“Elke skerpsinnige sal met kennis optree”
DIE leiding wat God se Woord, die Bybel, voorsien, ‘is begeerliker as goud—as goed gelouterde goud’ (Psalm 19:7-10). Waarom? Want “die wet van die wyse [Jehovah] is ’n bron van lewe, om ’n mens van die strikke van die dood af te keer” (Spreuke 13:14). Wanneer raad uit die Skrif toegepas word, verbeter dit nie net die gehalte van ons lewe nie, maar dit help ons ook om strikke te vermy wat ons lewe in gevaar stel. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons na kennis van die Skrif soek en toepas wat ons leer!
In Spreuke 13:15-25 het koning Salomo van eertydse Israel raad gegee wat ons help om met kennis op te tree, sodat ons ’n beter en langer lewe kan geniet.a Deur middel van bondige spreuke toon hy hoe God se Woord ons kan help om ander se guns te verkry, getrou te bly in ons bediening, die regte gesindheid teenoor dissipline te hê en ons metgeselle verstandig te kies. Hy bespreek ook hoe wys dit is om ’n erfenis vir ons nageslag agter te laat sowel as om hulle in liefde te dissiplineer.
Goeie insig bring guns mee
“Goeie insig verskaf guns”, sê Salomo, “maar die weg van dié wat verraderlik handel, is ongelyk” (Spreuke 13:15). Die uitdrukking in die oorspronklike taal vir “goeie insig”, of goeie begrip, “beskryf die vermoë om verstandig te werk te gaan, gesonde oordeel aan die dag te lê en wyse menings te hê”, sê een naslaanwerk. Vir iemand met hierdie eienskappe is dit nie moeilik om ander se guns te verkry nie.
Let op met hoeveel insig die apostel Paulus teenoor sy mede-Christen Filemon opgetree het toe hy Filemon se wegloperslaaf Onesimus, wat ’n Christen geword het, teruggestuur het. Paulus het Filemon aangemoedig om Onesimus vriendelik terug te ontvang, soos hy moontlik die apostel self sou verwelkom het. Trouens, Paulus het aangebied om Filemon te betaal as Onesimus hom enigiets geskuld het. Ja, Paulus kon sy gesag gebruik het en Filemon beveel het om die regte ding te doen. Maar die apostel het verkies om die saak taktvol en liefdevol te hanteer. Paulus het die vertroue gehad dat hy sodoende Filemon se samewerking sou kry en dat hy selfs meer sou doen as wat hy gevra is om te doen. Moet ons nie ook so teenoor medegelowiges optree nie?—Filemon 8-21.
Die weg van verraderlikes daarenteen is ongelyk, of “hard” (Die Bybel, 1953). In watter sin? Volgens een geleerde beteken die woord wat hier gebruik word, “sterk of ferm, met verwysing na die gevoellose gedrag van goddelose mense. . . . Die man wat verstok is in sy bose weë, wat gevoelloos en onverskillig teenoor die wyse onderrigting van ander is, is op ’n weg wat na verderf lei.”
Salomo gaan voort: “Elke skerpsinnige sal met kennis optree, maar die sot sal dwaasheid versprei” (Spreuke 13:16). Skerpsinnigheid hou hier verband met kennis en word geassosieer met ’n verstandige persoon, wat sake deurdink voordat hy optree. Wanneer hy onregverdig gekritiseer of selfs beledig word, sit die skerpsinnige ’n wag voor sy mond. Hy probeer biddend die vrugte van die heilige gees openbaar sodat hy nie sy humeur verloor nie (Galasiërs 5:22, 23). Die verstandige laat nie toe dat die ander persoon of die situasie hom beheer nie. Hy bly eerder kalm en vermy die rusies waarin iemand wat hom maklik vererg wanneer hy te na gekom word, hom kort-kort bevind.
Die skerpsinnige tree ook met kennis op wanneer hy besluite neem. Hy weet dat ’n mens selde wys optree as jy raai, op emosies reageer of net met die stroom saamgaan. Daarom neem hy tyd om die betrokke situasie te ontleed. Hy maak al die feite bymekaar en bepaal wat sy opsies is. Dan ondersoek hy die Skrif en besluit hy watter Bybelwette of -beginsels van toepassing is. So ’n persoon se pad bly reguit.—Spreuke 3:5, 6.
“’n Getroue gesant is ’n genesing”
As Jehovah se Getuies is ons toevertrou met die verkondiging van ’n godgegewe boodskap. Die woorde van die volgende spreuk help ons om ons opdrag altyd getrou uit te voer. Dit sê: “’n Boodskapper wat goddeloos is, sal in die kwaad verval, maar ’n getroue gesant is ’n genesing.”—Spreuke 13:17.
Die klem val hier op die boodskapper se eienskappe. Sê nou die draer van die boodskap verdraai of verander die boodskap kwaadwillig? Sal hy nie ’n ongunstige oordeel ontvang nie? Dink aan die profeet Elisa se dienaar Gehasi, wat weens gierigheid ’n valse boodskap aan die Siriese leërhoof Naäman oorgedra het. Die melaatsheid waarvan Naäman genees is, het op Gehasi gekom (2 Konings 5:20-27). Gestel die gesant word ontrou en hou heeltemal op om die boodskap te verkondig. “[As jy nie] praat . . . om die goddelose teen sy weg te waarsku nie”, sê die Bybel, “dan sal hy as ’n goddelose in sy eie oortreding sterf, maar sy bloed sal ek [Jehovah] van jou hand terugeis.”—Esegiël 33:8.
Daarenteen is die getroue gesant ’n genesing vir homself en vir diegene wat na hom luister. Paulus het Timoteus vermaan: “Let voortdurend op jouself en op jou onderrigting. Bly by hierdie dinge, want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as dié wat na jou luister” (1 Timoteus 4:16). Dink aan die genesing wat dit meebring as die goeie nuus van die Koninkryk getrou verkondig word. Dit motiveer mense wat die regte hartstoestand het en lei hulle na die waarheid wat hulle vrymaak (Johannes 8:32). Selfs al luister mense nie na die boodskap nie, sal die lojale boodskapper ‘beslis sy siel verlos’ (Esegiël 33:9). Mag ons nooit nalaat om ons predikingsopdrag uit te voer nie (1 Korintiërs 9:16). En laat ons altyd nougeset ‘die woord verkondig’, en dit nooit afwater sodat dit vir mense aantrekliker kan lyk nie.—2 Timoteus 4:2.
“Wie ’n teregwysing bewaar, word verheerlik”
Behoort ’n verstandige persoon gekrenk te voel oor enige nuttige raad wat hy ontvang? Spreuke 13:18 sê: “Wie dissipline verontagsaam, kom tot armoede en oneer, maar wie ’n teregwysing bewaar, word verheerlik.” Ons sal verstandig wees as ons selfs ongevraagde teregwysing verwelkom. Goeie raad kan besonder nuttig wees wanneer ons nie besef dat ons dit nodig het nie. As ons op sulke raad ag slaan, kan dit ons teen hartseer beskerm en ons help om rampspoed te vermy. As ons dit verontagsaam, sal dit oneer tot gevolg hê.
Lof, wanneer dit verdien word, beur ons op en is beslis bemoedigend. Maar ons moet ook verwag om tereggewys te word en dit aanvaar. Beskou die twee briewe wat die apostel Paulus aan Timoteus geskryf het. Hoewel Timoteus geprys word vir sy getrouheid, is daar volop raad vir hom in die briewe. Paulus gee die jonger man heelwat raad oor hoe om sy geloof en ’n goeie gewete te behou, ander in die gemeente te behandel, godvrugtige toegewydheid en vergenoegdheid aan te kweek, ander te onderrig, afvalligheid te weerstaan en sy bediening uit te voer. Jonger lede van die gemeente kan gerus bekwamer lede se raad vra en verwelkom.
‘Wandel met wyses’
“’n Vervulde begeerte is aangenaam vir die siel”, sê die wyse koning, “maar vir die sotte is dit iets verfoeiliks om van die kwaad af te wyk” (Spreuke 13:19). ’n Naslaanwerk sê oor die betekenis van hierdie spreuk: “Wanneer ’n doelwit bereik of ’n wens bewaarheid word, vul dit die mens se hele wese met ’n gevoel van tevredenheid . . . Aangesien dit ’n baie aangename ervaring is om jou doel te verwesenlik, spreek dit vanself dat dit vir dwase persone uiters onaangenaam moet wees om van boosheid af te wyk. Hulle strewes kan slegs deur goddelose metodes bereik word, en as hulle hulle boosheid laat vaar, ontneem dit hulle die genot om ooit hulle wense te vervul.” Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons die regte begeertes aankweek!
Wat ’n kragtige uitwerking het ons metgeselle tog op ons denke, ons voorkeure en ons afkeure! Salomo meld ’n tydlose waarheid wanneer hy sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Ja, diegene met wie ons assosieer, selfs deur vermaak, die Internet en leesstof, het ’n uitwerking op wat ons is en sal word. Hoe belangrik is dit tog om ons metgeselle verstandig te kies!
‘Laat ’n erfenis na’
“Sondaars word deur rampspoed agtervolg”, verklaar die koning van Israel, “maar die regverdiges word met die goeie beloon” (Spreuke 13:21). Dit is lonend om regverdigheid na te streef, want Jehovah sorg vir die regverdiges (Psalm 37:25). Maar ons moet besef dat “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” ons almal tref (Prediker 9:11). Kan ons enigiets doen om ons voor te berei op ontydige gebeure?
“Iemand wat goed is, sal ’n erfenis vir kleinkinders nalaat”, sê Salomo (Spreuke 13:22a). Wat ’n kosbare erfenis laat ouers tog agter wanneer hulle hulle kinders help om kennis van Jehovah in te neem en ’n goeie verhouding met hom op te bou! Maar sal dit nie ook verstandig wees om, wanneer moontlik, reëlings te tref vir die materiële welsyn van die gesin in die geval van ’n ouer se ontydige dood nie? Op baie plekke kan gesinshoofde dalk versekering reël, ’n wettige testament opstel en ’n bietjie spaargeld opsysit.
Wat kan gesê word van die goddelose se erfenis? “Die rykdom van die sondaar is iets wat vir die regverdige as ’n skat bewaar word”, sê Salomo voorts (Spreuke 13:22b). Bo en behalwe enige voordele wat nou geniet word, sal hierdie woorde bewaarheid word wanneer Jehovah sy belofte vervul om “nuwe hemele en ’n nuwe aarde” te skep waarin “regverdigheid [sal] woon” (2 Petrus 3:13). Die goddeloses sal dan uit die weg geruim wees, en “die sagmoediges sal die aarde besit”.—Psalm 37:11.
’n Verstandige persoon tree met kennis op, selfs wanneer hy baie min besit. “Die geploegde grond van die armes lewer baie voedsel op”, sê Spreuke 13:23, “maar daar is een wat weggevee word weens ’n gebrek aan geregtigheid.” ’n Bietjie kan baie word deur harde werk en God se seën. Wanneer daar egter ’n gebrek aan geregtigheid is, kan ’n fortuin weens onregte weggevee word.
“Gee ag op hom met dissipline”
Onvolmaakte mense het dissipline nodig, en hulle het dit van kleins af nodig. “Wie sy roede terughou, haat sy seun”, sê die koning van Israel, “maar hy wat hom liefhet, gee ag op hom met dissipline.”—Spreuke 13:24.
’n Roede is ’n simbool van gesag. In Spreuke 13:24 verwys dit na ouerlike gesag. Om die roede van dissipline te gebruik, beteken in hierdie konteks nie noodwendig om ’n kind ’n pak slae te gee nie. Dit verteenwoordig eerder die manier van teregwysing, watter vorm dit ook al aanneem. In een geval kan ’n liefdevolle bestrawwing voldoende wees om ’n kind se verkeerde gedrag reg te stel. ’n Ander kind het dalk strenger teregwysing nodig. “’n Bestrawwing maak ’n dieper indruk op iemand wat begrip het as honderd houe op ’n sot”, sê Spreuke 17:10.
Ouerlike dissipline moet altyd deur liefde en wysheid gerig word tot voordeel van die kind. ’n Liefdevolle ouer ignoreer nie sy kind se foute nie. Inteendeel, hy is op die uitkyk daarna sodat dit uit die weg geruim kan word voordat dit te diep gewortel raak. ’n Liefdevolle ouer neem natuurlik Paulus se raad ter harte: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed.”—Efesiërs 6:4.
Sê nou ’n ouer is te toegeeflik en voorsien nie die nodige teregwysing nie. Sal so ’n ouer later bedank word vir sy toegeeflikheid? Nouliks! (Spreuke 29:21). Die Bybel sê: “’n Seun wat aan homself oorgelaat word, sal sy moeder in die skande steek” (Spreuke 29:15). As ’n ouer nie sy gesag uitoefen nie, is dit ’n blyk van onverskilligheid of toon dit ’n gebrek aan liefde. Maar gesag wat liefdevol en ferm uitgeoefen word, weerspieël opregte besorgdheid.
’n Verstandige en regskape persoon wat met ware kennis optree, sal geseën word. Salomo verseker ons: “Die regverdige eet tot versadiging van sy siel, maar die maag van die goddeloses sal leeg wees” (Spreuke 13:25). Jehovah weet wat goed is vir ons op alle gebiede van die lewe—ons gesinsaangeleenthede, ons verhouding met ander, ons bediening of wanneer ons gedissiplineer word. En as ons die raad in sy Woord wyslik toepas, sal ons ongetwyfeld die beste lewenswyse geniet.
[Voetnoot]
a Vir ’n bespreking van Spreuke 13:1-14, sien bladsye 21-5 van Die Wagtoring van 15 September 2003.
[Prent op bladsy 28]
Wanneer die skerpsinnige onregverdig gekritiseer word, hou hy sy tong in toom
[Prent op bladsy 29]
’n Getroue Koninkryksverkondiger verrig goeie werke
[Prent op bladsy 30]
Hoewel lof bemoedigend is, moet ons teregwysing verwelkom
[Prent op bladsy 31]
’n Liefdevolle ouer ignoreer nie sy kind se foute nie