“Hou aan om my te verwag”
“‘Daarom, hou aan om my te verwag’, is die uitspraak van Jehovah.”—SEFANJA 3:8, NW.
1. Watter waarskuwing is deur die profeet Sefanja gegee, en van watter belang is dit vir die mense wat vandag lewe?
“DIE groot dag van Jehovah is naby.” Hierdie waarskuwing is in die middel van die sewende eeu v.G.J. deur die profeet Sefanja tot die volk gerig (Sefanja 1:14, NW). Binne 40 of 50 jaar is die profesie vervul toe die dag van die voltrekking van Jehovah se oordele aangebreek het vir Jerusalem en vir daardie nasies wat Jehovah se soewereiniteit uitgedaag het deur sy volk te mishandel. Waarom is dit vir mense wat aan die einde van die 20ste eeu lewe van belang? Ons lewe in die tyd waarin Jehovah se finale “groot dag” vinnig nader kom. Net soos in Sefanja se dag gaan Jehovah se “brandende toorn” binnekort die hedendaagse ekwivalent van Jerusalem—die Christendom—verteer, asook al die nasies wat Jehovah se volk mishandel en sy universele soewereiniteit uitdaag.—Sefanja 1:4; 2:4, 8, 12, 13; 3:8, NW; 2 Petrus 3:12, 13.
Sefanja—’n moedige getuie
2, 3. (a) Wat weet ons van Sefanja, en wat dui daarop dat hy ’n moedige getuie van Jehovah was? (b) Watter feite stel ons in staat om te bepaal wanneer en waar Sefanja geprofeteer het?
2 Ons weet min van die profeet Sefanja, wie se naam (Hebreeus, Tsefan·jahʹ) “Jehovah het verberg (weggebêre)” beteken. Maar in teenstelling met ander profete het Sefanja sy geslagslyn tot die vierde geslag, tot by “Hiskia”, voorsien. (Sefanja 1:1; vergelyk Jesaja 1:1; Jeremia 1:1; Esegiël 1:3.) Dit is so ongewoon dat die meeste kommentators sy groot-grootoupa as die getroue koning Hiskia identifiseer. As dit die geval was, was Sefanja van koninklike afkoms, en dit sou meer krag verleen het aan sy skerp veroordeling van die prinse van Juda en getoon het dat hy ’n moedige getuie en profeet van Jehovah was. Sy diepgaande kennis van Jerusalem se topografie en van wat in die koninklike hof aangegaan het, dui daarop dat hy moontlik Jehovah se oordele in die hoofstad self uitgespreek het.—Sien Sefanja 1:8-11, voetnote in NW.
3 Hoewel Sefanja Goddelike oordele teen die burgerlike “vorste” van Juda (adellikes, of stamhoofde) en “die prinse” uitgespreek het, is dit opmerkenswaardig dat hy nooit die koning self gekritiseer het nie (Sefanja 1:8; 3:3).a Dit gee te kenne dat die jong koning Josia hom reeds tot ware aanbidding geneig het, hoewel hy, in die lig van die situasie waarteen Sefanja hom so sterk uitgespreek het, klaarblyklik nog nie met sy godsdienshervorming begin het nie. Al hierdie dinge dui daarop dat Sefanja in Juda geprofeteer het gedurende die vroeë jare van Josia, wat van 659 tot 629 v.G.J. geheers het. Die ywerige manier waarop Sefanja geprofeteer het, het ongetwyfeld die jong Josia se bewustheid van die afgodediens, geweld en korrupsie wat op daardie stadium in Juda voorgekom het, vergroot en hom aangemoedig om met sy latere kampanje teen afgodediens te begin.—2 Kronieke 34:1-3.
Redes vir Jehovah se brandende toorn
4. Met watter woorde het Jehovah sy toorn teen Juda en Jerusalem uitgespreek?
4 Jehovah het goeie rede gehad om toornig te wees teenoor die leiers en inwoners van Juda en sy hoofstad Jerusalem. Deur middel van sy profeet Sefanja het hy gesê: “Ek sal my hand uitstrek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem; Ek sal ook uit hierdie plek uitroei wat van Baäl oorgebly het, die naam van die afgodsdienaars saam met die priesters; en die wat op die dakke die leër van die hemel aanbid; en die aanbidders wat by die HERE sweer en sweer by Milkom.”—Sefanja 1:4, 5.
5, 6. (a) Wat was die godsdienssituasie in Juda in Sefanja se tyd? (b) Wat was die toestand van Juda se burgerlike leiers en hulle ondergeskiktes?
5 Juda was besoedel met die verdorwe vrugbaarheidsritusse van Baäl-aanbidding, demoniese astrologie en die aanbidding van die heidense god Milkom. As Milkom dieselfde as Molog was, soos sommige beweer, het Juda se valse godsdiens verskriklike kinderofferandes ingesluit. Sulke godsdiensgebruike was in Jehovah se oë walglik (1 Konings 11:5, 7; 14:23, 24; 2 Konings 17:16, 17). Hulle het hulle sy gramskap nog meer op die hals gehaal, aangesien die afgodedienaars steeds by Jehovah se naam gesweer het. Hy sou nie langer sulke godsdiensonreinheid duld nie, en hy sou heidense sowel as afvallige priesters vernietig.
6 Daarbenewens was Juda se burgerlike leiers korrup. Die prinse was soos roofsugtige “brullende leeus”, en die regters kon met gulsige ‘wolwe’ vergelyk word (Sefanja 3:3). Hulle ondergeskiktes is daarvan beskuldig dat hulle “die huis van hulle here vul met geweld en bedrog” (Sefanja 1:9). Materialisme het oral voorgekom. Baie het die situasie uitgebuit om rykdom te versamel.—Sefanja 1:13.
Twyfelgedagtes oor Jehovah se dag
7. Hoe lank voor “die groot dag van Jehovah” het Sefanja geprofeteer, en wat was die geestelike toestand van baie Jode?
7 Soos ons reeds gesien het, dui die jammerlike godsdienssituasie wat in Sefanja se dag geheers het daarop dat hy sy werk as getuie en profeet uitgevoer het voordat koning Josia, in ongeveer 648 v.G.J., met sy veldtog teen afgodediens begin het (2 Kronieke 34:4, 5). Dit is dus waarskynlik dat Sefanja geprofeteer het ten minste 40 jaar voor “die groot dag van Jehovah” oor die koninkryk van Juda gekom het. Intussen het baie Jode twyfelgedagtes gekoester en ‘teruggedeins’ van hulle diens aan Jehovah en onverskillig geword. Sefanja praat van diegene “wat Jehovah nie gesoek en hom nie geraadpleeg het nie” (Sefanja 1:6, NW). Individue in Juda was klaarblyklik onverskillig en het hulle nie aan God gesteur nie.
8, 9. (a) Waarom sou Jehovah “manne wat dik geword het op hulle afsaksel” inspekteer? (b) Op watter maniere sou Jehovah sy aandag op die inwoners van Juda en hulle burgerlike en godsdiensleiers vestig?
8 Jehovah het sy voorneme bekend gemaak om diegene wat beweer het dat hulle sy volk is te inspekteer. Onder sy verklaarde aanbidders sou hy diegene uitsoek wat in hulle hart twyfelgedagtes gekoester het oor sy vermoë of voorneme om in menseaangeleenthede in te gryp. Hy het gesê: “In dié tyd sal Ek Jerusalem met lanterns deursoek en besoeking doen oor die manne wat dik geword het op hulle afsaksel, wat in hulle hart sê: Die HERE doen geen goed en Hy doen geen kwaad nie” (Sefanja 1:12). Die uitdrukking “manne wat dik geword het op hulle afsaksel” (’n verwysing na wynmakery) verwys na diegene wat hulle gevestig het, soos afsaksel op die bodem van ’n vat, en wat nie deur enige verklaring van naderende Goddelike ingryping in die mensdom se aangeleenthede gesteur wil word nie.
9 Jehovah sou sy aandag op die inwoners van Juda en Jerusalem vestig en op hulle priesters wat sy aanbidding met heidense aanbidding vermeng het. As hulle veilig gevoel het, asof onder beskutting van die nag binne die mure van Jerusalem, sou hy hulle in die geestelike duisternis waarin hulle skuiling gevind het as ’t ware met helder lanterns opspoor. Hy sou hulle uit hulle godsdiensonverskilligheid skud, eers deur verskriklike oordeelsboodskappe en dan deur die voltrekking van daardie oordele.
“Die groot dag van Jehovah is naby”
10. Hoe het Sefanja “die groot dag van Jehovah” beskryf?
10 Jehovah het Sefanja geïnspireer om te verklaar: “Die groot dag van Jehovah is naby. Dit is naby en baie haastig. Die geluid van die dag van Jehovah is bitter” (Sefanja 1:14, NW). Bitter dae het inderdaad vir almal voorgelê—priesters, prinse en die volk—wat geweier het om op die waarskuwing ag te slaan en na ware aanbidding terug te keer. Die profesie gaan verder en beskryf daardie dag waarin oordeel voltrek gaan word: “Dié dag is ’n dag van grimmigheid, ’n dag van benoudheid en angs, ’n dag van woestheid en verwoesting, ’n dag van duisternis en donkerheid, ’n dag van wolke en wolkenag, ’n dag van basuingeklank en krygsgeskreeu teen die versterkte stede en teen die hoë hoekvestings.”—Sefanja 1:15, 16.
11, 12. (a) Watter oordeelsboodskap is teen Jerusalem uitgespreek? (b) Sou materiële voorspoed die Jode red?
11 Binne ’n paar kort dekades sou die leërs van Babilon Juda binneval. Jerusalem sou nie behoue bly nie. Die woon- en sakegebiede sou verwoes word. “Op dié dag, spreek die HERE—hoor! ’n geskreeu van die Vispoort af en ’n gehuil van die Nuwe Stad af en ’n groot gekraak van die heuwels af! Huil, o inwoners van die Vysel! [’n deel van Jerusalem] want al die koopmans gaan te gronde, almal wat geld afweeg, word uitgeroei.”—Sefanja 1:10, 11, voetnoot in NW.
12 Omdat baie Jode geweier het om te glo dat Jehovah se dag naby is, was hulle diep betrokke by winsgewende sakeondernemings. Maar deur middel van sy getroue profeet Sefanja het Jehovah voorspel dat hulle rykdom ‘geplunder en hulle huise verwoes sou word’. Hulle sou nie die wyn drink wat hulle gemaak het nie, en “hulle silwer of hulle goud [sou] nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie”.—Sefanja 1:13, 18.
Ander nasies word geoordeel
13. Watter oordeelsboodskap het Sefanja teen Moab, Ammon en Assur uitgespreek?
13 Deur middel van sy profeet Sefanja het Jehovah ook sy toorn uitgespreek teen nasies wat sy volk mishandel het. Hy het verklaar: “Ek het gehoor die smaadtaal van Moab en die beskimpinge van die kinders van Ammon, waarmee hulle my volk gesmaad het, en hoe hulle hul groot gehou het teen sy grondgebied. Daarom, so waar as Ek leef, spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Moab sal word soos Sodom en die kinders van Ammon soos Gomorra—’n veld van brandnekels en soutpanne en ’n verwoesting vir ewig. . . . Dan sal Hy sy hand uitstrek teen die noorde, en Hy sal Assur vernietig en Nineve tot ’n verwoesting maak, dor soos die woestyn.”—Sefanja 2:8, 9, 13.
14. Watter bewys is daar dat vreemde nasies hulle “groot gehou” het teen die Israeliete en hulle God, Jehovah?
14 Moab and Ammon was Israel se geswore vyande. (Vergelyk Rigters 3:12-14.) Op die Moabitiese Steen, in die Louvre-Museum in Parys, is daar ’n grootpraterige verklaring van die Moabitiese koning Mesa. Hy vertel trots hoe hy verskeie Israelitiese stede met die hulp van sy god Kamos ingeneem het (2 Konings 1:1). Jeremia, ’n tydgenoot van Sefanja, het gepraat van die Ammoniete wat die Israelitiese gebied van Gad in die naam van hulle god Milkom beset het (Jeremia 49:1). Wat Assirië betref, koning Salmaneser V het Samaria ongeveer ’n eeu voor Sefanja se dag beleër en ingeneem (2 Konings 17:1-6). ’n Rukkie later het koning Sanherib Juda aangeval, baie van sy versterkte stede ingeneem en selfs Jerusalem bedreig (Jesaja 36:1, 2). Die woordvoerder van die Assiriese koning het hom inderdaad groot gehou teen Jehovah toe hy op Jerusalem se oorgawe aangedring het.—Jesaja 36:4-20.
15. Hoe sou Jehovah die gode van nasies verneder wat hulle groot gehou het teen sy volk?
15 Psalm 83 meld ’n aantal nasies, onder andere Moab, Ammon en Assur, wat hulle groot gehou het teen Israel en grootpraterig gesê het: “Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie” (Psalm 83:5). Die profeet Sefanja het moedig aangekondig dat al hierdie hoogmoedige nasies en hulle gode deur Jehovah van die leërskare verneder sou word. “Dit oorkom hulle vir hul trotsheid, want hulle het geskimp op en hulle groot gehou teen die volk van die HERE van die leërskare. Vreeslik sal die HERE teen hulle wees, want Hy laat al die gode van die aarde wegkwyn; sodat hulle Hom kan aanbid elkeen uit sy woonplek, al die kuslande van die nasies.”—Sefanja 2:10, 11.
“Hou aan om my te verwag”
16. (a) Vir wie was die naderende dag van Jehovah ’n bron van vreugde, en waarom? (b) Watter aansporing het hierdie getroue oorblyfsel gekry?
16 Terwyl geestelike lomerigheid, skeptisisme, afgodediens, korrupsie en materialisme onder die leiers en baie van die inwoners van Juda en Jerusalem hoogty gevier het, het sommige getroue Jode blykbaar na Sefanja se waarskuwingsprofesieë geluister. Die walglike gebruike van Juda se prinse, regters en priesters het hulle bedroef gemaak. Sefanja se uitsprake was ’n bron van vertroosting vir hierdie lojales. Die naderende dag van Jehovah was vir hulle alles behalwe iets om oor benoud te voel; dit was vir hulle eerder ’n bron van vreugde omdat dit ’n einde aan sulke verfoeilike gebruike sou maak. Hierdie getroue oorblyfsel het ag geslaan op Jehovah se aansporing: “‘Daarom, hou aan om my te verwag’, is die uitspraak van Jehovah, ‘tot die dag dat ek opstaan tot die buit, want my regterlike beslissing is om nasies te versamel, om koninkryke byeen te bring ten einde my veroordeling oor hulle uit te stort, al my brandende toorn’.”—Sefanja 3:8, NW.
17. Wanneer en hoe het Sefanja se oordeelsboodskappe vir die nasies in vervulling begin gaan?
17 Diegene wat op daardie waarskuwing ag geslaan het, is nie skielik oorval nie. Baie het bly lewe en die vervulling van Sefanja se profesie gesien. In 632 v.G.J. is Nineve ingeneem en vernietig deur ’n koalisie van Babiloniërs, Meders en hordes uit die noorde, waarskynlik Skitiërs. Die geskiedskrywer Will Durant sê: “’n Leër van Babilon onder Nabopolassar het met ’n leër van die Meders onder Cyaxares en ’n horde Skitiërs van die Kaukasus saamgespan en met verstommende gemak en spoed die vestings van die noorde verower. . . . Met een slag het Assirië uit die geskiedenis verdwyn.” Dit was presies wat Sefanja geprofeteer het.—Sefanja 2:13-15.
18. (a) Hoe is Goddelike oordeel aan Jerusalem voltrek, en waarom? (b) Hoe is Sefanja se profesie aangaande Moab en Ammon vervul?
18 Talle Jode wat aangehou het om Jehovah te verwag, het ook bly lewe om te sien hoe sy oordele aan Juda en Jerusalem voltrek word. Aangaande Jerusalem het Sefanja geprofeteer: “Wee die opstandige en die besoedelde, die verdrukkende stad. Dit luister na geen stem nie, dit neem geen tugtiging aan nie; op die HERE vertrou dit nie, tot sy God kom dit nie nader nie” (Sefanja 3:1, 2). Weens sy ontrouheid is Jerusalem twee keer deur die Babiloniërs beleër en uiteindelik in 607 v.G.J. ingeneem en vernietig (2 Kronieke 36:5, 6, 11-21). Wat Moab en Ammon betref, volgens die Joodse geskiedskrywer Josefus het die Babiloniërs in die vyfde jaar ná die val van Jerusalem teen hulle oorlog gevoer en hulle verslaan. Hulle het gevolglik opgehou om te bestaan, soos geprofeteer is.
19, 20. (a) Hoe het Jehovah diegene beloon wat aangehou het om hom te verwag? (b) Waarom stel ons in hierdie gebeure belang, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Die vervulling van hierdie en ander besonderhede van Sefanja se profesie was vir Jode en nie-Jode wat aangehou het om Jehovah te verwag ’n geloofversterkende ondervinding. Onder diegene wat die vernietiging van Juda en Jerusalem oorleef het, was Jeremia, die Etiopiër Ebed-Meleg en die huis van Jonadab, die Regabiet (Jeremia 35:18, 19; 39:11, 12, 16-18). Die getroue Jode in ballingskap en hulle nageslag, wat aangehou het om Jehovah te verwag, het ’n deel van die vreugdevolle oorblyfsel geword wat in 537 v.G.J. uit Babilon verlos is en na Juda teruggekeer het om rein aanbidding te herstel.—Esra 2:1; Sefanja 3:14, 15, 20.
20 Wat beteken al hierdie dinge vir ons tyd? In baie opsigte kom die situasie in Sefanja se dag ooreen met die verfoeilike dinge wat vandag in die Christendom plaasvind. Daarbenewens is daar ’n ooreenkoms tussen die verskillende gesindhede van die Jode in daardie tye en die gesindhede wat vandag gevind kan word, soms selfs onder Jehovah se volk. Dit is punte wat in die volgende artikel bespreek sal word.
[Voetnoot]
a Aangesien Josia se eie seuns op daardie stadium baie jonk was, wil dit voorkom asof die woord “prinse” na al die koninklike prinse verwys.
Ter hersiening
◻ Wat was die godsdienstoestand in Juda in Sefanja se dag?
◻ Watter toestande het onder die burgerlike leiers geheers, en wat was die gesindheid van baie van die mense?
◻ Hoe het nasies hulle groot gehou teen Jehovah se volk?
◻ Watter waarskuwing het Sefanja aan Juda en ander nasies gegee?
◻ Hoe is diegene beloon wat aangehou het om Jehovah te verwag?
[Prent op bladsy 9]
Die Moabitiese Steen bevestig dat Moab se koning Mesa neerhalend teenoor eertydse Israel was
[Erkenning]
Die Moabitiese Steen: Musée du Louvre, Paris
[Prent op bladsy 10]
Hierdie spykerskriftablet van die Babiloniese Kroniek meld, ter ondersteuning van Sefanja se profesie, Nineve se vernietiging deur ’n koalisie van leërs
[Erkenning]
Spykerskriftablet: Met vergunning van The British Museum