Die vrou se rol in die Skrif
“Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.”—GENESIS 2:23, NAV.
1, 2. (a) Hoe dink party mense word vroue in die Bybel beskou? (b) Watter vergelyking moet billikheidshalwe getref word, en wat sê een naslaanwerk?
HOE word vroue in die Heilige Skrif beskou? Daar is verskillende menings hieroor. Een van die jongste boeke oor die onderwerp sê: “’n Huidige vooropgesette mening is dat die Bybel vroue verkleineer het.” Party mense beweer dat die Bybel vroue in sy Hebreeuse en sy Griekse gedeeltes ongevoelig behandel. Is dit waar?
2 Billikheidshalwe is dit gepas dat ons eers kyk hoe vroue in Bybelse tye onder nasies behandel is wat Jehovah nie aanbid het nie. In party eertydse beskawings wat moedergodinne aanbid het, is vroue as simbole van vrugbaarheid vereer. In Babilonië en Egipte het mense blykbaar hoë agting vir vroue gehad. Maar op ander plekke het hulle nie so goed gevaar nie. In eertydse Assirië kon ’n man na willekeur van sy vrou ontslae raak en haar selfs doodmaak as sy ontrou aan hom was. Buite die huis moes sy ’n sluier dra. In Griekeland en Rome het net ryk vroue, waarvan baie courtisane, oftewel eersterangse prostitute, was, vry toegang tot opleiding gehad en ’n sekere mate van vryheid geniet. Dit is derhalwe verkwikkend om in The New International Dictionary of New Testament Theologya te lees: “In teenstelling met die res van die oosterse (godsdienstige) wêreld is sy [die vrou in die Hebreeuse Geskrifte] as persoon en as ’n man se metgesel erken.” Dit word goed uiteengesit in die laaste boek van die Hebreeuse Geskrifte, waar Jehovah se profeet ’n man se vrou as sy “metgesel” beskryf en byvoeg: “Wees nie ontrou aan die vrou van jou jeug nie.”—Maleagi 2:14, 15.
Geskep as die man se komplement
3 en voetnoot. (a) Watter werktoewysings het Jehovah aan Adam gegee nadat hy hom geskep het? (b) Hoewel Adam toe nog nie ’n vrou gehad het nie, wat was waar aangaande hom voordat Eva geskep is, en wat was ook waar aangaande “die laaste Adam”, Jesus?
3 Volgens die Bybel het Jehovah Adam “uit die stof van die aarde” geskep en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk. God het die diere van die veld en die voëls na Adam gebring sodat hy hulle kon bestudeer en aan hulle name kon gee. Die hele tyd wat Adam dit gedoen het, was hy alleen. Hy was volmaak, volkome en het niks kortgekom om die toewysings uit te voer wat hy tot in daardie stadium van Jehovah ontvang het nie.b Hy het “geen hulp as ’n komplement” gehad nie.—Genesis 2:7, 15, 19, 20, NW.
4, 5. (a) Wat het Jehovah gedoen toe dit nie meer vir Adam goed was om alleen te wees nie? (b) Watter langtermyntoewysing het Jehovah aan Adam en Eva gegee, en wat sou dit van hulle albei vereis?
4 Maar nadat ’n tydjie verstryk het, het Jehovah gesê dat dit “nie goed [is] dat die mens alleen is nie”, en hy het Adam ’n metgesel gegee wat saam met hom die werk sou verrig wat voorgelê het. Hy het ’n diep slaap op Adam laat val, een van sy ribbebene uitgehaal en dit tot ’n vrou gebou, ‘been van Adam se gebeente en vlees van sy vlees’. Adam sou nou “’n hulp”, “’n komplement” of ’n metgesel hê. “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.”—Genesis 1:25, 28; 2:18, NW, 21-23.
5 Let op dat hierdie toewysing aan “hulle”, die man sowel as die vrou, gegee is. Hulle samewerking sou nie net wees om die aarde te vul nie. Dit sou ook insluit dat hulle die aarde sou onderwerp en behoorlike heerskappy oor al die laer skepsele sou voer. Dit sou intellektuele en geestelike eienskappe verg, en die man sowel as die vrou het die nodige vermoë gehad om dit in ooreenstemming met God se wil te ontwikkel.
Die vrou se logiese rol
6. (a) Wat toon die Bybel oor die relatiewe liggaamlike krag van die man en van die vrou? (b) Hoe kan vroue wyslik redeneer sodat hulle Jehovah se reëling kan aanvaar?
6 Die onderwerping van die aarde sou natuurlik ook liggaamlike krag vereis. In sy oneindige wysheid het Jehovah Adam eerste geskep, daarna Eva. Sy is “uit die man”, “ter wille van die man”, geskep en blykbaar met minder liggaamlike krag as die man. (1 Timotheüs 2:13; 1 Korinthiërs 11:8, 9; vergelyk 1 Petrus 3:7.) Dit is ’n lewensfeit wat baie feministe, en ook party ander vroue, blykbaar moeilik vind om te aanvaar. Hulle sal beslis gelukkiger wees as hulle probeer verstaan waarom Jehovah dinge op dié manier gereël het en sal sodoende hulle godgegewe rol aanvaar. Persone wat oor God se reëling kla, kan vergelyk word met ’n nagtegaal wat nukkerig op sy nes bly sit omdat hy nie so sterk soos ’n seemeeu is nie, pleks dat hy na ’n hoë tak vlieg en sing uit dankbaarheid vir die unieke gawes wat God hom gegee het.
7. Waarom was Adam in ’n goeie posisie om hoofskap uit te oefen oor Eva en oor enige kinders wat gebore sou word, maar het dit tot Eva se nadeel gestrek?
7 Voor Eva geskep is, het Adam ongetwyfeld heelwat lewensondervinding opgedoen. Gedurende hierdie tyd het Jehovah hom sekere opdragte gegee. Adam moes dit aan sy vrou oordra en sodoende as God se woordvoerder optree. Dit is logies dat hy die leiding moes neem in alle sake wat betrekking gehad het op hulle aanbidding en godvrugtige pligte wat hulle moes uitvoer met die doel om hulle toewysing te vervul. Wanneer daar kinders gebore sou word, sou hy die gesinshoof wees. Maar dit sou nie tot sy vrou se nadeel gestrek het nie. Dit sou eerder tot haar voordeel wees omdat sy iemand sou hê om haar te ondersteun wanneer sy haar eie godgegewe gesag oor haar kinders uitoefen.
8. Watter goddelike reëling word in die Bybel uiteengesit?
8 Volgens die goddelike reëling moes Adam aan Jehovah verantwoording doen, was Eva onder die hoofskap van Adam, sou enige kinders onder die leiding van hulle ouers gewees het en was die diere onderworpe aan die mens. Die man en die vrou het hulle eie rol gehad, en elkeen kon ’n gelukkige en produktiewe lewe lei. Sodoende ‘kon alles welvoeglik en ordelik toegaan’.—1 Korinthiërs 11:3; 14:33, 40.
Die sonde het die vrou se rol verdraai
9, 10. Wat was die gevolge van die sondeval vir die man en die vrou, en wat het dit vir baie vroue tot gevolg gehad?
9 Hierdie ordelike reëling is natuurlik geskend toe sonde en onvolmaaktheid die oorspronklike Paradys binnegedring het (Romeine 7:14-20). Dit het moeilike tye vir die opstandige man en sy ongehoorsame vrou meegebring (Genesis 3:16-19). Sedertdien het talle selfsugtige mans hulle regmatige hoofskap misbruik en deur die eeue heen baie lyding vir vroue veroorsaak.
10 Omdat Jehovah hierdie besondere gevolg van die sonde vooruitgesien het, het hy vir Eva gesê: “Na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers” (Genesis 3:16). Hierdie ruwe oorheersing was nie die behoorlike beoefening van hoofskap nie. Dit het die man se sondige toestand en die vrou se onvolmaaktheid weerspieël, want soms het vrouens gely omdat hulle probeer het om hul man se gesag oor te neem.
11. Wat is waar van baie vroue, en wat het een skrywer oor vroue in aartsvaderlike tye geskryf?
11 Maar baie vrouens het tevredenheid en geluk gevind in die mate waarin hulle Bybelbeginsels onderhou het. Dit was selfs die geval in die aartsvaderlike tye. Waar skryfster Laure Aynard in haar boek La Bible au Féminin (Die Bybel in die vroulike geslag) oor daardie tydperk praat, skryf sy: “Wat in al hierdie verslae besonder opvallend is, is die belangrike rol wat vroue gespeel het, hulle aansien in die oë van die aartsvaders, hulle vrymoedige ondernemingsgees en die klimaat van vryheid waarin hulle gelewe het.”
Vroue onder die Wet van Moses
12, 13. (a) Wat was die status van vroue onder die Wet van Moses? (b) Hoe het vroue geestelik gevaar onder die Wet?
12 Volgens Jehovah se wette wat deur Moses gegee is, moes vrouens ‘bemin’ word (Deuteronomium 13:6, NW). Die waardigheid van vrouens moes in geslagsake gerespekteer word, en geen vrou moes seksueel misbruik word nie (Levitikus 18:8-19). Mans en vroue was gelyk voor die Wet as hulle skuldig bevind is aan owerspel, bloedskande of bestialiteit (Levitikus 18:6, 23; 20:10-12). Die vyfde gebod het vereis dat die vader en die moeder gelyke eer betoon moes word.—Exodus 20:12.
13 Bowenal het die Wet vroue die volle geleentheid gebied om hulle geestelikheid te ontwikkel. Hulle het baat gevind by die voorlesing van die Wet (Josua 8:35; Nehemia 8:3, 4). Daar is van hulle verwag om godsdienstige feeste te hou (Deuteronomium 12:12, 18; 16:11, 14). Hulle het aan die weeklikse Sabbat deelgeneem en hulle kon die gelofte van die Nasireërs aflê (Exodus 20:8; Numeri 6:2). Hulle het ’n persoonlike verhouding met Jehovah gehad en het persoonlik tot hom gebid.—1 Samuel 1:10.
14. Wat sê ’n Katolieke Bybelgeleerde oor Hebreeuse vroue, en wat kan oor die vrou se rol onder die Wet gesê word?
14 Katolieke Bybelgeleerde Roland de Vaux lewer kommentaar oor Hebreeuse vroue en skryf: “Al die harde werk by die huis was beslis haar verantwoordelikheid; sy het die kuddes opgepas, in die lande gewerk, die kos gekook, die spinwerk gedoen, ensovoorts. Al hierdie oënskynlike sleurwerk het haar status geensins verlaag nie maar het die agting vir haar laat styg. . . . En daardie paar gedeeltes wat ons ’n kykie in die intimiteit van die gesinslewe gee, toon dat ’n Israelitiese vrou se man haar liefgehad en na haar geluister het en dat hy haar as ’n gelyke behandel het. . . . En dit was ongetwyfeld die reël. Dit was ’n getroue weerspieëling van die lering wat in Genesis bewaar is, waar daar gesê word dat God die vrou as helper-maat vir die man geskep het, aan wie hy sou kleef (Ge 2:18, 24); en die laaste hoofstuk van Spreuke verkondig die lof van ’n goeie huisvrou, wat deur haar kinders geseën word en op wie haar man trots is (Spr 31:10-31)” (Ancient Israel—Its Life and Institutions). Wanneer die Wet in Israel nagekom is, is vroue ongetwyfeld nie sleg behandel nie.
Voortreflike vroue
15. (a) Hoe lig Sara se gedrag toe wat ’n behoorlike verhouding tussen ’n man en sy vrou is? (b) Waarom is Ragab se geval noemenswaardig?
15 Die Hebreeuse Geskrifte bevat baie voorbeelde van vroue wat voortreflike knegte van Jehovah God was. Sara is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n godvresende vrou tegelykertyd aan haar man onderdanig kan wees en hom kan help om besluite te neem (Genesis 21:9-13; 1 Petrus 3:5, 6). Ragab se geval is ook noemenswaardig. Dit toon dat die aantyging vals is dat Jehovah rassevooroordeel betoon en ongevoelig teenoor vroue is. Ragab was ’n nie-Israelitiese prostituut. Jehovah het haar nie net as ’n aanbidder aanvaar nie maar het haar regverdig verklaar as gevolg van haar groot geloof wat deur werke gerugsteun is, asook weens haar veranderde lewenstyl. Hy het haar boonop beloon met die merkwaardige voorreg om ’n voorouer van die Messias te word.—Mattheüs 1:1, 5; Hebreërs 11:31; Jakobus 2:25.
16. Wat lig die voorbeeld van Abigail toe, en waarom is haar handelwyse geregverdig?
16 Die geval van Abigail lig toe dat Jehovah nie vereis dat ’n vrou blindelings aan haar man onderdanig moet wees nie. Haar eggenoot was ’n ryk man, met groot troppe skape en bokke. Maar hy was “hardvogtig en sleg in sy dade”. Abigail het geweier om haar man se slegte weg te volg. Deur onderskeidingsvermoë, begrip, nederigheid en skerpsinnigheid aan die dag te lê het sy ’n situasie afgewend wat vir haar huishouding rampspoedig kon gewees het, en sy is ryklik deur Jehovah geseën.—1 Samuel 25:2-42.
17. (a) Watter merkwaardige voorreg het party vroue in Israel gehad? (b) Watter les bevat die voorbeeld van Mirjam vir Christinne wat dalk sekere diensvoorregte ontvang?
17 ’n Paar vroue was selfs profetesse. Dit was die geval met Debora in die tyd van die Rigters (Rigters, hoofstukke 4 en 5). Hulda was kort voor die vernietiging van Jerusalem ’n profetes in Juda (2 Konings 22:14-20). Mirjam se geval is ook noemenswaardig. Hoewel daar van haar gepraat word as ’n profetes wat deur Jehovah gestuur is, het hierdie voorreg haar op een tydstip verwaand laat word. Sy het nie die gesag erken wat Jehovah aan haar jonger broer Moses gegee het om Israel te lei nie, en sy is daarvoor gestraf, hoewel sy blykbaar berou gehad het en in Jehovah se guns herstel is.—Exodus 15:20, 21; Numeri 12:1-15; Miga 6:4.
Vroue onder Judaïsme
18, 19. Wat was die status van vroue onder Judaïsme, en hoe het dit gebeur?
18 Soos ons gesien het, het die Wet van Moses vroueregte beskerm en as dit onderhou is, het dit vroue toegelaat om ’n bevredigende lewe te lei. Maar mettertyd, veral ná die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J., het die godsdiens van Judaïsme ontwikkel, wat meer op mondelinge tradisie as op die geskrewe Wet van Jehovah gebaseer was. Van die vierde eeu v.G.J. af het Judaïsme baie uit die Griekse filosofie oorgeneem. Die Griekse filosowe het oor die algemeen min aandag aan vroueregte geskenk, en daarom het daar ’n soortgelyke verlaging van die status van vroue in Judaïsme plaasgevind. Van die derde eeu v.G.J. af is daar begin om vroue en mans in die Joodse sinagoge van mekaar te skei en is vroue afgeraai om die Tora (Wet van Moses) te lees. Die Encyclopaedia Judaica erken: “Gevolglik was min vroue geleerd.” Opleiding was hoofsaaklik vir seuns.
19 J. Jeremias skryf in sy boek Jerusalem in the Time of Jesus: “Oor die algemeen word die posisie van vroue in godsdienswetgewing die beste uitgedruk in hierdie formule wat voortdurend herhaal word: ‘Vroue, (nie-Joodse) slawe en kinders.’ . . . Ons kan daarby byvoeg dat daar baie minagtende menings oor vroue uitgespreek is. . . . Daarom is ons van mening dat Judaïsme in Jesus se tyd ook ’n baie lae dunk van vroue gehad het.”
Getroue vroue wat op die Messias gewag het
20, 21. (a) Wie was, ten spyte van die Joodse godsdiensleiers se minagtende gesindheid teenoor vroue, onder diegene wat wakker was toe die tyd vir die Messias nadergekom het? (b) Wat toon dat Elisabet en Maria diep godvrugtige toegewydheid geopenbaar het?
20 Hierdie minagtende gesindheid teenoor vroue was nog ’n manier waarop die Joodse rabbi’s ‘die woord van God deur hulle oorlewering kragteloos gemaak het’ (Markus 7:13). Maar ten spyte van hierdie minagting was party godvresende vroue wakker toe die tyd vir die Messias se koms nadergekom het. Een van hulle was Elisabet, vrou van die Levitiese priester Sagaria. Sy en haar man was “regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel” (Lukas 1:5, 6). Elisabet is deur Jehovah begunstig deurdat sy, hoewel sy onvrugbaar en op ver gevorderde leeftyd was, die moeder van Johannes die Doper geword het.—Lukas 1:7, 13.
21 Elisabet, beweeg deur die heilige gees, het innige liefde betuig vir ’n ander godvresende vrou van haar tyd, ’n bloedverwant met die naam Maria. Toe die engel Gabriël, ongeveer teen die einde van 3 v.G.J., vir Maria gesê het dat sy op wonderdadige wyse sal swanger word en ’n kind (Jesus) sal baar, het hy haar aangespreek as: “Begenadigde” en bygevoeg, “Die Here is met jou.” Kort daarna het Maria Elisabet besoek, wat haar en die ongebore kind in haar skoot geseën het en Jesus haar “Here” genoem het selfs voor hy gebore is. Daarop het Maria ’n lofuiting tot Jehovah gerig, wat duidelik getuig van haar diep godvrugtige toegewydheid.—Lukas 1:28, 31, 36-55.
22. Watter godvresende vrou het ná Jesus se geboorte getoon dat sy onder diegene was wat op die Messias gewag het?
22 Toe Jesus gebore is, en Maria hom na die tempel in Jerusalem gebring het om hom aan Jehovah aan te bied, het ’n ander godvresende vrou, die bejaarde profetes Anna, haar vreugde betuig. Sy het Jehovah gedank en met almal wat gretig op die beloofde Messias gewag het van Jesus gepraat.—Lukas 2:36-38.
23. Hoe praat die apostel Petrus oor getroue voorchristelike vroue, en watter vrae sal in die volgende artikel bespreek word?
23 Terwyl die tyd vir Jesus se aardse bediening nadergekom het, was daar dus steeds “heilige vroue wat op God gehoop het” (1 Petrus 3:5). Party van hierdie vroue het dissipels van Christus geword. Hoe het Jesus hulle behandel? En is daar vandag vroue wat met genoeë hulle rol aanvaar soos dit in die Bybel uiteengesit is? Hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Deel 3, bladsy 1055.
b “Die laaste Adam”, Jesus Christus, was eweneens ’n volmaakte, volkome man, al het hy geen mensevrou gehad nie.—1 Korinthiërs 15:45.
Hersieningsvrae
◻ Hoe het die behandeling van vroue in Israel van dié in ander lande verskil?
◻ Wat was Adam en Eva se onderlinge posisies, en waarom?
◻ Watter status het Israelitiese vroue onder die Wet gehad, en het dit hulle geestelik benadeel?
◻ Wat is party lesse wat ons kan leer uit die lewe van merkwaardige vroue in die Hebreeuse Geskrifte?
◻ Watter goeie voorbeelde van geloof kan ons ten spyte van die menings in Judaïsme vind?
[Venster op bladsy 10]
“DIE VROU WAT DIE HERE VREES”
“10 Wie sal ’n deugsame vrou vind? want haar waarde is ver bo korale. 11 Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. 12 Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe. 13 Sy sorg vir wol en vlas, en sy werk met gewillige hande. 14 Sy is soos die skepe van ’n handelaar—van ver af bring sy haar brood in. 15 En sy staan op as dit nog nag is en gee voedsel aan haar huisgesin en die bestemde deel aan haar diensmeisies. 16 Sy dink na oor ’n stuk grond en koop dit, van die vrug van haar hande plant sy ’n wingerd. 17 Sy omgord haar lendene met krag en hou haar arms stewig. 18 Sy voel dat haar wins goed is, in die nag gaan haar lamp nie dood nie. 19 Sy steek haar hande uit na die spinstok, en haar handpalms hou die spoel vas. 20 Sy brei haar handpalm uit na die ellendige, en sy steek haar hande uit na die behoeftige. 21 Sy is nie bevrees vir haar huisgesin vanweë die sneeu nie, want haar hele huisgesin dra skarlakenstof. 22 Sy maak vir haarself dekens, haar tabberd is van fyn linne en purper. 23 Haar man is bekend in die poorte as hy saam met die oudstes van die land sit. 24 Sy maak hemde en verkoop dit, en gordels lewer sy aan die handelaars. 25 Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom. 26 Haar mond maak sy oop met wysheid, en vriendelike onderrigting is op haar tong. 27 Opmerksaam gaan sy die werksaamhede van haar huis na, en die brood van luiheid eet sy nie. 28 Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar: 29 Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal. 30 Die bevalligheid is bedrog, en die skoonheid is nietigheid; ’n vrou wat die HERE vrees, sy moet geprys word. 31 Gee haar van die vrug van haar hande, en laat haar werke haar prys in die poorte.”—Spreuke 31:10-31.
[Prent op bladsy 8, 9]
Die vrou het ’n waardige plek in die gesin gehad