Diens in ’n tyd van wonderlike vermeerdering
Soos vertel deur Harley Harris
Dit was 2 September 1950 in Kennett, Missouri, VSA. Ons was by ’n kringbyeenkoms, en ’n oproerige skare het ons omsingel. Die burgemeester het die Nasionale Burgermag laat kom om ons teen die gepeupel te beskerm. Soldate met gewere en bajonette het langs die straat gestaan. Ondanks beledigings het ons na ons motors gestap en na Cape Girardeau, Missouri, gery vir die oorblywende sessies van die byeenkoms. Ek is by dié byeenkoms gedoop toe ek 14 jaar oud was. Maar kom ek vertel hoe ek Jehovah gedurende hierdie tyd van onrus begin dien het.
IN DIE vroeë 1930’s het my grootouers en hulle agt kinders na opnames van broer Rutherford se toesprake geluister, en hulle was oortuig dat hulle die waarheid gevind het. My ouers, Bay en Mildred Harris, is in 1935 by die byeenkoms in Washington, DC, gedoop. Hoe verheug was hulle tog om deel te wees van die “groot menigte”, wat kort tevore by daardie byeenkoms geïdentifiseer is!—Op. 7:9, 14.
Ek is die volgende jaar gebore. En ’n jaar later het my ouers na ’n afgesonderde gebied in Mississippi getrek. Terwyl ons daar gewoon het, is ons nie eers deur ’n reisende opsiener besoek nie. My gesin het met Bethel gekorrespondeer en byeenkomste bygewoon, en ’n ruk lank was dit al assosiasie wat ons met die broederskap gehad het.
Ons volhard ondanks vervolging
Jehovah se Getuies het gedurende die Tweede Wêreldoorlog baie vervolging verduur omdat hulle neutraal gebly het. Ons het na Mountain Home, Arkansas, getrek. Eendag het ek en my pa straatgetuieniswerk gedoen. ’n Man het skielik die tydskrifte by my pa gegryp en dit net daar aan die brand gesteek. Hy het ons lafaards genoem omdat ons nie oorlog maak nie. Ek was maar net vyf jaar oud en het begin huil. My pa het die man kalm aangekyk sonder om ’n woord te sê, totdat die man weggestap het.
Daar was ook goeie mense wat ons goedgesind was. Toe ’n oproerige skare eenkeer ons motor omsingel het, het die plaaslike staatsaanklaer daar verbygekom. “Wat gaan hier aan?” het hy gevra. ’n Man het geantwoord: “Hierdie Jehovah se Getuies weier om vir hulle land te veg!” Toe het die staatsaanklaer op ons motor se treeplank gespring en uitgeroep: “Ek het in die Eerste Wêreldoorlog geveg, en ek sal in hierdie oorlog ook veg! Laat hierdie mense gaan. Hulle doen niemand leed aan nie!” Die skare het stil-stil uitmekaargegaan. Ons het dit baie waardeer dat hierdie goeie mense goedhartigheid teenoor ons betoon het!—Hand. 27:3.
Streekbyeenkomste versterk ons
Die streekbyeenkoms van 1941 in St. Louis, Missouri, was net wat ons nodig gehad het. Volgens een skatting het meer as 115 000 mense dit bygewoon. ’n Baie groot groep van 3 903 is gedoop! Ek onthou broer Rutherford se toespraak “Kinders van die Koning” nog baie goed. Hy het spesifiek met ons as jongmense gepraat, en ons het almal die pragtige blou boek Kinders ontvang. Hierdie byeenkoms het my die krag gegee om die uitdagings die hoof te bied waarvoor ek te staan gekom het toe ek die daaropvolgende jaar begin skoolgaan het. Ek en my niggies is uit die skool gesit omdat ons nie die vlag gesalueer het nie. Ons het elke dag teruggegaan skool toe om te kyk of die skoolraad se gesindheid nie dalk verander het nie. Ons het baie oggende deur die bos skool toe geloop—en is dan net weer huis toe gestuur. Maar dit was vir my ’n manier waarop ons kon toon dat ons lojaal is aan God se Koninkryk.
Kort voor lank het die Verenigde State se Hooggeregshof egter beslis dat vlagsaluering nie verpligtend is nie. Uiteindelik kon ons weer skool toe gaan. Die onderwyser was baie gaaf en het ons die werk laat inhaal wat die ander leerlinge al gedoen het. Ons skoolmaats het ons ook met respek behandel.
Ek onthou ook die streekbyeenkoms van 1942 in Cleveland, Ohio, waar broer Nathan H. Knorr die toespraak “Vrede—Kan dit duur?” gehou het. Hierdie ontleding van Openbaring hoofstuk 17 het getoon dat daar ná die Tweede Wêreldoorlog ’n tyd lank betreklike vrede sou wees. Verdere vermeerdering is dus verwag. Ter voorbereiding hiervoor is die Gileadskool in 1943 begin. Min het ek besef hoe dit my lewe in die toekoms sou raak. Daar was inderdaad vrede ná die oorlog, en vervolging het afgeneem. Maar toe die Koreaanse Oorlog in 1950 uitbreek, het teenkanting teen ons predikingswerk weer opgevlam, soos aan die begin beskryf is.
’n Groter aandeel aan die vermeerdering
Ek het in 1954 my hoërskoolopleiding voltooi en ’n maand later begin pionier. Nadat ek in Kennett, Missouri, gedien het, waar ’n oproerige skare ons in 1950 omsingel het, is ek in Maart 1955 na Bethel genooi. Die gemeente waarheen ek toegewys is, het Times Square, in die middel van die stad New York, as deel van hulle gebied gehad. Hoe het dit tog verskil van die lewe op die platteland! Ek kon die aandag van besige New Yorkers trek deur ’n tydskrif by ’n gedagteprikkelende artikel oop te hê en te vra: “Het jy al oor hierdie vraag gewonder?” Baie het die tydskrifte geneem.
Een van my gunstelingtye by Bethel was oggendaanbidding, wat deur broer Knorr gehou is. Hy kon beslis Bybelverse laat lewe en dit vir ons prakties toepas! Hy het met ons as jong ongetroude broers gepraat soos ’n vader met sy seun sou praat en ons dikwels goeie raad gegee oor hoe om lede van die teenoorgestelde geslag te behandel. Teen 1960 het ek besluit om te trou.
Ek het my 30-dae-kennisgewing om Bethel te verlaat, ingedien, maar het nie ’n antwoord gekry nie. Al was ek baie skaam, het ek aan die einde van die 30 dae die moed bymekaargeskraap om hieroor te vra. Broer Robert Wallen het die telefoon geantwoord en met my kom praat waar ek werk. Hy het my gevra wat ek van spesiale pionierdiens of kringwerk dink. “Maar Bob”, het ek geantwoord, “ek is net 24 jaar oud en onervare.”
Kringwerk
Dié aand was daar ’n groot koevert in my kamer. Daar was ’n aansoekvorm vir spesiale pionierdiens en een vir kringwerk daarin. Ek was skoon verstom! Ek het dus die onverdiende voorreg gehad om my broers in die kringwerk in Suidwes-Missouri en Oos-Kansas te dien. Maar voordat ek Bethel verlaat het, het ek ’n vergadering vir reisende opsieners bygewoon. In sy slotopmerkings het broer Knorr gesê: “Die feit dat julle kring- en streekopsieners is, beteken nie dat julle meer weet as die plaaslike broers nie. Party het baie meer ervaring as julle. Maar weens hulle omstandighede kan hulle nie hierdie voorreg geniet nie. Julle kan baie by hulle leer.”
Dit was beslis waar! Broer Fred Molohan, sy vrou en sy broer Charley van Parsons, Kansas, was uitsonderlike voorbeelde. Hulle het die waarheid reeds in die vroeë 1900’s geleer. Dit was heerlik om te luister na die ondervindinge wat hulle gehad het selfs voordat ek gebore is! Nog ’n broer was John Wristen, ’n goedhartige bejaarde broer van Joplin, Missouri, wat baie dekades lank ’n pionier was. Hierdie dierbare broers het diep respek vir teokratiese reëlings gehad. Hulle het my laat voel dat hulle my as hulle kringopsiener waardeer—al was ek so jonk.
Ek het in 1962 getrou met Cloris Knoche, ’n opgeruimde rooikoppionier. Cloris het by my aangesluit in die kringwerk. Ons het die broers goed leer ken wanneer ons by hulle gebly het. Ons kon jongmense aanspoor om die voltydse diens te betree. Hierdie aansporing was net wat twee tieners in die kring—Jay Kosinski en JoAnn Kresyman—nodig gehad het. Toe ons saam met hulle velddiens gedoen en hulle van die vreugdes van ’n selfopofferende lewe vertel het, is hulle beweeg om doelwitte te stel. JoAnn het ’n spesiale pionier geword, en Jay het by Bethel gedien. Later is die twee getroud, en hulle dien nou al sowat 30 jaar in die kringwerk.
Sendingdiens
Broer Knorr het ons in 1966 gevra of ons daarin belangstel om in ’n ander land te gaan dien. “Ons is gelukkig waar ons is”, het ons geantwoord, “maar as daar iewers anders hulp nodig is, is ons bereid om te gaan.” ’n Week later is ons na die Gileadskool genooi. Hoe opwindend was dit tog om terug te wees by Bethel terwyl ons die skool bygewoon het en om saam met baie van die mense te wees wat ek liefgehad en gerespekteer het! Ons het ook vriende gemaak met medestudente, wat vandag nog getrou dien.
Ek en Cloris is na Ecuador in Suid-Amerika gestuur saam met Dennis en Edwina Crist, Ana Rodríguez en Delia Sánchez. Die Crists het na die hoofstad, Quito, gegaan. Ons, Ana en Delia is na Cuenca, Ecuador se derde grootste stad, gestuur. Die gebied het twee provinsies ingesluit. Cuenca se eerste gemeente het in ons sitkamer begin. Die gemeente het uit ons vier en twee ander mense bestaan. Ons het gewonder hoe ons ooit die predikingswerk gedoen sal kry.
Daar was baie kerke in Cuenca, en op sogenaamde heilige dae was daar oral in die stad godsdienstige optogte. Maar die mense van Cuenca het baie vrae gehad. Byvoorbeeld, toe ek Mario Polo, ’n kampioenfietsryer van Cuenca, die eerste keer ontmoet, het hy my verbaas met die vraag: “Wie is die hoer wat in Openbaring genoem word?”
Een aand het Mario baie bekommerd na ons huis toe gekom. ’n Evangeliese pastoor het hom lektuur gegee wat ernstige aantygings teen Jehovah se Getuies gemaak het. Ek het geredeneer dat die beskuldigde toegelaat moet word om hom te verdedig. Mario het my en die pastoor dus die volgende dag na sy huis genooi om antwoorde op die aantygings te gee. By dié vergadering het ek voorgestel dat ons die Drie-eenheid bespreek. Toe die pastoor Johannes 1:1 gelees het, het Mario self verduidelik wat die verskil tussen “die God” en “’n god” in Grieks is. En so het dit gegaan met elke Bybelvers wat genoem is. Die pastoor is natuurlik daar weg sonder dat hy die Drie-eenheid bewys het. Dit het Mario en sy vrou oortuig dat ons die waarheid het, en hulle het uitstekende verdedigers van Bybelleringe geword. Wat ’n vreugde was dit tog om te sien dat die gemeentes in die stad Cuenca tot 33 en dié in die uitgestrekte gebied wat ons eerste toewysing was, tot altesaam 63 toegeneem het—waarlik ’n wonderlike vermeerdering!
Vermeerdering terwyl ek by die takkantoor dien
Ek is in 1970 gevra om saam met Al Schullo na die takkantoor in Guayaquil te gaan. Ons twee het na die werk by die takkantoor omgesien. Joe Sekerak het deeltyds lektuur gepak vir die 46 gemeentes in die hele land. Cloris het ’n ruk lank in die gebied as ’n sendeling gedien terwyl ek by Bethel gewerk het. Sy het 55 mense al gehelp om tot doop te vorder, en dikwels is tussen drie en vyf van haar studente by ’n byeenkoms gedoop.
Cloris het byvoorbeeld gestudeer met Lucresia, ’n vrou wie se man haar teëgestaan het. Tog is Lucresia uiteindelik gedoop en het sy as ’n gewone pionier begin dien. Sy het haar kinders Jehovah se weë geleer. Haar twee seuns is nou ouer manne, en een is ’n spesiale pionier; haar dogter dien as ’n pionier. Haar kleindogter het met ’n baie goeie broer getrou, en hulle dien nou ook as spesiale pioniers. Hierdie gesin het baie mense gehelp om die waarheid te leer.
Teen 1980 was daar ongeveer 5 000 verkondigers in Ecuador. Ons het te veel geword vir ons klein kantoor. ’n Broer het ’n stuk grond van 32 hektaar buite Guayaquil vir ons aangebied. In 1984 het ons begin om ’n nuwe takkantoor en ’n Byeenkomssaal op hierdie stuk grond te bou, en dit is in 1987 toegewy.
Gewillige hande dra by tot die vermeerdering
Deur die jare heen was dit hartverblydend om te sien dat baie verkondigers en pioniers uit ander lande na Ecuador kom om te help waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. ’n Voorbeeld wat ek goed kan onthou, is dié van Andy Kidd, ’n afgetrede onderwyser van Kanada. Hy het in 1985 na Ecuador getrek toe hy 70 jaar oud was en het getrou gedien tot sy dood in 2008 toe hy 93 was. Toe ek hom die eerste keer in sy toewysing sien, was hy die enigste opsiener in ’n klein gemeentetjie. Hoewel hy met Spaans gesukkel het, het hy die openbare toespraak en daarna die Wagtoring-studie gehou. Hy het ook die Teokratiese Bedieningskool gehou en die meeste van die Diensvergaderingdele behartig! In dié gebied is daar nou twee florerende gemeentes, met byna 200 verkondigers en baie plaaslike ouer manne.
Nog ’n broer, Ernesto Diaz, wat saam met sy gesin uit die Verenigde State getrek het, het ná agt maande in Ecuador gesê: “Ons drie kinders het die taal vinnig aangeleer en het uitstekende onderrigters geword. As ’n vader het ek ’n doel bereik wat in hierdie stelsel van dinge onmoontlik gelyk het, naamlik om ’n gewone pionier te wees en saam met my gesin aan die voltydse bediening deel te neem. Ons hou altesaam 25 Bybelstudies. Dit alles het ons gesin nog meer verenig en ons bowenal nader aan Jehovah laat kom as ooit tevore.” Ons waardeer hierdie dierbare broers en susters werklik baie!
Die takkantoor is in 1994 verder uitgebrei, sodat die fasiliteite in grootte verdubbel het. Teen 2005 was ons meer as 50 000 verkondigers, en die takkantoor moes verder uitgebrei word. Die Byeenkomssaal is vergroot, en ’n nuwe woongebou sowel as vertaalkantore is opgerig. Hierdie nuwe fasiliteite is op 31 Oktober 2009 toegewy.
Toe ek in 1942 uit die skool gesit is, was daar ongeveer 60 000 Getuies in die Verenigde State. Nou is daar heelwat meer as ’n miljoen. Daar was ongeveer 1 400 Koninkryksverkondigers in Ecuador toe ons in 1966 hierheen gekom het. Nou is daar meer as 68 000. En dit sal beslis meer word aangesien 120 000 Bybelstudies gehou word en meer as 232 000 mense die Herdenking van Christus se dood in 2009 bygewoon het. Jehovah het werklik sy volk geseën op ’n manier wat ons ons nooit sou kon voorstel nie. Hoe opwindend is dit tog om hier te woon in ’n tyd wanneer wonderlike vermeerdering plaasvind!a
[Voetnoot]
a Terwyl hierdie artikel vir publikasie voorberei is, het Harley Harris getrou aan Jehovah gesterf.
[Prente op bladsy 5]
’n Byeenkoms in die buitelug (1981) en die Guayaquil-Byeenkomssaal (2009) op dieselfde stuk grond