Probleme van die susters wat “die huis van Israel gebou het”
TOE dit begin lig word, het Lea geweet dat die waarheid binnekort sou uitkom. Jakob, in wie se arms sy gelê het, was op die punt om uit te vind dat sy nie Ragel, haar jonger suster, is nie. Op haar vader se bevel het Lea, waarskynlik swaar gesluier, die vorige aand in die bruidsbed gaan lê wat vir Jakob en Ragel gereedgemaak is.
Stel jou voor hoe Jakob moes gevoel het toe hy in die oggendlig die waarheid besef! Ontstoke het hy Laban, Lea se vader, gekonfronteer. Intussen het Lea sekerlik nagedink oor háár rol in die bedrog en wat die moontlike langtermyngevolge sou wees. Die verhaal van Lea en Ragel is ’n integrerende deel van Bybelgeskiedenis. Dit bied ook insig in die wysheid van monogamie en huwelikstrou.
’n Vreemdeling by die put
Sewe jaar vroeër het Ragel gehardloop om haar vader te gaan vertel dat sy ’n vreemdeling by die put ontmoet het wat sê dat hy familie van hulle is. Dit was haar neef Jakob, die seun van haar vader se suster en ’n aanbidder van Jehovah. ’n Maand later het Jakob aangebied om Laban sewe jaar lank te dien as hy met Ragel kon trou. Laban het die aanbod aanvaar omdat hy gesien het hoe hard sy susterskind kon werk en omdat hy geweet het dat dit onder hulle gebruiklik was om met familielede te trou.—Genesis 29:1-19.
Jakob se liefde vir Ragel was beslis nie net verliefdheid nie. Hulle sewe jaar lange verlowing was “weens sy liefde vir haar . . . soos ’n paar dae” (Genesis 29:20). Die feit dat Jakob Ragel tot haar dood liefgehad het, toon dat sy talle innemende eienskappe moes gehad het.
Het Lea ook gehoop om met ’n getroue aanbidder van Jehovah te trou? Die Bybel sê nie. Laban se idees oor haar huwelik kom duideliker na vore in die verslag. Aan die einde van Ragel se verlowing het Laban ’n huweliksfees gehou. Maar gedurende die aand, sê die Bybelverslag, het hy Lea na Jakob toe gebring “sodat hy met haar gemeenskap kon hê”.—Genesis 29:23.
Het Lea beplan om Jakob te bedrieg? Of moes sy eenvoudig haar vader gehoorsaam? En waar was Ragel? Het sy geweet wat aan die gang is? Indien wel, hoe het sy gevoel? Kon sy die wil van haar dominerende vader teëstaan? Die Bybel voorsien nie antwoorde op hierdie vrae nie. Ongeag wat Ragel en Lea van die saak gedink het, Jakob was hoogs verontwaardig oor die slinkse set. En dit was by Laban, nie sy dogters nie, dat Jakob beswaar gemaak en gesê het: “Was dit nie vir Ragel dat ek by u in diens was nie? Waarom het u my dan bedrieg?” Laban se antwoord? “Dit is . . . nie gebruiklik . . . om die jonger vrou voor die eersgeborene te gee nie. Vier die volle week van hierdie vrou. Daarna sal hierdie ander vrou ook aan jou gegee word vir die diens waarmee jy nog sewe jaar by my kan dien” (Genesis 29:25-27). Jakob is sodoende gemanipuleer om ’n veelwywige huwelik aan te gaan wat bittere jaloesie tot gevolg sou hê.
’n Ongelukkige gesin
Jakob het Ragel liefgehad. Toe God sien dat Lea in vergelyking hiermee “gehaat” is, het hy haar moederskoot geopen, terwyl Ragel onvrugbaar gebly het. Maar Lea wou nie net ’n kind hê nie; sy wou ook Jakob se liefde hê. Dit het haar baie ongelukkig gemaak om te sien dat Ragel hierdie liefde ontvang. Lea het nogtans gehoop dat Jakob haar sou liefkry omdat sy geboorte gegee het aan sy eerste seun, Ruben, wat “Kyk, ’n seun!” beteken. Lea het haar kind met rede so genoem: “Dit is omdat Jehovah my ellende aangesien het, want nou sal my man my liefkry.” Maar Jakob het nie; ook nie ná die geboorte van nog ’n seun nie. Lea het hierdie seun Simeon genoem, wat “Luister” beteken. Sy het geredeneer: “Dit is omdat Jehovah geluister het, want ek is gehaat, en daarom het hy my ook hierdie een gegee.”—Genesis 29:30-33.
Die feit dat God geluister het, toon dat Lea gebid het oor haar lot. Sy was blykbaar ’n vrou met geloof. Tog het haar smart voortgeduur selfs nadat sy aan ’n derde seun, Levi, geboorte gegee het. Sy naam, wat “Verkleefdheid” of “Verbind” beteken, word deur Lea se woorde verklaar: “Hierdie keer sal my man hom met my verbind, want ek het vir hom drie seuns gebaar.” Maar Jakob het klaarblyklik niks nader aan haar gevoel nie. Dalk het Lea haar daarby berus, want haar vierde seun se naam het geen verwysing bevat na haar verwagtinge om ’n beter verhouding met Jakob te hê nie. Juda se naam was eerder ’n blyk van haar dankbaarheid teenoor God. Die naam “Juda” beteken “Geprys” of “Voorwerp van lofprysing”. Lea het bloot gesê: “Hierdie keer sal ek Jehovah prys.”—Genesis 29:34, 35.
Lea was nie die enigste een wat ongelukkig gevoel het nie; Ragel was self ook ongelukkig. Sy het Jakob gesmeek: “Gee vir my kinders of anders sal ek ’n dooie vrou wees” (Genesis 30:1). Ragel het Jakob se liefde gehad, maar sy wou moederskap hê. Lea het kinders gehad, maar sy wou liefde hê. Elkeen het begeer wat die ander een gehad het, en nie een was gelukkig nie. Albei het Jakob liefgehad en wou vir hom kinders baar. Elkeen was jaloers op die ander een. Wat ’n droewige situasie vir daardie gesin!
Kinders vir Ragel?
Onvrugbaarheid is destyds as ’n vloek beskou. God het Abraham, Isak en Jakob belowe dat hulle familie die “saad” sou voortbring waardeur alle families hulleself sou seën (Genesis 26:4; 28:14). Tog was Ragel kinderloos. Jakob het geredeneer dat slegs God vir Ragel seuns kon gee, sodat sy ’n rol in hierdie seëninge kon speel. Maar Ragel was ongeduldig. “Hier is my slavin Bilha”, het sy gesê. “Hou gemeenskap met haar, sodat sy op my knieë geboorte kan gee en dat ek, ja ek, kinders van haar kan kry.”—Genesis 30:2, 3.
Dit is dalk vir ons moeilik om Ragel se gesindheid te verstaan. Maar eertydse huwelikskontrakte wat dwarsdeur die Nabye-Ooste gevind is, toon dat dit ’n aanvaarde gebruik was vir ’n onvrugbare vrou om vir haar man ’n diensmeisie te gee om ’n erfgenaam voort te bring (Genesis 16:1-3).a In sommige gevalle sou die slavin se kinders dan as die vrou se kinders beskou word.
Toe Bilha aan ’n seun geboorte gee, het ’n verheugde Ragel uitgeroep: “God het as my regter opgetree en het ook na my stem geluister, sodat hy my ’n seun gegee het.” Sy het hom Dan genoem, wat “Regter” beteken. Ook sy het oor haar situasie gebid. By die geboorte van Bilha se tweede seun, Naftali, wat “My worstelinge” beteken, het Ragel gesê: “Met moeisame worstelinge het ek met my suster geworstel. Ek het ook oorwin!” Die name dui op die onmin tussen die twee mededingers.—Genesis 30:5-8.
Dalk het Ragel, toe sy Bilha vir Jakob gegee het, gedink dat sy in ooreenstemming met haar gebede optree, maar dit was nie God se manier om vir haar kinders te gee nie. Daar is ’n les hierin. Ons moenie ongeduldig raak wanneer ons Jehovah iets vra nie. Hy kan gebede op onverwagte maniere verhoor en wanneer ons dit die minste verwag.
Lea het nie op haar laat wag nie en ook haar diensmeisie, Silpa, vir Jakob gegee. Sy het eers geboorte gegee aan Gad, en toe aan Aser.—Genesis 30:9-13.
’n Voorval wat die wedywering tussen Ragel en Lea toon, het te doen gehad met liefdesappels wat Lea se seun Ruben gevind het. Mense het geglo dat hierdie vrug bevrugting bevorder. Toe Ragel daarvan wou hê, het Lea verbitterd geantwoord: “Is dit ’n kleinigheid dat jy my man geneem het, dat jy nou ook my seun se liefdesappels neem?” Volgens party het haar woorde daarop gedui dat Jakob meer by Ragel was as by Lea. Dalk het Ragel besef dat Lea ’n geldige rede vir haar gegriefdheid het, want sy het geantwoord: “Daarom gaan hy vannag by jou lê in ruil vir jou seun se liefdesappels.” Toe Jakob dus daardie aand by die huis kom, het Lea hom ingelig: “Jy gaan met mý gemeenskap hê, want ek het jou regstreeks met my seun se liefdesappels gehuur.”—Genesis 30:15, 16.
Lea het ’n vyfde en ’n sesde seun gehad, Issaskar en Sebulon. Daarna het sy gesê: “Eindelik sal my man my duld, omdat ek vir hom ses seuns gebaar het.”b—Genesis 30:17-20.
Die liefdesappels het nie gehelp nie. Toe Ragel ná ses jaar van getroude lewe uiteindelik swanger geraak en aan Josef geboorte gegee het, was dit omdat Jehovah aan haar “gedink” en haar gebed verhoor het. Toe eers kon Ragel sê: “God het my smaad weggeneem!”—Genesis 30:22-24.
Dood en erfenis
Ragel het gesterf terwyl sy aan haar tweede seun, Benjamin, geboorte gegee het. Jakob het Ragel waarlik liefgehad, en haar twee seuns was vir hom kosbaar. Jare later, toe sy eie dood naby was, het hy onwillekeurig teruggedink aan die ontydige dood van sy geliefde Ragel (Genesis 30:1; 35:16-19; 48:7). Van Lea se dood weet ons niks nie, behalwe dat Jakob haar in die grot begrawe het waar hy ook begrawe wou word.—Genesis 49:29-32.
Op sy oudag het Jakob erken dat sy lewe—ook sy gesinslewe—vol probleme was (Genesis 47:9). Die lewe was ongetwyfeld ook vir Lea en Ragel vol probleme. Hulle ondervindinge beklemtoon die hartseer gevolge van veelwywery en lig toe waarom Jehovah bepaal het dat ’n man net een vrou moet hê (Matteus 19:4-8; 1 Timoteus 3:2, 12). Jaloesie ontstaan wanneer die romantiese of seksuele belangstelling van ’n getroude man of vrou nie tot een persoon—sy of haar eggenoot—beperk word nie. Dit is een rede waarom God hoerery en egbreuk verbied.—1 Korintiërs 6:18; Hebreërs 13:4.
God het nietemin voortgegaan—en gaan nog steeds voort—om sy voorneme uit te voer deur onvolmaakte maar getroue manne en vroue te gebruik. Die susters het albei swakhede gehad, net soos ons. Maar deur hierdie vroue het Jehovah sy belofte aan Abraham begin vervul. Daar word tereg gesê dat Ragel en Lea “die huis van Israel gebou het”.—Rut 4:11.
[Voetnote]
a Een so ’n kontrak uit Noezi, Irak, lui: “Kelim-Ninoe is aan Sjennima in die huwelik gegee. . . . As Kelim-Ninoe nie [kinders] baar nie, sal Kelim-Ninoe ’n vrou [’n slavin] van die land Loelloe as vrou vir Sjennima kry.”
b Dina, nog een van Lea se kinders, is die enigste een van Jakob se dogters wie se naam ons ken.—Genesis 30:21; 46:7.
[Prent op bladsy 9]
Lea en Ragel het albei begeer wat die ander een gehad het, en nie een was gelukkig nie
[Prent op bladsy 10]
Die nasie Israel het van Jakob se 12 seuns afgestam