Rykdom wat van God af kom
SAL God jou met rykdom seën as jy getrou is aan hom? Miskien, maar waarskynlik nie met die soort rykdom wat jy verwag nie. Dink aan Maria, die moeder van Jesus. Die engel Gabriël het aan haar verskyn en gesê dat sy ’n “hoogbegunstigde” in God se oë is en dat sy aan die Seun van God geboorte sou gee (Lukas 1:28, 30-32). Maar sy was nie ryk nie. Toe Maria ná Jesus se geboorte ’n offerande gebring het, het sy “’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe” geneem, wat gewoonlik die offerande was wat die armes aan Jehovah gebring het.—Lukas 2:24; Levitikus 12:8.
Het die feit dat Maria arm was, beteken dat sy nie God se seën geniet het nie? Inteendeel, toe sy haar familielid Elisabet besoek het, is “Elisabet . . . met heilige gees vervul, en sy het met ’n harde roep uitgeroep en gesê: ‘Geseënd is jy [Maria] onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou moederskoot!’” (Lukas 1:41, 42). Maria was bevoorreg om die aardse moeder van God se geliefde Seun te word.
Jesus self was nie ’n ryk man nie. Hy is nie net in nederige omstandighede gebore en grootgemaak nie, maar hy was arm deur sy hele lewe op aarde. Hy het eenkeer vir ’n man wat ’n dissipel wou word, gesê: “Jakkalse het gate en voëls van die hemel het slaapplekke, maar die Seun van die mens het geen plek om sy kop neer te lê nie” (Lukas 9:57, 58). Maar deur na die aarde toe te kom, het Jesus Christus dit vir sy dissipels moontlik gemaak om groot rykdom te ontvang. Die apostel Paulus het geskryf: “Hy [het] om julle onthalwe arm geword . . . , sodat julle deur sy armoede ryk kon word” (2 Korintiërs 8:9). Watter soort rykdom het Jesus sy dissipels gegee? En wat van vandag?
Watter soort rykdom?
Materiële rykdom is dikwels ’n struikelblok in die weg tot geloof, aangesien ’n ryk persoon dalk eerder op sy geld as op God vertrou. Jesus het gesê: “Hoe moeilik sal dit tog vir dié met geld wees om in die koninkryk van God in te gaan!” (Markus 10:23). Jesus het dus klaarblyklik nie vir sy volgelinge materiële rykdom aangebied nie.
Trouens, die meeste Christene in die eerste eeu het maar min op materiële gebied gehad. Toe ’n man wat van geboorte af kreupel was, om geld gevra het, het Petrus geantwoord: “Silwer en goud besit ek nie, maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die naam van Jesus Christus die Nasarener, loop!”—Handelinge 3:6.
Die woorde van die dissipel Jakobus toon ook dat die Christengemeente basies uit arm mense bestaan het. Hy het geskryf: “Luister, my geliefde broers. God het diegene wat arm is ten opsigte van die wêreld, uitgekies om ryk in geloof en erfgename van die koninkryk te wees wat hy beloof het aan dié wat hom liefhet, nie waar nie?” (Jakobus 2:5). Daarbenewens het die apostel Paulus ook gesê dat nie baie “wat in vleeslike sin wys is” of “magtiges” is of “van adellike geboorte” is, geroep is om deel van die Christengemeente te word nie.—1 Korintiërs 1:26.
As die rykdom wat Jesus sy volgelinge gegee het, nie van ’n materiële aard was nie, watter soort rykdom het hy hulle dan gegee? In ’n brief wat Jesus aan die gemeente in Smirna gestuur het, het hy gesê: “Ek ken jou verdrukking en armoede—maar jy is ryk” (Openbaring 2:8, 9). Al was die Christene in Smirna arm, het hulle rykdom van baie groter waarde as silwer en goud besit. Hulle was ryk weens hulle geloof en onkreukbaarheid teenoor God. Geloof op sigself is kosbaar, want dit “is nie iets wat alle mense besit nie” (2 Tessalonisense 3:2). Dié wat nie geloof het nie, is in werklikheid arm in God se oë.—Openbaring 3:17, 18.
Rykdom wat voortspruit uit geloof
Maar in watter opsigte is geloof kosbaar? Diegene met geloof in God vind baat by “die rykdom van sy goedhartigheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid” (Romeine 2:4). Hulle geniet ook “vergifnis van [hulle] oortredings” weens hulle geloof in Jesus se losprysoffer (Efesiërs 1:7). Verder het hulle die wysheid wat “die woord van die Christus” gee aan dié wat geloof het (Kolossense 3:16). Wanneer hulle in geloof tot God bid, bewaak “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”, hulle harte en verstande, wat aan hulle vergenoegdheid en geluk verskaf.—Filippense 4:7.
Benewens al hierdie voordele het diegene wat geloof in God deur sy Seun, Jesus Christus, stel, die wonderlike vooruitsig om vir ewig te lewe. Die welbekende woorde van Jesus Christus is: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Hierdie kosbare vooruitsig word versterk wanneer ’n mens juiste kennis van die Vader en die Seun inneem, want Jesus het ook gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
Hoewel God se seëninge hoofsaaklik van ’n geestelike aard is, hou dit ook emosionele en fisiese voordele in. Neem die voorbeeld van Dalídio in Brasilië. Voordat hy tot ’n juiste kennis van God se voorneme gekom het, het hy ’n drankprobleem gehad. Dit het ’n uiters vernietigende uitwerking op sy gesinsverhoudings gehad. Daarbenewens was sy finansiële situasie benard. Toe het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en ’n merkwaardige verandering ondergaan.
Dalídio se nuutgevonde kennis het hom beweeg om sy skadelike gewoontes te laat vaar. Hy het soveel geestelike vooruitgang gemaak dat hy gesê het: “Ek het altyd van kroeg tot kroeg gegaan; nou gaan ek van huis tot huis.” Hy het ’n voltydse bedienaar van God se Woord geword. Hierdie verandering het nie net sy gesondheid verbeter nie, maar ook sy finansiële situasie. Dalídio het gesê: “Die geld wat ek voorheen aan drank gespandeer het, gebruik ek nou om ander behoeftiges te help of om dinge te koop wat ek nodig het.” Hy het ook baie ware vriende gemaak deur te assosieer met mense wat ’n soortgelyke geestelike lewensuitkyk het. Dalídio geniet nou innerlike vrede en vergenoegdheid, meer as wat hy hom kon indink voordat hy God leer ken het.
Nog ’n voorbeeld van iemand wie se lewe verryk is deur geloof in Jehovah God op te bou, is dié van Renato. Wanneer jy vandag sy gelukkige, vriendelike gesig sien, is dit moeilik om te glo dat hy alle rede gehad het om te voel dat die lewe hom onregverdig behandel het. Sy ma het hom as ’n pasgebore baba weggegooi. Hy is in ’n sak onder ’n sitbankie gelos, erg gekrap en gekneus en nog met sy naelstring aan. Twee vroue wat verbygestap het, het die sak onder die bankie sien beweeg. Hulle het eers gedink dat iemand ’n katjie daar gelos het. Toe hulle ontdek dat dit ’n pasgebore baba is, het hulle hom vinnig na ’n nabygeleë hospitaal vir behandeling geneem.
Een van die vroue was een van Jehovah se Getuies, en sy het vir Rita, ’n ander Getuie, van die baba vertel. ’n Paar van Rita se babas is dood gebore, en sy het net een dogter gehad. Sy wou baie graag ’n seun hê; daarom het sy besluit om Renato aan te neem.
Toe Renato nog klein was, het Rita hom vertel dat sy nie sy regte ma is nie. Maar sy het liefdevol en goed vir hom gesorg en geestelike waardes by hom probeer inboesem. Namate hy ouer geword het, het sy belangstelling in die Bybel begin toeneem. Sy waardering vir die byna ongelooflike manier waarop hy gered is, het ook toegeneem. Sy oë skiet vol trane elke keer wanneer hy die psalmis Dawid se woorde lees: “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem.”—Psalm 27:10.
As ’n blyk van sy waardering vir alles wat Jehovah vir hom gedoen het, is Renato in 2002 gedoop en het hy die volgende jaar ’n voltydse Christenbedienaar geword. Hy weet nog steeds nie wie sy biologiese pa en ma is nie en sal seker nooit weet nie. Maar Renato het Jehovah as sy liefdevolle, besorgde Vader leer ken en beoefen geloof in hom, en hy beskou dit as een van die kosbaarste gawes wat hy ontvang het.
Dalk wil jy graag ’n hegte, liefdevolle verhouding met God hê, wat jou lewe waarlik kan verryk. Die geleentheid om so ’n verhouding met Jehovah God en sy Seun, Jesus Christus, te hê, is beskikbaar aan almal—ryk en arm. Dit sal miskien nie materiële rykdom bring nie, maar dit sal tot innerlike vrede en vergenoegdheid lei wat al die geld in die wêreld nie kan koop nie. Die woorde in Spreuke 10:22 is inderdaad waar: “Die seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg daar geen pyn by nie.”
Jehovah God stel opreg belang in mense wat na hom toe kom: “Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see” (Jesaja 48:18). En hy belowe dat diegene wat met die regte beweegrede en gesindheid na hom toe kom, ryklik beloon sal word: “Die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en heerlikheid en die lewe.”—Spreuke 22:4.
[Lokteks op bladsy 6]
Geloof in God lei tot vrede, vergenoegdheid en geluk
[Prent op bladsy 5]
Al was Jesus se aardse gesin materieel arm, het God hulle ryklik geseën