Die waardige rol van vroue onder God se vroeë knegte
“Jehovah God het voorts gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie. Ek gaan vir hom ’n hulp maak, as ’n komplement van hom.’”—GENESIS 2:18, NW.
1. Hoe beskryf ’n Bybelnaslaanwerk die lot van vroue in die ou tyd?
“NÊRENS in eertydse lande om die Middellandse See of in die Nabye Ooste is vroue die vryheid gegun wat hulle in die moderne Westerse samelewing geniet nie. Dit was ’n algemene patroon dat vroue aan mans ondergeskik was, net soos slawe aan vrygeborenes en jonk aan oud ondergeskik was. . . . Seuns is baie hoër geag as dogters, en babadogtertjies is soms gelos om weens blootstelling te sterf.” Dit is hoe ’n Bybelnaslaanwerk die lot van vroue in die ou tyd beskryf.
2, 3. (a) Wat is vandag, volgens een verslag, die situasie van baie vroue? (b) Watter vrae word geopper?
2 Vandag is die situasie in baie wêrelddele nie veel beter nie. In 1994 het die Amerikaanse Ministerie van Buitelandse Sake se jaarverslag oor menseregte vir die eerste keer die aandag op die behandeling van vroue gevestig. “Gegewens oor 193 lande toon dat daaglikse diskriminasie ’n lewensfeit is”, het ’n opskrif in die New York Times aangaande die verslag gesê.
3 Aangesien ’n groot aantal vroue met uiteenlopende kulturele agtergronde wêreldwyd met die gemeentes van Jehovah se volk assosieer, ontstaan daar sekere vrae: Is die behandeling wat so pas beskryf is die soort behandeling wat God oorspronklik vir vroue in gedagte gehad het? Hoe is vroue onder die aanbidders van Jehovah in Bybeltye behandel? En hoe moet vroue vandag behandel word?
“’n Hulp” en “’n komplement”
4. Wat het Jehovah gesê nadat die eerste man ’n tyd lank alleen in die tuin van Eden was, en wat het God toe gedoen?
4 Nadat Adam ’n tyd lank alleen in die tuin van Eden was, het Jehovah gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie. Ek gaan vir hom ’n hulp maak, as ’n komplement van hom” (Genesis 2:18, NW). Al was Adam ’n volmaakte man, was iets anders nodig om die Skepper se voorneme uit te voer. Om in daardie behoefte te voorsien, het Jehovah die vrou geskep en die eerste huwelik voltrek.—Genesis 2:21-24.
5. (a) Hoe gebruik Bybelskrywers dikwels die Hebreeuse selfstandige naamwoord wat met “hulp” vertaal word? (b) Waarvan is die feit dat Jehovah na die eerste vrou as “’n komplement” verwys ’n aanduiding?
5 Is die woorde “hulp” en “komplement” ’n aanduiding dat die vrou se godgegewe rol vernederend was? Inteendeel. Bybelskrywers pas dikwels die Hebreeuse selfstandige naamwoord (ʽeʹzer) wat met “hulp” vertaal word op God toe. Jehovah is byvoorbeeld “ons hulp en ons skild” (Psalm 33:20; Exodus 18:4; Deuteronomium 33:7). In Hosea 13:9 verwys Jehovah selfs na homself as Israel se “helper”. Aangaande die Hebreeuse woord (neʹghedh) wat met “komplement” vertaal word, verduidelik een Bybelgeleerde: “Die hulp waarna daar gesoek word, is nie net bystand in sy daaglikse werk of in die voortbrenging van kinders nie . . . maar die wedersydse onderskraging wat deur kameraadskap voorsien word.”
6. Wat is ná die skepping van die vrou gesê, en waarom?
6 Daar is dus niks vernederends aan die feit dat Jehovah die vrou as “’n hulp” en “’n komplement” beskryf nie. Die vrou het haar eie unieke geestes-, emosionele en fisiese samestelling gehad. Sy was ’n geskikte metgesel, ’n bevredigende komplement vir die man. Hulle het verskil, tog was albei nodig om ‘die aarde te vul’ in ooreenstemming met die Skepper se voorneme. Dit was klaarblyklik ná die skepping van die man sowel as die vrou dat ‘God alles gesien het wat Hy gemaak het, en—dit was baie goed’.—Genesis 1:28, 31.
7, 8. (a) Hoe sou die rol van die vrou geraak word nadat sonde in Eden ingebring is? (b) Watter vrae word geopper aangaande die vervulling van Genesis 3:16 onder aanbidders van Jehovah?
7 Nadat sonde in die wêreld gekom het, het dinge vir die man en die vrou verander. Jehovah het oor hulle altwee as sondaars ’n vonnis uitgespreek. “Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap”, het Jehovah vir Eva gesê, asof hy die gebeurlikheid wat hy toelaat, veroorsaak. Hy het bygevoeg: “Met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers” (Genesis 3:16). Sedertdien word baie vrouens deur hulle mans oorheers, dikwels op hardvogtige wyse. In plaas daarvan dat hulle as hulpe en komplemente waardeer word, word hulle baie maal meer soos bediendes of slawe behandel.
8 Maar wat het die vervulling van Genesis 3:16 vir vroulike aanbidders van Jehovah beteken? Is hulle tot ’n posisie van minderwaardigheid en vernedering verlaag? Alles behalwe! Maar wat van Bybelverslae wat gebruike en gewoontes rakende vroue meld wat in sekere hedendaagse gemeenskappe dalk onaanvaarbaar lyk?
’n Begrip van gebruike in die Bybel
9. Watter drie dinge moet ons in gedagte hou wanneer ons gebruike in verband met vroue in Bybeltye beskou?
9 In Bybeltye is vroue onder God se knegte goed behandel. Dit is natuurlik nuttig om ’n paar dinge in gedagte te hou wanneer ons gebruike in verband met vroue in daardie tye beskou. Eerstens, wanneer die Bybel van onaangename situasies praat wat ontstaan het weens selfsugtige oorheersing deur goddelose mans, beteken dit nie dat God sulke behandeling van vroue goedgekeur het nie. Tweedens, hoewel Jehovah sekere gebruike onder sy knegte ’n tyd lank verdra het, het hy dit gereguleer ten einde vroue te beskerm. Derdens, ons moet versigtig wees om nie eertydse gebruike volgens hedendaagse standaarde te oordeel nie. Sekere gebruike wat vir mense wat vandag lewe dalk onaangenaam lyk, is destyds nie noodwendig deur vroue as vernederend beskou nie. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.
10. Hoe het Jehovah die gebruik van poligamie beskou, en wat toon dat hy nooit sy oorspronklike standaard van monogamie laat vaar het nie?
10 Poligamie:a Volgens Jehovah se oorspronklike voorneme sou ’n vrou nie haar man met ’n ander vrou gedeel het nie. God het vir Adam slegs een vrou geskep (Genesis 2:21, 22). Ná die opstand in Eden het poligamie vir die eerste keer in die geslagslyn van Kain voorgekom. Uiteindelik het dit ’n gebruik geword en is dit deur sommige aanbidders van Jehovah aangeneem (Genesis 4:19; 16:1-3; 29:21-28). Hoewel Jehovah poligamie toegelaat het en dit Israel se bevolking laat toeneem het, het hy vroue in ag geneem deur die gebruik te reguleer sodat vroue en hulle kinders beskerm sou wees (Exodus 21:10, 11; Deuteronomium 21:15-17). Bowendien het Jehovah nooit sy oorspronklike standaard van monogamie laat vaar nie. Noag en sy seuns, aan wie die bevel herhaal is om ‘vrugbaar te wees en die aarde te vul’ was almal monogaam (Genesis 7:7; 9:1; 2 Petrus 2:5). God het homself as ’n monogame man beskryf toe hy sy verhouding met Israel gesimboliseer het (Jesaja 54:1, 5). Daarbenewens is God se oorspronklike standaard van monogamie deur Jesus Christus herstel en is dit in die vroeë Christengemeente beoefen.—Matteus 19:4-8; 1 Timoteus 3:2, 12.
11. Waarom is ’n bruidsprys in Bybeltye betaal, en het dit vroue verneder?
11 Die betaling van ’n bruidsprys: Die boek Ancient Israel—Its Life and Institutions sê: “Hierdie verpligting om ’n som geld, of die ekwivalent daarvan, aan die meisie se familie te betaal, gee natuurlik aan die Israelitiese huwelik die uiterlike voorkoms van ’n transaksie. Die [bruidsprys] is blykbaar nie soseer die prys wat vir die vrou betaal is nie, maar eerder ’n vergoeding wat vir die familie gegee is.” (Ons kursiveer.) Die betaling van ’n bruidsprys het dus die vrou se familie vergoed vir die verlies van haar dienste en vir die inspanning en uitgawes wat dit van haar familie geverg het om vir haar te sorg. Dit het die vrou dus nie verneder nie, maar eerder haar waarde vir haar familie bevestig.—Genesis 34:11, 12; Exodus 22:16; sien Die Wagtoring van 15 Januarie 1989, bladsye 21-4.
12. (a) Hoe is daar soms na getroude mans en vrouens in die Skrif verwys, en was hierdie terme vir vroue aanstootlik? (b) Wat is opmerkenswaardig omtrent die terme wat Jehovah in Eden gebruik het? (Sien voetnoot.)
12 Mans as “eienaars”: ’n Voorval in die lewe van Abraham en Sara in ongeveer 1918 v.G.J. toon dat dit teen hulle tyd klaarblyklik gebruiklik geword het om ’n getroude man as die “eienaar” (Hebreeus, baʹʽal) en ’n getroude vrou as die ‘een wat aan ’n eienaar behoort’ (Hebreeus, beʽu·laʹ) te beskou (Genesis 20:3, NW). Hierdie uitdrukkings word daarna soms in die Skrif gebruik, en daar is geen aanduiding dat voor-Christelike vroue dit aanstootlik gevind het nie (Deuteronomium 22:22, NW).b Vroue moes egter nie soos ’n besitting behandel word nie. Besittings of rykdom kon gekoop, verkoop en selfs geërf word, maar dit was nie die geval met ’n vrou nie. “Huis en goed is ’n erfenis van die vaders”, sê ’n Bybelspreuk, “maar ’n verstandige vrou is van die HERE.”—Spreuke 19:14; Deuteronomium 21:14.
’n Waardige rol
13. Wat was die gevolg vir vroue wanneer godvresende mans Jehovah se voorbeeld gevolg en sy Wet gehoorsaam het?
13 Wat wás dan die rol van vroue onder God se knegte in voor-Christelike tye? Hoe is hulle beskou en behandel? Kortom; wanneer godvresende mans Jehovah se voorbeeld gevolg en sy Wet gehoorsaam het, het vroue hulle waardigheid behou en baie regte en voorregte geniet.
14, 15. Watter aanduidings is daar dat vroue in Israel gerespekteer is, en waarom kon Jehovah tereg verwag dat sy manlike aanbidders hulle moet respekteer?
14 Vroue moes gerespekteer word. God se Wet aan Israel het beveel dat vaders sowel as moeders gerespekteer moes word (Exodus 20:12; 21:15, 17). “Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees”, sê Levitikus 19:3. Toe Batseba haar seun Salomo by een geleentheid genader het, “het die koning opgestaan om haar te ontmoet en voor haar gebuig” as ’n blyk van respek (1 Konings 2:19). Die Encyclopaedia Judaica sê: “Die profetiese vergelykings van die liefde van God vir Israel met die liefde van ’n man vir sy vrou kon net gemaak word in ’n gemeenskap waarin vroue gerespekteer is.”
15 Jehovah verwag dat sy manlike aanbidders vroue moet respekteer, want hý respekteer hulle. Aanduidings hiervan word gevind in tekste waarin Jehovah die ondervindinge van vroue by wyse van illustrasie gebruik en sy eie gevoelens met dié van vroue vergelyk (Jesaja 42:14; 49:15; 66:13). Dit help lesers om te verstaan hoe Jehovah voel. Dit is interessant dat die Hebreeuse woord vir ‘ontferming’, of “medelye”, wat Jehovah op homself toepas, ’n noue verband met die woord vir “baarmoeder” het en as “moederlike gevoel” beskryf kan word.—Exodus 33:19; Jesaja 54:7.
16. Watter voorbeelde toon dat die raad van godvrugtige vroue op prys gestel is?
16 Die raad van godvrugtige vroue is op prys gestel. Toe die godvresende Abraham by een geleentheid gehuiwer het om ag te slaan op sy godvrugtige vrou, Sara, se raad, het Jehovah vir hom gesê: “Luister na Sara” (Genesis 21:10-12). Esau se Hetitiese vrouens “was vir Isak en Rebekka ’n bitter verdriet”. Rebekka het later gesê hoe dit haar sou ontstel as hulle seun Jakob met ’n Hetiet sou trou. Wat was Isak se reaksie? “Toe”, sê die verslag, “het Isak Jakob geroep en hom geseën; en hy het hom bevel gegee met die woorde: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie.” Ja, hoewel Rebekka nie spesifieke raad gegee het nie, het haar man ’n besluit geneem wat haar gevoelens in ag geneem het (Genesis 26:34, 35; 27:46; 28:1). Koning Dawid het later bloedskuld vermy omdat hy na die pleidooi van Abigail geluister het.—1 Samuel 25:32-35.
17. Wat toon dat vroue ’n sekere mate van gesag in die gesin gehad het?
17 Vroue het ’n sekere mate van gesag in die gesin gehad. Kinders is aangespoor: “My seun, luister na die tug van jou vader, en verwerp die onderwysing van jou moeder nie” (Spreuke 1:8). Die beskrywing van die “deugsame vrou” in Spreuke hoofstuk 31 toon dat ’n vlytige getroude vrou nie alleen ’n huishouding waargeneem het nie, maar ook eiendomstransaksies kon aangaan, ’n vrugbare akker kon aanplant, ’n klein besigheid kon bestuur en vir haar woorde van wysheid bekend was. Van die grootste belang was die prysenswaardige vrou se eerbiedige vrees vir Jehovah. Geen wonder dat die waarde van so ’n vrou “ver bo korale” was nie! Kosbare rooi koraal was baie gesog as juwele en versiering.—Spreuke 31:10-31.
Vroue wat God se spesiale guns verkry het
18. Op watter maniere is spesiale guns aan sekere vroue in Bybeltye bewys?
18 Jehovah se agting vir vroue is weerspieël in die spesiale guns wat hy in Bybeltye aan sommige van hulle bewys het. Hagar, Sara en die vrou van Manoag is deur engele besoek wat Goddelike riglyne aan hulle oorgedra het (Genesis 16:7-12; 18:9-15; Rigters 13:2-5). Daar was “diensdoende vroue” by die tabernakel en sangeresse aan Salomo se hof.—Exodus 38:8; 1 Samuel 2:22; Prediker 2:8.
19. Hoe het Jehovah vroue soms gebruik om hom te verteenwoordig?
19 Jehovah het verskeie kere in Israel se geskiedenis ’n vrou gebruik om hom te verteenwoordig of namens hom te spreek. Ons lees aangaande die profetes Debora: “Die kinders van Israel het na haar opgegaan vir regspraak” (Rigters 4:5). Ná afloop van Israel se oorwinning oor die Kanaänitiese koning Jabin het Debora ’n waarlik spesiale voorreg gehad. Sy was klaarblyklik die komponis, ten minste ten dele, van die oorwinningslied wat uiteindelik deel van Jehovah se geïnspireerde verslag geword het (Rigters, hoofstuk 5)c. Eeue later het koning Josia ’n afvaardiging wat die hoëpriester ingesluit het na die profetes Hulda gestuur om Jehovah te raadpleeg. Hulda kon met gesag antwoord: “So spreek die HERE, die God van Israel” (2 Konings 22:11-15). By daardie geleentheid het die koning die afvaardiging beveel om na ’n profetes toe te gaan, maar dit is gedoen om leiding van Jehovah te ontvang.—Vergelyk Maleagi 2:7.
20. Watter voorbeelde toon Jehovah se besorgdheid oor die gevoelens en welsyn van vroue?
20 Jehovah se besorgdheid oor die welsyn van vroue blyk uit die gevalle waarin hy ten behoewe van sommige van sy vroulike aanbidders opgetree het. Twee keer het hy tussenbeide getree om te keer dat Abraham se pragtige vrou, Sara, onteer word (Genesis 12:14-20; 20:1-7). God het aan Jakob se mindergeliefde vrou, Lea, guns bewys deur ‘haar skoot te open’ sodat sy ’n seun gebaar het (Genesis 29:31, 32). Toe twee godvresende Israelitiese vroedvroue hulle lewe gewaag het om Hebreeuse seuntjies van kindermoord in Egipte te red, het Jehovah uit waardering “huisgesinne aan hulle geskenk” (Exodus 1:17, 20, 21). Hy het ook Hanna se vurige gebed verhoor (1 Samuel 1:10, 20). En toe die weduwee van ’n profeet deur ’n skuldeiser gekonfronteer is wat bereid was om haar kinders te neem om haar skuld te delg, het Jehovah haar nie in die steek gelaat nie. God het op liefdevolle wyse die profeet Elisa in staat gestel om haar olievoorraad te vermeerder sodat sy die skuld kon betaal. Sodoende het sy haar gesin en haar waardigheid behou.—Exodus 22:22, 23; 2 Konings 4:1-7.
21. Watter gebalanseerde beskrywing gee die Hebreeuse Geskrifte van die lot van vroue?
21 Die Hebreeuse Geskrifte moedig dus alles behalwe ’n kleinerende beskouing van vroue aan, maar bied ’n gebalanseerde beskrywing van hulle lot onder God se knegte. Hoewel Jehovah nie sy vroulike aanbidders teen die vervulling van Genesis 3:16 beskerm het nie, het godvrugtige manne wat Jehovah se voorbeeld gevolg en op sy Wet ag gegee het vroue met waardigheid en respek behandel.
22. Hoe het die rol van vroue verander teen die tyd dat Jesus op die aarde was, en watter vrae word gevra?
22 In die eeue ná die voltooiing van die Hebreeuse Geskrifte het die rol van vroue onder die Jode verander. Teen die tyd dat Jesus op die aarde verskyn het, het rabbynse tradisies vroue grootliks beperk in hulle godsdiensvoorregte en hulle sosiale lewe. Het sulke tradisies die manier beïnvloed waarop Jesus met vroue gehandel het? Hoe moet Christenvroue vandag behandel word? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Volgens die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal verwys “poligamie” na die “huwelik van een man met verskeie vroue tegelyk of omgekeerd”. Die meer spesifieke term “poliginie” word gedefinieer as die “huwelik van ’n man met meer as een vrou tegelykertyd”.
b Dwarsdeur die Hebreeuse Geskrifte word daar baie meer na getroude mans en vrouens verwys as “man” (Hebreeus, ʼisj) en “vrou” (Hebreeus, ʼisj·sjaʹ). In Eden was die terme wat Jehovah byvoorbeeld gebruik het nie “eienaar” en die ‘een wat aan ’n eienaar behoort’ nie, maar “man” en “vrou” (Genesis 2:24; 3:16, 17). Hosea se profesie het voorspel dat Israel, ná hulle terugkeer uit ballingskap, Jehovah op berouvolle wyse “My man” en nie meer “My eienaar” sou noem nie. Dit gee moontlik te kenne dat die term “man” ’n teerder konnotasie as “eienaar” gehad het.—Hosea 2:16, NW.
c Die gebruik van die eerste persoon met verwysing na Debora in Rigters 5:7 is opmerkenswaardig.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Wat toon die woorde “hulp” en “komplement” aangaande die godgegewe rol van vroue?
◻ Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons gebruike in verband met vroue in Bybeltye beskou?
◻ Wat toon dat vroue in vroeë tye ’n waardige rol onder God se knegte gehad het?
◻ Op watter maniere het Jehovah in voor-Christelike tye spesiale guns aan vroue bewys?