Wat is die oplossings?
AS JY met eensaamheid worstel, kan dit nuttig wees om jou af te vra: ‘Is daar dinge wat ek kan doen om sake te verbeter? Moet ek dalk ’n paar veranderinge in my lewe aanbring? Indien wel, watter veranderinge?’ Die volgende vrae kan jou help om jouself te ondersoek en bevredigende oplossings te vind.
Moet ek my uitkyk verander?
Enigiemand kan eensaam wees. Maar hierdie negatiewe emosie word slegs ’n werklike probleem wanneer dit voortduur. As dit die geval is, is dit moontlik ’n waarskuwingsteken dat iets verkeerd gegaan het met jou uitkyk op die lewe. Die manier waarop jy in ander se geselskap optree, is dalk die oorsaak van die probleem. Sonder om dit te besef, span party mense as ’t ware ’n doringdraadheining om hulle, wat mense ontmoedig om vriende met hulle te maak. Soms moet hulle eenvoudig hulle uitkyk verander.
Kyk na wat Sabine ondervind het toe sy na Engeland geïmmigreer het. “Dit neem tyd”, het sy gesê, “vir vertroue om tussen nuwe vriende te ontwikkel sodat julle kan ontspan en gemaklik in mekaar se geselskap kan wees. Vra ander gerus hoe hulle grootgeword het of oor hulle agtergrond. Iemand het vir my gesê: ‘Geen kultuur is die regte kultuur nie. Neem die beste uit elkeen.’” Ja, soos Sabine aangespoor is om te doen, kan jy eienskappe in ander se kultuur probeer vind wat goed sal wees om na te volg.
Vermy ek ander?
Jy kan jou afvra: ‘Is ek geneig om ander te vermy? Sal hulle vriendeliker wees as ek vriendeliker teenoor hulle is?’ As jy meen dat dit die geval kan wees, moet jy ’n poging aanwend om meer uitgaande te wees. Roselise, ’n 30-jarige vrou wat van Guadeloupe na Engeland verhuis het, het gesê: “Diegene wat eensaam voel, is geneig om hulle af te sonder.” Sy het dus aanbeveel: “Wees op die uitkyk na ander wat lyk of hulle ook eensaam is. Neem die inisiatief en gesels met hulle. Soms is ’n vraag al wat nodig is om ’n blywende vriendskap te begin.”
Tyd en inspanning is egter nodig om ’n hegte vriendskap te ontwikkel. ’n Goeie manier om te begin, is deur te leer om te luister. As jy noukeurig luister, sal jy makliker oor dinge kan praat wat vir die ander persoon interessant is. Onthou, meegevoel baan die weg tot vriendskap!
Sukkel ek met negatiewe denke?
’n Lae dunk van jouself kan jou verhinder om vriendskappe aan te kweek. Vra jou af: ‘Is ek te geneig om myself in ’n negatiewe lig te beskou?’ Abigaïl, ’n 15-jarige van Ghana, erken: “Negatiewe denke het my soms eensaam laat voel. Ek het ongeliefd en nutteloos gevoel.” As jy die inisiatief neem om ander te nader en hulle op die een of ander manier te help, kan jy daarvan seker wees dat hulle jou nie as nutteloos sal beskou nie. Op hulle beurt sal hulle dalk jou vriendskap probeer wen. Waarom neem jy dus nie die inisiatief nie?
Positiewe denke sal jou ook help om vriende te maak met diegene wat nie in jou ouderdomsgroep is nie. ’n Vriendskap met iemand wat ietwat ouer of jonger as jy is, kan lonend wees. Iets wat die jong Abigaïl grootliks gehelp het om haar eensaamheid te oorkom, was die feit dat sy ouer persone probeer bevriend het. Sy het verduidelik: “Ek het by hulle lewensondervinding baat gevind.”
Sonder ek my af?
Talle eensame mense vind ’n mate van verligting deur ure lank TV te kyk, videospeletjies te speel of voor hulle rekenaar te sit. Maar wanneer hulle hierdie toestelle afskakel, is hulle nog net so eensaam soos tevore. Elsa, ’n 21-jarige vrou van Parys, erken: “Televisie en videospeletjies kan so ’n houvas op iemand kry dat hy nie meer vriende wil maak nie.”
’n Nadelige sy van TV-kykery is dat ’n mens geen interaksie met ander het, gedagtes uitruil of geleenthede kry om vriende te maak nie. Videospeletjies is baie dieselfde—dit voer mense na ’n verbeeldingswêreld wat verdwyn sodra hulle ophou speel. As jy doelloos op die Internet rondsnuffel, kan jy die werklikheid ontvlug, maar dit kan jou ook blootstel aan onsedelike materiaal of mense wat hulle identiteit verberg. Die Internet is nie ’n goeie plek om ware vriende te vind of vriendskappe op te bou nie.
Soek jy ’n huweliksmaat?
Party ongetroudes wil dalk trou om bloot ’n einde te maak aan hulle eensaamheid. ’n Goedhartige en liefdevolle maat kan jou lewe weliswaar met groot vreugde vul, maar wees versigtig dat jy nie halsoorkop besluit oor iets so belangrik soos die huwelik nie.
Die huwelik is nie noodwendig die oplossing vir eensaamheid nie. Egpare met kommunikasieprobleme is na bewering “onder die eensaamste mense in die wêreld”. Ongelukkig is daar meer mense in hierdie situasie as wat ’n mens dalk besef. As jy dus eendag wil trou, kan jy gerus jou eensaamheid probeer oorkom voordat jy in ’n romantiese verhouding met iemand betrokke raak. Deur jou gesindheid en gewoontes te verander en die inisiatief te neem om vriende te maak terwyl jy nog ongetroud is, sal jy heel waarskynlik ’n goeie grondslag vir ’n gelukkige huwelik lê.
Jy kan iets omtrent eensaamheid doen
Daar is miskien nie ’n onmiddellike oplossing vir jou eensaamheid nie. Maar jy kan dit suksesvol die hoof bied deur die Gulde Reël te volg, wat Jesus voorsien het. Hy het gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). As jy dus wil hê dat ander vriendelik met jou moet wees, moet jy vriendelik met hulle wees. As jy wil hê dat ander openhartig met jou moet wees, moet jy openhartig met hulle wees. Ander sal dalk nie onmiddellik op jou pogings reageer nie, maar met verloop van tyd sal party wel. Selfs al reageer hulle nie, sal jy gelukkiger wees omdat jy probeer het.
Jesus het nog ’n diepgaande waarheid genoem wat jou kan help om eensaamheid die hoof te bied: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). As jy van jou tyd gee om ander te help—’n kind met sy huiswerk of ’n bejaarde met inkopies of om sy of haar huis of tuin netjies te hou—sal jy baie gelukkiger wees en miskien ’n ware vriendskap smee.
Vind die beste vriende
Daar is ander praktiese maniere om eensaamheid die hoof te bied. Kom ’n bietjie uit. Gaan vir ’n stappie in die park of in die natuur, indien moontlik. Wanneer jy alleen is by die huis, kan jy jou met kreatiewe dinge besighou, soos om naaldwerk, takies of herstelwerk te doen of te lees. Een persoon het geskryf: “’n Uur se lesery het my nog altyd gehelp wanneer ek terneergedruk voel.” Baie het dit besonder vertroostend gevind om psalms uit die Bybel te lees.
Deskundiges het opgemerk dat assosiasie met mense wat aan dieselfde godsdiens as jy behoort, jou kan help om eensaamheid te oorkom en dat dit ook gesondheidsvoordele kan inhou. Waar kan jy mense vind wat daarna streef om die Gulde Reël te volg? In ’n boek oor godsdiensbewegings het ’n onpartydige waarnemer geskryf: “In hulle gemeentelewe vorm [Jehovah se] Getuies ’n opregte gemeenskap waarin hulle mekaar vertrou en aanvaar.”
Jesus het die kenmerk van die ware Christelike godsdiens voorsien toe hy vir sy dissipels gesê het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Hierdie liefde—eerstens vir God en dan vir medeaanbidders—is ’n kenmerkende eienskap van diegene wat die ware godsdiens beoefen.—Matteus 22:37-39.
Die beste manier om eensaamheid die hoof te bied, is om ’n vriendskap met God op te bou. Met hom as jou vriend hoef jy nooit alleen te voel nie!—Romeine 8:38, 39; Hebreërs 13:5, 6.
[Venster/Prent op bladsy 8]
WAT EK OMTRENT MY EENSAAMHEID DOEN
Anny, weduwee: “Ek probeer my denke beheer en die positiewe sy van my situasie sien.”
Carmen, ongetroud: “Ek het geleer om nie aan die verlede ‘vas te klou’ nie, maar om vorentoe te beweeg en nuwe vriende te maak.”
Fernande, weduwee: “As jy moeite doen om ander te help, vergeet jy van jou eie probleme.”
Jean-Pierre, ongetroud: “Ek gaan stap gereeld ’n lang ent, waartydens ek my hart voor God in gebed uitstort.”
Bernard, wewenaar: “Ek bel my vriende gereeld, nie om oor hartseer herinneringe te praat nie, maar omdat ek dit geniet om met hulle in aanraking te bly.”
David, ongetroud: “Hoewel ek dit van nature geniet om alleen te wees, het ek ’n punt daarvan gemaak om ander nie uit te sluit nie.”
Lorenna, ongetroud: “Ek neem die inisiatief om mense te nader en hulle te bevriend.”
Abigaïl, 15: “Ek bring tyd saam met volwasse vriende deur en vind baat by hulle ondervinding.”
Cherry, ongetroud: “Ek het gevind dat mense meer moeite doen om vriendelik met jou te wees as jy vir hulle sê dat jy eensaam is.”
[Venster/Prent op bladsy 9]
STAPPE OM EENSAAMHEID TE OORKOM
● Ontwikkel ’n positiewe uitkyk
● Beperk ontspanning wat ander uitsluit, soos TV-kykery
● Soek vriende wat dieselfde waardes as jy het, insluitende mense wat nie in jou ouderdomsgroep is nie
● Soek bowenal God se vriendskap
[Prent op bladsy 7]
Maak vriende met mense wat nie in jou ouderdomsgroep is nie