowat 4 000 jaar ná die opstand in Eden op die aarde was, is baie meer besonderhede oor Jehovah se voornemens geopenbaar. Dit was veral die geval met betrekking tot God se voorneme om ’n hemelse Koninkryksheerskappy oor die aarde op te rig (Daniël 2:44). Jesus het daardie Koninkryk die tema van sy onderrigtingswerk gemaak (Mattheüs 4:17; 6:10). Hy en sy dissipels het geleer dat God se oorspronklike voorneme vir die aarde en vir die mens onder die Koninkryk uitgevoer sal word. Die aarde sal in ’n paradys omskep word wat bewoon sal word deur volmaakte mense wat vir ewig sal lewe (Psalm 37:29; Mattheüs 5:5; Lukas 23:43, NW; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:4). Daarbenewens het Jesus en sy dissipels deur die wonderwerke wat God hulle in staat gestel het om te verrig, gedemonstreer wat in daardie nuwe wêreld gaan gebeur.—Mattheüs 10:1, 8; 15:30, 31; Johannes 11:25-44.
13. Watter verandering het op Pinkster 33 G.J. ten opsigte van God se handelinge met die mensdom plaasgevind?
13 Op Pinkster 33 G.J., 50 dae ná Jesus se opstanding, is God se gees op die gemeente van Christus se volgelinge uitgestort. Hulle het die ontroue Israel as Jehovah se verbondsvolk vervang (Mattheüs 21:43; 27:51; Handelinge 2:1-4). Die uitstorting van die heilige gees by daardie geleentheid het bewys dat God van toe af die waarhede oor sy voornemens deur hierdie nuwe instrument sou openbaar (Efesiërs 3:10). Gedurende die eerste eeu G.J. is die organisatoriese raamwerk van die Christengemeente tot stand gebring.—1 Korinthiërs 12:27-31; Efesiërs 4:11, 12.
14. Hoe kan waarheidsoekers die ware Christengemeente uitken?
14 Vandag kan waarheidsoekers die ware Christengemeente uitken aan die konsekwente wyse waarop hulle God se belangrikste eienskap, liefde, openbaar (1 Johannes 4:8, 16). Broederliefde is inderdaad ’n vername kenmerk van die ware Christelike godsdiens. Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” “Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het” (Johannes 13:35; 15:12). En Jesus het sy luisteraars herinner: “Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel” (Johannes 15:14). God se ware knegte is dus diegene wat die wet van liefde naleef. Hulle praat nie net daaroor nie, want ‘die geloof sonder die werke is dood’.—Jakobus 2:26.
Verligting
15. Waarvan kan God se knegte seker wees?
15 Jesus het voorspel dat die ware Christengemeente met die verloop van tyd al hoe meer oor God se voornemens ingelig sou word. Hy het sy volgelinge belowe: “Die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer” (Johannes 14:26). Jesus het ook gesê: “Kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Mattheüs 28:20). Verligting ten opsigte van die waarheid oor God en sy voornemens neem dus toe onder God se knegte. Ja, “die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe”.—Spreuke 4:18.
16. Wat sê ons geestelike verligting vir ons oor waar ons ons met betrekking tot God se voornemens bevind?
16 Vandag is daardie geestelike lig helderder as ooit tevore, want ons bevind ons in die tyd waar baie Bybelprofesieë vervul word of spoedig vervul gaan word. Dit toon dat ons in “die laaste dae” van hierdie bose stelsel van dinge lewe. Dit is die tydperk wat “die voleinding van die stelsel van dinge” genoem word; God se nuwe wêreld sal hierop volg (2 Timotheüs 3:1-5, 13; Mattheüs 24:3-13, vgl. NW). Soos Daniël voorspel het, sal God se hemelse Koninkryk binnekort “al daardie koninkryke [wat tans bestaan] verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan”.—Daniël 2:44.
17, 18. Watter groot profesieë word nou vervul?
17 Een van die profesieë wat nou vervul word, is die een wat in vers 14 van Mattheüs hoofstuk 24 opgeteken is. Daar het Jesus gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Hierdie Koninkrykspredikingswerk word nou wêreldwyd deur miljoene Getuies van Jehovah gedoen. En honderdduisende mense sluit jaarliks by hulle aan. Dit is in ooreenstemming met die profesie in Jesaja 2:2, 3, wat sê dat mense uit baie nasies “aan die einde van die dae” van hierdie bose wêreld na Jehovah se ware aanbidding sal kom en ‘hy hulle sy weë sal leer en hulle in sy paaie sal wandel’.
18 Hierdie nuwelinge stroom net “soos ’n wolk” na Jehovah se aanbidding, soos voorspel is in Jesaja hoofstuk 60, vers 8. Vers 22 voeg by: “Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom.” Die bewyse toon dat dit nóú daardie tyd is. En nuwelinge kan die vertroue hê dat hulle, deur hulle assosiasie met Jehovah se Getuies, met die ware Christengemeente in aanraking gekom het.
19. Waarom sê ons dat nuwelinge wat met Jehovah se Getuies assosieer na die ware Christengemeente toe kom?
19 Waarom kan ons dit met sekerheid sê? Omdat hierdie nuwelinge, asook die miljoene wat reeds in Jehovah se organisasie is, hulle lewe aan God toegewy het en sy wil doen. Dit beteken ook dat hulle in ooreenstemming met die wet van goddelike liefde moet lewe. As een bewys hiervan het hierdie Christene ‘van hul swaarde pikke gesmee en van hul spiese snoeimesse; en hulle leer nie meer om oorlog te voer nie’ (Jesaja 2:4). Jehovah se Getuies dwarsdeur die wêreld het dit gedoen omdat hulle liefde openbaar. Dit beteken dat hulle nooit die oorlogswapens teen mekaar of teen enigiemand anders mag opneem nie. In hierdie opsig is hulle uniek—anders as die wêreld se godsdienste (Johannes 13:34, 35; 1 Johannes 3:10-12, 15). Hulle raak nie betrokke by verdelende nasionalisme nie, want hulle maak ’n wêreldwye broederskap uit wat deur liefde, “’n volmaakte band van eenheid”, saamgebind word.—Kolossense 3:14, NW; Mattheüs 23:8; 1 Johannes 4:20, 21.
Die meeste wil nie weet nie
20, 21. Waarom is die meeste mense in geestelike duisternis? (2 Korinthiërs 4:4; 1 Johannes 5:19).
20 Terwyl die geestelike lig onder God se knegte helderder word, verval die res van die wêreldbevolking in al hoe groter geestelike duisternis. Hulle ken nie Jehovah of sy voornemens nie. God se profeet het hierdie tyd beskryf toe hy gesê het: “Kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke” (Jesaja 60:2). Dit is so omdat mense nie opreg daarin belangstel om van God te leer nie, en hulle het ook nie ’n begeerte om hom te behaag nie. Jesus het gesê: “En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie.”—Johannes 3:19, 20.
21 Sulke mense stel nie werklik daarin belang om uit te vind wat God se wil is nie. Die spil waarom hulle lewe draai, is die doen van hulle eie wil. Deur God se wil te ignoreer, plaas hulle hulleself in ’n gevaarlike posisie, want sy Woord sê: “Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ’n gruwel” (Spreuke 28:9). Hulle sal die gevolge van hulle gekose weg dra. Die apostel Paulus het geskryf: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.
22. Wat doen menigtes wat God wil ken nou?
22 Maar daar is menigtes wat wel wil weet wat God se wil is, wat opreg na hom soek en wat na hom toe aangetrek word. “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader”, sê Jakobus 4:8. Van sulke mense het Jesus gesê: “Hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is” (Johannes 3:21). En wat ’n wonderlike toekoms het God tog nie in gedagte vir diegene wat na die lig kom nie! Ons volgende artikel sal die opwindende vooruitsigte bespreek.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat sê baie mense oor die doel van die lewe?
◻ Hoe openbaar Jehovah hom as ’n God met voornemens?
◻ Watter groot verligting het in die eerste eeu G.J. plaasgevind?
◻ Hoe kan die ware Christengemeente vandag uitgeken word?