Bybel
Definisie: Jehovah God se skriftelike Woord aan die mensdom. Hy het om en by 40 menslike sekretarisse oor ’n tydperk van 16 eeue gebruik om dit op skrif te stel, maar God self het die skrywe daarvan daadwerklik deur sy gees gerig. Dit is aldus deur God geïnspireer. ’n Groot deel van die verslag bestaan uit direkte verklarings deur Jehovah en besonderhede oor die leer en bedrywighede van Jesus Christus, die Seun van God. Daarin vind ons verklarings van God se vereistes vir sy knegte en wat hy gaan doen om sy wonderlike voorneme met die aarde te vervul. Om ons waardering vir hierdie dinge te vergroot, het Jehovah ook ’n verslag in die Bybel laat opteken om te toon wat gebeur wanneer individue en nasies na God luister en in ooreenstemming met sy voorneme handel, asook die gevolge wanneer hulle hulle eie kop volg. Deur middel van hierdie betroubare geskiedverslag stel Jehovah ons op hoogte van sy handelinge met die mensdom en aldus met sy wonderlike persoonlikheid.
Waarom ons die Bybel moet ondersoek
Die Bybel self sê dat dit van God, die mensdom se Skepper, kom
2 Tim. 3:16, 17: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”
Openb. 1:1: “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur.”
2 Sam. 23:1, 2: “Dawid spreek, die seun van Isai . . . Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong.”
Jes. 22:15: “So sê die Here, die HERE van die leërskare.”
Ons sou verwag dat God se boodskap aan die hele mensdom rondom die aardbol beskikbaar moet wees. Die Bybel is in sy geheel of ten dele in meer as 1 800 tale vertaal. Duisendmiljoene eksemplare is al gedruk. The World Book Encyclopedia sê: “Die Bybel is die mees algemeen gelese boek in die geskiedenis. Dit is waarskynlik ook die invloedrykste. Meer eksemplare van die Bybel is versprei as van enige ander boek. Dit is ook meer kere in meer tale vertaal as enige ander boek.”—(1984), Dl. 2, bl. 219.
Bybelprofesie verklaar die betekenis van wêreldtoestande
Talle wêreldleiers erken dat die mensdom op die randjie van ’n ramp is. Die Bybel het hierdie toestande lank gelede voorspel; dit verduidelik die betekenis daarvan en wat die uitslag gaan wees (2 Tim. 3:1-5; Luk. 21:25-31). Dit vertel wat ons moet doen om die naderende wêreldvernietiging te oorleef met die geleentheid om die ewige lewe onder regverdige toestande hier op aarde te kry.—Sef. 2:3; Joh. 17:3; Ps. 37:10, 11, 29.
Die Bybel stel ons in staat om die doel van die lewe te verstaan
Dit beantwoord vrae soos: Waar kom die lewe vandaan? (Hand. 17:24-26). Waarom is ons hier? Is dit net om ’n paar jaar te lewe, uit die lewe te haal wat ons kan, en dan te sterf?—Gen. 1:27, 28; Rom. 5:12; Joh. 17:3; Ps. 37:11; 40:9.
Die Bybel toon hoe ons dié dinge kan kry wat liefhebbers van geregtigheid die meeste begeer
Dit deel ons mee waar ons heilsame metgeselle kan vind wat mekaar waarlik liefhet (Joh. 13:35), wat sal verseker dat ons genoeg kos vir onsself en ons gesinne het (Matt. 6:31-33; Spr. 19:15; Ef. 4:28), hoe ons gelukkig kan wees ondanks die moeilike toestande waarin ons ons bevind.—Ps. 1:1, 2; 34:9; Luk. 11:28; Hand. 20:35.
Dit verduidelik dat God se Koninkryk, sy regering, van die teenswoordige, goddelose stelsel ontslae sal raak (Dan. 2:44), en dat die mensdom onder die heerskappy van daardie Koninkryk volmaakte gesondheid en die ewige lewe sal kan geniet.—Openb. 21:3, 4; vergelyk Jesaja 33:24.
’n Boek wat daarop aanspraak maak dat dit van God af kom, wat die betekenis van wêreldtoestande en die doel van die lewe verklaar, en wat toon hoe ons probleme opgelos gaan word, verdien beslis om ondersoek te word.
Bewyse van inspirasie
Dit is vol profesieë wat spreek van gedetailleerde kennis van die toekoms—iets wat vir mense onmoontlik is
2 Pet. 1:20, 21: “Geen profesie van die Skrif [is] ’n saak van eie uitlegging . . . nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”
◼ Profesie: Jes. 44:24, 27, 28; 45:1-4: “Die HERE . . . wat vir die diepte sê: Verdroog! en jou riviere sal Ek laat verdroog; wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word. So sê die HERE aan sy gesalfde, aan Kores, wie se regterhand Ek gevat het om nasies voor hom neer te werp, terwyl Ek die lendene van konings losgord; om voor hom deure oop te maak, en poorte sal nie gesluit bly nie: Ek self sal voor jou uit gaan en hoogtes gelykmaak; koperdeure sal Ek verbreek en ystergrendels stukkend slaan. . . . ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene, het Ek jou by jou naam geroep.” (Jesaja se geskrifte is omstreeks 732 v.G.J. voltooi.)
◻ Vervulling: Kores was nog nie gebore toe die profesie neergeskryf is nie. Die Jode is eers van 617-607 v.G.J. in ballingskap na Babilon weggevoer, en Jerusalem en sy tempel is eers in 607 v.G.J. vernietig. Die profesie is vanaf 539 v.G.J. in besonderhede vervul. Kores het die water van die Eufraatrivier na ’n kunsmatige meer weggekeer, die rivierpoorte van Babilon is nalatig oopgelaat tydens feesvierings in die stad, en Babilon is deur die Meders en Perse onder Kores verower. Daarna het Kores die Joodse ballinge bevry en hulle teruggestuur na Jerusalem met instruksies om Jehovah se tempel aldaar te herbou.—The Encyclopedia Americana (1956), Dl. III, bl. 9; Light From the Ancient Past (Princeton, 1959), Jack Finegan, bl. 227-229; “All Scripture Is Inspired of God and Beneficial” (New York, 1983), bl. 282, 284, 295.
◼ Profesie: Jer. 49:17, 18: “So sal Edom dan ’n voorwerp van verbasing word; elkeen wat by hom verbytrek, sal hom verbaas en spot oor al sy plae. Soos die omkering van Sodom en Gomorra met hulle bure, sê die HERE, sal daar niemand woon en geen mensekind daar vertoef nie.” (Jeremia se laaste profesieë was teen 580 v.G.J. op skrif gestel.)
◻ Vervulling: “Hulle [die Edomiete] is in die 2de eeu v.C. deur Judas Maccabaeus uit Palestina verdryf, en in 109 v.C. het Johannes Hyrkanus, ’n Makkabese leier, die koninkryk van Juda uitgebrei om die westelike deel van Edomitiese lande in te sluit. In die 1ste eeu v.C. het Romeinse uitbreiding die laaste spoor van Edomitiese onafhanklikheid weggevee . . . Na die vernietiging van Jerusalem deur die Romeine in 70 n.C. . . . het die naam Edom uit die geskiedenis verdwyn” (The New Funk & Wagnalls Encyclopedia, 1952, Dl. 11, bl. 4114). Let op dat die vervulling tot in ons dag voortduur. Daar kan onmoontlik nie aangevoer word dat hierdie profesie geskryf is nadat die gebeure plaasgevind het nie.
◼ Profesie: Luk. 19:41-44; 21:20, 21: “Toe Hy [Jesus Christus] naby kom en die stad [Jerusalem] sien, het Hy daaroor geween en gesê: . . . Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ’n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie.” Twee dae later het hy sy dissipels die volgende raad gegee: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan.” (Die profesie is in 33 G.J. deur Jesus Christus geuiter.)
◻ Vervulling: Jerusalem het teen Rome in opstand gekom, en in 66 G.J het die Romeinse leër onder Cestius Gallus die stad aangeval. Maar volgens Joodse geskiedskrywer Josephus het die Romeinse bevelvoerder “skielik sy manne teruggeroep, hoop laat vaar hoewel hy geen terugslag ondervind het nie, en teen alle rede in van die Stad gewyk” (Josephus, the Jewish War, Penguin Classics, 1969, bl. 167). Dit het Christene die geleentheid gebied om uit die stad te vlug, wat hulle dan ook gedoen het. Volgens wat Eusebius Pamphilus in sy Ecclesiastical History geskryf het, het hulle na Pella, oorkant die Jordaan, gegaan (Die vertaling van C. F. Crusé, Londen, 1894, bl. 75). Toe, ongeveer Pasgatyd van die jaar 70 G.J., het generaal Titus die stad beleër, ’n heining van 7,2 kilometer in net drie dae om die stad opgerig, en na vyf maande het Jerusalem geval. “Jerusalem self is sistematies vernietig en die Tempel is in puin gelaat. Argeologiese werk toon vandag vir ons hoe doeltreffend hierdie vernietiging van Joodse geboue oor die hele land was.”—The Bible and Archaeology (Grand Rapids, Mich.; 1962), J. A. Thompson, bl. 299.
Die inhoud daarvan is wetenskaplik akkuraat oor sake wat menslike navorsers eers later ontdek het
Die oorsprong van die heelal: Gen. 1:1: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” In 1978 het sterrekundige Robert Jastrow geskryf: “Ons sien nou hoe die astronomiese getuienis op ’n Bybelse beskouing van die oorsprong van die wêreld dui. Die besonderhede verskil, maar die wesenlike elemente in die astronomiese weergawe en die Bybelse Genesisverhaal is dieselfde: die reeks gebeure wat gelei het tot die mens het skielik en onverwags op ’n bepaalde oomblik in tyd, in ’n lig- en energieflits, begin.”—God and the Astronomers (New York, 1978), bl. 14.
Die vorm van die planeet Aarde: Jes. 40:22: “Hy sit bo die kring van die aarde.” In antieke tye was die algemene mening dat die aarde plat is. Dit was eers meer as 200 jaar nadat hierdie Bybelteks geskryf is dat ’n groep Griekse filosowe geredeneer het dat die aarde waarskynlik bolvormig is, en ongeveer nog 300 jaar later dat ’n Griekse astronoom die benaderde radius van die aarde bereken het. Maar selfs toe is die gedagte van ’n bolvormige aarde nie algemeen gehuldig nie. Dit was eers in die 20ste eeu dat mense per vliegtuig, en later in die ruimte en selfs maan toe kon reis en ’n duidelike uitsig op “die kring” van die aarde se horison kon kry.
Dierelewe: Lev. 11:6: “Die haas . . . herkou.” Hoewel sommige kritici lank met hierdie verklaring fout gevind het, het die Brit William Cowper in die 18de eeu eindelik waargeneem hoe die haas herkou. Die buitengewone manier waarop dit gedoen is, is in 1940 beskryf in Proceedings of the Zoological Society of London, Dl. 110, Reeks A, bl. 159-163.
Die interne harmonie daarvan is betekenisvol
Dit is veral die geval in die lig van die feit dat die boeke van die Bybel op skrif gestel is deur ongeveer 40 manne van uiteenlopende agtergrond, soos koning, profeet, veewagter, tollenaar en geneesheer. Hulle het die skryfwerk oor ’n tydperk van 1 610 jaar gedoen; daar was dus geen geleentheid vir samespanning nie. Tog stem hulle geskrifte ooreen, selfs in die fynste besonderhede. Om te besef hoe harmonies verweef die verskillende dele van die Bybel is, moet jy dit persoonlik lees en bestudeer.
Hoe kan ons seker wees dat die Bybel nie verander is nie?
“Waar dit kom by die getal antieke manuskripte wat ’n geskrif bevestig, en by die getal jare wat verstryk het tussen die oorspronklike en dié manuskripte wat dit bevestig, geniet die Bybel ’n besliste voorsprong op klassieke geskrifte [dié van Homeros, Plato en ander]. . . . Vergeleke met Bybelse manuskripte is daar maar ’n handjievol klassieke manuskripte. Geen antieke boek word so goed bevestig soos die Bybel nie.”—The Bible From the Beginning (New York, 1929), P. Marion Simms, bl. 74, 76.
’n Verslag wat in 1971 gepubliseer is, toon dat daar moontlik 6 000 handgeskrewe afskrifte is wat die volledige Hebreeuse Skrifte of dele daarvan bevat; die oudste dateer uit die derde eeu v.G.J. Van die Christelike Griekse Skrifte is daar om en by 5 000 in Grieks, waarvan die oudste uit die vroeë tweede eeu G.J. dateer. Daar is ook talle afskrifte van vroeë vertalings in ander tale.
In die inleiding tot sy sewe bundels oor The Chester Beatty Biblical Papyri het sir Frederic Kenyon geskryf: “Die eerste en belangrikste gevolgtrekking wat uit ’n ondersoek daarvan [die papiri] afgelei word, is die bevredigende gevolgtrekking dat hulle die wesenlike betroubaarheid van die bestaande tekste bevestig. Geen opvallende of fundamentele verskille word in die Ou of Nuwe Testament getoon nie. Daar is geen belangrike weglatings of byvoegings van passasies nie, en geen verskille wat belangrike feite of leerstellings raak nie. Die variasies in die teks raak nietighede, soos die woordorde of die presiese woorde wat gebruik word . . . Maar hulle essensiële belangrikheid is die feit dat hulle deur getuienis van ’n vroeër jaartal as wat tot nog toe beskikbaar was, die onkreukbaarheid van die bestaande tekste bevestig.”—(Londen, 1933), bl. 15.
Dit is waar dat sommige vertalings van die Bybel getrouer aan die oorspronklike tale is as ander. Nuwe Bybels in parafrase het hulle vryhede veroorloof wat soms die oorspronklike betekenis verander. Sommige vertalers het toegelaat dat persoonlike opvattings hulle vertalings beïnvloed. Maar hierdie swakhede kan geïdentifiseer word deur verskeie vertalings met mekaar te vergelyk.
As iemand sê—
‘Ek glo nie in die Bybel nie’
Jy kan antwoord: ‘Maar u glo dat daar ’n God is, nie waar nie? . . . Wat sê die Bybel wat u so moeilik vind om te glo?’
Of jy kan sê: ‘Was dit nog altyd u beskouing? . . . Ek het ander dit al hoor sê hoewel hulle die Bybel nog nie deeglik bestudeer het nie. Die Bybel sê duidelik dat dit ’n boodskap van God self is en dat hy vir ons die ewige lewe aanbied as ons glo wat dit sê en daarvolgens lewe. Stem u nie saam dat dit die moeite werd sal wees om dit ten minste te ondersoek om uit te vind of hierdie bewerings waar is of nie? (Gebruik materiaal op bladsye 76-80.)’
‘Die Bybel weerspreek homself’
Jy kan antwoord: ‘Ander mense het dit ook al vir my gesê, maar niemand kon nog ooit vir my ’n werklike weerspreking wys nie. En ek het nog nooit op een afgekom wanneer ek die Bybel gelees het nie. Kan u vir my ’n voorbeeld noem?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Wat ek wel gevind het, is dat baie mense eenvoudig nooit antwoorde kon kry op vrae wat die Bybel by hulle laat ontstaan het nie. Byvoorbeeld: Waar het Kain sy vrou gekry? (Gebruik materiaal op bladsye 339, 340.)’
‘Mense het die Bybel geskryf’
Jy kan antwoord: ‘Dit is waar. Ongeveer 40 van hulle het ’n aandeel daarin gehad. Maar dit is deur God geïnspireer.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Wat beteken dit? Dat God die skrywe daarvan gerig het, net soos ’n sakeman ’n sekretaresse gebruik om briewe vir hom te skryf.’ (2) ‘Die gedagte om boodskappe van iemand in die ruimte te ontvang, moet ons nie verbaas nie. Selfs mense het boodskappe en prente van die maan af gestuur. Hoe het hulle dit gedoen? Deur middel van wette wat lank gelede hulle ontstaan by God self gehad het.’ (3) ‘Maar hoe kan ons seker wees dat die inhoud van die Bybel werklik van God af kom? Dit bevat inligting wat onmoontlik uit ’n menslike bron kon kom. Watter soort inligting? Besonderhede oor die toekoms; dit was nog altyd volkome akkuraat. (Kyk bladsye 76-79 vir voorbeelde, ook bladsye 259-263, onder “Laaste Dae”.)’
‘Elkeen vertolk die Bybel op sy manier’
Jy kan antwoord: ‘En dit spreek vanself dat nie almal van hulle reg het nie.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘As ons die Skrif verdraai om ons eie idees te pas, kan dit blywende skade tot gevolg hê (2 Pet. 3:15, 16).’ (2) ‘Twee dinge kan ons help om die Bybel korrek te verstaan. Beskou eerstens die verband (die omliggende verse) van enige verklaring. Vergelyk vervolgens tekste met ander verklarings in die Bybel wat oor dieselfde onderwerp handel. Sodoende laat ons God se Woord ons denke lei en is die vertolking nie ons s’n nie, maar God s’n. Dit is die benadering wat in die publikasies van die Wagtoringgenootskap gebruik word. (Kyk bladsye 225, 226, onder “Jehovah se Getuies”.)’
‘Dit is nie prakties vir ons dag nie’
Jy kan antwoord: ‘En ons stel mos belang in dinge wat vandag vir ons prakties is, nie waar nie?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Sal u saamstem dat die beëindiging van oorlog prakties sou wees? . . . Stem u nie saam dat dit ’n goeie begin sal wees as mense geleer het om in vrede met die lede van ander nasies saam te leef nie? . . . Dit is juis wat die Bybel voorspel het (Jes. 2:2, 3). As gevolg van Bybelopvoeding vind dit vandag onder Jehovah se Getuies plaas.’ (2) ‘Nog iets is nodig—die verwydering van alle mense en nasies wat oorlog veroorsaak. Sal so iets ooit gebeur? Ja, en die Bybel verduidelik hoe (Dan. 2:44; Ps. 37:10, 11).’
Of jy kan sê: ‘Ek waardeer u standpunt. As ’n handleiding nie prakties is nie, sal ons dwaas wees as ons dit gebruik, nie waar nie?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Sal u saamstem dat ’n boek wat goeie raad bevat wat ons kan help om ’n gelukkige gesinslewe te hê prakties is? . . . Teorieë en gebruike in verband met gesinslewe het al dikwels verander, en die resultate wat ons vandag sien, is nie goed nie. Maar diegene wat weet wat die Bybel sê en dit toepas, het bestendige, gelukkige gesinne (Kol. 3:12-14, 18-21).’
‘Die Bybel is ’n goeie boek, maar absolute waarheid bestaan nie’
Jy kan antwoord: ‘Dit is waar dat iedereen oënskynlik ’n ander mening huldig. En al meen iemand dat hy ’n saak uitgepluis het, vind hy dikwels dat daar ten minste een ander faktor is wat hy nie in aanmerking geneem het nie. Maar daar is iemand wat nie so ’n beperking het nie. Wie is dit? . . . Ja, die Skepper van die heelal.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Dit is waarom Jesus Christus vir hom gesê het: “U woord is die waarheid” (Joh. 17:17). Daardie waarheid is in die Bybel (2 Tim. 3:16, 17).’ (2) ‘God wil nie hê dat ons in onkunde moet rondtas nie; Hy het gesê dat dit sy wil is dat ons juiste kennis van die waarheid moet verkry (1 Tim. 2:3, 4). Die Bybel beantwoord vrae soos . . . op ’n volkome bevredigende wyse.’ (Om sommige mense te help, sal jy eers redes vir geloof in God se bestaan moet bespreek. Kyk bladsye 160-166, onder “God”.)
‘Die Bybel is die Witman se boek’
Jy kan antwoord: ‘Hy het weliswaar baie eksemplare van die Bybel gedruk. Maar die Bybel sê nie dat een ras beter as ’n ander is nie.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Die Bybel kom van ons Skepper, en hy is onpartydig (Hand. 10:34, 35).’ (2) ‘God se Woord bied mense van alle nasies en stamme die geleentheid om vir ewig hier op die aarde onder sy Koninkryk te lewe (Openb. 7:9, 10, 17).’
Of jy kan sê: ‘Allesbehalwe! Die mensdom se Skepper was die een wat die manne gekies het wat hy sou inspireer om die 66 boeke van die Bybel te skryf. En as hy mense met ’n ligte velkleur gekies het, dan is dit sy saak. Maar die Bybel se boodskap is nie net vir Witmense nie.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Let op wat Jesus gesê het . . . (Joh. 3:16). “Elkeen” sluit persone van alle kleure in. En voor sy hemelvaart het Jesus die volgende afskeidswoorde tot sy dissipels gerig . . . (Matt. 28:19).’ (2) ‘Dit is interessant dat Handelinge 13:1 praat van ’n man genaamd Niger, en sy naam beteken “swart”. Hy was een van die profete en leraars van die gemeente in Antiochië, Sirië.’
‘Ek glo slegs die ou Afrikaanse Bybel’
Jy kan antwoord: ‘As u u Bybel byderhand het, wil ek graag vir u iets wys wat ek baie bemoedigend gevind het.’
Of jy kan sê: ‘Baie mense gebruik daardie Bybelvertaling, en ek het self een.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Het u geweet dat die Bybel oorspronklik in Hebreeus, Aramees en Grieks geskryf is? . . . Kan u daardie tale lees? . . . Ons is dus dankbaar dat die Bybel in Afrikaans vertaal is.’ (2) ‘Het u geweet dat ongeveer 3 400 jaar verstryk het nadat Genesis geskryf is voordat die volledige Bybel in Afrikaans vertaal is (1933 G.J.)?’ (3) ‘Sedert die dertigerjare het Afrikaans veranderinge ondergaan, nie waar nie? . . . Ons waardeer gevolglik moderne vertalings wat dieselfde oorspronklike waarhede noukeurig weergee in die taal wat ons vandag praat.’
‘Julle het julle eie Bybel’
Kyk onder “New World Translation”.