’n Vrou se eerbare rol
“WAAROM moet ’n vrou meer soos ’n man wees?” Hierdie ietwat dubbelsinnige vraag was die titel van ’n artikel deur sielkundige Carol Gilligan waarin sy gesê het: “Die vrou se plek in die man se lewenskringloop is dié van versorger, oppasser en hulp, die wewer van daardie netwerke van verhoudinge waarop sy weer staatmaak. Maar terwyl vroue so vir mans sorg, is dit ewe waar dat mans . . . geneig is om daardie versorging gering te ag.”—Psychology Today.
Dit is ’n hedendaagse feit dat talle vroue geregverdig voel om te kla oor sekere ongelykhede en diskriminasie teen hulle geslag. En dit is waar dat selfsugtige mans vroue in alle wêrelddele uitgebuit het—in party lande en beskawings meer as in ander. Party redeneer dat dit die gevolg is van maatskaplike stelsels wat ’n ondergeskikte rol aan vroue toeskryf. Ander sê dat die Bybel ten minste gedeeltelik te blameer is en beweer dat die Bybel in die Hebreeuse sowel as die Griekse Skrifte (wat oor die algemeen die Ou en die Nuwe Testament genoem word) teen vroue diskrimineer. Is dit waar?
God se voorneme met vroue
Die Bybel sê: “En God het die mens geskape na sy beeld; . . . man en vrou het Hy hulle geskape.” Wat was die doel met hierdie geslagsverskil? Die antwoord is duidelik. Dit sou die eerste egpaar in staat stel om die goddelike bevel uit te voer wat in die volgende vers uiteengesit word: “God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor . . . al die diere wat op die aarde kruip.”—Genesis 1:27, 28.
Let op dat hierdie bevel aan “hulle” gegee is, aan die man sowel as die vrou. Albei sou nie alleen ’n aandeel daarin hê om die aarde met ander mense te vul nie, maar ook om in ooreenstemming met God se wil die aarde te onderwerp en oor die laer wesens te heers. Hiervoor sou albei intellektuele sowel as geestelike eienskappe nodig hê, en hulle het dieselfde potensiaal gehad om dit te ontwikkel.
God het egter vir die man en die vrou verskillende rolle en verantwoordelikhede gegee. Gedurende die tyd dat Adam die dierespesies bestudeer en vir hulle name gegee het, het hy as ’n volmaakte, volkome man opgetree. Vir daardie toegewese taak het hy niks kortgekom nie (Genesis 2:19, 20). Maar toe die tyd aanbreek vir die man om die aarde met nakomelinge te begin vul, het hy uiteraard ’n vrou nodig gehad. Daarom het “[Jehovah] God gesê: Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n hulp maak wat by hom pas.”—Genesis 2:18.
Die Bybel sê dat God haar gemaak het as ‘’n hulp wat by hom pas’. Die Hebreeuse woord wat met “pas” vertaal word, kan ook as “komplement” weergegee word, wat al gedefinieer is as “iets wat volmaak by iets anders pas”. God se voorneme met die vrou was dat sy ’n geskikte komplement van die man moes wees in die vervulling van hulle gesamentlike opdrag, naamlik om ‘die aarde te vul en dit te onderwerp’.
God se oorspronklike reëling word verdraai
Die Bybel sê: “Adam is eerste gemaak, daarna Eva” (1 Timotheüs 2:13). Dit beskryf die vrou as “die swakker geslag”, en sê dat, net soos die man ’n hoof (Christus) het, “die man die hoof van die vrou” is.—1 Petrus 3:7, NAV; 1 Korinthiërs 11:3.
Volgens Jehovah se oorspronklike reëling was monogamie die standaard vir die huwelik (Genesis 2:24). Die man is eerste geskape en moes die leiding gee in alle sake rakende aanbidding en godvrugtige bedrywighede wat bedoel was om die aarde te vul en dit te onderwerp. Dit sou gesinsake insluit. Die vader moes die hoof van die huis wees, maar dit sou nie tot nadeel van die vrou wees nie. Dit sou haar eerder tot voordeel strek, want sy sou iemand hê om haar te ondersteun wanneer sy haar Godgegewe gesag oor haar kinders uitoefen.—Efesiërs 6:1-4.
Die sonde en onvolmaaktheid het, soos op ander gebiede van mensestrewes hierdie behoorlike verhouding tussen man en vrou bederf (Romeine 7:14-20). Selfsugtige mans het hulle regmatige hoofskap misbruik, en dit het deur die eeue heen vir vroue groot lyding veroorsaak. Jehovah het hierdie besondere gevolg van die sonde voorsien en ná haar opstand vir Eva gesê: “Na jou man sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers” (Genesis 3:16). Hierdie verdraaide oorheersing sou nie die behoorlike uitoefening van hoofskap wees nie. Dit sou die man sowel as die vrou se sondige toestand weerspieël, want dit sou soms die gevolg wees van haar pogings om haar haar man se gesag toe te eien.
Vroue onder die Wet van Moses
Die Wet wat Jehovah vir Israel gegee het, het die regte van maagde beskerm (Exodus 22:16). Dit het “die reg van die dogters” beskerm (Exodus 21:9). Mans moes hulle vrouens ‘liefhê’ en nie “ontrou” teenoor hulle wees nie (Deuteronomium 13:6; Maleagi 2:14, 15). Vrouens se waardigheid moes in seksuele sake eerbiedig word (Levitikus 18:19). Vroue moes nie seksueel misbruik word nie.—Levitikus 18:8-17.
Phyllis Bird, ’n doktor in die godgeleerdheid, het in die boek Religion and Sexism geskryf: “Israel se wette verskil op uiters merkbare wyse van ander bekende wetskodes wat hulle buitengewone strengheid op die gebied van geslagsoortreding betref . . . Israel se beskouing van die behoorlike plek van geslagsomgang en die streng strawwe wat geslagsoortreders opgelê is, weerspieël vermoedelik ’n opsetlike teenstelling met die gebruike van die omliggende nasies (spesifiek die Kanaäniete) . . . Geslagsoortredings is godsdiensoortredings in Israel. Hulle is nie privaat sake nie, maar sake van lewensbelang vir die hele gemeenskap.” Sulke streng wette het gewis die regte van vroue beskerm.
In Israel het die Wet mans en vroue gelyk geag wanneer hulle aan owerspel, bloedskande, bestialiteit of ander misdade skuldig bevind is (Levitikus 18:6, 23; 20:10-12)Wette rakende Sabbatsvoordele, feeste, Nasireërbeloftes, en ander bepalings was ewe veel van toepassing op mans en vroue.—Exodus 20:, Numeri 6:2, Deuteronomium 12:18; 16:11-14.
In die boek Spreuke prys die Bybel die “goeie vrou”, die “deugsame vrou”, die “verstandige vrou”, en die “waarlik wyse vrou” (Spreuke 18:22, NW; 12:4; 19:14; 14:1, NW). Spreuke hoofstuk 31 beskryf so “’n deugsame vrou” en toon hoeveel vertroue haar man in haar gehad het en hoeveel voorregte hy haar in die hantering van belangrike huishoudelike sake gegee het. Dit ly geen twyfel nie, wanneer die Wet in Israel gevolg is, is vroue nie sleg behandel nie.
Vroue in die Christengemeente
Onder die aartsvaderlike en Mosaïese Wet is veelwywery en buite-egtelike saamlewery toegelaat; maar dit is gereguleer, en die regte van vroue sowel as byvroue is beskerm (Genesis 16:3; 29:23-29; Exodus 21:7, 8; Deuteronomium 21:14-17). Christus het egter God se oorspronklike standaard vir die huwelik, naamlik een man vir een vrou, herstel (Mattheüs 19:4-6). Hy het ook egskeiding op sommer enige grond afgeskaf en slegs een geldige rede—hoerery—toegelaat.-Mattheüs 19:7-9.
Christus se strenger toepassing van die huweliksreëling het natuurlik mans sowel as vroue in die Christengemeente tot voordeel gestrek. Maar dit is duidelik dat vroue die meeste daarby baat gevind het.
Volgens die Christenstandaarde moes vrouens bemin en gekoester word (Efesiërs 5:28, 29, 33). Manlike lede van die gemeente moes jonger vroue “soos susters in alle reinheid” behandel (1 Timotheüs 5:1, 2). Christinne het die heilige gees ontvang en ‘geprofeteer’ of moedig oor “die groot dade van God” gespreek (Handelinge 2:11-18). Ouer Christinne moes “leraresse van wat goed is” vir hulle jonger geestelike susters wees (Titus 2:3, 4). Almal, jonk en oud, moes ’n daadwerklike aandeel hê in die opdrag om ‘dissipels van mense van al die nasies te maak’—Mattheüs 28:19)
God se oorspronklike reëling vir die huwelik is in die Christengemeente herstel. Die beginsel van manlike hoofskap moes hier eerbiedig word (1 Korinthiërs 11:3). Christinne moes aan hulle mans onderdanig wees (Efesiërs 5:22-24). Hulle moes ook respek toon aan die aangestelde ouderlinge in die gemeente, wat almal mans was, hetsy hulle ongetroud of die “die man van een vrou was” (1 Timotheüs 3:2). Christinne moes die openbare onderrig in die gemeente aan sulke aangestelde “ouderlinge” oorlaat en hulle daarvan weerhou om sulke leraars in die openbaar te weerspreek (Titus 1:5-9; 1 Timotheüs 2:11-15; 1 Korinthiërs 14:34, 35). Dit sou vrede in die gemeentes stig (1 Korinthiërs 14:33, 40). Enige ongepaste vroulike invloed in ’n gemeente sou Christus se oordeel meebring—Openbaring 2:20-23.
Jehovah se besorgdheid oor vroue
Is die Bybel hardvogtig teenoor vroue? Nee. Dit openbaar van voor tot agter Jehovah se diepe besorgdheid oor die geluk en welsyn van hierdie “swakker geslag”, waarvan hy die Skepper is. Daar word eer aan hulle bewys (1 Peter 3:7, NAV). Hy weet die beste watter rol vir albei die geslagte die geskikste is, tot hulle wedersydse voordeel. Hy het die hoofskap aan die man gegee, maar talle kosbare voorregte aan sy vroulike knegte, onder meer die groot eer om sy getuies te wees. “Die HERE het die woord laat hoor—die vroue wat die goeie tyding gebring het, was ’n groot skare.”—Psalm 68:12.
Sielkundige Carol Gilligan stel die vraag: “Waarom moet ’n vrou meer soos ’n man wees?” Die Bybel antwoord: Daar is nie ’n goeie rede nie. Sy self sal gelukkiger wees en sal ander gelukkiger maak as sy haar godgegewe rol vervul.