Lewensverhaal
Hoewel ek blind was, is my oë geopen!
SOOS VERTEL DEUR EGON HAUSER
Ná twee maande van letterlike blindheid is my oë geopen vir Bybelwaarhede wat ek my lewe lank geïgnoreer het.
WANNEER ek oor meer as sewe dekades terugdink, is daar talle aspekte van my lewe waaroor ek baie gelukkig voel. Maar as ek een ding kon verander, sou ek graag Jehovah God baie vroeër wou leer ken het.
Ek is in 1927 gebore in Uruguay, ’n klein peervormige landjie tussen Argentinië en Brasilië met pragtige natuurskoon wat kilometers ver langs die Atlantiese kus strek. Die bevolking bestaan hoofsaaklik uit die afstammelinge van Italiaanse en Spaanse immigrante. My ouers was egter Hongaarse immigrante, en in my kinderdae het ons in ’n nederige, dog hegte gemeenskap gewoon. Dit was nie nodig om slotte aan ons deure of diefwering voor ons vensters te hê nie. Daar was geen rassevooroordeel onder ons nie. Buitelanders en plaaslike inwoners, swart en wit—ons was almal vriende.
My ouers was aktiewe lidmate van die Katolieke Kerk, en toe ek tien jaar oud was, het ek ’n altaarknaap geword. As volwassene het ek met die plaaslike gemeente saamgewerk en was ek ’n lid van ’n groep wat as raadgewers gedien het vir die plaaslike biskop. Aangesien ek die mediese beroep gekies het, is ek na ’n seminaar in Venezuela genooi wat deur die Katolieke Kerk georganiseer is. As mediese dokters wat in ginekologie gespesialiseer het, moes ons navorsing doen oor die mondelikse voorbehoedmiddels wat destyds op die mark gebring is.
Vroeë indrukke as ’n mediese student
Terwyl ek as ’n mediese student die menseliggaam bestudeer het, is ek al hoe meer beïndruk deur die wysheid waarvan die liggaam se ontwerp getuig. Ek was byvoorbeeld verstom oor die liggaam se vermoë om homself te genees en van trauma te herstel, soos in die geval van die lewer of sekere ribbebene wat weer tot normale grootte kan teruggroei nadat ’n deel daarvan verwyder is.
Terselfdertyd het ek baie slagoffers van ernstige ongelukke gesien, en ek was hartseer wanneer hulle weens bloedoortappings gesterf het. Ek onthou nog hoe moeilik dit was om met die familielede te praat wanneer pasiënte weens komplikasies as gevolg van bloed gesterf het. Die familie is gewoonlik nie vertel dat ’n bloedoortapping hulle geliefde se dood veroorsaak het nie. Hulle is eerder ander redes gegee. Hoewel baie jare sedertdien verloop het, kan ek nog onthou hoe ongerus ek oor bloedoortappings gevoel het, en ek het uiteindelik tot die slotsom gekom dat daar iets verkeerd is met dié behandeling. As ek toe maar net geweet het van Jehovah se wet aangaande die heiligheid van bloed! Dan het ek dalk verstaan waarom ek so onseker gevoel het oor hierdie prosedure.—Handelinge 15:19, 20.
Die bevrediging om mense te help
Later het ek ’n chirurg en direkteur van ’n mediese sorgsentrum in Santa Lucía geword. Ek het ook verantwoordelikhede by die Nasionale Instituut vir Biologiese Wetenskap gehad. Dit het my groot bevrediging verskaf. Ek het mense met hulle siektes gehelp, hulle fisiese lyding verlig, in baie gevalle lewens gered en nuwe lewens in die wêreld gebring deur moeders tydens kindergeboorte by te staan. Vanweë my vroeëre ondervindinge het ek bloedoortappings vermy en duisende operasies sonder bloed uitgevoer. Ek het geredeneer dat bloeding soos ’n lek in ’n vat is. Die enigste werklike oplossing is om die lek heel te maak, nie om aan te hou om die vat vol te maak nie.
Ek behandel Getuiepasiënte
Ek het die eerste keer in die 1960’s met Jehovah se Getuies te doen gekry toe hulle na ons kliniek begin kom het vir bloedlose chirurgie. Ek sal nooit die geval van een pasiënt vergeet nie, ’n pionier (voltydse bedienaar) met die naam Mercedes Gonzalez. Sy was so bloedarmoedig dat dokters by die universiteitshospitaal dit nie wou waag om op haar te opereer nie, omdat hulle oortuig was dat sy sou sterf. Al was sy besig om bloed te verloor, het ons haar by ons kliniek geopereer. Die operasie was ’n sukses, en sy het daarna meer as 30 jaar as ’n pionier gedien totdat sy onlangs op 86-jarige leeftyd oorlede is.
Ek was altyd beïndruk deur die liefde en belangstelling wat die Getuies getoon het teenoor hulle Christenbroers wat in die hospitaal was. Wanneer ek my rondtes gedoen het, het ek graag geluister terwyl hulle oor hulle oortuigings gepraat het, en ek het die publikasies geneem wat hulle vir my aangebied het. Ek sou nooit kon dink dat ek binnekort nie net hulle dokter sou wees nie, maar ook hulle geestelike broer.
Ek het ’n nouer band met die Getuies ontwikkel toe ek met Beatriz, die dogter van ’n pasiënt, getroud is. Die meeste van haar familie het reeds met die Getuies geassosieer, en nadat ons getroud is, het sy ook ’n bedrywige Getuie geword. Ek was egter heeltemal verdiep in my werk en het ’n sekere aansien in die mediese veld geniet. Die lewe het baie goed gelyk. Min het ek geweet dat my lewe binnekort om my sou ineenstort.
Teëspoed tref my
Een van die ergste dinge wat met ’n chirurg kan gebeur, is om sy sig te verloor. Dit het met my gebeur. Albei my retinas het skielik geskeur—ek was blind en het glad nie geweet of my sig herstel kon word nie. Nadat daar op my geopereer is, het ek in die bed gelê met albei oë toegebind, en ek het baie neerslagtig geraak. Ek het so nutteloos en wanhopig gevoel dat ek besluit het om ’n einde aan my lewe te maak. Aangesien ek op die vierde verdieping was, het ek uit die bed geklim en al met die muur langs na die venster gesoek. Ek was van plan om na my dood te spring. Maar ek het in die hospitaalgang uitgekom, en ’n verpleegster het my na my bed toe teruggelei.
Ek het dit nie weer probeer nie. Maar ek was steeds neerslagtig en geïrriteerd in my donker wêreld. Gedurende hierdie tydperk van blindheid het ek God belowe dat ek die Bybel van voor tot agter sou deurlees as ek ooit weer kon sien. Uiteindelik is my sig gedeeltelik herstel en kon ek lees. Maar ek kon nie meer as ’n chirurg praktiseer nie. In Uruguay is daar egter ’n gewilde uitdrukking “No hay mal que por bien no venga”, “Niks is so sleg dat iets goeds nie daaruit kan kom nie.” Ek sou spoedig die waarheid van daardie gesegde leer.
’n Slegte begin
Ek wou die grootdrukuitgawe van The Jerusalem Bible koop, maar ek het gehoor dat Jehovah se Getuies ’n goedkoper Bybel het, wat ’n jong Getuie aangebied het om by my huis te kom aflewer. Die volgende oggend was hy by my voordeur met die Bybel. My vrou het die deur oopgemaak en met hom gepraat. Ek was agter in die huis en het onbeskof geskree dat hy geen rede het om nog in my huis te wees as sy hom vir die Bybel betaal het nie en dat hy moet gaan, wat hy natuurlik dadelik gedoen het. Ek het geen idee gehad dat hierdie selfde persoon binnekort ’n betekenisvolle rol in my lewe sou speel nie.
Op ’n dag het ek my vrou iets belowe wat ek toe nie kon nakom nie. Om daarvoor te vergoed en haar gelukkig te maak, het ek dus gesê dat ek saam met haar na die jaarlikse herdenking van Christus se dood sou gaan. Toe die dag aanbreek, het ek my belofte aan haar onthou en die geleentheid saam met haar bygewoon. Die vriendelike atmosfeer en die hartlike manier waarop ek verwelkom is, het my beïndruk. Toe die spreker met sy toespraak begin, was ek verbaas om te sien dat dit dieselfde jong man is wat ek so onbeleef gevra het om my huis te verlaat. Sy toespraak het my diep geraak en ek het baie sleg gevoel omdat ek hom so onvriendelik behandel het. Hoe kon ek daarvoor vergoed?
Ek het my vrou gevra om hom vir ete te nooi, maar sy het voorgestel: “Dink jy nie dit sal meer gepas wees as jy hom nooi nie? Bly net hier, hy sal na ons toe kom.” Sy was reg. Hy het ons kom groet en het die uitnodiging met graagte aanvaar.
Die gesprek wat ons gehad het die aand toe hy kom kuier het, was vir my die begin van baie veranderinge. Hy het vir my die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewea gewys, en ek hom ses eksemplare van daardie selfde boek gewys. Verskillende Getuiepasiënte het dit by die hospitaal vir my gegee, maar ek het dit nooit gelees nie. Gedurende en ná die ete, tot laat in die nag, het ek die een vraag na die ander gevra—wat hy alles deur middel van die Bybel beantwoord het. Die gesprek het tot die vroeë oggendure geduur. Voordat hy vertrek het, het die jong man aangebied om die Bybel met my te studeer met behulp van die Waarheid-boek. Ons het binne drie maande ons studie van die boek voltooi en toe oorgegaan na die boek “Babylon the Great Has Fallen!” God’s Kingdom Rules!b Daarna het ek my lewe aan Jehovah God toegewy en my laat doop.
Ek voel weer nuttig
As gevolg van letterlike blindheid is ‘die oë van my hart’ geopen vir Bybelwaarhede wat ek tot op daardie stadium geïgnoreer het! (Efesiërs 1:18). Toe ek Jehovah en sy liefdevolle voorneme leer ken het, het dit my hele lewe verander. Ek voel weer nuttig en gelukkig. Ek help mense fisies en geestelik deur hulle te wys hoe hulle ’n paar jaar langer in hierdie stelsel van dinge kan lewe en vir ewig in die nuwe stelsel.
Ek het op hoogte gebly wat geneeskunde betref, en ek het navorsing gedoen oor die gevare van bloed, alternatiewe behandeling, die pasiënt se regte en bio-etiek. Ek het geleenthede gehad om die plaaslike mediese gemeenskap hieroor in te lig wanneer ek genooi is om by mediese seminare oor hierdie onderwerpe te praat. In 1994 het ek die eerste kongres oor bloedlose terapie bygewoon in Rio de Janeiro, Brasilië, en ’n lesing gehou oor hoe om bloeding te behandel. Van daardie inligting is ingesluit in ’n artikel wat ek geskryf het: “Una propuesta: Estrategias para el Tratamiento de las Hemorragias” (“’n Strategiese benadering tot die voorkoming van bloeding”), wat in die mediese tydskrif Hemoterapia gepubliseer is.
Onkreukbaarheid ondanks druk
Aanvanklik was my bedenkinge oor bloedoortappings hoofsaaklik gebaseer op wetenskaplike kennis. Maar toe ek self ’n hospitaalpasiënt geword het, het ek gevind dat dit ’n heel ander saak is om ’n bloedoortapping te weier en my geloof te behou ondanks groot druk van dokters. Ná ’n ernstige hartaanval moes ek my standpunt meer as twee uur lank aan ’n chirurg probeer verduidelik. Hy was die seun van baie goeie vriende van my en het gesê dat hy my nie sou laat sterf as hy gedink het dat ’n bloedoortapping my lewe kon red nie. Ek het in my hart tot Jehovah gebid en hom gevra om hierdie dokter te help om my standpunt te verstaan en te respekteer al stem hy nie daarmee saam nie. Uiteindelik het die dokter belowe om my wense te respekteer.
By ’n ander geleentheid moes ek ’n groot gewas van die prostaatklier laat verwyder. Daar het bloeding ontstaan. Weer eens moes ek redes verstrek waarom ek ’n bloedoortapping weier, en al het ek twee derdes van my bloed verloor, het die mediese personeel my standpunt gerespekteer.
’n Verandering in gesindheid
As ’n lid van die Internasionale Vereniging vir Bio-etiek het ek die bevrediging gesmaak om ’n verandering in die gesindheid van mediese personeel en regshowe te sien wat die regte van die pasiënt betref. Die dokters se gesindheid dat hulle die gesag het om te besluit, word vervang deur respek vir ingeligte toestemming. Hulle laat pasiënte nou toe om te besluit watter behandeling hulle verkies. Jehovah se Getuies word nie meer as fanatiese mense beskou wat nie mediese aandag verdien nie. Hulle word eerder beskou as goed ingeligte pasiënte wie se regte gerespekteer moet word. By mediese seminare en op televisieprogramme het bekende professore al gesê: “Danksy die pogings van Jehovah se Getuies verstaan ons nou . . . ”, “Ons het by die Getuies geleer . . . ” en “Hulle het ons geleer om te verbeter.”
Daar is al gesê dat niks belangriker is as die lewe nie, omdat vryheid en waardigheid geen betekenis daarsonder sou hê nie. Baie aanvaar nou ’n verhewe wetlike konsep en erken dat elke individu volle gesag oor sy persoonlike regte het en die enigste een is wat kan besluit watter van sy regte die voorkeur moet geniet in enige gegewe situasie. Sodoende geniet waardigheid, keusevryheid en godsdiensoortuigings die voorkeur. Die pasiënt het die alleenreg om te besluit. Die Hospitaalinligtingsdienste, wat deur Jehovah se Getuies in werking gestel is, het al baie dokters gehelp om ’n beter begrip van hierdie sake te verkry.
Die voortgesette ondersteuning van my gesin het dit vir my moontlik gemaak om nuttig in Jehovah se diens te wees en ook as ’n ouer man in die Christengemeente te dien. Soos ek reeds gesê het, is ek veral spyt dat ek nie vroeër in my lewe van Jehovah geleer het nie. Ek is nietemin baie dankbaar dat hy my oë geopen het vir die wonderlike hoop om onder God se Koninkryksreëling te lewe, waar “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”.—Jesaja 33:24.c
[Voetnote]
a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
c Terwyl hierdie artikel voorberei is, is broer Egon Hauser oorlede. Hy het getrou gesterf, en ons verbly ons in die feit dat sy hoop seker is.
[Prent op bladsy 24]
In my dertigerjare, terwyl ek by die hospitaal in Santa Lucía gewerk het
[Prent op bladsy 26]
Saam met my vrou Beatriz, in 1995