Genesis
29 Daarna het Jakob verder gereis na die land van die mense van die Ooste. 2 Op ’n dag het hy ’n put in die veld gesien en drie troppe skape wat langs die put lê, want hulle het die troppe gewoonlik uit daardie put water gegee. Daar was ’n groot klip oor die opening van die put. 3 Wanneer al die troppe daar bymekaar was, het die herders die klip van die opening van die put af weggerol en die kleinvee water gegee, en daarna het hulle die klip weer op sy plek oor die opening van die put gesit.
4 Jakob het vir hulle gevra: “My broers, waar kom julle vandaan?” Hulle het geantwoord: “Ons is van Haran.”+ 5 Hy het vir hulle gesê: “Ken julle Laban,+ die kleinseun van Nahor?”+ Hulle het gesê: “Ja, ons ken hom.” 6 Toe het hy vir hulle gevra: “Gaan dit goed met hom?” Hulle het geantwoord: “Dit gaan goed met hom. Hier kom sy dogter Ragel+ met die skape!” 7 Toe het hy gesê: “Dit is nou eers die middel van die dag. Dit is nie die tyd om die kuddes bymekaar te bring nie. Gee die skape water en laat hulle dan verder wei.” 8 Hulle het gesê: “Ons word eers toegelaat om die skape te laat drink wanneer al die troppe bymekaar is en hulle die klip van die opening van die put af weggerol het.”
9 Terwyl hy nog met hulle gepraat het, het Ragel met haar pa se skape daar aangekom, want sy het hulle opgepas. 10 Toe Jakob vir Ragel, die dogter van Laban, sy ma se broer, saam met die skape sien, het Jakob onmiddellik nader gegaan en die klip van die opening van die put af weggerol en Laban se skape water gegee om te drink. 11 Toe het Jakob vir Ragel gesoen en in trane uitgebars. 12 Jakob het Ragel vertel dat hy ’n familielid* van haar pa en die seun van Rebekka is. Sy het gehardloop en haar pa gaan vertel.
13 Die oomblik toe Laban+ die nuus hoor oor Jakob, sy suster se seun, het hy gehardloop om hom te gaan ontmoet. Hy het hom omhels, hom gesoen en hom in sy huis ingebring. Jakob het Laban alles vertel wat gebeur het. 14 Laban het vir hom gesê: “Jy is waarlik my vlees en bloed.” Jakob het ’n volle maand by hom gebly.
15 Laban het toe vir Jakob gesê: “Al is jy familie*+ van my, hoef jy nie verniet vir my te werk nie. Sê vir my: Wat moet ek jou betaal?”+ 16 Laban het twee dogters gehad. Die naam van die oudste was Lea, en die naam van die jongste was Ragel.+ 17 Maar Lea se oë het geen glans gehad nie, terwyl Ragel ’n baie aantreklike en pragtige vrou was. 18 Jakob het verlief geraak op Ragel, en daarom het hy gesê: “Ek is bereid om sewe jaar lank vir u te werk vir u jongste dogter, Ragel.”+ 19 Laban het geantwoord: “Dit is beter dat ek haar vir jou gee as vir ’n ander man. Bly hier by ons.” 20 En Jakob het sewe jaar lank gewerk vir Ragel,+ maar in sy oë was dit net soos ’n paar dae as gevolg van sy liefde vir haar.
21 Toe het Jakob vir Laban gesê: “Gee my vrou vir my, want die tyd is verby, en laat my by haar slaap.” 22 En Laban het al die mense van die plek laat bymekaarkom en ’n feesmaal gehou. 23 Maar gedurende die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom toe gebring sodat hy by haar sou slaap. 24 Laban het ook sy diensmeisie Silpa vir sy dogter Lea gegee.+ 25 Die volgende oggend het Jakob gesien dat dit Lea was! Daarom het hy vir Laban gesê: “Wat het u aan my gedoen? Het ek nie vir Ragel by u gewerk nie? Hoekom het u my bedrieg?”+ 26 Laban het geantwoord: “Dit is nie ons gewoonte hier om die jonger vrou voor die eersgeborene te gee nie. 27 Vier die huweliksweek met hierdie vrou. Daarna sal hierdie ander vrou ook vir jou gegee word as jy nog sewe jaar vir my werk.”+ 28 Jakob het dit gedoen en die huweliksweek met haar gevier, en daarna het hy sy dogter Ragel vir hom as vrou gegee. 29 Laban het ook sy diensmeisie Bilha+ vir sy dogter Ragel gegee.+
30 Toe het Jakob ook seksuele omgang met Ragel gehad, en hy het Ragel meer liefgehad as Lea. En hy het nog sewe jaar vir Laban gewerk.+ 31 Toe Jehovah sien dat Lea nie geliefd was nie,* het hy dit vir haar moontlik gemaak om swanger te word,*+ maar Ragel was onvrugbaar.+ 32 Lea het dus swanger geword en aan ’n seun geboorte gegee en hom Ruben*+ genoem, want sy het gesê: “Dit is omdat Jehovah gesien het hoe swaar ek kry,+ want nou sal my man my liefkry.” 33 En sy het weer swanger geword en aan ’n seun geboorte gegee en toe gesê: “Dit is omdat Jehovah geluister het, want ek was nie geliefd nie, en daarom het hy my ook hierdie een gegee.” Toe het sy hom Siʹmeon*+ genoem. 34 En sy het weer eens swanger geword en aan ’n seun geboorte gegee en toe gesê: “Hierdie keer sal my man aan my geheg raak, want ek het vir hom drie seuns gegee.” Daarom is hy Levi*+ genoem. 35 En sy het weer eens swanger geword en aan ’n seun geboorte gegee en toe gesê: “Hierdie keer sal ek Jehovah loof.” Sy het hom dus Juda*+ genoem. Daarna het sy ’n tyd lank nie nog kinders gehad nie.